Twee video’s het die afgelope paar dae die ronde op sosiale media gedoen. Die eerste was ’n selfoonopname wat begin terwyl die onderonsie tussen die twee persone in die omstrede Spur-voorval alreeds aan die gang is. Die tweede is die kringtelevisie-opname deur die Spur-groep self beskikbaar gestel. Hierdie opname wys die geskil vanaf die begin.
Soos seker te verwagte, was daar dadelik heftige, gepolariseerde reaksie op Twitter en Facebook. Bitter min daarvan was hoegenaamd genuanseerd.
Vir diegene wat hul geestesgesondheid op prys stel en wegbly van sosiale media: die Spur-voorval, soos wat dit nou bekend staan, het as volg plaasgevind. Twee kinders het in die speelarea van die Texamo Spur in The Glen gespeel. Hulle was nie deel van dieselfde groep nie. Iewers het die spelery geniepsig geraak. Al twee kinders is terug na hulle ouers toe, waarskynlik om te gaan kla en die blaam op die ander kind te plaas. Geen videomateriaal is beskikbaar gestel om lig te werp op wat in die speelarea gebeur het nie. Ek vermoed Spur monitor nie die speelarea deur middel van videokameras nie.
Die selfoonopname, wat eerste op sosiale media gesirkuleer was, wys ’n gedeelte van wat hierna gebeur het. Die pa van die een kind en die ma van die ander kind is aanvanklik in ’n heftige woordewisseling, met vloekwoorde en beledigings wat heen en weer geslinger word. Die woordewisseling duur verskeie minute. Dan reik die man oor die tafel en probeer die vrou slaan. Sy deins terug, blykbaar geskok. Dan skel hulle mekaar verder. Die man lig die tafel op en probeer dit op die vrou en die kinders by haar omkeer.
Die man is wit. Die vrou is swart. Maak nie saak hoeveel mense dit probeer ontken nie, die verskil in ras maak die dinamika tussen die twee partye onmiddellik meer plofbaar. Dit hoef nie, en in die samelewing wat ek hoop die meeste van ons voor wens, sou dit nie. Maar in die Texamo Spur het dit wel ’n rol gespeel, soos wat die kommentaar op sosiale media ook weerspieël het.
Die vrou was wyd veroordeel omdat sy sulke taal voor kinders gebruik. Die meeste kommentators het skynbaar nie ’n probleem gehad daarmee dat die man se taalgebruik op dieselfde vlak was nie.
Dae daarna stel die Spur-groep hulle kringtelevisie-opname van die voorval beskikbaar. Hier wys dit duidelik dat die man by die tafel aankom, met sy vrou en dogtertjie by hom. Hy leun bo-oor ’n kind, gryp ’n ander kind aan die tafel aan die arm, en pluk hom hardhandig op. Die ma, wat verder weg sit, gryp die kind se ander arm en pluk hom terug. Hierna volg die heftige woordewisseling tussen die twee.
Die seuntjie ter sprake is sewe jaar oud. Die dogtertjie is blykbaar ’n jaar of wat jonger.
Daar staan verskeie kelners en toekyk. Nie een probeer die situasie beredder nie. In die restaurantgroep se amptelike verklaring wat dae na die voorval uitgereik is, word gemeld dat daar vyf bestuurders aan diens was. Hulle was bewus van wat aan die gang is, maar hulle was besig met ander klante wat uitgeloop het.
Niemand het tussenbeide probeer tree nie, alhoewel dit duidelik was dat die man bereid was om gewelddadig op te tree.
Daar was heelwat gewag gemaak van die vrou se taalgebruik. Dieselfde mense wat haar kritiseer, bly egter doodstil oor die feit dat die man ’n kind aangerand het tydens dieselfde voorval – en probeer het om die ma aan te rand.
Regsgeleerdes sal weet dat vir ’n aanranding om voltooi te wees, dit net nodig is dat die ma moet bewys sy het gevrees dat die man haar sou aanrand. Duidelik hét sy dit gevrees.
Sou die man dieselfde opgetree het indien dit nie ’n vrou was nie, maar ’n ander man? Ek twyfel. Aan die einde van die onderonsie kom ’n swart man tussenbeide. Die wit man staan terug, duidelik nie bereid om met ’n man in ’n onderonsie betrokke te raak nie, selfs al is die man heelwat kleiner. Dan kom ’n ander wit man nader om ook te keer, en weer staan die aggressor terug. Eers toe albei mans wegbeweeg, gaan hy terug na die tafel toe en probeer dit op die vrou en kinders omkeer.
Hierdie man het duidelik gedink dis in orde om fisiek gewelddadig te raak met ’n vreemde vrou en ’n klein kindjie, terwyl hy terugskram van konfrontasie met ander mans.
Sou hy anders opgetree het indien die ma aan die ander kant wit was? Ek twyfel of hy dan nog steeds die kind aan die arm sou opgepluk het. Ek twyfel of hy steeds die ma sou probeer slaan het.
Dis maklik om die vrou te veroordeel vir haar swak taalgebruik as niemand nog jou kind voor jou oë aangerand het nie. Dis maklik om te sê sy moes eerder stilgebly en die situasie anders hanteer het as jy nie grootgeword het in omstandighede waar mans se gedrag altyd verskoon word en beskerming van kinders aan vroue oorgelaat word nie.
En watse voorbeeld stel daardie man vir sy dogter? Wat hy uitbeeld, is dat mans vroue met geweld tot hul siening kan oorhaal. Wat hy uitbeeld, is dat dit in orde is vir mans om wildvreemde kinders aan te rand, en dieselfde met hul ma’s te probeer indien hulle protes aanteken. Was dit veroordeel? Natuurlik nie.
Die vrou word gekritiseer omdat sy nie onderdanig en ondergeskik (en dus “vroulik”) opgetree het nie. Die man se gedrag word verskoon omdat hy aggressief (en dus “manlik”) opgetree het.
Ons lewe in ’n patriargale, chauvinistiese samelewing waar mans verskoon word wanneer hulle verkrag, en vroue beskuldig word wanneer hulle verkrag word. Ons lewe in ’n samelewing waar vroue se behoeftes altyd ondergeskik aan dié van mans beskou word.
Dis hoekom geslag ’n rol gespeel het in die onderonsie.
En ras?
Later die week was daar na bewering ’n tweede onderonsie, tussen ’n swart man en ’n wit vrou, waartydens die man die vrou geklap het. Na bewering, want op die foto wat agterna op sosiale media versprei is van die vrou se beserings, is sy geïdentifiseer as ’n Amerikaanse model. Dus glad nie die beserings van die persoon wat na bewering aangerand was nie. Toe was die dade van die man wyd veroordeel.
As die vrou aangerand was, en regtig beseer is, hoekom dan gedokterde foto's van iemand anders die wêreld instuur? Dit werp dadelik twyfel oor die vrou se bewering dat sy aangerand was.
Verskillende standaarde geld afhangend van die kleur van die slagoffer, en die kleur van die oortreder. Ons weet dit.
Dit hoort nie so nie.
As ons regtig erns bedoel daarmee om ’n gesonde samelewing te bou, dan moet alle geweld teenoor vroue en kinders verwerp word. Sonder uitsondering. Sonder verskoning. Sonder verontskuldigings.
Nie een van ons kan bekostig om terug te sit en op sosiale media te verkondig dat ons nou moeg is van kommentaar en maar eerder na blommetjies en mooi foto's van diertjies wil kyk nie.
Daardie kommentaar is die taal van bevoorregting. Dis die taal van iemand wat kan bekostig om weg te kyk, want hulle hoef nie te vrees dat ’n vreemde man hulle kinders aan die arm gaan oppluk en hulle gaan probeer aanrand nie. Ten minste nie sonder dat almal rondom hulle gaan probeer tussenbeide tree en hulle help nie.
Hier is my mening. Sommige mans slaan vroue. As hy dit met ’n wildvreemde vrou in die openbaar doen, dan is daar vir my vraagtekens oor wat hy met sy eie vrou agter toe deure doen.
En hierdie week het hy die boodskap gekry van groot dele van wit Suid-Afrika: “We’ve got your back.”
Ons kan nie na mooi prentjies kyk terwyl dit die aaklige waarheid in ons land is nie.
The post Hoekom ras en geslag saak maak in die Spur-voorval appeared first on LitNet.