As in die mond
Nicole Jaekel Strauss
Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795801358
Skrywers oor hul nuwe boeke: Nicole Jaekel Strauss gesels met Naomi Meyer oor As in die mond
Hallo Nicole, geluk met die verskyning van As in die mond. Vertel my asseblief van die titel.
Dankie Naomi.
"As" verwys na die stof as, die oorblyfsel van ’n vuur. In hierdie konteks kom ook verskeie spreekwoorde ter sprake: "as is verbrande hout", "uit die as verrys", "in die as sit", wat met die temas skakel. Ook as as die spil waarom iets draai - wat is die middelpunt van die karakters se identiteit, as daar so iets is?
Dit verwys ook na "as" as ’n veronderstelling: Wat sou gebeur as ...? Soveel keuses in die lewe is bepalend vir individue en dit is een van die temas wat ek wou aansny: Wat sou gebeur het as dit anders was?
En dan "ashes to ashes" – op die ou end elkeen van ons se lot.
"Mond" het te doen met geboorte, voeding, ouerskap, moederskap. Koestering, of die gebrek daaraan.
En ’n mond vol as is wraggies nie lekker nie. Die snykant van die lewe.
Ek kan aanhou ...
Waar kom die inspirasie van enkele van die kortverhale in die bundel vandaan? En: wag jy vir inspirasie, of skryf jy totdat die inspirasie kom?
Ek wag nie vir inspirasie nie; ek soek dit wel. Ek sal nie net begin werk aan ’n storie sonder dat daar ’n karakter is wat my inspireer, of iets is wat ek oor ’n bepaalde saak of plek wil sê nie. Inspirasie kom dus soms uit sake, soms uit mense, soms uit plekke. Maar sit en wag doen ek nooit nie. Vermoed ek sal nooit aan die skryf kom nie.
Souk se inspirasie was die stad Marrakech – ek wou graag daaroor skryf. Ook oor die ondergeskikte rol van vroue.
Marika se reis is aan die gang gesit deur ’n ware verhaal wat ek aangepas het, Donkey Kong s’n ook.
“Fluctuat nec Mergitur” was ’n gesprek oor Johanna van Arkel wat ek bygewoon en ’n boek wat ek gelees het.
“Werp jou op die water” en “Swanemeer” is die toestand obsessiewe kompulsiwiteit.
Delivery was ’n karakter wat uit sy vel (en sy kaftan) uit wou spring om in ’n storie te wees: ek het hom uitgedink en hy wou my nie los nie.
Vuur se nalatenskap en alles wat nie oorbly nie, is ’n tema. Is ek reg? Vertel asseblief eerder in jou eie woorde.
Ek woon in die stadskom van Kaapstad en daar is dikwels bergbrande teen die helling bo ons huis. Soms klink dit soos oorlog soos die brandweerhelikopters laag oor ons huis vlieg om water in die reservoir, wat ook naby ons is, te skep en op die vuur te gaan gooi. Dit was letterlik die vonk vir ’n storie oor brand. Min of meer dieselfde tyd het ek gehoor van ’n ma wat alles verloor het in ’n brand. Dit was hartverskeurend. Ek glo nie ek self sou so iets kon oorleef nie. Tans, toevallig, vertoon die film Manchester by die Sea – en weer kom die tema van vuur. En die onlangse brande by Mandelapark en Imizamo Yethu het mens weer van vooraf geruk.
Watter karakter bly jou by? (As jy een kan uitsonder, of meerdere.)
Suzanne, natuurlik, die hoofkarakter. Ek is baie geïnteresseerd in die sielkundige en psigoterapeutiese proses. Christopher, Sulaiman en Aisha, Roelof. Dis moeilik – eintlik almal van hulle. Elkeen dra swaar aan iets, selfs tannie Esmé, al weet sy dit nie eers nie.
Het jy ’n gunstelingstorie in hierdie bundel?
Nee.
Jy het al gereis en jy het jou as prokureur bekwaam, is ek reg? Hoe het dit jou skryfwerk beïnvloed, indien hoegenaamd?
Reis beïnvloed beslis my skryfwerk. Plekke inspireer my en die verandering van plek en ruimte (benewens die plek self) maak vensters vir my oop wat voorheen toe was. Ek doen baie introspeksie terwyl ek reis, maak notas en neem foto's, leer aspekte van myself ken of beter ken. Reis onderhou tot ’n sekere mate my skryfwerk, al reis ek nie op die oomblik só baie nie. Ek moet net weet ek kan.
Die regsberoep (ek was ook ’n advokaat) het dalk tog bygedra tot my skryfstyl. Ek skryf nogal formeel. Regsgeleerdes hou daarvan om formeel te klink.
Jy is voltyds ma, en ek het geglimlag vir jou antwoord in ’n Sarie-onderhoud omtrent Maal: as mense jou vra vir jou beroep, is jy geneig om "ma" te wil skryf. As jy nou, met die tweede kortverhaalbundel, aan jouself dink, sonder om ooit moederskap te skei van jou identiteit, hoe dink jy aan jou wie-jy-is?
’n-Ma-wat-skryf. Maar deesdae vul ek meer gemaklik "skrywer" in by beroep. Ek skryf ook draaiboeke, wat vir ’n meer gereelde inkomste sorg as kortverhaalbundels. Ek vermoed dis hoekom ek dit nou as ’n beroep beskou.
Ek wou vra of jy dink ’n kortverhaal is nader verwant aan ’n roman of aan ’n gedig. Dis egter dalk ’n onsinnige vraag. Dalk kan jy iets vertel van die skep van ’n kortverhaal: wat is belangrike onvertelde inligting, hoe ekonomies moet mens met woorde omgaan, wanneer weet mens die verhaal is klaar?
Dis nie nader aan die een of die ander nie. Dis uniek op baie maniere. Die aantrekkingskrag van kortverhale lê vir my in die slot, en in die trefkrag van ’n stuk prosa wat op een slag gelees kan word. Lesers moet nou en hier besluit: ek wil hierdie storie lees en kyk wat dit aan my doen. Dit kan nie uitgerek word nie. Ek is ongeduldig van aard; dalk is dit hoekom dit vir my werk. Mens kan nie te veel afwyk van die plot nie – "back story" is tot ’n groot mate vir die skrywer se eie verwysing.
Die storie se eerste weergawe is klaar wanneer ek ’n goeie slot skryf. Dit moet die regte slot wees, anders begin ek sommer van voor af of los dit geheel en al. Dan kom die teruggaan en redigeer en seker maak die res van die verhaal pas by die slot.
Ek vra weer ’n ma-vraag. Waar kry jy tyd vir skryf?
Baie vroeg in die oggend wanneer almal slaap.
Wat lees jy? Of watter toneelstuk of film het ’n indruk op jou gemaak die afgelope tyd?
Ek het onlangs die wonderlikste toneelstuk gesien: Die Huis van Bernarda Alba. Ook So ry Miss Daisy, Weg, The Mother. Basson se Rigoletto was asemrowend. Ek lees op die oomblik Op ’n dag ’n hond, en jóú boek lê en wag op my bedkassie. Nutshell van McEwan en Here I am van Jonathan Saffran Foer was uitstekend. Manchester by the Sea is die hartseerste film wat ek nog ooit gesien het en het my diep getref. Miss Sloane, min of meer op die teenoorgestelde kant van die spektrum, was lekker.
The post As in die mond deur Nicole Jaekel Strauss: ’n onderhoud appeared first on LitNet.