Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20710

Ons kom van vêr: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

$
0
0

Ons kom van vêr – Bydraes oor bruin Afrikaanssprekendes se rol in die ontwikkeling van Afrikaans
WAM Carstens en Michael le Cordeur (reds)

Uitgewer: Naledi
ISBN: 9780928316674.

“Heer, laat ons dink wát ‘besit’ is, Heer laat ons dink!”1

1. Voorspel

Tempora mutantur, die tye verander, en hoe het hulle nie verander nie! Om en by 70 jaar gelede het ’n drieledige publikasie in hardeband en op glanspapier die lig gesien wat die kultuurgeskiedenis van die Afrikaner vir die eerste keer so omvattend as moontlik wou dokumenteer.2 Die historiese moment van die verskyning van die publikasies is met nabetragting van besondere betekenis, want dit kom aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog en op die vooraand van die verwerkliking van Afrikanermag ná die Nasionale Party se verkiesingsoorwinning in 1948. (Trouens, deel III verskyn reeds ná daardie datum.)

In hul voorwoord in deel I (maw in 1945) tot die publikasie in sy geheel noem die redakteurs dat dit hulle doelwit was om nie slegs die “voortbrengsels van die geestelike bolaag van die volk” sigbaar te laat word nie, hoe belangrik dit ook mag wees. Maar hulle wou, meer nog, “deur middel van ’n reeks breed-opgesette artikels, die hele volkspersoonlikheid na vore bring, met die openbaring daarvan in dade, laat dit met die hand verrig wees of met die hoof, deur die volksmassa daargestel of deur ’n enkeling”. Hulle voeg dan by:

Ons het opgeklim van die stadium van ’n pioniersvolk na ’n toestand waar die Afrikaner vandag stedeling is en hom bewus rekenskap gee van sy apartheid as nasie en hom afvra wat alles daartoe aanleiding gegee het dat hy geword het wat hy is, dat hy ’n eie taal het en ’n eie lewensbeskouing. Onderkultuur en opperkultuur is onlosmaaklik ineengeweef. Elke keer as ons ons probeer rekenskap gee van wat ons reeds verwerf het aan kultuurbesit, kry ons ’n suiwerder kyk op die verlede en word ons taak vir die toekoms vir ons duidelik afgelyn. Dit verhoog ons gevoel van selfrespek. (Van den Heever en Pienaar, deel I, ongepagineerde voorwoord)

Dié projek wou dus ’n bestekopname bied van wat die Afrikaner reeds vermag het, om sy selfbeeld op te bou en sy lendene te omgord vir die taak wat voorlê. (En wat mog dit wees, wonder ’n mens vandag.) Die 40 bydraes op 1 452 bladsye word deur swaarwigtige persone met groot name in die destydse kultuurbedryf geskryf: die broers GS en PJ Nienaber, WEG Louw, FCL Bosman, ID du Plessis, CGW Schumann, SPE Boshoff, D Pont en H Ver Loren van Themaat, om net enkeles te noem.

Die onderwerpe strek van “die Suid-Afrikaanse bodem” tot “die ekonomiese ontwikkeling van die Afrikaner”, van “die Afrikaanse gedagte” tot “die huisgesin in die Afrikaanse kultuurgemeenskap”. Daar is ses artikels oor aspekte van die Afrikaanse taal, beskrywings van die Afrikaner se wysgerige denke, sy opvoedingsideaal, sy regstelsel en staatsopvattings, en een hoofstuk elk oor die drie gereformeerde kerke; dan is daar bydraes oor “die Duitsers in die Afrikaner se wordingsgeskiedenis”, asook oor die Nederlandse, Franse en Britse stamverwantskap. Inderdaad, wil ’n mens sê, ’n geheelbeeld van die pad wat die Afrikaner tot die middel van die vorige eeu geloop het, hoe hy homself na buite wil voorstel, wie hy is en wat die prestasies én die waarde van sy volkseie is. Daar is darem ’n hoekie elk vir “die bydrae van die Kaapse Maleier” en “die inboorling en die ontwikkeling van die Afrikaanse kultuur”, maar bruin en swart mense word andersins heeltemal geïgnoreer.

 

2. Lyster na ons lied

o Here djy kan maar lyster
na ons lied3

Michael le Cordeur en Wannie Carstens

Die onlangs verskene bundel opstelle Ons kom van vêr, saamgestel deur Wannie Carstens en Michael le Cordeur, wat volgens die ondertitel ook spesifiek na bydraes tot die ontwikkeling van Afrikaans verwys, klink byna soos ’n soort regstellende eggo – al is dit onbewustelik – op die drie bundels van weleer. Want dit gaan hier juis nie oor die “Boere-volkslewe in al sy vertakkinge” nie, maar oor “die Here se stiefkinders”, om Sarah Gertrude Millin se romantitel van 1922 by te haal, dié wat in die apartheidsdae én daarvoor heeltemal oor die hoof gesien is, veral wanneer dit by taal en kultuur, én Afrikanerskap, kom. Dit is interessant genoeg ook ’n lywige publikasie, met 36 bydraes oor 600 bladsye. Dit is duidelik dat die samestellers ’n ryk aar raakgeboor het; hulle noem dan ook dat die reaksie op die aanvanklike oproep tot bydraes hulle stoutste verwagtings oortref het en dat hierdie boek dalk met ’n verdere bundel aangevul kan word. Daar is kennelik ’n sterk behoefte om wat Carstens die “versweë stories” van bruin Afrikaanssprekendes noem (bl xiv) te vertel.

En ’n storieboek is dit dan ook tot ’n groot mate – ek wil byna sê ’n lekkerleesboek. Die groot aantal en die uiteenlopende aard van die bydraes maak dit prakties onmoontlik om hier reg te laat geskied aan almal; wat volg, is dus noodwendig selektiewe kommentaar.

Daar is ’n aantal verhale oor individue wat eenvoudig vertel móés word, oor die nimlike en beginselvaste ds Isak Morkel byvoorbeeld, wat hom nie deur die diskriminerende optrede van die kerk laat onderkry het nie en toe oorgegaan het tot die stigting van die Calvyn Gereformeerde Kerk (Raymond van Diemel, “Waarom Isak Morkel – ’n profiet van Jesus – sy rug op die NG Kerk gekeer het”, 93–110), of die opheffende verhaal van die menigte losiesouers op die platteland, eenvoudige maar ruimhartige mense wat kinders uit gesinne van ver by hulle gehuisves het omdat daar op baie dorpe met hoërskole nie koshuise vir bruin kinders was nie (Danie van Wyk, “Hoërskool, kollege en universiteitservarings in ’n losieshuis”, 427–43).

Danie van Wyk

Dan is daar diegene wat hulle eie verhaal vertel en sodoende lig werp op hulle bedrywighede op verskeie terreine, sonder om te wil spog, maar eerder ter wille van die rekord. Ek dink hier aan die politieke aktivis Cecyl Esau (“Die impak wat 16 Junie 1976 op my lewe gehad het”, 171–81); die MK-soldaat Basil Kivedo (“Narratief van ’n voormalige MK-soldaat: ek het die bevrydingstryd in Afrikaans gevoer”, 476–88); Henry Jeffreys, wat ’n ruk lank redakteur van Die Burger was (“In DF Malan se stoel”, 354–63); die voormalige burgemeester Herman Bailey (“Op ’n punt van orde, Meneer die Burgemeester”, 458–75); die skoonheidskoningin Edwena Goff (“Van skoonheidskoningin tot koninklike werktuig (in haar Oikos)”, 205–19); en Michael le Cordeur se herinneringe aan die studente-opstande van die jare sewentig (“Herinneringe aan studente-opstande en hoe dit my lewe geraak het, 1976 tot 1980”, 220–36).

Edwena Goff

Daar is verder narratiewe, in die breër sin van die woord: oor die erfenis van die Khoi-San (Willa Boezak, “Die Khoi-San as Afrikaanse gemeenskap”, 112–28), die riel (Elias P Nel, “Die rieldans – van Wupperthal tot Los Angeles”, 318–26), die ghoema (Michael le Cordeur, “Hoor hoe slaan die ghoema, die ghoema, die ghoema vannie Kaap”, 258–71), die langarm (Gavin R Davis, “Langarmmusiek vanaf die Kaap tot in Gauteng: ’n bruinmens-ding”, 272–83) en die Kaapse kombuis (Fatima Allie, “Oosterse speserye gee die heerlikste geur aan Afrikaans”, 506–20).

Fatima Allie

Ook sekere instellings en organisasies kom aan bod: die pers en die onderwys, die toneel en die UWK, ja selfs die Wellingtonse krisantevereniging – en, les bes, die NG-Sendingkerk. Die oorkoepelende samehang is algar se bande met, en verbintenis, selfs toegewydheid, tot, die Afrikaanse taal, soos dit versinnebeeld word deur die deurgaans aanwesige narratief van die boegbeeld Adam Small, aan wie die bundel opgedra is en wie se foto op die buiteblad pryk en na wie talle bydraes in die bundel verwys. Hý is die verpersoonliking van wat “ons” vermag het, van “hoe ver ons gekom het”.

En in die trotse beeld wat hier ontstaan van “die bruin Afrikaanssprekende”, sy en haar kultuur en hul bydrae tot die breë gemeenskap, verkry die enigsins selfvoldane voorstelling van “die Afrikaner” se prestasies by Van den Heever en Pienaar van destyds ’n spieëlbeeld, wat, soos ek wil glo, in die wese van hierdie soort projek van ’n gemeenskaplike selfportret lê, maar ook in die aard van die eng verwantskap van “wit” en “bruin” Afrikaanssprekendes gesetel is. Want die twee is teen wil en dank hoeka van mekaar afhanklik danksy die dialektiek wat die verhouding van heer en kneg ten enemale bepaal: die kneg, soos Hegel oortuigend redeneer, is kneg danksy sy onderhorigheid; die heer se status as heer bestaan dienooreenkomstig slegs as gevolg van die kneg se aanvaarding daarvan. Albei is boonop ingebind in dieselfde eng kring wat die alledaagse én die kultuurlewe bepaal en van kleins af is hulle gevoed deur die moedersmelk van ’n gedeelde taal, “in hierdie kring/ se dol en soet betowering/ van ek en jy, van ek en jy [...] voortvlugtend in ’n fyn aanvoel/ van wisselende drif en doel”, om die digter se woorde uit ’n gans ander konteks hier aan te pas.4

 

3. Die UWK-faktor

Inderdaad is die bundel egter in sy geheel in sy benadering tot die onderhawige tema, net soos die groot gros van sy onderdele, heel eensydig, om nie te sê eendimensioneel nie. Dalk is dit te veel gevra van ’n versameling opstelle van ’n meer onderhoudende aard wat ten dele ook gewoon anekdoties is, sonder die aanspraak op ’n dieper ontginning van die samebindende tema, om meer genuanseerd met sy onderwerp om te gaan. Tog word elke bydrae volgens die wetenskaplike formaat aangebied, kompleet met ’n samevatting (abstract), eindnotas en ’n bibliografie; en met die ondertitel skimp die samestellers tewens dat die leser ’n verteenwoordigende beeld van “bruin Afrikaanssprekendes” en hul rol in die “ontwikkeling van Afrikaans”, en nie net ’n geselsboek nie, kan verwag.

Dit is gedeeltelik met die oog hierop en ook op die vermelde moontlikheid van ’n opvolgpublikasie dat ek die volgende kritiese punte wil opper.

Die eensydigheid waarna ek verwys, kan ten dele deur die “UWK-faktor” verklaar word. Hiermee word bedoel dat ’n opvallende meerderheid van die bydraers – volgens die biografiese inligting is dit minstens 18, met ’n moontlike verdere nege; dus tot 27 uit 36 – in die sewentiger- en tagtigerjare van die vorige eeu aan die Universiteit van Wes-Kaapland studeer het, baie van hulle óf in die teologie óf met Afrikaans-Nederlands as hoofvak. Die tyd en die persone waaroor daar hier verslag gelewer word, is dus tot die jare van (hoogstens) 1965 tot 1990 en grotendeels tot die Wes-Kaap beperk. Dit het noodwendig ’n soort tonnelvisie tot gevolg wat alleen reeds uit hul relatiewe intellektuele en ideologiese homogeniteit spruit: die meeste van hulle kom uit benadeelde gemeenskappe; baie is afkomstig van die (grootliks Afrikaanstalige) platteland; en almal het die sosiale opgang van die arm werkersklasmilieu na aanvaarding in die middelklas, selfs tot gesiene posisies in die kerk, die akademie of die staatsdiens van die nuwe bedeling ná 1994 suksesvol deurgemaak. Vir die meeste van hulle was die UWK-belewenis van studenteprotes, kennismaking met nuwe en radikale gedagterigtings, en die opwinding van gemeenskaplike ideale en drome én ’n verfrissende gevoel van solidariteit met dié wat vermoeid en belas is, ’n sleutel-ervaring wat hulle lewens ingrypend beïnvloed het. (In hoeverre hul benadering nog die laer klasse se belange verteenwoordig, is seker ’n oop vraag.)

Daarmee is daar uiteraard nie fout te vind nie. Maar die eng en dus selektiewe fokus het ongelukkige en hinderlike beperkings tot gevolg wat die waarde van die publikasie in sy geheel kompromitteer. Die “UWK-faktor” veroorsaak byvoorbeeld dat sekere persone by herhaling aandag geniet: Boesak, Gerwel, Sonn, Van der Rheede en ook Small, om ’n paar te noem. Dit doen byna soos ’n ritueel aan wanneer elke tweede, derde bydrae Small aanhaal – die “dice” wat verkeerd geval het of die “doemanie” of Kanna – of na hom verwys; maar na ’n waardering, kontekstualisering of ontleding van die digter se werk soek ’n mens in hierdie verband vergeefs. Tekenend hiervan is Nico Koopman se hagiografiese lofgesang op “demokrasie, menswaardigheid, geregtigheid en versoening” by Small (540). Goed, maar daarteenoor is daar bykans niks oor groot digters soos SV Petersen of PJ Philander, wat onteenseglik uitstaande bydraes tot Afrikaans gelewer het nie; ook die helaas te vroeg gestorwe Patrick Petersen verdien meer en dieper aandag. Interessant genoeg is daar ’n knik in Patrick Petersen se rigting in die titel van die boek wat ’n indirekte verwysing na sy gedig “komvandaan”5 is, asook ’n regstreekse bruikleen by Ons kom van ver af, ’n bundel waarby Petersen nou betrokke was.6

Dit is opmerklik watter rol die kerk en die geloof in baie van die verhale wat hier opgeteken is, speel. Maar weer eens is die keuse baie selektief, aangesien die fokus byna uitsluitlik op die “NG-familie” val – kyk byvoorbeeld die artikels van Beukes, Nel, Plaatjies-Van Huffel, Van Diemel, asook MacMaster. Van ander kerkverbande onder bruin Afrikaanssprekendes is hier feitlik geen spoor nie – ’n ironiese spieëlbeeld van die eensydige behandeling van dieselfde tema in Van den Heever en Pienaar!

Dieselfde geld in ’n groot mate vir die streeksgebondenheid van die bundel in die geheel. Behalwe ’n paar bydraes oor Namakwaland (Elias P Nel in sy onderhoudende bespreking van die riel) of die Eersterust-omgewing (Coetser oor Robert Pearce), of ander oorkoepelende betragtings, soos oor die langarmdans (Davis), die Khoi-San-gemeenskap (Boezak) of onderwyskolleges (May), lê die klem wat streke betref, sterk op die Wes-Kaap, tot die uitsluiting van beduidende Afrikaanstalige gemeenskappe in die Noord-Kaap, gebiede op die Witwatersrand soos Eldorado Park, Pretoria of die Oos-Kaap, om van Namibië nie eens te praat nie.

Elias P Nel

 

4. Aan wie behoort die taal?

Hierdie beperkte visie raak helaas ook die hooftema van die boek. Daar word nêrens in dié publikasie besin oor wat die “rol in die ontwikkeling van Afrikaans” veronderstel is om te beteken nie. Dit gaan seker in die eerste instansie oor die taal as sulks, en by verlenging dan iets soos die Afrikaanse leefwêreld en kultuur, in die breedste én meer beperkte sin van die woord. Wat ’n mens onder die woord rol moet verstaan, is seker ’n oop kwessie. ’n Vraag wat egter hier in die agtergrond spook en die hele groter taaldebat medebepaal, is gerig op eienaarskap: Aan wie behoort die taal? ’n Mens sou wou glo dat ons ligjare verwyder is van die opvatting, soos verwoord deur Langenhoven, dat Afrikaans ’n “witmanstaal” is, en dus ook ver weg van die hubris van die destydse bewakers van die Afrikaner se kultuur wat “sy apartheid as nasie” veral deur die feit bevestig sien “dat hy ’n eie taal het en ’n eie lewensbeskouing” (Van den Heever en Pienaar, soos hier bo aangehaal).7 Met Ons kom van vêr wil bruin mense nou (weer eens), so lyk dit altans, hulle eie kleim op die taalakker afsteek en hulle deel van die eienaarskap opeis. En dit is goed so. In haar artikel praat Ronel van Oort (552–69) dan ook van die “inklusiewe ontwikkelingsgeskiedenis” van Afrikaans. ’n Mens kry egter by ’n groot aantal bydraes in die bundel die indruk van ’n oorbeklemtoning van Oosterse, slawe-, Maleise, Khoi-San- en Griekwa-invloede by die ontstaan van die taal, en ’n vernalatiging van Europese, of dan wit, invloede, net soos daar in die bundel in sy geheel eerder eensydig, indien nie eksklusief nie, op ras gefokus word.

Dit sou egter die opset én waarde van die boek enorm bestendig en verstewig het indien die perspektief breër en die visie nie so kortsigtig was nie. Sodoende sou die kerngedagtes soos in die ondertitel vervat, heel anders daar uitgesien het, meer genuanseerd en inderdaad inklusief, weg van simpel rasse-etikette en ’n onverkwiklike wedywering oor wie nou eintlik baas is.

Ek wil ’n paar voorbeelde noem.

Ten eerste: Daar word al geruime tyd – veral sedert Achmat Davids se baanbrekende studies uit die tagtiger- en negentigerjare – en heel tereg, groot gewag gemaak van die rol van die Islam by die ontwikkeling van Afrikaans; ook in hierdie boek. Tog word daar in die hele hedendaagse gesprek rondom Afrikaans, sover my kennis strek, bitter min, indien enige, aandag gegee aan die beslissende rol van die Morawiese sending. Die enigste verwysing daarna in is in Danny Titus se treffende bydrae (“Afrikaanse boek van bruin kant – taal en identiteit op die Afrikaanse werf”, 182–203), waar hy egter op minder as ’n halwe bladsy “Genadendal Dutch” noem.

Dit was natuurlik hoofsaaklik Duitssprekende Morawiese sendelinge wat reeds vroeg ’n aangepaste Nederlands vir hulle preke en skool- en ander onderrig in hul sendingwerk besig en reeds in die middel van die 19de eeu veral in die nuusblad De Bode ’n soort proto-Afrikaans gebruik.8 Sonder die behoefte van die lede van die bruin Afrikaanssprekende gemeenskap aan ’n verstaanbare idioom in hulle geestelike lewens sou hierdie baanbrekende stap in die rigting van geskrewe Afrikaans nie geskied het nie. Trouens, Jerzy Koch, die Poolse kenner op die gebied van die Afrikaanse taal- en literêre geskiedenis, is selfs van mening dat indien die Morawiese sendelinge nie Nederlands, later Kaaps-Hollands en Afrikaans, in weerwil van die Britse koloniale beleid van verengelsing, deurgaans as voertaal op die sendingveld aangewend het nie, bruin Suid-Afrikaners vandag almal Engelssprekend sou wees.9

Tweedens: ’n Soortgelyke situasie het later in die 19de eeu vir die eerste dryfveer by die ontstaan van die Genootskap van Regte Afrikaners, en dus die Eerste Afrikaanse Taalbeweging in 1875, gesorg. Dit was die Nederlander Arnoldus Pannevis wat die saak aangevoor het, maar die bruin gemeenskap was die katalisator, aldus Kannemeyer: “Pannevis sien die noodsaaklikheid van ’n Afrikaanse Bybelvertaling in en bepleit dit in ’n brief aan De Zuid-Afrikaan van 7 Oktober 1872 as noodsaaklik vir die geestelike heil van die gekleurde bevolking, aangesien vir baie van hulle die Nederlandse Bybel half vreemd en moeilik verstaanbaar is.”10

Derdens: ’n Groter raaisel by alle betoë rondom die ontstaan en ontwikkeling van Afrikaans is die skynbaar volslae afwesigheid van enige verwysing na die verskillende groepe, kollektief Oorlams genoem, wat aan die einde van die 18de, en veral in die loop van die 19de eeu – let wel, voor die koms van wit mense – oor die Oranjerivier getrek en hulle in die huidige Namibië gevestig het. Met die uitsondering van die Namas het hulle deurgaans Kaaps-Hollands, later Afrikaans, gepraat, en dit is aan hierdie bruin sprekers te danke dat Afrikaans vroeg reeds die lingua franca van Namibië geword en tot vandag gebly het.

 

5. Bastertaal

Ons is ’n bastervolk met ’n bastertaal. Ons aard is basterskap. Dis goed en mooi so. Ons moet kompos wees, ontbindend om weer in ander vorme te kan bind.11

Ons weet dat taal, enige lewende taal, aan ’n gedurige verandering onderworpe is; dat dit, om met Bakhtin te praat, in sy wese “karnavalesk” is, bont en middelpuntvliedend aan die beweeg, sonder te veel bekommernis oor reëls en voorskrifte. Daarteenoor is dit die staat en sy ideologiese apparate wat ter wille van die handhawing en sentralisering van sy mag op standaardisering, veral van die geskrewe woord, staatmaak, en akademies en kommissies inspan om woordeboeke en grammatikas op te stel en norme te bepaal. Ook die debat sedert die tagtigerjare oor invloede by die ontstaan van ’n taal soos Afrikaans, of dit basies ’n Germaanse taal van Europese oorsprong of ’n kreoolse mengsel is, was ’n terrein van omstredenheid en deel van die uitoefening van mag en weerstand rondom (alleen)besit van die taal. Baie is geskryf en gepraat oor die hegemoniële dryfkrag agter sulke voorstellings; suiwerheid en hibriditeit was, en is steeds, wapens in die stryd om die eienaarskap van Afrikaans.

Die taal “behoort” egter nie aan enige groep of instansie nie, nie aan ’n staat of ’n volk nie, nog minder aan ’n ras. Sedert die vroeë jare negentig van die vorige eeu het die magsverlies van die “wit” gemeenskap die besef laat deursyfer dat die Suid-Afrikaanse staat en sy apparate Afrikaans nie meer vanselfsprekend gaan ondersteun nie, en “inklusiwiteit” het nou die nuwe wagwoord geword: Afrikaans behoort nou aan alle “Afrikaanses”, ongeag ras of herkoms. Eensydige regstellende aksie op taalgebied kan egter daartoe lei dat een taal ten koste van die ander opgehef word, of erger nog, dat die een wat as ongemaklik of ongewens beskou word, uitgeskuif, afgeskaal en gemarginaliseer word, soos tans by amptelike instansies in hierdie land, in die eerste plek by die SAUK, maar blykbaar ook by Afrikaanse universiteite, waargeneem kan word. So asof dit altyd net óf die een óf die ander kan – en moet! – wees. Wanneer veeltaligheid egter bloot tot kompartementalisering en dus noodgedwonge tot diskriminasie lei en diversiteit net ’n slagspreuk van die heersende party bly, dan is ons gevaarlik naby ’n verstarde soort denke wat ’n volk of groep trots sy “apartheid as nasie” laat vier, omdat “hy” “’n eie taal het en ’n eie lewensbeskouing”.

Tot sover die preek; kom ons kyk na voorbeelde.

Kyk ’n mens na uitlatings oor of verwysings na Adam Small se oeuvre in Ons kom van vêr, kan die indruk maklik ontstaan dat hy uitsluitlik in “Kaaps” geskryf het. Feit is egter dat hy sy skrywersloopbaan met werke in Standaardafrikaans as’t ware “ingeraam” het, aangesien beide sy vroeë werke (dws voor 196012) asook sy laaste groot digbundel13 in hierdie taalvorm verskyn het. Trouens, ook in sy “Kaapse” bundels is daar gedigte in die standaardvorm. Dat daar ’n gehalteverskil tussen die gedigte in die twee variëteite te bespeur is, soos Ampie Coetzee lank gelede al uitgewys het,14 is sekerlik nie onbeduidend nie; ter sake is dit egter nie. Want dit gaan hier daaroor dat Small deur hierdie eensydige en dus skewe uitbeelding getipeer word as ’n “bruin” digter wat uitsluitlik versetpoësie geskryf het, wat sy literêre bydrae verskraal en tewens potensieel op ’n bedenklike wyse in die rigting van ’n omgekeerde soort taalapartheid beweeg.

Small se gebruik van verskillende taalvariëteite is ’n bewys van die dinamiese aard van die taalveelvoud in Suid-Afrika, wat – met betrekking tot “Kaaps”, byvoorbeeld – ook deur “wit” skrywers verrykend aangewend is. Ek dink hier in die eerste instansie aan ID du Plessis en aan Peter Blum se sestal “Kaapse sonnette” in sy bundel Steenbok tot Poolsee van 1955. En wanneer dit kom by die “bruin Afrikaanssprekendes” se bydrae tot die Suid-Afrikaanse kultuurarena, verdien David Kramer, wat nêrens in hierdie bundel genoem word nie, tog besondere vermelding: sy produksies is inklusief in die ware sin van die woord; hy oorskry alle taal- en kultuurgrense; en in sy werk het hy Boeremusiek, die vastrap, die ghoema en die ritmes van die klopse tot ’n dinamiese mengsel bymekaargebring, waar die manne van die Royal-hotel, Koos Sas, die Karoo-kitaarspelers, Distrik Ses en Orpheus MacAdoo, en wie en wat nog in ’n lewendige gesprek met mekaar tree. Is dit nog “bruin” of “wit” – en maak dit hoegenaamd saak?

 

6. Envoi

En nou die slotgesang. Die tye verander, en die wiel draai. Sedert 1990 het baie dinge tot so ’n mate verander dat die gebeure, persone en strydvrae wat in Ons kom van vêr bespreek word, tot ’n groot mate histories geword het. Die hegemonie van die Nasionale Party en sy taal- en kultuurbeleid is iets van die verlede; die comrades van destyds is vandag se ministers en funksionarisse. Die bundel is ’n belangrike bestekopname van haas versweë stories en (byna) vergete mense en gebeure. Maar die spreekwoordelike olifant in die vertrek, by name die Engelse taal en sy invloed, kan haas nie meer misgekyk word nie. Die ten dele werklik inspirerende narratief van die bruin gemeenskap se rol op die terrein van die Afrikaanse kultuur en taal wat in hierdie boek ontvou, word erg gerelativeer deur die toenemende rol wat Engels deesdae in die akademie – by uitstek by die UWK! – die kerk, skole en in die werksplek en elders speel. Engels is hoeka die taal van die opwaarts beweeglike (upwardly mobile) segment van die bevolking en deesdae ook die taal van populêre kultuur en die kommersiële lewe. Die bruin middelklas, so trots Afrikaans, stuur sy kinders meestal na Engelse skole.

Hier is genoeg stof tot nadenke en genoeg materiaal vir ’n opvolgbundel.

 

Eindnotas

1 NP Van Wyk Louw, “Nuusberigte: 1956” in Tristia. Tweede druk. Kaapstad: Human & Rousseau, 1963:115.

2 CM van den Heever, P de V Pienaar (reds), Kultuurgeskiedenis van die Afrikaner. Die eerste beskrywing van die Boere-volkslewe in al sy vertakkinge. Met die medewerking van 37 Afrikaanse Gesaghebbendes. Drie dele. Kaapstad, Bloemfontein en Port Elizabeth: Nasionale Pers Beperk, onderskeidelik 1945, 1947 en 1950. (Voortaan Van den Heever en Pienaar.) ’n Hersiene en verkorte uitgawe verskyn in 1968 in een volume onder redaksie van slegs Pienaar; dit omvat 419 bladsye.

3 Adam Small, “Lydingsweg” in Kitaar my kruis. Tweede druk. Kaapstad en Pretoria: HAUM, 1974:17.

4 DJ Opperman, “Draaikewers” in DJ Opperman (red), Groot verseboek. Negende uitgawe. Kaapstad: Tafelberg, 1986:288 ev.

5 Aangehaal in Hein Willemse, Marion Hattingh, Steward van Wyk en Pieter Conradie (reds), Die reis na Paternoster. ’n Verslag van die tweede swart Afrikaanse skrywersimposium gehou op Paternoster vanaf 29 September tot 1 Oktober 1995. Bellville: Universiteit van Wes-Kaapland, 1997, ongepagineerde opdrag. Vgl ook Diana Ferrus se digbundel Ons komvandaan. Bellville: Selfpublikasie, 2004.

6 Abrahams, PW, E Beukes, A Boezak, P Petersen, I Theunissen (reds), Ons kom van ver af. St Helenabaai: Prog, 1995. Hierdie bundel se titel is afgelei van ’n gelyknamige lang gedig deur Petersen; kyk Hein Willemse, “Die veelbewoë vaart na Paternoster of ’n eie perspektief op swart Afrikaanse skryfwerk”, in Willemse ea, Die reis na Paternoster, 1997:121.

7 Dis `n oortuiging wat egter onder taalaktiviste bly voortleef; kyk bv PH Zietsman, Die taal is gans die volk. Woelinge en dryfvere in die stryd om die Afrikaner se taal. Pretoria: Universiteit van Suid-Afrika, 1992.

8 Vgl JC Kannemeyer, Die Afrikaanse Literatuur 1652–2004. Kaapstad en Pretoria: Human & Rousseau, 2005:31.

9 Ongepubliseerde lesing, gehou tydens die 27ste kongres van die Suider-Afrikaanse Germanistevereniging, Windhoek, April 2015.

10 Kannemeyer, op cit, 45.

11 Breyten Breytenbach, Lesing tydens die Simposium oor die Sestigers, Universiteit Kaapstad, Februarie 1973. Aangehaal in Wits Student, 27 April 1973.

12 Kannemeyer, Die Afrikaanse Literatuur bl 289.

13 Adam Small, Klawerjas. Kaapstad: Tafelberg, 2013.

14 AJ Coetzee, “Die poësie van Sestig” in J Polley (red), Verslag van die Simposium oor die Sestigers. Gehou deur die Departement Buitemuurse Studies van die Universiteit van Kaapstad, 12–16 Februarie 1973. Kaapstad en Pretoria: Human & Rousseau, 1973:50–78; aanhaling, bl 71.

Gunther Pakendorf is ’n medeprofessor emeritus in die Skool vir Tale en Letterkundes aan die Universiteit Kaapstad en ’n buitengewone medeprofessor in die Departement Moderne Vreemde Tale aan die Universiteit Stellenbosch.

  • Foto's: Naomi Bruwer

The post Ons kom van vêr: ’n LitNet Akademies-resensie-essay appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20710

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>