Beste Jan,
Jou hele betoog van jou vorige brief is 'n bewys dat jy onkundig is oor wat Linguistiek, Grammatika, Grammatikaterme, taalonderrig, taalontwikkeling en teorie is.
Lank terug het ek reeds aan jou verduidelik dat Logika en Grammatika verwant is aan mekaar, soos ontwikkel deur die Griekse filosowe. Gedurende die Middeleeue is Grammatika ook bestudeer, veral aan die hand van die grammatika van Sanskrit. Dit is egter eers gedurende die 19de eeu dat taal op ʼn wetenskaplike wyse bestudeer is, dat dit die naam Linguistiek verkry het, veral met die werke van Ferdinand de Saussure, Sapir en Bloomfield. De Saussure kan tereg die grondlegger van die 20ste eeuse Linguistiek genoem word. Chomsky het met sy werke die Linguistiek en die Grammatika in ʼn heel ander rigting gestuur, en word beskou as die vader van die moderne Linguistiek en die Grammatika. Sy invloed het tot deurgewerk in skole toe Grammatika formeel onderrig was. Waar ek en jy nog sinsontleding gedoen het en gepraat het van enkelvoudige en samegestelde sinne, hoofsin, bysin, bywoordelike bysin, byvoeglike bysin en neweskikkende sinne, het die nuwe klomp sinne ontleed deur boomstrukture te trek en te praat van naamwoordstuk, werkwoordstuk, ens. Ek twyfel egter of enige leerling iets verstaan het van die boomstrukture wat hulle so ywerig getrek het. Hulle is natuurlik veelseggend want daardeur word diepte- en oppervlaktestrukture met mekaar verbind. Nee, daar kan ons nie van wegkom nie, met sy grammatika vir moderne Hebreeus, kan Chomsky voorwaar die vader van die moderne Grammatika genoem word.
Ek kan nie verstaan waarom jy dit so moeilik vind om die begrip grammatika te verstaan nie. Dis tog nie so moeilik nie. Die woord grammatika sê tog vir jou dis iets wat in skrifvorm moet wees. Dis die studie van taal en ʼn taal se struktuur. Chomsky se werk het dit oor die universele taalstruktuur, maar elke taal het ook sy eie struktuur en eers as dit beskryf is deur middel van grammatikaterme, het die betrokke taal ʼn grammatika. Eintlik verstaan jy dit, maar jou benaminge is net verkeerd. Wanneer die linguis praat van taalstruktuur, noem jy dit verkeerdelik grammatika.
Grammatika is die beskrywing van die taalstruktuur. Jou Engelse seuntjie wat “I am” sê, weet niks van grammatika nie, maar dit verhoed hom nie om grammatikaal korrek te praat nie. As iemand grammatikaal korrek praat, dan doen hy dit omdat sy taalgevoel dit vir hom sê, nie omdat hy die grammatika ken nie. Hierdie taalgevoel het hy aangeleer deurdat hy blootgestel was aan die taal, maw hy het mense om hom hoor praat en hulle het ook met hom gepraat. Chomsky het die baba en kleuter wat die taal leer, se verstand as tabula rasa beskou waarop invloede van buite afgedruk word om ʼn ingewikkelde taalsisteem baas te raak. Ander linguiste het met hom hieroor verskil. Vir hulle het die baba ʼn aangebore taalvermoë. Dis maar die ou stryd tussen oorerwing en omgewing.
Wat Engelse woorde in Afrikaans betref, niemand druk enigiets in iemand se keel af nie. Hierdie Engelse woorde kom op ʼn heel natuurlike wyse in Afrikaans voor. Waarom kan ek nie met sekerheid sê nie want ek het dit nie nagevors nie. Ek het ʼn vermoede dat die Afrikaanssprekendes woorde soos ‘amazing’, ‘actually’, ens. beter ken as die Afrikaanse woorde. Miskien pas dit beter by die taalgevoel van die spreker in as die Afrikaanse woord. Dit lyk my die jeug gebruik dit omdat hulle nie die Afrikaanse woorde ken nie.
Vir my taalgevoel is dit lelik om so te praat, maar dis my eie persoonlike gevoel. As ek as linguis hierdie verskynsel wetenskaplik benader en beskryf, mag ek mos nie my persoonlike gevoel in die gedrang bring nie. Dan moet ek objektief teenoor die saak staan. Dit is iets wat jy net nie kan verstaan nie. Jy sien net rooi as jou taal so verniel word. Daarmee is daar niks mee verkeerd nie, maar dan kan jy nie vir die linguis, wat objektief wetenskaplik, die taal benader, gaan voorskryf hoe hy dit moet doen nie.
Aan die rigting wat taal inslaan, kan niemand iets doen nie, want taal is wispelturig. Toe Afrikaans ontstaan het, het die taalpuriste ook blou moord geskree oor hierdie agteruitgang van Nederlands en dit uitgeskel as oa ʼn kombuistaal. (Die ander benaminge mag ek nie neerskryf in moderne Suid-Afrika nie.) Het die lawaaiery iets gehelp? Net mooi niks nie – ons gesels en skryf heerlik Afrikaans. Dit het selfs amptelike status verkry in 1925. Sal al die geskellery en geskreeuery en slegsêery oor die Engelse invloed op Afrikaans iets bereik? Nee, wat! Oor dertig, veertig jaar gesels ons lekker in Afrikaans (of dalk nog ʼn nuwe taal) en weet nie eens dat dit Engelse woorde is wat ons so vrylik rondgooi nie. (En hierdie ‘vrylik’ het niks te make met lukraak nie.)
Wetenskaplikes weet goed wat hulle bedoel as hulle van ʼn teorie praat. Dit is die grondbeginsels van wat hulle in die natuur waargeneem het, soos bv die evolusieteorie, die atoomteorie, die gravitasieteorie, ens. Hulle sal beslis weet wat ʼn theorem, teorema, is. ʼn Teorie is eksperimenteel, terwyl ʼn teorema deduktief is.
Angus
The post Vir Jan Rap: nog 'n lesing oor Linguistiek en Grammatika appeared first on LitNet.