Die sewende, hersiene uitgawe van Die Afrikaanse kortverhaalboek, saamgestel deur Braam de Vries, het onlangs onder ons albei se aandag gekom. Dis ’n boek om op trots te wees: amper 700 bladsye van die keur van die Afrikaanse kortverhaalkuns, saamgestel deur iemand wat nie slegs met gesag daaroor kan oordeel nie, maar self bekend staan as een van Afrikaans se mees bedrewe kortverhaalskrywers. Op die agterflap word JC Kannemeyer aangehaal waar hy beweer dat hierdie boek dieselfde rol in die Afrikaanse kortverhaalkuns speel as wat Opperman en later Brink se Groot verseboek in die Afrikaanse digkuns gespeel het. “Daarmee,” sê Kannemeyer, “is De Vries die belangrikste kanoniseerder van die Afrikaanse kortverhaal."
Dit is akkolades waarmee ’n mens graag akkoord wil gaan. Dit is egter teen die agtergrond van sulke grootliks welverdiende lof dat ons nie anders kon as om uit die veld geslaan te wees oor die besluit (waarskynlik reeds van toepassing in vorige uitgawes) om Toon van den Heever se “Werkstaking by die kleigat” in so ’n voortreflike bloemlesing op te neem nie.
Hierdie verhaal, wat gedateer word as geskryf in 1948 (ironies en betekenisvol!) is ’n verhaal wat nie in ’n bundel van hierdie statuur tuishoort nie. Die rede daarvoor is dat dit, watter moontlike literêre waarde dit ook al mag hê, blatant rassisties en paternalisties is. Terwyl niemand kan ontken dat sulke verhale wel in Suid-Afrika se geskiedenis geskryf en gepubliseer is nie, bevraagteken ons die wysheid daarvan om so ’n verhaal in te sluit in ’n bundel met die ooglopende prestige van Die Afrikaanse kortverhaalboek.
Ons is hoegenaamd nie besig om ’n vorm van sensuur ten opsigte van Van den Heever se verhaal te bepleit nie; in ’n demokrasie kan mense skryf wat hulle wil, solank dit nie haatspraak is en geweld aanhits nie. Al wat ons wil doen, is om kritiese vrae te vra oor die wysheid en wenslikheid daarvan om ’n verhaal wat kennelik so deurdrenk is van rassistiese houdings en stereotipes, en wat swart mense se vermeende minderwaardigheid so gemaklik en onkrities aanvaar, steeds in ons dag en datum in so ’n prestige-bundel op te neem. Anders gestel: Wat is die regverdiging daarvoor om juis hiérdie verhaal deel te maak van die “kanon” van Afrikaanse kortverhale, gegee die manier waarop die verhaal op ’n bewuste, dog onkritiese manier uitdrukking gee aan ’n waarde-oriëntasie wat apartheid in een van sy kruuste vorme, indien nie propageer nie, dan wel kritiekloos artikuleer? Loop die opname van hierdie verhaal in hierdie bundel nie die ooglopende gevaar om persepsies (reg of verkeerd) oor Afrikaans as taal se innige verbondenheid met die apartheidsbedeling ooglopend te bevestig nie?
Voor ons iets verder ter motivering aanvoer, net eers die buitelyne van waarom die verhaal gaan, sowel as enkele aanhalings om ons bewerings te staaf.
Die verhaal is op die oog af ’n gemoedelike vertelling deur ’n jong Afrikaanse boerseun (sy naam word nie vermeld nie) wat vertel van die wêreld van sy grootworddae op die Hoëveld. (Van den Heever het ook ’n treffende gedig oor die Hoëveld geskryf). Die verhaal handel dan veral oor hierdie seun (moontlik Van den Heever self?) se interaksie met ’n jong swart beeswagter genaamd Pens – duidelik iemand wat saam met hom speel op die plaas waar hulle albei help om skape op te pas. Die verhaal handel onder andere oor Pens se maak van ’n aantal klei-osse (“Afrikaners”) en sy verbeeldingspel as hy hulle “aandryf”.
Die kort verhaaltjie (slegs twee bladsye) neem ’n wending na die einde toe. ’n Gesprek tussen die verteller-boerseun en Pens vind plaas. Die verteller voer aan dat hy moeg is vir skape oppas; hy wil koers kies na ’n vreemde plek waar hy ’n gevierde militêre aanvoerder wil word wat die “Kakies uitmekaar jaag” en die “tjaainies [Chinese?] laat spaander”. Daarna, dagdroom hy, sal hy as gevierde generaal trou met die dogter van ’n ridder (“knight” en “naait” in die verhaal). Daarna volg nog ’n verbeeldingsvlug oor hoe hy almal sal verras wanneer hy as beroemde generaal terugkeer huis toe.
Direk op laasgenoemde fantasie volg dan ’n passasie wat ons woordeliks wil aanhaal:
“Ek wil ook wegloop” begin Pens met geesdrif, “en dan dink almal ek’s dood. Dan sê hulle: ‘Dis goed, die blikskottel is tog niks werd nie!’ Dan hoor hulle naderhand van ’n groot kommandant of ’n generaal wat die rooinekke …”
“Maar jy’s dan ’n kaffer!” val ek [die boerseun-verteller] Pens in die rede.
“Ja wragtaag” [sic] sê Pens, langsaam en terneergeslae. “Wat kan ek dan word?”
“Ek sal jou sê” kry ek ’n blye inval, “jy kan my agterryer word.”
“Jou agterryer? Jou verstand!”
Hierdie verhaal is waarskynlik ’n instansie van die “gemoedelike lokaal-realisme” van die tradisionele (dws voor-1950’s) Afrikaanse prosa waarvan Van Wyk Louw in sy Vernuwing in die prosa (Academica 1973) praat. Tog maak ’n mens ’n ernstige fout om hierdie soort verhaal bloot te lees as tiperend van die onskuldige naïwiteit van ’n verbygegane era.
Hierdie soort verhaal, en met name die gedeeltes wat volledig aangehaal is, bevestig stereotipes wat almal wat dit goed bedoel met, en wat hulself beywer vir, ’n nierassige en sosiaal en ekonomies regverdiger Suid-Afrika, se pogings opnuut in die wind slaan. Hierdie verhaal is veel meer as “gemoedelike lokaal-realisme”. Dit is ’n weerspieëling van gesindhede en samelewingstrukture wat blatant en uitgesproke rassisties was.
Afgesien van die gebruik van die gewraakte k-woord in ’n konteks wat duidelik maak dat, as jy dan nou ’n k----r is, dan is jy minderwaardig en moet jy jou plek ken, skrei twee ander aspekte van die aangehaalde passasie uit hierdie verhaal ten hemele. Die eerste is dat Pens (hoekom die naam?) op die oog af dit glad nie bevraagteken waarom die verteller se ambisie hom (Pens) nie beskore is nie. “Ja, wragtaag …” is sy enigste reaksie. Asof hy wil sê: “Jammer dat ek dan nou darem nie daaraan gedink het nie! Ek is mos maar net ’n arme k----r; hoe kon ek gedink het dat ek iets meer kan vermag in die lewe?”
En dan volg die wit seun se skreiende paternalistiese “troos”: “Jy kan darem my agterryer word …!”
Al wat ’n mens positief van hierdie verhaal kan sê, is dat laasgenoemde “troos” selfs vir Pens ’n bietjie dik vir ’n daalder is: “Jou agterryer? Jou verstand!”
Dit is seker so: die verhaal weerspieël ’n mentaliteit en ’n vorm van sosiale diskriminasie wat oral aan die orde was op ’n sekere tyd in Suid-Afrika se geskiedenis. Dit help sekerlik nie om dit te ontken nie.
Ons vraag is egter aan De Vries: Wat word daarmee bereik om so ’n verhaal aan die groot, prominente, openbare en prestigeryke klok van Die Afrikaanse kortverhaalboek te hang? Die eerste uitgawe van hierdie bloemlesing was in 1978. Miskien was sensitiwiteite in daardie stadium nog nie genoegsaam opgeskerp om die onverantwoordbaarheid van so ’n insluiting in te sien nie. Maar ons praat van ’n bundel wat so onlangs soos 2012 hersien en heruitgegee is!
Is hierdie verhaal die gesig van Afrikaans wat ons tog asseblief nie wil vergeet nie? Hoekom is dit belangrik om in ’n toonvenster van die Afrikaanse letterkunde – daardie letterkunde waaroor deesdae so hoog en laag gesweer word dat dit “inklusief” wil wees, dat dit die bydrae van soveel meer as rassistiese Afrikaners wil verreken – hierdie soort verhaal op te neem?
Ons kan seker die verlede nie vergeet nie. Maar waarom aan hierdie verhaal van rassisme en growwe paternalisme status verleen deur dit ook in hierdie besondere bundel op te neem? Waarom hierdie verhaal nie toelaat om rustig te verdwyn in die vergetelheid wat dit so ryklik verdien nie?
Anton van Niekerk (professor in filosofie en direkteur: Sentrum vir Toegepaste Etiek, Universiteit Stellenbosch)
Nico Koopman (viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, Universiteit Stellenbosch)
Hierdie artikel is geskryf in hul persoonlike hoedanigheid en verteenwoordig nie die siening van die Universiteit Stellenbosch nie.
The post Van den Heever se “Werkstaking by die kleigat”: Regtig nodig in Die Afrikaanse kortverhaalboek? appeared first on LitNet.