Prevention and Combating of Hate Crimes and Hate Speech Bill, 2016
In sy LitNet Akademies-artikel Facebook en persoonlikheidsbeskerming (2014) skryf Johann Neethling: "Dit is geensins nodig vir die howe of wetgewer om nuwe regsbeginsels te ontwikkel of te skep ten einde slagoffers van die Facebook-stelsel voldoende te beskerm nie – al wat nodig is, is om gevestigde beginsels by die aktiwiteite van die sosiale media aan te pas." ’n Nuwe wetsontwerp is wel nou ter tafel gelê om bestaande wetgewing rondom haatmisdade en haatspraak aan te vul: Prevention and Combating of Hate Crimes and Hate Speech Bill.
Stephan Terblanche van die Departement Straf- en Prosesreg, Unisa, gee sy opinie oor die wetsontwerp.
- Inleiding
Hierdie konsepwetgewing, waarvan die naam vertaal kan word as die Wetsontwerp op die Voorkoming en Bestryding van Haatmisdade en Haatspraak, het baie mense bekommerd gemaak. Die kern van hierdie bekommernis is dat mense hulleself half onnadenkend en onbewus daarvan aan die pleging van ’n misdaad kan skuldig maak. Mense wonder ook waar die grens lê tussen vryheid van spraak, en die meegaande vryheid om kritiek uit te spreek, en haatspraak. En kerklui het probleme voorsien vir geloofsvryheid.
Voorbeelde van onverdraagsaamheid teenoor “ander” duik gereeld in nuusberigte op. So was daar in Desember 2015 ’n berugte plasing op Facebook deur Penny Sparrow, waarin sy na swart mense as ape verwys het. Onlangs was daar weer xenofobiese aanvalle op buitelanders en hulle besighede in Pretoria. Die leier van die EFF, Julius Malema, word beskuldig van verskeie uitsprake waarin hy negatief was teenoor wit mense.
Wat staan daar inderdaad in die wetsontwerp?
In wese skep dit twee “nuwe” misdade, naamlik haatmisdaad en haatspraak. Dit skryf ook strawwe vir hierdie misdade voor. Die woord nuwe verskyn tussen aanhalingstekens, want eintlik is ’n haatmisdaad enige bestaande misdaad wat gepleeg word weens vooroordeel teenoor bepaalde mense of groepe mense. Net so is vele voorbeelde van die gedrag wat as haatspraak verklaar word, reeds misdade.
Hierdie bydrae poog om die besonderhede van die wetsontwerp ’n bietjie onder die loep te neem, hoofsaaklik om uit te lig wat duidelik is, en wat minder duidelik is.
Ek wil eers net een definisie hier verklaar. Geriefsonthalwe verwys ek na die “slagoffer” (enkelvoud) van hierdie misdade. Die misdade word egter natuurlik dikwels nie net teen ’n individu gemik nie, maar juis teen almal wat sekere kenmerke deel. Die term slagoffer kan dus ook na ’n groep mense verwys. Mens moet ook noem dat persone of groepe teen wie die misdade gemik word, nie slagoffers in die werklike sin hoef te wees nie – dit gaan hier meer oor die bedoeling van die dader as oor die werklike effek op of gevoelens van die “slagoffer”.
- Haatmisdaad
Volgens klousule 3(1) is ’n haatmisdaad ’n reeds bestaande misdaad, soos moord, verkragting, roof, ens. Om as haatmisdaad te kwalifiseer, word hierdie misdaad egter gemotiveer deur die dader se vooroordeel of onverdraagsaamheid teenoor die slagoffer, juis op grond van een of meer van ’n lys eienskappe van die slagoffer of die slagoffer se familie. Hierdie lys bevat 17 eienskappe, waarvan die meeste oorvleuel met die eienskappe wat reeds in die Grondwet se verbod (in artikel 9(3)) op diskriminasie deur die staat ingesluit is. Voorbeelde sluit ras, geslag, seksuele oriëntasie, etniese of maatskaplike afkoms, geloof, kultuur, taal of gestremdhede in. Die lys in die wetsontwerp gaan ook verder deur eienskappe soos MIV-status, nasionaliteit en beroep of bedryf in te sluit. Die insluiting van mens se beroep is inderdaad een van die meer aanvegbare elemente van die voorgestelde wetgewing.
Dit blyk dus dat klousule 3(1) bestaande misdade neem en dit tot ’n haatmisdaad verklaar wanneer hierdie misdaad met die gewraakte motief gepleeg is. Geen misdaad word uitgesluit nie, en dit lyk dus of selfs geringe oortredings daarby ingesluit sal wees. Versuim om ’n TV-lisensie te betaal, of om geld in ’n parkeermeter te gooi, behoort dus ook ingesluit te wees, solank dit maar gemotiveer is deur vooroordeel of onverdraagsaamheid teenoor ’n slagoffer wat minstens een van die eienskappe in die lys vertoon.
Omdat die basiese misdade reeds bestaan, is die strawwe wat daarvoor opgelê kan word, reeds bekend. Die wetsontwerp bevestig hierdie posisie, maar verklaar dat die motief in die meeste gevalle as ’n verswarende faktor in ag geneem behoort te word (klousule 6). Indien moord en verkragting as haatmisdaad kwalifiseer, word lewenslange gevangenisstraf voorgeskryf, en indien brandstigting en huisbraak as haatmisdaad kwalifiseer, geld minimum vonnisse van 15 jaar gevangenisstraf vir ’n eerste oortreder – en meer indien die misdadiger vorige veroordelings het.
- Haatspraak
Die misdaad haatspraak word geskep deur klousule 4, en vereis ’n vorm van kommunikasie, gemik teen iemand (die slagoffer), met ’n duidelike opset om ander mense aan te hits tot geweld teen daardie slagoffer. Weer eens word die lys van eienskappe as ’n basis vir die diskriminasie gebruik.
Die belangrikste onderskeidende kenmerk van haatspraak is dat die kommunikasie ’n “duidelike bedoeling” moet demonstreer om ander mense tot geweld aan te hits. Dit is dus duidelik dat die blote uitspreek van kritiek teenoor mense van enige groep, gebaseer op die lys van die kenmerke, nie voldoende is om haatspraak daar te stel nie. Selfs fel kritiek wat die “slagoffer” die harnas sou injaag, kan nie bloot om daardie rede as haatspraak beskryf word nie.
Met hierdie beskrywing het ek slegs aan die oppervlak van die besonderhede van hierdie misdaad geraak. Dit is nodig om bietjie dieper te krap.
Die misdadige handeling is om met een of meer mense te kommunikeer. Hierdie kommunikasie kan op enige wyse geskied, hetsy mondeling deur die uiting van woorde, of deur geskrif. Dit sluit sonder twyfel ook die gebruik van enige sosiale media, soos Facebook of Twitter, in. Die kommunikasie moet egter ’n bepaalde karakter toon: óf dit moet haat teenoor die slagoffer aanwakker, óf dit moet afdreigend, afbrekend of beledigend teenoor die slagoffer wees.
En nou die belangrikste element van hierdie misdaad: gegewe al die omringende omstandighede moet dit ’n duidelike opset (“a clear intention”) demonstreer om ander mense aan te stig om die slagoffer te benadeel, of om geweld teen die slagoffer aan te stig, of om die slagoffer belaglik te maak of te minag. Die woorde wat gebruik word, is sterk woorde. Om iemand bloot te kritiseer, of weens onaanvaarbare gedrag te veroordeel, behoort dus nie onder enige vorm van haatspraak tuis te hoort nie.
In ’n verdere poging om hierdie wetgewing te ontleed, kom ons kyk na voorbeelde van besonder ernstige vorme van gedrag wat haatspraak sou wees, en gedrag aan die ander kant van die spektrum. Iemand wat duidelik haatdraende uitsprake maak, direk aan ’n groot groep ondersteuners, teen mense van ’n ander ras, of seksuele oriëntasie, of teen buitelanders, en wat sy volgelinge aanhits om daardie mense dood te maak of ernstig te beseer, of om hulle huise of besighede af te breek, pleeg duidelik ’n ernstige vorm van haatspraak. ’n Voorbeeld van die ander kant van die spektrum sou ’n geval kon wees van iemand wat ’n baie beperkte medium gebruik, byvoorbeeld in ’n selfoonboodskap aan ’n vriendin, om iemand van die ander geslag te beledig, en waarin die vriendin dan duidelik aangemoedig word om die slagoffer belaglik te maak.
Haatspraak word strafbaar gestel met ’n boete of met gevangenisstraf van hoogstens drie jaar. Hierdie tydperk word egter verleng tot 10 jaar in geval die oortreder reeds ’n vorige veroordeling vir haatspraak het. Die maksimum van drie jaar gevangenisstraf is relatief min indien dit met ander onlangse wetgewing vergelyk word.
- Algemene beginsels van die strafreg
Benewens die spesifieke bepalings van die wetsontwerp, moet ook in ag geneem word dat die algemene beginsels van die strafreg steeds geld. Dit sluit onder andere in dat die verbode gedrag nie onwettig sou wees indien daar ’n regverdigingsgrond aanwesig is nie. Voorbeelde hiervan sou insluit dat ’n spreker haarself teen ’n onwettige aanval mag verweer, as ’n vorm van selfverdediging of noodweer. Uitsprake teen openbare figure, soos politici, sou ook baie ernstiger moet wees om werklik onwettig te wees.
Daar is ook oorvleueling in die wetgewing. Dit is byvoorbeeld reeds ’n misdaad om ander mense aan te stig om ’n slagoffer op enige manier te benadeel of om met hulle saam te sweer om ’n misdaad te pleeg, ingevolge die Wet op Oproerige Byeenkomste, 1956. Volgens nuusberigte is dit waarvoor Julius Malema aangekla word, maar beoog hy om die saak konstitusionele hof toe te neem op grond daarvan dat hierdie wetgewing ongrondwetlik is. Die nuwe wetsontwerp is nog wyer, en dit sou sy taak om die konstitusionele hof te oortuig beslis nie makliker maak nie.
- Enkele verdere gedagtes
Wanneer die bepalings van die wetsontwerp uitgelê word, moet mens ’n paar dinge in gedagte hou. Die een is dat Suid-Afrika tot dusver versuim het om sy verantwoordelikhede na te kom om sulke wetgewing op die wetboek te kry. Die aanhef tot die wetsontwerp verwys na hierdie verantwoordelikhede ingevolge die “Declaration adopted at the United Nations World Conference against Racism, Racial Discrimination, Xenophobia and Related Intolerance held in Durban” en die “International Convention on the Elimination of All Forms of Racial Discrimination”. Sommige mense se reaksie op die wetsontwerp was dat Suid-Afrika toegee aan internasionale druk. Suid-Afrika is egter deel van die internasionale gemeenskap. Indien die land homself deur verdrae daartoe verbind om iets te doen, is dit nie toegee aan eksterne druk om sodanige onderneming na te kom nie, maar sommer net om jou eie woord gestand te doen. Hierdie wetgewing is ook veral daarop gemik om xenofobiese aanvalle teen te werk – iets waarvoor Suid-Afrika internasionaal gekritiseer word; iets wat sekerlik nie deur enige regdenkende mens goedgepraat kan word nie.
Die wetsontwerp erken uitdruklik in die aanhef dat die Grondwet ook vryheid van spraak beskerm. Dit herhaal die woorde in artikel 16 van die Grondwet dat vryheid van spraak nie sonder perke is nie: dit kan nie gebruik word vir oorlogpropaganda nie, of om geweld aan te stig nie, of om haat aan te blaas op grond van ras, etnisiteit, geslag of geloof nie. Vir sover die wetsontwerp nie verder gaan as wat die Grondwet reeds bepaal nie, kan dit nie onaanvaarbaar wees nie. Die bevestiging dat vryheid van spraak ’n grondwetlike reg is, noop die vervolging en die howe egter om dit in gedagte te hou wanneer die wetgewing uitgelê word.
Die wetsontwerp bevat ook ander maatreëls wat ten doel het om te verseker dat die bepalings nie misbruik word nie. Die belangrikste hiervan is dat die direkteur van openbare vervolgings elke vervolging moet goedkeur. ’n Plaaslike aanklaer kan dit dus nie uit eie beweging doen nie. Sodanige bepalings het tipies ten doel om te verseker dat net werklik ernstige gevalle vervolg word. Dit is onduidelik of hierdie tipe bepaling ’n privaat vervolging kan verhoed.
Vir volledigheid moet mens ook noem dat die wetsontwerp nie ’n verskil maak aan die prosesse wat reeds bestaan om slagoffers teen enige vorm van slegsê te beskerm nie. Dit staan die slagoffer van enige belediging steeds vry om ’n siviele saak te maak teen enigiemand wat hulle skade berokken. Net so bly die gelykheidshof steeds voortbestaan. Hierdie howe het tot stand gekom deur die Promotion of Equality and Prevention of Unfair Discrimination Act 4 of 2000. Daarvolgens mag niemand woorde publiseer wat duidelik daarop gemik is om haat aan te blaas of iemand seer te maak of te benadeel nie (artikel 10). Hierdie wetgewing is wyer as die nuwe wetsontwerp, en die gelykheidshowe tree basies soos siviele howe op. Dit het gebeur in Penny Sparrow se geval, en die gelykheidshof se beslissing was dat Sparrow ’n bedrag van R150 000 as skadevergoeding moet betaal, aan ’n organisasie wat nierassigheid en versoening ten doel het (ANC v Sparrow (01/16) [2016] ZAEQC 1 (10 Jun 2016)).
Die bedoeling met al hierdie maatreëls is dat dit op die langer duur tot niemand se voordeel strek om ander mense sleg te sê nie.
The post Wetsontwerp op die Voorkoming en Bestryding van Haatmisdade en Haatspraak, wat om te verwag appeared first on LitNet.