Plek vir my hart
Jy breek my woord-vir-woord af,
want my huis se dak lek
en die mure kraak
en die plankvloere kreun.
Die vensters is versplinter
en die kleure verbleik.
Die voordeur is vas met genade
en die tuin lyk soos ’n oortrekte oerwoud ...
Maar jou huis was nooit ’n tuiste vir my.
Die gange joviaal gevul met rykdom
en die vertrekke met kristalkandelare
was leeg sonder liefde.
Die pragtuin en spitsdak het my geterg.
Die Persiese tapyt was koud en klinies
en te teatraal na my smaak.
Weelde kon my nie geselskap hou in die nag.
My verlange na jou word minder,
want jy was in elk geval nooit daar.
Geluk is verberg deur al die blink
en vrede was altyd ’n tree te ver ...
Hierdie huis is nou my tuiste.
My hart klop warm vir hierdie ou vervalle plek.
Jou huis was vol, maar so alleen
en daar het ek vergaan.
Gastekamer vir die verlede
’n Huis of tuiste
dié ken ek nie,
maar ’n plek om te vertoef
wanneer ek nie gedwing word
om iewers anders te wees nie, wel.
’n Plek met vloerplanke wat kraak
en nagskimme van vrees
wat om elke hoek vir jou loer.
Donker kamers vol onthou
wat ek eerder wil vergeet.
’n Binnekamer van stilte
waar niemand my kan versteur
is daar lankal nie meer.
Geen hoekie vir ’n verlore siel
om van die lewe se seer weg te kruip.
Dowwe spoke uit die verlede
loer teen die mure vir my.
Tok-tok, tok-tok. Daar is dit weer!
’n Gehamer van verlore geheime
wat na die oppervlak wil dryf.
Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.
The post Huis, woning, tuiste: Magda Schmidt se inskrywings appeared first on LitNet.