Op 9 Maart het John Miles, Sylvia Vollenhoven en Jolyn Phillips in die ATKV-Boektent met Bettina Wyngaard gepraat oor identiteit en kulturele appropriasie in fiksie. Die vraag ontstaan of dit vir ’n skrywer moontlik is om werklik in ’n ander kultuur se skoene te klim wanneer hulle daaroor skryf.
Oor kultuur
“Ek kan myself ’n African noem, maar nie ’n Afrikaner nie. Die twee woorde kan nog nie mekaar se skoene aantrek nie.” Jolyn Phillips, wie se TjiengTjangTjerries onlangs verskyn het, is bewus daarvan dat ons nog sit met woorde wat ou definisies uit die vorige bestel het. Mense se stories is diep in die grond ingetrap. Sy voeg ook by: “Die woord ‘kultuur’ gly deur my hande; dis soos om water te probeer vashou.”
Sylvia Vollenhoven vertel dat sy verskeie vriende het wat Mohawks of sogenaamde native Americans is. Sy sidder om te dink aan wat hulle sou sê as hulle ooit in die Spur sou kom en hoe skaam sy sal kry oor die stereotipe wat daar uitgebeeld word. Vollenhoven, skrywer van Keeper of the Kumm, sê dis belangrik om te onthou hoe versigtig jy moet wees wanneer jy ander mense se stories skryf. Veral wanneer jy skryf oor iemand se trauma, vernedering of verlies, kan dít wat jy skryf die persoon weer van vooraf seermaak. Die skrywer moenie deel raak van die probleem nie.
John Miles, wie se Op ’n dag, ’n hond onlangs verskyn het, gesels oor die dele van mens se kultuur waaroor jy geen beheer het nie. As wit Afrikaanssprekende het hy geen beheer gehad oor sy geboorte, moedertaal of kleur nie. Die mens bestaan egter uit ’n bondel identiteite en geen groep is homogeen nie. As mense dus aannames maak op grond van enige van sy eienskappe, moet hulle hom die kans gee om te antwoord en hulle opinies uit te daag.
Oor die skrywer se stem
Vollenhoven vertel hoe sy as joernalis baie keer ervaar het dat haar stem nie gehoor is nie, as gevolg van haar velkleur. Toe die Voëlvry-beweging egter dieselfde goed begin sê wat sy gesê het, toe luister die hele wêreld skielik. Sy het egter nooit daaraan getwyfel dat haar stem belangrik is nie en wou haarself bemagtig.
Oor toestemming om iemand se storie te skryf
Bettina Wyngaard opper die vraag: “Hoekom moet ’n wit man my storie skryf as ek dit self kan doen?” Sy rig dan die gesprek in die rigting van toestemming wanneer jy oor ander mense stories skryf.
Sylvia vertel dat haar onderwerp (Wilhelm Bleek en Lucy Lloyd se taaloptekening) se data uit ’n argief kom wat vrylik beskikbaar is. Sy moes toestemming om die boek te skryf dus nie van mense kry nie, maar eerder spirituele toestemming van haar voorouers kry.
Jolyn sê haar karakters is nie een mens nie, maar soos ’n gelapte broek wat bestaan uit die eienskappe van ’n klomp verskillende mense. Sy glo ook dat daar nie slegs een waarheid is nie, maar verskeie waarhede. Toestemming is nie ter sprake wanneer jy alles om jou inneem en elemente daarvan gebruik om een storie of karakter te skep nie.
Bettina sluit aan by Jolyn wanneer sy sê dat die leser ook sy eie waarheid uit elke storie kry. Twee getuies kan byvoorbeeld in die hof dieselfde storie op twee heeltemal verskillende maniere weergee.
Oor taalkeuse
Bettina vra vir Jolyn en Sylvia waarom hulle besluit het om in Engels te skryf.
Jolyn reageer eerste en sê dat alhoewel haar kortverhaalbundel nie uitsluitlik in Engels is nie, beskou sy taal as ’n fiksionele instrument. Sy gee vir haar karakters hul eie taal. As mense haar vra watter taal TjiengTjangTjerries is, sê sy vir hulle hulle moenie vra watter taal dit is nie, hulle moet net die taal kom leer. Sy sien nie taal as ’n lineêre verskynsel nie, maar eerder as ’n sig-sag-entiteit. “As iets ’n reguit lyn het, beteken dit hy’s dood, en ek wil my nie in ’n dooie taal inskryf nie.”
Sylvia reageer volgende op Bettina se vraag. Sy sê dat haar ma haar in ’n Engelse hoërskool ingeskryf het omdat sy geglo het jy kan nie werk in die Kaap kry as jy nie Engels kan praat nie. Toe sy begin skryf het, het sy haar ook afgevra wie haar gehoor is en hoe sy hulle kan bereik. Sy het besluit Engels is die beste medium om haar boodskap in oor te dra.
Sylvia sluit af deur die slotsin uit haar boek aan te haal: “If Africa is the birthplace of humanity, we are all children of the San.”
The post Kan ’n skrywer ’n ander kultuur se hoed opsit? appeared first on LitNet.