Die mens het nie godsdiens nodig om ’n morele lewe te lei nie. So het die bekende paleontoloog Jurie van den Heever, tydens die Woordfees gesê met die bekendstelling van sy boek Wat moet ons met ons kerk doen?.
Van den Heever maak verskeie omstrede stellings in sy boek wat volgens Chris Jones van die kantoor vir morele leierskap aardskuddend mag wees vir tradisionele gelowiges.
Jones was die gesprekvoerder tydens die bespreking.
Van den Heever voer onder meer aan dat die kerk ’n ander belydenis sal moet kry as hy nog wil relevant bly in ’n moderne wêreld.
Hy sê sy benadering met die skryf van die boek was om met ’n historiese narratief te werk en te probeer vasstel wat die Bybel regtig vir ons wil sê, met inagneming van al die nuwe kennis waaroor die mens vandag danksy die wetenskap beskik.
“Te veel mense lees die Bybel op ’n letterlike fundamentalistiese manier en nie as literatuur wat in ’n bepaalde konteks vir ’n bepaalde gehoor geskryf is nie.”
Sy stelling dat die Christelike geloof nie noodwendig ’n opgestane Jesus nodig het nie, sal ongetwyfeld baie gelowiges se wenkbroue laat lig.
Woordfeesgangers het twee agtereenvolgende dae die Drostdy-teater volgepak om te gaan luister na boekbesprekings rakende geloof. Vroeër die week het die filosoof Willie Esterhuyse en die emeritus dominee Frits Gaum met mekaar in gesprek getree oor nóg twee boeke wat deur Naledi uitgegee is, naamlik Gaum se God op soek? en Esterhuyse se Geagte Jahwe.
Gaum en Esterhuyse het diep teologiese verskille oor verskeie sake. Gaum se boek was ’n reaksie op Esterhuyse se boek omdat verskeie dinge daarin hom “moerig” gemaak het.
In Wat moet ons met ons kerk doen? skaar Van den Heever hom by ’n stem wat al hoe harder onder Afrikaanse mense gehoor word en wat afstand gedoen het van die tradisionele geloof.
Hy sê gereformeerde kerke in Suid-Afrika is aan die kwyn weens ’n verknogtheid aan Middeleeuse dogma. “Deur bewese navorsingsbevindings in die teologie, argeologie en biologie te ignoreer word die kerk toenemend irrelevant.”
Van den Heever, wat steeds ’n lidmaat van die NG Kerk is maar nie meer gereeld kerk toe gaan nie, meen die kerk behoort die weg vir lidmate oop te maak om uiteindelik self te bepaal hoe die kerk moet lyk en funksioneer.
Minstens drie swaargewigteoloë, naamlik Wentzel van Huyssteen, Ben du Toit en Louis Jonker, het die gesprek met Van den Heever bygewoon. Nie een van hulle het tydens vraetyd van hom verskil nie.
“Ek stem so met jou saam,” het Wentzel tydens die gesprek gesê.
Volgens Van den Heever is die kerk soos die Titanic wat op ’n ysberg afstuur terwyl die orkes speel.
“Die kerk loop leeg en hy gaan nog meer lidmate verloor namate hulle verby die kerklike dogma kyk.”
Op ’n vraag van Jones waarom hy as wetenskaplike oor die kerk skryf, het Van den Heever gesê: “Hoe kan ’n Afrikaner nie oor die kerk skryf nie, want feitlik alle Afrikaners kom uit ’n agtergrond waar die kerk geweldig voorskriftelik was en bepaalde vrae in mense se gemoed gelaat het.”
Verskillende mense het hom met die skryf van die boek beïnvloed, onder andere twee teoloë wat bereid was om die teks te keur. Omdat sommige lesers die boek as té omstrede mag ervaar, kan dit volgens Van den Heever negatiewe gevolge inhou vir enigiemand wat enigiets daarmee te doen het, daarom het hy besluit om hulle liewer anoniem te bedank.
Die voorblad simboliseer die historiese verhouding tussen kerk en wetenskap in Suid-Afrika. Die kerktoring, as plattelandse ikoon, vergestalt die dominante posisie wat die kerk in die groter samelewing, en spesifiek in die leefwêreld van die Afrikaner, beklee het, terwyl die ry individue wat deur die veld aanstryk, die bewese evolusionêre ontstaan van die mens illustreer. Terselfdertyd is dit sprekend van die populêre wanvoorstelling dat die evolusieproses doelgerig een verbeterde produk na die ander lewer. Laastens is die wandelende figure simbolies van die verandering en intellektuele vooruitgang wat die wetenskap meebring, in teenstelling met die kerktoring, wat ’n statiese leefwêreld verteenwoordig.
The post US Woordfees 2017: Wat moet ons met ons kerk doen? appeared first on LitNet.