Titel van teaterstuk: African Times
Skrywer: Pieter-Dirk Uys
Uitgewer van teaterteks: Peninsula, Darling, in samewerking met Missing Ink, Vlaeberg, Kaapstad
African Times is Pieter-Dirk Uys se jongste toneelstuk. Dit is die eerste keer op 2 Julie 2015 opgevoer tydens die Nasionale Kunstefees in die Rhodes-teater, Grahamstad. Uys vier vanjaar ook sy sewentigste verjaardag.
Ek het Percy Tucker se verwysings na Uys in Just the ticket! – My 50 years in show business (Jonathan Ball, 1997) nagegaan en daarna ook die internet geraadpleeg. Tucker as die man van Computicket dui telkens aan of ’n aanbieding ’n dawerende sukses was en of dit beroerd bygewoon is. Laasgenoemde het wel gebeur, maar daar was baie meer groot suksesse. En Uys se groot skeppingsvermoë is dadelik duidelik. Hy is eenvoudig ’n grootse teaterpraktisyn wat hoeveelheid, soort en gehalte betref. Daar is sy satiriese eenpersoonvertonings en ook ’n komedie soos Die Van Aardes van Grootoor (eersdaags is dit as musiekblyspel te sien). Ek is destyds sterk emosioneel geraak deur sy dramas Selle ou storie en Karnaval. Dis karakters wat so oortuigend, so realisties geskep is: aktrise Ester Viljoen; auntie Dora en haar Langstraat-girls. Paradise is closing down en God’s forgotten het die onrus oor ons landstoestande wakker gemaak
In ’n inleiding bring Uys African Times juis in verband met God’s forgotten van 1975. Daarin was dit ’n Afrikaanse gesin wat met hulle politieke en sosiale sekuriteit in ’n lieflike huis kon bly, maar hulle het geensins vryheid van beweging gehad nie – ter wille van hulle veiligheid. Hier is dit nou veertig jaar later en gaan dit om die lotgevalle van sy edele doktor MZ Nkosi se drie dogters in die ampswoning Ubuntu. Hulle bestaan word beheer deur die Departement, ’n instelling wat so oorheersend is dat dit ’n hoofletter verdien.
Tot op bladsy 59 (dis kort bladsye!) geskied eksposisie. Ons verneem dat die parlementariër terug is uit China. Hy verskyn nie, want hy moet dadelik aanmeld by die Departement. Sy oudste dogter. Sibongile, is belas met die reëlings om hom terug te verwelkom, om alles vir hom gemaklik te maak. ’n Mens beleef haar as ’n gesoute organiseerder wat met behulp van kolonel Vorster al die veiligheidsregulasies kan hanteer. Hy word net oor die klanktoestelle gehoor. Sy sê byvoorbeeld vir hom: “The minister does not enjoy eating off a tray in the library.” Vorster sug. Sy betig hom vir “(t)hat little Afrikaans sigh”.
’n Karakter wat sorg vir evokatiewe spraakbeurte is sus Nomsa. Sy beskryf die rit hier na Sibongile-hulle: “Anyway , on our way here, we had to pass through a raid, sirens shrieking, crawling through the foreign masses, countless fingers clawing at the car windows to draw our attention to their demands.” Maar dit blyk ’n leuen te wees. Die skare het langs die pad agter doringdraad en voor die gewere gestaan. Nomsa: “I pressed my face against the tinted glass and cried.”
Sy is die onderwyseres met die herinneringe aan ’n groepsverkragting. Sy beskryf dit stilisties ongewoon deurdat sy denkbeeldige leerders in ’n skoolsaal toespreek. Vir Sibongile maak sy dit baie konkreet: “How can I forget? The taste of the earth is still fresh on my tongue.”
Sy is die een wat met haar geknaktheid die hele tyd dopgehou en versorg moet word. Maar met haar uitgesprokenheid, haar begeertes en haar dade kom sy dalk juis die naaste aan ’n bevrydheid. Sy sien wel uit na ’n uitwissing: “Then I can only say thank God we’ll all be gone and won’t have to apologise for allowing precious freedom to just slip away, drip by drop.”
Die intrige word versterk met die verskyning van professor Liu Chen en Karabo. Daar is die spanning oor die nuus dat die agbare minister in China met Liu getroud is. En dat hulle suster Karabo saam met die egpaar teruggekeer het – sy die uitgewekene toe haar Joodse geliefde nie aanvaarbaar vir die familie en regering was nie. Almal besef dat dit ’n verandering van rolle beteken. Daar in die vreemde het die intelligente, bedagsame en veel jonger Liu en die verstandige Karabo minder bekende karaktertrekke van die minister ontdek.
Dis ’n bedryf waarin baie vrae gestel word en voorspellings gemaak word:
SIBONGILE: The day will come, Nomsa, when uTata’s name won’t keep you out of trouble.
En NOMSA val Sibongile aan: But it is nice, isn’t it, to coo like a bird of prey in the splintered tops of the trees? The day will come, big sister, when our father’s name won’t be enough to keep your corruption off the iPads.
Hierna bereik die intrige die ingrypendste wending. Liu kondig aan dat die minister dood is. ’n Stryd om die regte protokol ontstaan; ware gevoelens breek deur of raak juis verskuild. En aartsdramatiesheid ontstaan as daar voorgegee word. Bedrog en geheimhouding skep hoogspanning.
In die inleiding word aangekondig: “The time is the future in democratic South Africa.” Die stel het ’n paar “objects that underline the futuristic feel … A combination of heritage and sci-fi.”
Dis die aspek van hierdie drama waarmee ek nie vrede kan maak nie. Die karakters haal talle herinnerings op; hulle kyk ook op die grootskerm-TV na byvoorbeeld tonele uit die Nelson Mandela-era. Die naaste aan die “toekoms” is die gerug dat die Notre Dame verwoes is. ’n Lange lys kan opgestel word van verwysings na 2015-inhoude: IS; president Zuma; xenofobie; Afrofobie; Al Jazeera; Gupta; beurtkrag; DStv; Nkandla; Ebola; CNN; swak dienslewering; die wederkoms van Jesus; Facebook en vele meer. Dit hou moontlik verband met die volgende opmerking in die inleiding: “The Nkosi family are forced to shed their prejudices and fantasies and confront the reality of their situation. Nostalgia for a past struggle is no match for the chilling expectations of the struggle ahead.”
Persoonlik het ek min van die toekoms beleef of aangevoel. Niks ysingswekkends nie.
Die aanduiding van die tale wat Sibongile in die openingstoneel gebruik, is werklik onbevredigend. Hoekom word die eerste kursiewe sinne nie gewoon in Xhosa gegee nie, dalk opgevolg met ’n Engelse vertaling tussen hakies? Hoekom daarna die teks in Afrikaans gee en dan boonop sê dis Afrikaans? Later word enkele woorde in Xhosa (en ’n keer Afrikaans) tog sonder vertaling gegee?
Die drama handel oor Xhosas se belewing van die politieke situasie. Sal dit nie ’n groter impak op taalgenote in die gehoor hê indien langer gedeeltes in Xhosa gegee word nie en Engels in sekere tonele omdat met anderstaliges gepraat word? Met hierdie teks in ’n alternerende speelvak?
The post Pieter-Dirk Uys se African Times: teaterteks en resensie appeared first on LitNet.