Rita sukkel om haar swart suede-baadjie toe te knoop. Sy trek haar maag dieper in en bekyk haarself in die spieël.
Die baadjie het sy met haar spaargeld by ’n tweedehandse winkel gekoop na sy jare gelede standerd 8 deurgekom het. Sy’t gedink sy verdien dit met haar twee B’s vir Afrikaans en Geskiedenis. Die sagte fur om die kraag voel nog net so lekker snoesig soos destyds. Kielierig, as sy haar neus daarin druk.
Sy leun nader spieël toe. Haar groen oë het sy mooi gemakeup en die blush gee haar ronde wange bietjie definisie. Anet het gister haar hare geperm, en alhoewel die krulle nog ’n klein bietjie styf is, en die perm-mix dit blonder gebleik het as gewoonlik, lyk dit nog steeds vir haar mooi.
“Nie sleg vir ’n girl van 29 nie,” het Anet gesê terwyl sy Rita se hare drooggeblaas het. “Hy gaan vrek oor jou, jy sal sien.”
Rita werk al jare by Anet se salon. Anet het die plek met haar erfgeld gekoop na haar man dood is aan kanker. Rita self is twee jaar terug van Rudi geskei. Mense het gesê hulle klink net te reg om verkeerd vir mekaar te wees. “Rita en Rudi. A match made in heaven” het destyds op hulle blou troukoek gestaan. Sy het dit geglo. Tot hy haar gelos het vir sy groot liefde – ’n vaal meisietjie met wie hy op skool gekys was – wat uit die bloute weer haar verskyning gemaak het, glo sy soulmate, so het hy verleë verskoning probeer maak.
Rita pas nog baie vir Paultjie op, Rudi se seuntjie uit sy eerste huwelik. En sy doen dit met liefde. Sy het hom grootgemaak na sy ma met sy geboorte dood is en Rudi kort daarna by haar begin kuier het.
So het Rudi het haar laas week weer gevra om te help, en Paultjie by haar aangebring, tas in die hand.
“Die outjie hoes sleg,” het hy gesê. “Hy moet die week maar liewer nie skool toe nie.” Sy kon sien Rudi was haastig.
Soos altyd het sy ingestem, maar nie genoem dat sy die kind by tannie Elsie, haar buurvrou wat ’n strawwe roker is, sal moet los vir ’n dag of twee nie. Sy kon nie die hele week afvat nie, want Maandae en Woensdae krioel die salon van die ouetehuis-tannies wat toustaan vir die pers washes en rinses wat dan op special is.
“Moenie skaam wees nie, Paultjie,” het sy die volgende oggend vir die kind voor haar buurvrou se deur gesê, “sê vir tannie Elsie om jou elke nou en dan bietjie op die balkon met ’n kombers te laat sit as sy te erg rook en jy dalk kortasem raak, oukei?”
“Oukei, Tannie.” Sy kon aan sy stemmetjie hoor en aan die kringe onder sy oë sien die kind was regtig nie lekker nie.
Maar Rita was nie te bekommerd nie. Tannie Elsie is dalk oud, maar sy is op en wakker. Sy help graag. En gelukkig is die woonstelblok naby die salon, as daar ’n probleem met die kind sou kom.
Dit gaan maar broekskeur sedert sy en Rudi geskei is. En hy dra ook niks by wanneer hy Paultjie by haar aflaai nie. Sy gee nie om oor kos nie, die mannetjie eet in elk geval soos ’n voëltjie. Dis net asof Rudi vergeet het sy moet werk, dat sy niks verdien as sy na die kind moet kyk nie. Maar wat doen ’n mens nou? Sy is nie een vir kla nie, sy’t al vroeg in die lewe geleer dit help nie.
“Kry tog vir jou ’n bleddie boyfriend, Rita,” het Rudi gesê toe hy ’n paar weke gelede vir Paultjie kom haal en haar op die bank sien sit en blokkiesraaisels invul. Hy het sy girlfriend uitgevat vir haar verjaardag. Rita was net klaar om die kind se kuif met haar lekker skerp skêr te sny, die een wat sy altyd leen by die salon, óf vir Paultjie se hare, óf die bedlêende tannies in die ouetehuis. Sy maak bietjie ekstra geld so. Anet maak haar dood as sy uitvind.
“Jy lyk al klaar soos ’n oujongnooi met jou gown aan dié tyd van die aand,” het Rudi gesê. “Dis nog vroeg. Kry bietjie lewe.”
En sy’t dit nie gesê nie, maar Rudi se woorde het seergemaak.
“Gaan op die damn date, Rita,” het Anet weer gister gesê. “Ek moes behoorlik agteroor buig om die storie vir jou gereël te kry. Buks is ’n nice man, ouskool, een van die min gentlemanne op die dorp. Hy’t langs ons gebly toe ek ’n kind was. Vir jare in die stad gewerk, in eiendomme. Nou’s hy weer terug op die dorp. Geskei, met sakke vol geld, sê ek jou. Never mind daai sexy silwer Merc van hom.”
Rita het niks gesê nie. Vir Anet gaan dit oor geld. As ’n man geld het, is hy ordentlik. Geen wonder sy het haar rieme al so styf geloop na haar man se dood nie. Sy dink daar moet iets fout wees met Buks dat Anet nie self vir die man gaan nie. Maar dit sal sy ook nie vir Anet sê nie, sy wil haar nie in die gesig vat nie. Rita weet sy bedoel net goed.
Nou gaan sy op ’n date met Buks. Vir die eerste keer na Rudi. Dalk maak dit hom bietjie jaloers. En wie weet, dalk is Buks regtig so nice soos Anet sê.
Rita smeer nog bietjie lipstiffie op, staan terug en bekyk haarself weer in die spieël. Sy lyk mooi, al moet sy dit nou self sê. Reg vir haar date.
Kwart voor agt stop Buks se Mercedes langs haar voor die woonstelgebou.
“Sorry ek’s laat,” sê hy toe sy inklim. “Die bleddie teef van ’n hond. Loop reg voor my kar in. Daar’s een moerse duik.” Hy loer vinnig in sy truspieëltjie en trek weg.
Sy kyk vir hom. Hy is vetter as wat Anet gesê het. Daar’s twee rooi kolle op sy wange. Dit lyk asof sy pienk gesig gloei.
“Daai lyf van haar was groot, man. Tiete vol melk.” Hy vee oor sy voorkop, trek sy vingers deur sy yl wit hare. “Gelukkig het ek die string kleintjies gemis. Die spulletjie sou omtrent my bumper goed opgedonner het. Gaan my ’n bleddie fortuin kos.”
Hy rev die enjin hard voor hy hom in vierde rat druk, nes haar pa in sy ou Chrysler gemaak het wanneer hy kwaad geraak het vir haar of haar ma. As hulle iets gedoen of gesê het waarvan hy nie hou nie. Hy’t hardhandig geraak wanneer hy te lank in die kroeg was, en dan’t hy moeilikheid met hulle by die huis kom soek. Sy en haar ma moes alewig by mense verskoning maak vir die blou kolle. Lieg vir sy onthalwe.
Hy is skielik dood net voor haar standerd 8-eksamen, aan ’n nekwond, van ’n mes of iets. Kort na haar ma aan bloeding op die brein beswyk het na ’n slegte val vroeg een oggend. Almal was jammer vir haar, sy wat skielik twee ouers so kort na mekaar verloor het.
Rita probeer nie, maar partykeer kan sy nie help nie, sy dink daaroor – hoe lank dit haar pa moes gevat het om dood te bloei. Hy’s eers die volgende dag in sy kar langs die dam gekry. Yskoud. Waarskynlik ’n botched hijacking, so het hulle gesê.
Haar vingers raak seer van aan die sitplek vasklou. Buks ry vinnig. Hy vat die draaie kort.
“Teef,” sê hy weer, half ingedagte. Hy loer vir haar. Dié keer glimlag hy. “Eintlik is dit ’n sexy woord vir ’n vrou.” Sy skrik toe sy hand skielik hard op haar bobeen klap. Dit brand. “Jy’s mooi. Nes Anet gesê het.”
Hy leun nader. “Hei. Ek sê ons skip die Spur en ek vat jou bietjie dam toe.”
Hy swaai skielik links. Sy ken die pad. Aan die begin het Rudi haar elke Vrydagaand soontoe gevat.
Hy stop onder die verste plaat bloekombome.
“Het jy geweet, mens kan ruik as ’n teef op hitte is?” sê hy. “Dis glo nes ’n vrou. Mens ruik dit.”
Hy leun oor en draai haar sitplek se rugleuning af tot onder. Sy bly regop sit, staar stip voor haar uit. Tussen die bome deur lyk die dam vir haar soos ’n oopgespalkte swart vel wat met spykers teen die oewers vasgeslaan is.
“Hei! Relax, girl. Relax,” sê hy. “Ek gaan jou niks maak nie.”
Hy druk haar skouers tot teenaan die afgeslaande rugleuning. Sy maak haar oë toe. Die fur kielie haar ore van sy warm asem oor haar gesig, haar neus jeuk.
Hy vroetel met die knope aan haar baadjie, pluk ’n paar keer daaraan. “Nee hel, dis erger as ’n bleddie bra.” Die kar wieg heen en weer toe hy die handrem losmaak en haar romp met sy een hand probeer optrek. “Dis beter. Nou kan ’n man mos bykom.”
Sy kyk weg toe hy haar probeer soen.
“Jy’s vol sports, nè?” Hy draai haar gesig na hom toe, druk haar lippe op ’n tuit en soen haar vol op die mond. Sy asem ruik soos ou vleis.
Sy druk haar knieë styf teen mekaar toe hy haar romp verder probeer optrek, voel hoe sy vingernaels vashaak, hoe hulle lere in haar nuwe swart sykouse trek, in haar sagte vel.
“Ag asseblief tog, vroumens. Stop jou nonsens, ek weet jy wil.”
Sy maak haar oë oop en kyk vir hom.
“Dis beter.” Hy glimlag.
Toe hy oopmond nader kom, spoeg sy hom in die gesig.
Hy verstik amper. “Wat de fok.”
Hy val terug in sy sitplek, vee die speeksel oor sy neus en mond teen sy broek af.
Sy kom regop, voel vir haar handsak langs haar linkerbeen, by die deur. Haar hand hou op met bewe toe haar vingers om die skêr se koue handvatsel vou.
“Jou fokken teef,” sê hy. “Nou gaan jy kak.”
Dié keer, toe hy weer vir haar kom, is sy reg vir hom.