8 Maart is Internasionale Vrouedag. Hierdie jaar, hoop organiseerders, gaan dit ook die dag wees waarop vroue dwarsoor die wêreld gaan staak.
Die oproep is: “It will be a day of striking, marching, blocking roads, bridges and squares, abstaining from domestic, care and sex work ...” Dit sal genoem word “A Day without Women”.
Alle vroue is veronderstel om hulle te weerhou van enige werk, betaald of onbetaald, in die tuiste of buite die tuiste. Vroue is veronderstel om net ander vroue se besighede te ondersteun op hierdie dag.
Daar is heelwat presedent vir die konsep van vroue wat staak.
In voorkoloniale tye het die vroue van die Igbo-stam in Nigerië ’n raad gevorm, gelei deur die Agba Ekwe, wat ’n seremoniële titel en rol was. Hierdie raad se hooffunksie was om die goeie gedrag van mans te reguleer. Indien die mans nie die raad eerbiedig het nie, het al die vroue in die stam eenvoudig onttrek aan die stam, en eenkant gaan bly. Slegs babas wat borsvoed kon saamgaan, en natuurlik al die dogtertjies. Eers wanneer die mans bereid was om in te stem tot wat ook al die oorsaak van die geskil was, het die vroue teruggekeer na hulle normale rol.
Op 24 Oktober 1975 het die vroue van Ysland gestaak om teen geslagsongelykhede te protesteer. Uiteindelik het 90% van Yslandse vroue saam gestaak. Vir ’n dag was die land tot stilstand gebring. Die gevolg? In 1980 het Ysland die eerste land ter wêreld geword waar ’n vrou in ’n demokratiese verkiesing tot staatshoof verkies is. Ysland is ook bekend as die land met die grootste gelykheid tussen geslagte in die wêreld.
Op 25 Oktober 1997 het ’n groep swart vroue in Philadelphia ’n protesaksie begin om vorme van sosiale, politieke en ekonomiese ontwikkeling van swart vroue te bevorder. Die optog, die Million Women March, was die begin van ’n beweging wat nog steeds jaarliks verskillende knelpunte aansny.
In 2003 het die vroue van Liberië besluit dat die sluit van ’n vredesverdrag na 14 jaar van burgeroorlog nie meer aan die mans oorgelaat kan word nie. Die Women of Liberia Mass Action for Peace het toe met ’n reeks vreedsame protesaksies begin. Dit het ’n seksstaking ingesluit. Die vroue het eenvoudig hul mans seks geweier totdat daar ’n vredesverdrag onderteken was. Dit het dan ook gebeur, en kort daarna is Ellen Johnson Sirleaf as die eerste vroulike leier van Liberië verkies.
In Junie 2011 het die vroue van die Colombiaanse dorp Barbacoas die sg Crossed Legs Movement begin, in protes omdat die regering nie die paaie tussen Barbacoas en omliggende dorpe herstel het nie. Ook hulle het ’n seksstaking begin. Binne weke het die mans ook optogte begin reël om die regering so ver te kry om die paaie te herstel. Die seksstaking het 112 dae geduur voordat die regering onder die druk geswig en die paaie herstel het.
Ysland se sukses het in 2016 as inspirasie gedien vir die sg Black Monday-protes in Pole. Vroue het hier gestaak in protes teen voorgestelde aborsiewetgewing. In terme van die voorgestelde wetgewing, wat aanvanklik groot steun van politici en die Katolieke Kerk geniet het, sou vroue wat ’n aborsie ondergaan, hulself blootstel aan direkte gevangenisstraf van vyf jaar. Die dokter wat die aborsie uitvoer, kon tot drie jaar direkte gevangenisstraf opgelê word. Weer het vroue hulle algeheel van arbeid onttrek. Dié wat moes werk, het in solidariteit swart aangetrek. Op 3 Oktober 2016 het 100 000 vroue gestaak. In reaksie is ’n spesiale sitting van die parlement belê vir Donderdag 6 Oktober. Die voorgestelde wetgewing is toe, onder druk van vroue, verslaan met 352 stemme daarteen, 58 ten gunste daarvan, en 18 wat buite stemming gebly het.
In ons eie land word ons natuurlik elke jaar op 9 Augustus herinner dat “When you strike a woman, you strike a rock.” Ons vroue weet wat dit is om saam te staan om ’n gemeenskaplike doel te bereik. Die res van die Westerse wêreld is in baie opsigte nog maar besig om te leer van militantheid, maar hulle leer vinnig.
Op 21 Januarie 2017 het daar massiewe optogte gelei deur vroue in stede dwarsoor Amerika en ook die res van die wêreld plaasgevind. Die optogte was alreeds in 2016 gereël om verskeie vroueregtekwessies onder die loep te bring. Trump se ongewildheid het egter ongekende belangstelling in die optogte laat opvlam. Ongeveer 500 000 vroue het aan die Women’s March in Washington DC deelgeneem. Vergelyk dit met die min of meer 160 000 mense wat Trump se inhuldiging die vorige dag bygewoon het. Dwarsoor die wêreld het daar na raming rondom vyf miljoen vroue aan optogte deelgeneem. Vroue was gevra om pienk hoedjies te brei en te dra, of pienk serpe. Na wat berig word, was daar landswye tekorte aan pienk wol in Amerika.
Hieruit het voortgespruit die 10 Actions for the First 100 Days Joint Activism. Vir die eerste keer het organisasies wat hulle beywer vir die regte van vroue begin saamwerk om gesamentlike doelwitte te bereik.
En nou is dit die internasionale Day without Women. Ondersteuners word gevra om rooi aan te trek. Daar is ’n verskeidenheid vroueregtekwessies waarop die aandag gevestig word: reproduktiewe regte, werksplekdiskriminasie, seksuele geweld teen vroue, omgewingsaangeleenthede en veel meer. Dis kwessies wat op die vroueregte-agenda is so lank as wat daar organisasies is wat hulle beywer om die omstandighede van vroue te verbeter – tot dusver sonder veel sukses. Hierdie jaar is daar egter ’n ywer en vasberadenheid wat in die verlede ontbreek het.
Mans, as julle vroue ’n knaende hoofpyn ontwikkel wat maar net nie wil weggaan nie, sal ’n verandering in houding oor geslagsgelykheid en ’n groter bereidwilligheid om julle deel in die kombuis by te dra, beter werk as Disprin. Ondersteun julle vroue en dogters, julle susters en buurvroue. Groter gelykheid vir vroue bevoordeel die hele samelewing.
’n Dag sonder vroue kan droewig wees, maar ek sien uit na hope rooi op 8 Maart.
The post Die internasionale vrouestaking appeared first on LitNet.