“My storie is presies wat dit is … myne.” So begin die gewilde Afrikaanse hip-hop-ster HemelBesem se boek God praat Afrikaans wat dié week by die US Woordfees bekendgestel is.
Dit is dié storie wat hy tydens ’n boekgesprek in die Boektent met die beatdigter Danie Marais en sy gehoor deel.
“Aweh!” groet hy aan die begin met sy kenmerkende groet en vertel waarom dié groet vir hom so baie beteken.
“As coloured mense mekaar groet, is dit ’n la-a-ang affêre. Dis seker waar van ander kulture ook, maar dis definitief iets wat ek van my mense waardeer. Amper al die sintuie raak deel van die groet.”
“Aweh!” groet die gehoor geesdriftig terug, van wie baie die woord waarskynlik die eerste keer hoor.
Min mense beskik oor die vermoë om ’n gehoor so mee te sleur soos hierdie gewilde rymkletser met ’n ruim hart vir mense en groot liefde vir Afrikaans.
Vir HemelBesem is “aweh” nie sommer net ’n groet nie. Daar is byna iets heilig aan, omdat dit ’n soort energie uitstraal.
Hy spel dit nie awe of awê soos wat baie ander dit spel nie. Vir hom moet aweh lank genoeg wees. Dis hoekom die h daar vir hom werk.
“Ag, ek weet ek is sommer bevooroordeeld. Weet jy hoekom? Dis omdat ‘aweh’ vir my so naby aan ‘Yahweh’ is. Glo dit of nie, maar daar is vir my so ’n hip-hop-gevoel aan hierdie hele idee.”
Die titel van HemelBesem se boek God praat Afrikaans kan mens maklik verwar en laat dink, ag nee! hier kom nóg ’n soetsappige gospelstorie van een of ander aard in sentimentele godsdienswol toegedraai.
Dit is ’n mistasting. Hip-hoppers van veral die laat tagtigs en vroeë negentigs was lief daarvoor om mekaar “gods” te noem, en mekaar so te groet. Iets soos “whatsup god”? of “howyoudoing, god”, verduidelik HemelBesem.
“Die idee was dat as ouens mekaar groet, sê hulle eintlik ‘the god in me greets the god in you.’”
Vir hom weerklink Afrikaans oor alle rassegrense heen. “Afrikaans se arms is wyd en oopgespalk en trek mense in ongeag hoe die taal oorkom en in watter dialek.”
Maar dit is eers redelik onlangs dat baie Afrikaanse mense buite die bruin kultuur begin besef het hoe diep kletsrym werklik is.
Video: Naomi Bruwer
“Mense hou van die idee om Afrikaans te praat en is nie meer skaam om Afrikaans te wees nie,” sê HemelBesem.
Maar hip-hop was nêrens op die radio te hoor nie en so het hy ook grootgeword. Noudat hip-hop al hoe meer bekend word, kan hy sy taal met almal deel in die kunsvorm waarvoor hy lief is.
As hip-hop-kunstenaar is daar waarskynlik nie nóg ’n brugbouer in die land soos HemelBesem nie.
Hip-hop is nie gebore uit haat nie, verduidelik hy, maar uit liefde. “Liefde vir iets moet nie gesien word as haat vir iets anders nie. Dit geld liefde vir musiek en ook liefde vir taal.”
Daar is haat en seer in alle genres, nie net in hip-hop nie.
Dit is waarskynlik te danke aan sy unieke vermoë om in mense se harte in te kruip dat dié kletsrymer met ’n arm vol tatoeëermerke selfs by ouer wit mense aanklank vind.
Onlangs na ’n vertoning sê ’n ouer persoon wat in die gehoor was na die tyd vir hom: “Jy klink net soos my dominee, maar met ’n ritme.”
Diegene wat dink hip-hop is niks anders as doef-doef-musiek nie, hoef maar net na mense soos HemelBesem, Churchil Naudé en ander Afrikaanse hip-hop-sangers se lirieke te luister om te besef daar is veel meer as net doef-doef daarin.
Vir hip-hop-liefhebbers is dit ’n kultuur.
“Hip-hop soek slegs realness. Nie noodwendig reg nie – wees net real,”, skryf HemelBesem in sy boek.
“Al is jou punt nie ’n goeie punt nie, wees oortuig daarvan en deel dit. Al is jou oortuiging more anders, deel dit dan weer met oortuiging. Ek dink dis belangrik om opinies te deel. Sê ’n ding reguit!”
’n Oom in George het hom en sy vrou eendag bemoedig deur te sê ’n kronkelpad is langer as ’n reguit pad. “In hip-hop is dit belangrik om ’n ding reguit te sê. Ons is so vasgevang in fakeness, as iets eerlik ons pad langs kom, lyk dit sommer verkeerd, Gee dit net ’n kans en jy sal eerlikheid ’n kans gee. As jy weer sien, sal die doef-doef in die musiek heel moontlik met die doef-doef binne jou strook.”
Oor sy vriendskap met die omstrede Steve Hofmeyr gesels HemelBesem net so eerlik en reguit soos oor die moeilike en arm agtergrond waaruit hy kom.
“Ek speel nooit die man nie, ek speel altyd die bal.” Al stem hy nie saam met alles wat Hofmeyr sê nie, vra hy nie verskoning dat hulle vriende is nie. “Wanneer ek nie met hom saamstem nie, sê ek dit en ook wat ék dink. Maar ek glo nie daaraan om modder te gooi nie. As jy mense met modder gooi raak jou eie hande vuil sowel as dié wat jy daarmee gooi.
“As ons disagree dan disagree ons. Dis twee mense wat disagree.”
Voorheen was HemelBesem ’n pastoor wat klein groepies mense met die Bybel onder die arm gemotiveer het.
Nou het hy ’n ander podium waar hy so doef-doef brûe bou.
In sy boek sê hy: “Ek hou eintlik nie meer daarvan om ’n Christen genoem te word nie. Ook nie om met die kerk as sodanig geassosieer te word nie. Nie ná ek my kop gestamp het teen al die lelik wat tussen daai letters vaskleef nie.”
Video: Naomi Bruwer
In teenstelling met die titel van sy boek en een van sy lirieke is daar ook ’n ánder liriek wat hy in sy boek opgeneem het:
God praat nie Afrikaans nie
Dalk práát hy glad nie?
Ons hóóp hy praat en daai hoop raak so intens, ons begin
Sy stem hoor. Maar eintlik dóén hy net.
Ons moet leer om Afrikaans te leef in plaas van net lees
Leer om Afrikaans te wees in plaas van net fees.
Leer om Afrikaans te doen in plaas van net verdoem.
Praat dit minder, en leef dit harder.
Dit is die storie van Simon Witbooi jr aka HemelBesem wat doef-doef brûe bou oral waar hy kom.
The post US Woordfees: HemelBesem se god praat Afrikaans appeared first on LitNet.