Melkhoutfontein
Daar onder langs met die stowwerige weg het jou stofpad ons skool toe gevat.
Die ver pad was stil maar die sonbesies het vrolik gesing.
Oor jou lengte- en breedtegrade het stroompies gekabbel en wilgerbome flambojant
hul takke gewieg.
In die wandelpad daar het ons elke dag vye, kwepers, appels en pere
in seisoen geëet want dit was ons terugkompad ...
Met reën in seisoen het jou aartappel en patatlande weelderig onder
goue mieliekoppe gestaan en wink en die oes luid geroep.
Ek onthou nog die geluid soos oom Piet die water in die sloot afkeer
sodat dit herlei kon word na die vlei.
Die rooi waterslote was deel van ons sprokieswêreld
waar ons ysterklippe en krappe gesoek het.
Daar bo by die winkel op die hoogte was die ou Melkhoutboom
ons beste swaaiplek ooit voor ons die tog terug gepak het huis toe.
Daar onder sy takke het my eerste liefde broos begin blom
en my oë soos die sterrenag daar laat skitter.
Brose liefde het jou vaal pad in ’n wonderwêreld verander
wat nog vir jare gebly het.
Saam met my het jy gegroei en is jy my oos en my wes
want by jou kan ek myself verloor en net ek wees ...
Jy is ek want my geluk ken jy en ook my seer tot
daar anderkant by die begraafplaas ...
So altyd sal jy my tuiste wees, vir altyd my Suiderkruis.
Vir altyd hier by ons
’n Duisend woorde wil ons vir jou sê maar dit is net
’n ongevormde klank ...
Soos voëls is hul haas in vlug voor die golwende seer
wat op ons reën.
Dit waai oor ons hart se vlaktes en laat ons soos ’n tolbos
om en om waai.
Ons damme is leeg en ons rivierloop droog
nooit sal jou stroom hier weer vloei.
Jou vreugdes - lag is stil dis nog net die eggo daarvan
wat oor ons klowe weerklink.
Jou voetspore is nou dof in die sand
maar is verewig in ons harte afgeëts.
So saggies het die dag kom breek en ongemerk
sy goue spoor oor ons hartsvalleie kom sprei.
Sy goudstukkies verlig die skadu’s van seer in ons
rou gemoed waar dit deur die krakies skyn.
Nou is dit net ons hier sonder jou, nooit sal ons
jou warmte hier meer voel ...
Tog weet ons by ons Heer is jy veilig
en doen jy nou vir altyd Sy vreugdesdans.
Op hemelse hoogtes staan jy nou en drink vir
ewig uit Sy liefdestroom.
Seemanslied
So eie aan ’n visserman – nog voor die dag breek, het jy stil-stil na jou tuisland gegaan
Vir ons soos ’n ewigheid maar vir jou in ’n oomblik was jy tuis
So saam met die fluit van die voëls, die dou op die gras
Met die gedruis van jou lieflingsee nog in jou ore, het jy totsiens gesê.
Want ag het jy geslaan op jou Vader’s roep wat sê: “Ek is hier – ek vat jou hand en stap saam met jou.”
Nooit sal jy alleen meer wees want altyd sal jy net myne wees …
By die hawe staan jou boot steeds wagtend …
Die see is steeds glinsterend-deinend op die horison
Maar dis asof sy dreuning sagter is vandag.
Vandag roep die meeue in sagte kras wat wegwaai in die wind.
Dis net die gesuis van die Suidoostewind wat vlindersag oor die deinings waai.
Asof in eerbied buig die natuur sy hoof want nooit sal jy weer sy waters betree.
Tog sal jou vissershart steeds hier warm bly klop.
Ons seer is bittersoet want ons sien jou glimlag van omhoog
Daar doen jy vir altyd jou vreugdesdans en is jou hande omhoog in prys van onse Heer.
Moederhart
Wie sal die pyn van ’n moederhart verstaan as sy haar kind totsiens moet sê?
Of hy uit haar gebore is of nie, aan haar bors het sy hom gekoester.
Haar liefde was sy moedersmelk wat sy treetjies sterk kom maak het.
In sy drome het sy handjies in volle versekering sag om haar vingers gevou.
In sy ogies was die teerste liefde wat net ’n moeder verdien
Vir hom die beste liefde ooit wat hy nog vir jare sou onthou ...
Sy grootword het soos ’n boom gebot deur elke seisoen
die beste vrugte ooit met nektar so hemelsoet.
Sy blare was immergroen want reën was in seisoen.
Sy skadu ’n wegkruipplek vir die moeë van gees ...
Maar vandag is dit stil, dis net die wind wat deur die bome waai
en sy weemoed agterlaat ...
Nog net enkele spore het gebly wat stap regdeur die moederhart.
Die leegheid het gebly en tog sy liefde is oraloor
dit strek tot oor die wydheid van die lewensgrens.
Tot daar sal die moederhart kan strek want geen grens sal haar
liefde ooit kan keer.
Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.
The post Huis, woning, tuiste: Roslin Saayman se inskrywings appeared first on LitNet.