Titel: Hartstories: Huis toe met 'n ligter tred
Skrywer: Amore Bekker
Uitgewer: Tafelberg
Kategorie: Verstand, liggaam en gees
ISBN: 9780624075080
Hallo Amore
Ek besef my saamrystorie is bitterlik laat. Jammer daaroor. Ek is egter van kleintyd af maar ‘n bietjie van ‘n kansvatter en ek vra gewoonlik eerder om verskoning as toestemming. Jy kén daai.
Ewentwel. So ‘n hele paar jaar gelede los ek Die Ma agter in my truspieëltjie voor haar huis in die Suid-Kaap en ek en die swart hond (‘n regte hond, nie die droefheid nie) maak ‘n stoffie terug na die Eikestad. Dis nie ‘n vreeslike lang of moeilike pad nie, en al wat soms lol is die radio-opvangs plek-plek. Iewers tussen Heidelberg en Swellendam vervies ek my vir die slegte sein en ek skakel summier oor na RSG. Ek wou in elk geval na die kriekettelling luister, maar watter wedstryd dit was, kan ek lankal nie meer onthou nie.
Nou die dag besef ek egter met ‘n reuseskok dat ek toe wraggies nooit weer die stasie terug verander het nie. Die Ma vir wie ek in die truspieëltjie gewaai het? Ongesiens en niksvermoend word ek sy. Ek bak selfs nou en dan Japie se gunsteling en ek het al, kan jy glo, ‘n skaapboud suksesvol ontbeen. En ek luister RSG.
Maar ek dwaal af. Waaroor ek eintlik wil praat, is oor jou en oor die mense wat hulle stories betýds vir jou gestuur het. Die stories waarna so baie van ons in die middae geluister het terwyl ons tyd verwyl in ons motors op pad terug huis toe of mall toe of wie weet waarheen ook al. Daai einste hartstories wat jy nou so netjies in ‘n bundel bymekaar gemaak het. Baie geluk daarmee, terloops.
Ek het baie van die stories oor die draadloos gehoor. Ek het ‘n klompie ander in jou bundel gelees, ‘n paar herken en oor ‘n paar gewonder. Ek het van die stories bepeins, ek het my volk bepeins, soms hard gelag en hier en daar selfs ‘n traan gepink. Ook Die Ma se skuld, dié los traankliere.
Een van die stories wat in my oë kom sit het, is die een van Matthys van St Helenabaai. Hy beduie wat hy als sien en wie hy almal raakloop op pad werk toe in die oggende. Groen koring, ‘n visfabriek, Gertjie by die vulstasie. Die see, die St Helena Hotel en die asemrowende uitsig. Maar, dan maak Matthys se storie ‘n draai en jy besef dit is als net ‘n versugting. Want sien, Matthys is deesdae blind. Maar jy kén die storie, Amore, jy het dit tog immers voorgelees vir ‘n magdom mense wat in die middae saam met jou en daai stoute Mariëtta iewers heen tjaila.
‘n Man wat min van ons seker kan nadoen as dit by tjaila en rondrits en saamry kom, is Dave Pepler. Benewens sy merkwaardige kennis van die natuur en sy onblusbare entoesiasme vir al Moeder Aarde se lewende wesens, is hy ook ‘n reisiger van formaat: “Om te reis gee mens ‘n kristalhelder blik – nie net op die vreemde nie, maar op jouself” (Erfenisdagbrief uit die vreemde). ‘n Deel van dié self is natuurlik jou taal, en oor Afrikaans sê Dave die volgende: “Wat sou ek wees sonder Afrikaans? Absoluut niks! Gee my blindheid, laat my ore verdof, neem my smaak weg, maar los tog net asseblief my stem. Met my stem besing ek die wêreld, kan ek my liefde aan mense en landskappe oordra en kan ek my dank aan die heelal oordra.”
Hoe mooi praat hy nie? Ek stem saam. Los tog asseblief Dave se stem! En Riana Scheepers, die twee Holms (Marion en Erik) en Riaan Cruywagen s’n ook. Want hulle is almal bedrewe met die taal – skrywers, pryswenners en woordenaars. En hulle almal het hulle saamrystories met jou gedeel.
Natuurlik is nie al die briefskrywers in Hartstories so vaardig met die pen soos die bekende bydraers nie. Sommige stories is lomp en onverfynd. Ander is ooremosioneel en soms ‘n bietjie schmaltzy. Party is wel met sorg geformuleer en hier en daar is selfs een wat lyk na ‘n blote toevallige onthou. Maar niks daarvan maak regtig saak nie, want al die stories het een belangrike ding gemeen: dis eerlik. Soos Dana Snyman tereg op die voorblad oor dié briewe sê: “Eg menslik … laat jou met genadige oë kyk na die mense rondom jou.” Jy sien vir Mervyn, Linda, Sandra, George, Mol en Moediehi, nie nét in hulle eie stories nie, maar in al die mense wat jy ken. Mense met liefde, met woede, met deernis en seer. Mense met humor en pyn. Maar bowenal, soos jy dit self gesê het, Amore, mense met hart.
Maar wag, ek moet in die pad val. Nee, regtig.
Dankie vir al jou stories. En dankie vir die saamry.
Nadine
The post Hartstories: 'n Saamrystorie vir Amore appeared first on LitNet.