Die Burger 100: Sy mense en hul stories
Bun Booyens en Aldi Schoeman
Uitgewer: Jonathan Ball
ISBN: 9781868427963
Danksy die honderde duisende koerante wat die afgelope eeu ses dae per week uitgegee is, is Die Burger vandag ’n huishoudelike naam.
Die boek diep van die merkwaardigste gebeure, groot en klein, op wat sy joernaliste beleef het – van die Groot Griep en die twee wêreldoorloë tot Chris Barnard se eerste hartoorplanting en Nelson Mandela se afsterwe in 2013.
Skandes en skandale, natuurrampe, persoonlikhede in die nuus, belangrike sportmomente – die boek is nie net ’n belangrike optekening nie, maar het ook groot nostalgiewaarde. Die “onthou jy nog?”-faktor word versterk deur hope foto’s én spotprente. Enkele hoogtepunte:
- Lindie Koorts skryf oor DF Malan, eerste redakteur
- Dana Snyman ondersoek die oorsprong van DJ Opperman se bekende gedig, Klara Majola – ’n Burger-berig in 1950
- Johann Maarman deel sy indrukke van Jakes Gerwel
- Leopold Scholtz beskryf die val van die Berlynse Muur
- Francois Verster vertel van Die Burger se spotprent-tekenaars – DC Boonzaaier, TO Honiball en Fred Mouton
- Bun Booyens was in Kazakstan vir Mark Shuttleworth se reis as eerste ruimtetoeris in 2002
Bun Booyens was redakteur van Die Burger van 2010 tot 2016. Hy was onder meer die stigtersredakteur van die reistydskrif Weg! en ’n dosent aan die Universiteit Stellenbosch se joernalistiekdepartement.
Aldi Schoeman het haar loopbaan in 2007 by Beeld begin en daarná vir sewe jaar by Die Burger gewerk, waar sy onder meer nuusredakteur was. Sy is tans ’n joernalis by Rapport.
The post Die Burger 100: Sy mense en hul stories deur Bun Booyens en Aldi Schoeman appeared first on LitNet.