Web
Naomi Meyer
Queillerie
ISBN: 9780795801204
Ons almal wil graag die soort boek skryf wat die werklikheid laat vervaag; wat vir ’n paar uur die werklikheid vervang, die werklikheid wórd. Ons wil vermaak, maar ons wil ook graag relevant en universeel wees. Min van ons kry dit reg, want die narratief bly dikwels om die eie klein werklikheid tjommel soos ’n lang Facebook-inskrywing. Hoe skryf ’n mens oor dit wat jy ken sonder dat dit net ’n gesprek met eensgesindes of met mense in dieselfde situasie as jy word?
Naomi Meyer slaag dawerend daarin. Sy span haar web wyd en geslepe, bykans ongesiens, soos dit hoort. As jy dit nog oorweeg om ’n paar paragrawe oor teetyd te lees, word jy eensklaps toegestrik in die taai, verleidelike spinnerak van ’n storie wat hoor en sien laat vergaan, soos dit hoort.
En in ons aandagafleibare samelewing wil dit gedoen wees.
Die verhaal speel in Stellenbosch af, daardie hutspot van gepolariseerde mikrokosmosse. Die hoofkarakter, Sophia, is enigeen en niemand nie: ’n moeë vrou en moeder in ’n vaal jas, haar lewe ingesluk deur kinders, werk (wat heeldag voor ’n rekenaar sit behels) en skuld – in al sy vorme. Dit terwyl die naamborde langs haar lewenspad teen ‘n duiselingwekkende snelheid verbyskiet en sy droom oor Portugal, vryheid, opsies. Sy en haar man, wat eens gereis en hard gelag het, woon in ’n te klein huis, werk vir te min geld, het skuld in euro’s, kan nie die rys in Woolworths of nuwe skooltasse bekostig nie, en is nooit meer alleen nie.
Sophia het min tot geen vriende nie en pas nie in die kliek van gym-mammas nie. Sy het ’n wakker, aweregse brein en dink dat sy graag aan een van die mammas se bruingebrande been sonder ’n sweem van selluliet sou wou vat om te voel of dit regtig ’n mens is. Sy voel totaal oorweldig en ontoegerus vir moederskap. Sy praat wanneer sy moes stilgebly het en bly stil wanneer sy moet praat. Sy fantaseer oor haar jeugliefde en oor wegloop. Sy is ’n sigeuner uitgedos in burgerdrag.
Op ’n dag verdwyn haar dogtertjie Magriet van die kleuterskool se speelterrein. Magriet is bruin in ’n wit gesin; sy is in Ierland aangeneem. Sy baklei met haar boetie, wat graag zombi’s afmaai in rekenaarspeletjies. Sy begeer maatjies en ’n iPad. Sy is sewe en gesels al op die internet.
Van hierdie punt af torring alles vinnig los, soos die studente-opstande wat die dorp laat smeul en die vlamme wat naderkom. Die beeld van Pompeii duik vroeg in die boek en telkemale op: die stad wat onder ’n kombers van lawa-as begrawe is sodat almal vir ewig in hul alledaagse take versteen is.
Soos dit kuns betaam, hou die boek die spieël op na ons gefragmenteerde samelewing, ons chaotiese, waansinnige land, waar mense vir mekaar onsigbaar is. “Ons leef elkeen in ons eie bubble.” Waar geweld en vernietiging immer ná aan die oppervlak broei: “Daar bestaan nie iets soos beheer nie, Mathys. Daar is net verlies en chaos.”
Daar is uiteenlopende karakters, soos Trouw, Sophia se baas met haar bemarkingskemas, haar shrink en haar swak vir onvanpaste mans, Candice, die verbete deeltydse huishulp, Jackson, ’n straatslaper en bedelaar met sy eie geskiedenis, Vincent, ook dakloos en woedend, Stephen, Candice se gevaarlike skoonseun, Bok, Trouw se vriend met sy OCD, sy honger na die donker web en na mag, Nikodemus die misdaadskrywer wat glo dat daar in ’n moordverhaal altyd ’n menigte skuldiges is, die vasberade vryer Anders Bester. Google, soekenjins, die tentakels van die wêreldwye web is ook karakters.
Meyer se aanslag is so lig, so seker. Daar is fyn waarnemings wat nooit oorontleed word nie, absurde oomblikke wat soos uitkloplyne laat val word. Byvoorbeeld: Sophia stap by ’n winkel in met “uitkloppryse” waar alles verby hul vervaldatums is, op soek na ’n skooltas vir haar dogtertjie. Daar is geen trollies oor nie, maar uiteindelik sien sy ’n vrou is op die punt om ’n trollie te los. Op die trolliehandvatsel staan: Pick up something new today. Net toe sy daarna uitreik, vou die kind in die vrou se hande dubbel soos hy nies, bo-oor Sophia se hande en die handvatsel. Wat sy wel daar opgetel het, besef die leser later, is haar dubieuse jeugliefde wat haar al lank bekruip en “toevallig” raakloop. Sulke subtiele kwashale herroep Anne Tyler. Meyer het haar eie stem, maar die aweregse, houtoog-humor herinner aan skrywers soos Kate Atikinson, Margaret Atwood, Jonathan Franzen en Ingrid Winterbach.
Die storie word nie chronologies vertel nie, maar in kort hoofstukke met tydspronge, met die gevolg dat die besonderhede algaande sin maak soos ’n legkaart wanneer die laaste blokkies ingepas word. Hierdie soort truuk kan soms vermoeiend wees en ruik na foefie, maar in hierdie nagmerriescenario werk dit uitstekend. Die leser bly vasgenael – daar is soveel op die spel en die skrywer slaag daarin om die leser intiem te betrek, intens te laat omgee. Temas waarmee mense daagliks worstel, soos die onmoontlike verwagtings rondom geluk geskep deur sosiale media, die gevaar van die hashtag, privaatheid wat grootliks ’n illusie is, wit skuld, woede, armoede, identiteit, mag, internettrolle en -roofdiere kom aan bod. En die storielyn is voortreflik, met baie vertakkings en verdagtes. Want uiteindelik is ons almal skuldig.
Hoe gelukkig is die Afrikaanse leser nie. In ’n lesersmark met voortreflike misdaadfiksie transendeer hierdie boek die genre: dis heelwat meer as misdaad, terwyl dit al die elemente het om misdaadvrate te versadig. Dit verwoord ongemaklike dinge, dis menslik, dis ongenaakbaar en lakonies, dis rou en polsend soos die land, soos die wêreld. Wanneer dit te laat is, besef Sophia dat Candice, die vrou wat haar huis skoongemaak het en wat sy glad nie geken het nie, nou vir altyd deel van haar is, dat sy haar altyd sal sien.
Want dit is miskien die flarde hoop wat wel in die wind bly wapper as die as gaan lê: dat mense mekaar kan begin sien. Dis wat die boek regkry – om daardie gedagte te laat posvat.
Dis ’n belangrike boek. In enige landskap.
The post Web deur Naomi Meyer, 'n resensie appeared first on LitNet.