Vanoggend hoor my vriend Ronnie iemand buite en hy is by my verby voordeur toe. Ek kyk deur die venster, deur ’n kantgordyn en ek sien ’n vrou met donkerrooi hare by die hek staan. Ronnie gaan uit en praat met haar, maar ek kan nie hoor wat hulle sê nie. Dis toe ons buurvrou van skuins oor die straat en toe ek weer sien is hy by die hek uit en stap saam met haar na hulle huis toe.
’n Rukkie later is hy terug en vertel my die mense se hond lê en doodgaan agter die huis, skuim kom by sy bek uit en die vrou is huilerig. Hulle dink die hond is vergiftig. Ek sien die man kom toe ook by die huis aan met ’n bakkie.
Ronnie is egter reeds in die kombuis besig om vir die vrou ’n koppie tee te maak. Hy loop toe uit en oor die straat met die koppie tee.
Die man sal nou die hond, wat intussen dood is, veearts toe neem om vas te stel of hy wel vergiftig is en dan lê hy ’n klag by die polisie.
Dis Ronnie se manier om ’n krisis van die aard te hanteer, hy glo hy help die mense so deur ’n koppie tee aan te bied. Dis nie die eerste keer nie.
Seker so agt jaar gelede al is hier ’n harde slag agter die huis op die hoek. Twee voertuie het gebots en ons is buitentoe om te kyk. Ons staan op stompe om oor die muur te sien. Dis winter en Ronnie het ’n groot handdoek oor sy kop en om sy bolyf, maar sy dik wit snor is duidelik sigbaar.
Die stukkende voertuie staan daar. ’n Bakkie het met die lang reguit straat afgekom en ’n motorkar wou in die kruising ingaan toe hulle bots. Ek slaan nie veel ag op die posisies waar die voertuie nou staan nie. Ronnie vra hulle of hy vir hulle moet tee maak, maar hulle wys dit van die hand.
Seker meer as ’n jaar later kom hier ’n man by ons aan. Hy wil hê ons moet getuig oor waar die voertuie na die ongeluk gestaan het. Hy praat van ’n ou tannie wat ook oor die muur gekyk het en hulle tee aangebied het. Hy en sy seun was in die kar.
Ek vertel so goed moontlik hoe ek dit onthou, maar hy is nie tevrede nie, hy wil duidelik hê ons moet dit so stel dat dit hom in ’n gunstiger lig stel. Hy bied selfs indirek geld aan, deur te sê hy betaal eerder R30 000 (of so iets) as om ’n fortuin te betaal vir die bakkie se regmaak ... maar ek weier. (Vandag is ek nogal spyt, maar ek sou te bang wees om in ’n hof meineed te pleeg!)
Hy is toe ontevrede daar weg.
En ons drink toe maar ’n koppie tee.
Tiens
The post Tee vir die krisis appeared first on LitNet.