Beste Jan,
Jy het die kat deeglik beet, maar ongelukkig aan sy stert. Die werk van ʼn grammatikus is om die spraakklankstruktuur van ʼn taal te bestudeer: die spraakklanke, die spraakklankverskynsels soos bv assimilering, vokaalverskuiwing, ens, en om dit dan fonologies te beskryf. Die werk van die grammatikus is om ʼn taal se woorde te bestudeer: bv hoe woorde gevorm word, hulle betekenis en betekenisverandering en om dit dan te semanties te beskryf. Die werk van die grammatikus is om ʼn taal te bestudeer en te kyk hoe die woorde daarvan ineenskakel en om dan die sintaksis daarvan te beskryf. Die werk van die grammatikus is om vergelykende taalstudies te maak van verskillende tale en hulle verwantskap te bestudeer, en dit dan te beskryf. Al hierdie taalstudies staan bekend as die grammatika en is sinchroniese studies van die taal. Die werk van die grammatikus is ook om die geskiedenis van die taal na te vors en te beskryf. So ʼn studie is diachronies van aard. Die skrywe van ʼn grammatika is nie sommer maar net die teboekstelling van die grammatika nie; dit behels jarelange studie van die taalstruktuur deur kundige linguiste.
Jou bewering dat ʼn mens kennis moet hê van die grammatika om ʼn taal te kan praat, is verkeerd. Gaan toets die grammatikale kennis van enige vyfjarige kind, en hy sal jou net skeef aankyk. Tog kan hy sy taal al redelik goed praat. Jy verwar taalvermoë met grammatika. Elke mens het ʼn ingebore taalvermoë, maar grammatikareëls moet hy aanleer, dws as hy belang stel in taalkunde.
Noam Chomsky word die vader van die moderne grammatika genoem omdat hy grammatikastudie in ʼn nuwe rigting gestuur het met sy MA-verhandeling, wat ʼn grammatika is vir moderne Hebreeus. Sy “Syntactic Structures” is ʼn universele grammatika, en so geweldig in omvang dat hy slegs ʼn klein gedeelte daarvan voorgelê het as tesis vir sy doktorsgraad.
Daar was ʼn tyd toe die grammatika van ʼn taal, nadat dit geskryf is, preskriptief aangewend is. Preskriptiewe grammatika veronderstel hoe ʼn taal behoort te wees. Engels het nogal taamlik deurgeloop onder hierdie beskouing. Ek kan bv dink aan die reël oor die “split infinitive”. Hierdie reël is so by Engelssprekendes ingeskerp dat hulle nou nog iemand as ongeletterd beskou as hy durf waag om dit te oortree. Deskriptiewe grammatika beskryf weer hoe ʼn taal in werklikheid gebruik word.
Ek betwyfel dit ten sterkste dat as Jan Rap iets gesê het, dan is dit so. As Jan Rap gesê het elke taal het ʼn grammatika, en die grammatikus stel dit net ten boek, dan beteken dit nie dat al wat linguis is, moet regop sit en dit aanteken as ʼn wet van die Mede en die Perse nie.
Soos gesê, jy het darem die kat beet as jy sê: “Jou voorbeeld van veranderende kommoditeitspryse wat daagliks verander is geen bewys dat feite verander nie, dit is bloot pryse wat verander.”
Ek hoop jy kan insien dat jy hom aan die stert het, of moet ek aan jou verduidelik dat pryse van kommoditeite baie duidelik feite is, en as pryse verander, dan verander feite mos.
Jy verstaan onder die woord “teorie” dieselfde as Ronald Reagan toe hy die evolusieteorie beskryf het as “just a theory.” Gaan kyk in HAT wat twee betekenismomente vir die woord aangee: 1. Grondbeginsels vir ʼn wetenskaplike teorie, en 2. voorstelling van ʼn mens se gedagte sonder om rekening te hou met die werklikheid.
Ten slotte, die geskiedenis, so sê hulle, herhaal homself, en dit is veral waar wat taal betref. Net soos Nederlands hier aan die Kaap verander het, en ons uiteindelik Afrikaans gekry het, net so is Afrikaans ook besig om te verander. Afrikaans vat deesdae sommer net Engelse woorde, ons “ontleen” nie meer nie. Die rede daarvoor is voor-die-hand liggend: ons woordeskat is nog te arm en moet verryk word. Dit maak ons taal actually meer streamlined.
Groete
Angus
The post Vir Jan Rap oor taal, grammatika, feite, teorieë en Afrikaans appeared first on LitNet.