Hermann Giliomee: Afrikaner-historikus op die rand van die volk
Die historikus Hermann Giliomee se uitgesprokenheid het hom al dikwels die gramskap uit wyd uiteenlopende oorde op die hals gehaal. In ’n breedvoerige onderhoud vertel hy aan Jean Oosthuizen waarom hy besluit het om, anders as die meeste historici, ’n outobiografie te skryf.
Giliomee vertel hoe hy as Afrikaner so half aan die rand van die volk beland het, waar die oorsprong van apartheid lê en die NG Kerk se rol daarin, hoe dit gebeur het dat mede-Afrikaanse bruin mense so verontreg is en waarom hy teleurgesteld is in die finale produk van die onderhandelingsproses wat tot ’n nuwe Suid-Afrika gelei het. Hy verduidelik ook waarom hy hom so sterk beywer vir die behoud van Afrikaans as akademiese taal.
In die voorwoord van jou boek sê jy historici wat oor Suid-Afrika werk, skryf normaalweg nie ’n outobiografie nie. Wat het jou laat besluit om af te wyk van die normale en wel een te skryf?
Historici ontdek gou dat mense maklik die waarheid verdraai ten einde hul eie beeld te poets. Hulle besef hoe verleidelik dit is om “’n goeie storie” oor jouself te vertel al is dit nie heeltemal waar nie.
Tot op hierdie stadium het net een Engelstalige historikus (Phyllis Lewsen) en een Afrikaanstalige historikus (At van Wyk), wat hulle hele loopbaan in Suid-Afrika werksaam was, ’n outobiografie nagelaat. WM Macmillan en Arthur Keppel-Jones het lank na hul vertrek van Suid-Afrika ’n outobiografie geskryf.
Dit was eers in die tweede helfte van die 20ste eeu dat dit ’n algemene verskynsel in die VSA en Europa geword het dat historici hul outobiografie skryf.
Die patroon is dat historici hul outobiografie geskryf het nadat hulle ’n groot werk oor ’n belangrike onderwerp gepubliseer het wat wyd gelees en bespreek is. Edward Gibbon se Memoirs (1796) was die eerste outobiografie deur ’n Britse historikus. Sy groot boek was die formidabele Decline and Fall of the Roman Empire wat in ses volumes gepubliseer is. Sy outobiografie vertel wie hy is en hoekom hy die boek geskryf het.
Sy tese is dat geestelike verval en die vreedsame boodskap van die Christelike godsdiens die Romeine te sag gemaak het om hul ryk teen die barbaarse invallers te verdedig.
In die Europa van die 20ste eeu was die bekendste outobiografie dié van die Brit Eric Hobsbawm, wat vier briljante boeke oor die geskiedenis van Europa tussen 1789 en 1991 geskryf het.
Hobsbawm was van een die weinige intellektueles in die Weste wat nooit uit die Kommunistiese Party bedank het nie. In sy outobiografie, Interesting times: A twentieth-century life (2002), verduidelik hy dat hy as skoolseun in Berlyn in lewensgevaar kommunistiese pamflette teen die Hitler-bewind versprei het. In die loop van 1933 het die Hobsbawm-gesin Londen toe gevlug.
Die Hobsbawms was Joods. Hy vertel dat sy ma hom laat beloof het dat hy nooit iets sal doen of sê waaruit dit mag blyk dat hy skaam is om ’n Jood te wees nie.
Ek kan my goed indink dat my ma dieselfde aan my sou gesê het.
Hobsbawm is nooit in die topposte vir Britse historici aangestel nie. Hy het geglo dat sy bedanking uit die Kommunistiese Party algemeen beskou sou word as die prys wat hy bereid was om te betaal om die kruin van sy beroep te bereik. Hobsbawm het nie gedink sy lidmaatskap was tot nadeel van sy geskiedskrywing nie. Dikwels verstaan die verloorders die geskiedenis beter as die wenners.
Vir Hobsbawm het die skryf van geskiedenis nie oor goedkeuring, instemming of simpatiebetoning gegaan nie. Dit het oor historiese verstaan gegaan. Historici kon die kommunistiese beleid steun, maar daar kon nie van hulle verwag word om die leiers onvoorwaardelik te ondersteun nie. Historici moet hulle altyd deur die getuienis laat lei.
Was daar ook ander historici wat jou geïnspireer het om ’n outobiografie te skryf?
Ja, daar is ook ’n werk deur ’n ander historikus oor sy loopbaan en sy bydraes wat my baie geïnspireer het. Dit is C Vann Woodward se Thinking back: The perils of writing history. In die twee jaar wat ek by Yale-universiteit deurgebring het, het ek hom redelik goed leer ken en ek het met hom oor Suid-Afrika en die Amerikaanse Suide gekorrespondeer.
Woodward was ’n boorling van die Amerikaanse Suide (hy was, soos Bill Clinton, afkomstig van Arkansas) en ’n uitgesproke liberaal. Martin Luther King het sy boek oor die geskiedenis van segregasie as die Bybel van die burgerregtebeweging bestempel. Woodward het die grootste deel van loopbaan in die noordooste van Amerika deurgebring.
In Thinking back wys Woodward daarop dat die geskiedskrywing in diepverdeelde samelewings nie soseer gaan oor ’n verstaan van die verlede nie, maar oor ’n regverdiging van die hede. Historici van die Amerikaanse Suide het slawerny en segregasie probeer goedpraat, terwyl historici van die Noorde die Suide geblameer het vir al die rassekonflik in die VSA terwyl hul eie geskiedenis van rasseverhoudinge niks was om op trots te wees nie.
Maar hoe pas dit in by die geskiedenis van die Afrikaner?
Die geskiedenis van die Afrikaners stem ooreen met dié van mense in die Amerikaanse Suide. Dit is oorheers deur slawerny en materiële en kulturele armoede. Daarna het gekom ’n verpletterende nederlaag in ’n oorlog (die Amerikaanse burgeroorlog en die Anglo-Boereoorlog) en daarna ’n eeu van segregasie en apartheid en felle kritiek van buitestanders wat weinig bewus was van hul eie vooroordele.
Ek is deur die Afrikaner-volksbeweging gevorm en wou, selfs na ek by ’n Engelstalige universiteit ’n professoraat gekry het, my nie as ’n “detribalised Afrikaner” voordoen nie. In dié sin deel ek Hobsbawm en Woodward se sentimente.
En hoe beland jy toe self so half op die rand van die volk?
Waar HB Thom, rektor van die US in my studentejare, wou hê dat die historikus in die midde van sy volk moet staan, het ek geglo sy plek is op die rand van die volk, en dat hy somtyds baie krities moet kyk na die gemeenskap met wie hy hom vereenselwig. Soos William Faulkner, die groot skrywer van die Amerikaanse Suide, geskryf het: “You don’t love because, you love despite; not for the virtues, but despite the faults.”
As nagraadse student het ek met my professore op Stellenbosch gebots omdat hulle my nie wou toelaat om my tesis oor die kontemporêre geskiedenis te skryf nie. Ek het my proefskrif oor die laat 18de eeu geskryf, maar na ek dit afgehandel het , het ek vir koerante rubrieke en oor sake van die dag begin skryf. Van 1980 tot 2010 het meer as 300 van my politieke rubrieke in sowel Engelse as Afrikaanse koerante verskyn.
Ek twyfel egter of hierdie ervaring genoeg sou gewees het om my tot die skryf van my lewensverhaal te beweeg. Op die ou end was my boek oor die Afrikaners die aanleiding tot my outobiografie.
Die boek het in 2003 as The Afrikaners: Biography of a people verskyn. My Afrikaanse verwerking daarvan is die volgende jaar gepubliseer. Die boek, wat amper 700 bladsye lank is, het tien jaar gevat het om te skryf (en nog ’n jaar om dit in Afrikaans te vertaal0. Dit was ’n bestekopname van die hele Afrikanergeskiedenis. Dit stel ook die vraag of die Afrikaners na hul magsverlies in staat sou wees om die beste in hul kultuur te bewaar en uit te bou.
In sowel my boek oor die Afrikaners as my outobiografie probeer ek om die bruisende geesdrif van die volksbeweging in die 1950’s en vroeë 1960’s te beskryf – ons vereenselwiging met Afrikaans as ’n taal wat ons korrek moes praat en skryf, ons begeerte dat daar hoëgehalte-werk in Afrikaans gepubliseer word, ons ondersteuning van Afrikaanse ondernemings sodat die inkomstegaping tussen ons en die Engelse gemeenskap vernou kon word, ons aandrang op Suid-Afrikaanse nasionale simbole en op ’n republiek.
Ek het probeer verduidelik dat die latere obsessie met ’n eksklusiewe Afrikanerskap en “totale apartheid” ’n besoedeling van die gees van die volksbeweging was. Ek gebruik as epigraaf vir die boek die woorde van Elie Wiesel: “To live without a past is worse than to live without a future.” Dit was in reaksie teen die pogings van sommige na 1990 om feitlik die hele Afrikaanse geskiedenis te verguis.
Hoe verskil jou outobiografie van ’n gewone outobiografie?
My outobiografie is nie ’n memoir, soos dié van ’n politieke leier of generaal nie. My perspektief is dié van “’n getuie van groot tye” (die woorde van die titel van die gevierde koerantredakteur Schalk Pienaar se sprankelende lewensverhaal).
In 2002 het sowel die (destydse) Universiteit van Port Elizabeth as Leiden Universiteit my genooi om ’n openbare lesing oor my loopbaan en oor die skryf van die boek te gee. Albei het die teks van die lesing as ’n boekie gepubliseer. Erika Oosthuysen, my uitgewer by Tafelberg, het voorgestel dat ek die boekies tot ’n volwaardige outobiografie uitbrei.
Die politieke rubrieke wat ek vir verskillende koerante geskryf het, was van onmisbare waarde toe ek my outobiografie begin skryf het. Hulle het my in staat gestel om te bepaal waar ek reg was en waar verkeerd. Veral ’n mens se foute is onthullend.
Kan jy een of twee voorbeelde noem waar jy verkeerd was?
Ek het byvoorbeeld glad nie verwag dat die ANC twee jaar na sy ontbanning in 1990 die mag sou oorneem en die gang van die onderhandelinge sou bepaal nie.
Ek het ook nooit goed nagedink oor die vraag wat JM Coetzee aan my gestel het toe ek in 2009 aan ’n tweede uitgawe begin werk het nie:
In the overall account you offer of the negotiations for a new constitution, the party that held political power at the time – the NP – got little of what it wanted and the party without power – the ANC – got what it wanted. There are two ways to explain this outcome. One is that the NP negotiators were incompetent. The other is that the strength of the NP and the weakness of the ANC were more apparent than real. You seem to incline toward the former explanation. What leads you to believe that, in the larger political context, the latter is not more valid?”1
Dit bly nog steeds die skerpste vraag oor die onderhandelde skikking.
Jy verwys in jou boek daarna dat daar vanaf Van Riebeeck se aankoms aan die Kaap tot feitlik die einde van die 18de eeu nie regtig ’n rassistiese ideologie was nie. Daar was ook dikwels gemengde huwelike tussen mense van verskillende rasse. Waar moet mens gaan soek na die wortel van rassisme wat so deel geword het van ons samelewing?
Tussen 1652 en 1795 was die Kompanjiebewind se amptelike klassifisering van die bevolking van die Kaap streng nierassig. Die drie groot groepe was amptenare, burgers en slawe. Tot ongeveer 1775 het die woord “blanke” of “swarte” of “Afrikaner” feitlik nie in die dokumente voorgekom nie.
’n Gemeenskap oorheers deur Europeërs het van die begin af bestaan en daar was geen kragte wat die korrelasie tussen afkoms, klas, geloof en status kon versteur nie.
Uit die staanspoor was die mense wat as burgers geklassifiseer was, feitlik almal van Europese afkoms. Hulle kon grond besit, kon as kinders van Christelike ouers reeds as suigelinge gedoop word, kon maklik lidmate van die kerk word, kon in ampte soos veldkornet of heemraad aangestel word, en kon sonder ’n pas rond beweeg. Vir slawe en hul kinders was feitlik nie een van die dinge beskore nie. As die Kompanjie hulle besit het, kon hulle as suigelinge gedoop word, maar as hulle in ’n burger se diens was, moes hulle eers kennis van die Christelike leer toon.
In 1814 moes ds Meent Borcherds van Stellenbosch aan die goewerneur, John Cradock, verduidelik waarom daar in so ’n groot distrik so min slawe gedoop is. Borcherds het geantwoord dat hy die slawe nie kon doop voor hulle sy vrae oor die Christelike leer bevredigend beantwoord het nie. Hy het verwag dat hulle die antwoorde uit hul kop moes ken. Volgens hom het hulle wel die “vreeze Gods” in hul harte gehad, maar was te “stomp” om die vrae te beantwoord.
Jy verwys ook in jou boek daarna dat apartheid eintlik sy ontstaan in die kerk gehad het. Watter rol het die kerk, en spesifiek die NG Kerk, gespeel om apartheid tot ’n ideologie te verhef, en het die kerk ooit genoeg gedoen om dit ongedaan te maak?
In 1929 is die term apartheid vir die eerste keer in sy moderne betekenis op skrif gebruik. Dit was in die boekie Die NG Kerk van die OVS en die Naturellevraagstuk. Dit bevat die toesprake van ’n konferensie van die Vrystaatse NG Kerk oor sendingwerk, wat op Kroonstad gehou is.
By hierdie geleentheid het ds Jan Christoffel du Plessis van Bethlehem gesê: “In die grondbegrip van sendingwerk en nie rassevooroordeel nie, moet die verklaring gesoek word vir die gees van apartheid wat ons gedragslyn nog altyd gekenmerk het, en wat sommige deur misverstand in ons laak. Die verwyt word ons dikwels gemaak dat ons Kerk uit rassevooroordeel die vader is van die kleurlyn, deurdat ons nooit wou toelaat nie dat bekeerlinge uit die heidene in ons kerklike en sosiale samelewing met ons blanke lidmate sou meng.”
Met apartheid het Du Plessis enersyds bedoel dat die heidene gekersten moet word met behoud van hul “eie rasse-identiteit”, en in hul eie gemeentes en hul eie selfstandige kerk georganiseer moet word. Andersyds wou hy hê dat die NG Kerk self wit bly om die “aparte” en “suiwere voortbestaan van ’n handjievol blankes te verseker”.
Du Plessis het sy “apartheid” bedoel as ’n teenvoeter vir die integrasiebenadering van die Engelse sendelinge, wat na sy mening bekeerlinge probeer kry deur hulle die Westerse beskawing en godsdiens te laat naboots. Idees soos “kollektiewe selfbehoud”, “gelykwaardige en selfstandige ontwikkeling” en “selfrespekterende Christelike volke” het gedurende die 1930’s ’n sentrale plek in die denke van baie ampsdraers in die NGK en die Sendingkerk ingeneem. Die Nasionale Party het die kerk se standpunt gebruik as regverdiging vir sy rassebeleid om op almal ’n bepaalde identiteit af te dwing.
In politieke kringe is die woord apartheid eers in 1943 vir die eerste keer in Die Burger gebruik. In 1944 was DF Malan die eerste man wat dit in die parlement gebruik het.
Alan Paton stel dit mooi in sy Journey continued (1988): “If the Afrikaner had found his identity then surely he would want everyone else to find it too. And God help those who did not want to be helped to find it” (bl 8).
Ek is ’n lid van die NG Kerk, maar het nie aan die debatte in die kerk deelgeneem nie. Omdat ek nooit aan die ontvangkant van apartheid was nie, kan ek nie oordeel of die kerk genoeg gedoen het om sy steun vir apartheid tot niet te maak nie. My wens is dat dieselfde eenheid bewerkstellig word as wat voor 1857 bestaan het.
Watter invloed het die Britse kolonisering van Suid-Afrika op rasseverhoudinge in die land gehad, indien enigsins?
Die Britse regering het die regsterm subject ingevoer. Dit was ’n heeltemal ander konsep as burger. Dit het onderdaanskap aan die Britse monarg en die gelyke status van alle “subjects” voor die gereg beklemtoon.
Burgerskap soos dit in die Kompanjiestyd bestaan het, het pligte, regte en voorregte beklemtoon, wat grootliks deur jou geboorte bepaal is. Burgers moes byvoorbeeld kommandodiens doen, maar hulle sou onder die Britse bewind daarop aandring dat hulle nie onder ’n Britse offisier of iemand van gemengde afkoms wou dien nie. Dit sou teen hul opvatting van burgerskap indruis.
Die Britte as die nuwe imperiale heersers wou hul stempel op die Afrikaners, veral in Kaapstad en die vernaamste dorpe, afdruk. Dit het uitdrukking gevind in die bevordering van Engels as ’n “progressiewe taal van beskawing”. Engelse kleredrag, argitektuur, sosiale etiket en gedrag het die norm geword. In baie opsigte was Engelse nasionalisme die oorspronklike nasionalisme in Suid-Afrika waarop sowel Afrikaner- as Afrika-nasionalisme later sou reageer.
Die Britte se beheptheid met ras was net so erg soos dié van Afrikaners. Net soos die Afrikaners wou hulle nie mense wat nie van Europese afkoms was nie, in hul gesin inbring of in die sentrale administrasie op plaaslike besture aanstel nie. Die sterk Britse klassestelsel het daarvoor gesorg dat min mense in die Engelse middelklas in Suid-Afrika ooit met iemand van kleur getrou het.
Afrikaner-organisasies soos die Broederbond en sy kleiner boetie, die Ruiterwag, het dikwels ’n rol agter die skerms gespeel om Afrikaners ten koste van ander te bevoordeel. Later het die Broederbond ’n rol gespeel om van apartheid ontslae te raak. Hoe sou jy dié organisasies se invloed op die land se politiek terugskouend beoordeel?
Dit is vergesog om te beweer dat die AB die kabinet beïnvloed het eerder as andersom, Soms het die invloedryke lede die Bond gebruik om dwase voorstelle nek om te draai. In die 1950’s het Anton Rupert en Sanlam se Andreas Wassenaar, wat albei lede was, sterk standpunt ingeneem teen die plan dat die regering gevra word om Afrikanersake deur middel van kwotas op die been te help. As gevolg van hul teenstand is die plan laat vaar.
In die 1960’s het die Bond as ’n soort waghond teen die afwatering van apartheid opgetree, maar in die laat 1980’s, onder leiding van Piet de Lange, het dit voorbrand gemaak vir die insluiting van swartes in die landsregering. Ek glo dat steun van De Lange en ander AB-leiers vir FW de Klerk belangrik was toe hy die groot besluit geneem het om die ANC te ontban en onderhandelinge vir ’n nuwe grondwet te begin.
Klaarblyklik was daar op sommige plekke binnebaantjies vir die boeties wat verhoudinge, veral op sinodes, universiteite en skoolbeheerliggame, beduiwel het. Terugskouend sou ek sê dat dit jammer is dat die AB nie na die bereiking van die republikeinse ideaal in 1961 ontbind het nie, of ten minste van sy geheimhouding ontslae geraak het nie. Ironies genoeg was dit die geheimhouding wat die Engelse pers in staat gestel het om die AB as ’n almagtige, sinistere beweging te beskryf.
Waarom het demokrasie elders in Afrika so dikwels gefaal en wat is die vooruitsigte dat dit anders sal wees in Suid-Afrika as in die res van Afrika?
Demokrasie het gefaal omdat Afrika-lande nie ’n middelklas ontwikkel het wat vir sy ekonomiese bedrywighede onafhanklik van die staat en veral van die regerende party was nie. Dit was deels as gevolg van kolonisasie, maar deels ook vanweë die wyse waarop die ekonomie ná onafhanklikheid ontwikkel het. Die middelklas het kontrakte van die regerende party gekry. Dit het ’n kruk geword waarsonder hulle nie kon klaarkom nie. Die lyn tussen regerende party en staat het al meer vervaag. Algaande ontaard die politiek in ’n gejaag na staatskontrakte en die ineenstorting van persoonlike verantwoordbaarheid van lede van die parlement. Dit lei tot grootskaalse korrupsie, wat insluit die koop van stemme en die opstel van kandidaatlyste.
Die leuse “Geen onafhanklike middelklas, geen liberale demokrasie nie” is baie waar. Die onafhanklikheid van die middelklas is die sleutel tot die sukses van demokratiese en ekonomiese stelsels van Taiwan, Japan en Suid-Korea.
’n Ander rede vir die swak stand van demokrasie in Afrika is die kiesstelsel, wat gewoonlik ’n vorm van proporsionele verteenwoordiging is. Sonder kiesafdelings soos ons dit in Suid-Afrika voor 1994 geken het, word geen parlementslid deur sy kiesafdeling verantwoordbaar gehou nie. Ons kry wat genoem word die “suspended state”. Die staat sweef bo in die lug rond sonder enige wortels in die samelewing.
FW de Klerk se toespraak van 2 Februarie 1990 het jou opgewonde gemaak, maar die wyse waarop die NP volgens jou tweede gekom het tydens die onderhandelingsproses het jou teleurgestel. Waar het die De Klerk-regering die bal laat val en was daar regtig enige alternatief, gegewe die hoë aansien wat Nelson Mandela en die ANC internasionaal geniet het?
Ek het De Klerk baie sterk gesteun in wat hy tussen Februarie 1990 en Maart 1992 gedoen het. My kritiek het te doen met die feit dat hy nie ’n mandaat gehad het vir die grondwet wat die NP in November 1993 aanvaar het nie. Die NP-belofte aan sy kiesers was dat die NP slegs vir ’n vorm van magsdeling sou skik. Daarmee word algemeen bedoel dat daar nie in die kabinet koppe getel word nie. Die NP het ook beloof dat indien die skikking te ver afwyk van die voorstelle vir magsdeling wat die NP op sy federale kongres van September 1992 aanvaar het, daar ’n tweede referendum gehou sou word. Ook hierdie belofte is nie nagekom nie.
Wat sou die ideaal dan wees?
Vir my is die ideaal iets soos die proses in Noord-Ierland, waar die referendum in 1998 gehou is nadat die konsepgrondwet publiek bekend geword het. Dit moes ook in Suid-Afrika gebeur het en al die Suid-Afrikaanse gemeenskappe moes aan die referendum deelgeneem het.
Jy het die Waarheid-en-versoeningskommissie van die begin af teengestaan. Waarom was jy daarteen gekant en kon dit nie bygedra het tot nasiebou as die Afrikaanse gemeenskap nie so afwysend was daaroor nie?
Ek was geneig om saam te stem met Van Zyl Slabbert, wat privaat daarteen gekant was. Hy het aan my gesê enige persoon wat dink dat belydenis in die publiek van skendings van menseregte versoening sou meebring, net ’n paar egskeidingsake moet bywoon om sy kop skoon te kry. Die samestelling van ons WVK en die kommissie se navorsingspersoneel was heeltemal skeefgetrek wat politieke lojaliteit betref.
Die meeste kommentators is dit eens dat die gedagte van ’n reënboognasie ’n hersenskim was. Is ons gedoem tot ’n rasverdeelde land wat voortdurend in konflik met mekaar gaan wees op grond van ras?
As ons op die huidige trant voortgaan, is die antwoord ongelukkig ja. Ons laat toe dat mense op die sosiale media ’n heeltemal onverteenwoordigende prentjie skep. Die Menseregtekommissie is heeltemal eensydig, soos wat Ernst Roets van Solidariteit onlangs in ’n artikel op Politicsweb aangevoer het.
Jy verwys in ons gesprek, en ook in jou outobiografie, na Van Zyl Slabbert. In jou boek Die laaste Afrikanerleiers het jy hom as een van die Afrikanerleiers ingesluit hoewel hy nooit staatshoof was nie. Wat is dit wat van hom ’n goeie leier gemaak het en sou hy nie dalk meer vermag het as hy van binne die Afrikanerpolitiek vir verandering gewerk het nie?
Slabbert het ’n uitmuntende analitiese brein gehad en het nie sy gelyke gehad in die konteks van ’n klein groepie waar dinge uitgepraat moes word nie. Hy was nie bereid om sy loopbaan op die opposisiebanke af te sluit nie. Om ’n rede wat ek nooit heeltemal verstaan het nie, het hy besonder min van FW de Klerk gehou, terwyl De Klerk hom as parlementariër hoog geag het.
As Slabbert net drie jaar langer in die parlement aangehou het, kon hy dalk ’n ooreenkoms met De Klerk gesluit het dat die Demokratiese Party en Nasionale Party saam in die onderhandelinge optree.
Slabbert se groot fout was om te dink dat Thabo Mbeki hom in die hoofstroom van die ANC sou inbring. Soos Cyril Ramaphosa gesê het: “Mbeki wou altyd die slimste man in die kamer wees.” Dink daaraan wat sou gebeur het as Slabbert in die kabinet gesit het terwyl Mbeki sy vigs- of Zimbabwe-beleid probeer verdedig het. Maar ek dink Slabbert het die ANC heeltemal verkeerd gelees.
Vergeleke met die meeste ander historici is jy besonder genadig in jou beoordeling van Verwoerd. Wat is die rede daarvoor en dink jy die land sou ’n ander koers ingeslaan het as hy nie in 1966 in die parlement vermoor is nie?
Baie keer bepaal ’n persoonlike ontmoeting jou oordeel. Ek vertel van my persoonlike kontak met Verwoerd in my boek. Ek haal ook die uitgewer Koos Human aan wat tot dieselfde oordeel as ek gekom het. Maar miskien is die belangrikste rede dat CW de Kiewiet, die Suid-Afrikaanse historikus wat ek die hoogste aanslaan, in 1964 so positief oor hom in die invloedryke Amerikaanse tydskrif Foreign Affairs geskryf het. Hy vergelyk Verwoerd met niemand minder nie as Charles de Gaulle.
Wanneer ons Verwoerd beoordeel, moet ons dit doen binne die konteks van die kennisraamwerk wat in die eerste helfte van die 1960’s bestaan het. Hy het nie geweet dat daar teen die jaar 2000 ’n hele 15 miljoen meer swart mense sou wees as die getal waarmee die apartheidsbeplanners gewerk het nie. Hy het nie geweet dat planne vir ekonomiese desentralisering oral in die wêreld grootliks aan die misluk was nie – dit geld vir sowel die tuislande as die swart en bruin groepsgebiede. Hy het ook nie geweet dat argeoloë gedurende die 1960’s getuienis gevind het dat swartes teen 1652 oor ’n veel groter gebied in Suid-Afrika versprei was as wat in die 1950’s algemeen aanvaar was nie.
Dit was Verwoerd wat in 1950 as ’n nuwelingminister op ’n vergadering van swart leiers, wat verskeie vooraanstaande ANC-lede ingesluit het, voorgestel het dat swart mense “die grootste moontlike mate van selfregering” in die stedelike gebiede moet kry.
Swart mense sou hier self al die werk in hul stedelike woonbuurte moes doen om swart mense in staat te stel om, soos Verwoerd dit gestel het, ’n “vol lewe van werk en diens” te lei. Om hierdie rede moes swart mense opgelei word sodat hulle in baie sfere bekwaam genoeg sou wees. Verwoerd se voorwaarde was dat hulle hul ontwikkeling en kennis uitsluitlik in diens van hul eie mense sou gebruik.
In 1963, en toe weer 1966, het ’n bundel van Verwoerd se toesprake verskyn. Hy het self toesig oor die projek gehou. Die toespraak van 1950 is opgeneem. Ek dink Verwoerd was in staat om hierdie plan weer op die agenda te plaas.
Met die lees van jou outobiografie kom mens opnuut onder die indruk hoe die apartheidsbeleid wit en bruin Afrikaanssprekendes van mekaar vervreem het. Hoe is dit moontlik dat daar so ’n onreg teenoor taalgenote gepleeg is en hoe heel mens daardie wonde wat aan die bruin gemeenskap toegedien is?
Ek het eers met die skryf van my boek Nog altyd hier gewees (2007), wat gaan oor die geskiedenis van bruin mense in Stellenbosch, besef hoe ’n groot onreg gepleeg is. hoe salig onbewus die blankepubliek was en hoe swak die leiding van die universiteit en van Die Burger was.
Daar is eintlik geen verdediging nie, maar as ’n mens ’n verklaring wil soek, is die beste plek om te begin by die kiesstelsel van destyds. Dit was gebaseer op kiesafdelings en die reël van “die wenner vat alles” het gegeld. So ’n stelsel bevoordeel die grootste etniese groep in die kieserskorps en die eenheid van die groep word gewoonlik deur middel van radikale oplossings gekry.
Die teenstand wat gedurende die 1920’s onder ’n jonger geslag NP-leiers teen die bruin stem ontstaan het, het gespruit uit die oortuiging dat Jan Smuts se Suid-Afrikaanse Party (SAP) die NP in 1924 in die kiesafdelings van Paarl en Stellenbosch geklop het deur ’n dag of twee voor die verkiesings 300 bruin kiesers te registreer. Paul Sauer, wat vir die NP op Stellenbosch gestaan het, het verbitterd gebly oor die nederlaag wat hy gely het as gevolg van wat hy bestempel het as die “opportunisme” van die SAP.
Maar ook in die VSA, waar daar nie dieselfde skerp etniese verdeling in die wit gemeenskap was nie, is die oorgrote meerderheid “Neger”-stemme gedurende die 1890’s van die kieserslys afgehaal. Die gevoel was dat hul deelname te veel konflik tussen die twee groot partye veroorsaak het. In die Suide is die “Neger”-stem eers in die 1960’s teruggebring. President Lyndon Johnson het toe korrek voorspel dat die wit stem vir twee geslagte lank vir die Demokratiese Party verlore was.
Jy het die afgelope aantal jare ’n groot deel van jou tyd en energie in die sogenaamde taalstryd ingeploeg, en spesifiek op Stellenbosch, waar Afrikaans as akademiese taal onder beleg is. Hoekom?
Afrikaans is vir mense wat Afrikaans praat, hul kosbaarste kulturele erfenis. Dit is maar een van vier tale in die wêreld wat in die loop van die 20ste eeu daarin geslaag het om van ’n gewone spreektaal met lae status te vorder tot ’n taal wat in alle vertakkings van die samelewing, en ook nagraads op universiteit gebruik word. Die ander is Maleisies-Indonesies en Hindi, wat veel groter taalgemeenskappe is, en Hebreeus. Ek stem saam met Charles Taylor, die groot Kanadese filosoof, wat in sy Politics of recognition aanvoer dat elke geslag die verantwoordelikheid het om hul moedertaal in dieselfde toestand na die volgende geslag oor te dra.
Maar is dit nie ’n verlore stryd nie? Selfs Afrikaanse studente staan tot ’n groot mate apaties oor Afrikaans as akademiese taal en stel nie regtig belang om by die stryd betrokke te raak nie.
In 2008 het die firma Markdata ’n verslag gepubliseer wat gebaseer was op ’n opname onder voorgraadse studente op Stellenbosch. Dit was die enigste verslag wat die US Raad ooit aangevra het en wat tot vandag toe beskou word as die enigste een wat aan al die wetenskaplike vereistes voldoen. Dit het bevind dat meer as 80 persent van die Afrikaanse studente hoofsaaklik Afrikaanse onderrig verkies en dat meer as 40 persent van die Engelse studente dit aanvaarbaar vind.
Wat ons tussen 2008 en 2016 gesien het, is ’n verdubbeling van die getal Engelse studente, waarvan die groot meerderheid wit is. Intussen was daar in 2016 volgens hofstukke meer as 200 dosente wat aangedui het dat hulle nie in Afrikaans kan klasgee nie. Die vermoede is dat baie van hulle nie in Afrikaans wíl klasgee nie. Niemand weet waarom die universiteit in die laaste 16 jaar so vinnig gegroei het nie en waarom dit nie die implikasies van die inname van groot getalle wit Engelssprekende studente deurdink het nie.
Waarom is daar feitlik geen weerstand teen Engels nie terwyl dit tog eintlik die taal van die koloniale onderdrukking is?
Uit verskeie oorde is daar berigte van studente dat dosente druk op hulle sit om nie op Afrikaans aan te dring nie omdat dit mag uitloop op ’n stelsel van parallelmedium waarvoor die dosente geen ekstra vergoeding kry nie. En dan vra die mense waarom die Afrikaanse studente nie aandring op Afrikaans nie.
In jou jonger dae is jy deur sommige Afrikaners as ’n linkse liberalis uitgekryt en deesdae word jy deur sommige as ’n taalbul geëtiketteer wat gekant is teen transformasie. Waar posisioneer jy jouself vandag polities?
Ek glo nie ek was ooit ’n klassieke liberaal nie, al was ek op ’n slag president van die SA Instituut van Rasseverhoudinge, wat die oudste liberale organisasie in die land is.
Wat is jy dan en waar lê ons politieke heil?
Ek is ’n pluralis en ek glo nie hierdie land sal ooit ’n sukses wees solank ’n enkele party alleen en eensydig al die besluite in die kabinet neem nie. In die wetenskaplike literatuur word algemeen aanvaar dat geen diepverdeelde samelewing soos dié van ons suksesvol kan wees sonder die institusionalisering van magsdeling nie.
Alhoewel die DA nie hierdie standpunt steun nie, dink ek dit is die enigste party waaromheen ’n nuwe politieke stelsel gebou kan word. Maar miskien kry ons nog ’n “opvolgskikking” soos wat Pierre du Toit en sy medewerkers dit in hul boek South Africa and the case for renegotiating the peace (Sun Press 2016) noem.
Eindnota
1 E-pos 14 Desember 2009
The post Hermann Giliomee – ’n onderhoud oor sy outobiografie appeared first on LitNet.