Arsenaal van klank
Anna Enquist, uit Nederlands vertaal deur Zandra Bezuidenhout
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485306047
Een van die bekende Nederlandse digteres Anna Enquist (1945) se mees aangehaalde gedigte is “Ineens”, uit Klaarlichte dag (1996):
Ineens
Ineens was ik het vermogen
om warmte vast te houden
verloren. Nu de kinderen
het huis uit zijn, snoof ik,
ja ja. Ik kroop onder steeds
meer dekens. De kachel
loeide. De warmste van ons
tweeën kon mij niet meer
verhitten. Ik rilde en
huiverde alsof ik oog
in oog stond met de dood.
Wat ook zo was. De dood
en ik stonden op een dijk.
Tussen ons was niets dan
een aanzienlijke afstand.
Hierdie kort maar kragtige vers is tiperend vir Enquist se poësie: gebalde maar toeganklike taal, simbolies gelaai en op die agtergrond spook die tematiek van dood en verganklikheid. Ook voor die fatale ongeluk van haar dogter, wat in 2001 dood is in ’n verkeersongeluk in die sentrum van Amsterdam, is dit klip en klaar in baie van die gedigte: die dood is in Enquist se gedigte ’n figuur wat ’n mens eerder nie negeer nie. Enquist se poësie bly ver van die sentimentele; woorde en beelde soos “De kachel loeide”, woorde soos “huiverde”, “snoof” en “loeide” dui hierop.
Die wysheid wat vervat is in dié bostaande vers is dié van ’n vrou wat al ’n halwe lewe agter die rug het, en inderdaad het Enquist (’n pseudoniem van Christa Widlund-Broer) eers op die leeftyd van 46 jaar in 1991 haar debuut gemaak met die bundel Soldatenliederen. Sy is opgelei as ’n sielkundige en ’n sielkundige terapeut. Sy het ook naam gemaak as ’n klassieke pianis. Dié agtergrond speel ’n belangrike rol in haar poëtiese werk, asook in haar romans – Enquist het nie lank na Soldatenliederen nie gedebuteer met die roman Het meesterstuk (1994). Haar sukses in beide genres is merkwaardig en dui op ’n groot talent vir uitbeelding en verbeelding. Dat haar poësie en haar prosa ook nog so suksesvol verkoop word, bewys haar vermoë om belangwekkende temas op ’n beeldende en aansprekende wyse te verpak.
Die digter en vertaler Zandra Bezuidenhout het ’n seleksie gemaak uit die omvangryke poëtiese oeuvre van Enquist, met die veelseggende en pragtige titel Arsenaal van klank. Die voorblad is ’n verwysing na Enquist se bekende tematiek van die klassieke musiek en die genot en die onderliggende troos en pyn wat gepaard gaan met musiek maak. “Arsenaal” dui sowel op ’n “menigte” of “verskeidenheid klanke” as op ’n ruimte waar wapens en munisie vervaardig en gestoor word. Nee, hierdie is geen “lieflike”, sagsinnige poësie nie, en daarin lê die bekoring.
Enquist het vanaf haar debuut as ’n rasende geskryf en gepubliseer, en om ’n min of meer representatiewe keuse uit al die gedigte te maak, wat reg doen aan die veelsydigheid van die digter is nie ’n eenvoudige taak nie. Tog kon Bezuidenhout ’n mooi balans tref tussen gedigte wat handel oor musiek, kinders, die gesin, die dood, die natuur en die stad. Wat dalk nog ontbreek, is gedigte wat handel oor seksualiteit, of die meer speelse gedigte oor sport, veral sokker, hoewel “Sportpark de Kwakel” wel ingesluit is. Enquist is nie net ’n groot aanhanger van die groot Rotterdamse sokkerklub Feyenoord nie, maar sport en sokker is ook motiewe wat terugkeer in gedigte waar mens dit nie direk sou verwag nie, soos in “Fantoom”, wat die tema van die verdwene kind, of die geliefde in die algemeen, evokeer:
Fantoom
Dit is ’n woord vir pyn wat geen
bestaansreg het nie; jy ly aan
’n afwesigheid, jy snak met hart
en huid na wat daar was.
Wat afgesny is dring hom bedrieglik
op, jy strek jou arms blind na
die versaagde voet, ’n leegte,
die verdwene kind. Dit is ’n naam
vir iets wat hom voordoen in die sestien
meter van die siel: ’n spookbeeld skiet
deur die doelpale en maak alle verlies
tot niet, maak alles heel.
Enquist se poësie is sterk ritmies, met subtiele gebruik van eind- en halfrym, en sy is nie bang om groot woorde soos “pyn”, “huil”, “woede” net so in die gedigte te los nie. Vanaf die begin van haar digterskap was die heftigheid in haar verse opvallend, en ook in die gedigte wat Bezuidenhout hier gekies en vertaal het, vind ons dit terug: in “Verjaardag” “was dit op die Sweedse platteland/ ongehoord bedrywig” en lees ons van snoeke wat uit die riet “spring”, insekte wat “raas”, trompetsolo’s van kinders wat deur die dal “dawer”, die wind wat verby “bulder” – alles metafore vir die storm in die gemoed van die spreker. In “Na die noorde” is daar sprake van asem wat oor die tafel “storm”, sluisdeure wat in die mondholte “slaan”, en “’n magtige waterval van koffie/ stort siedend deur die ingewande”.
Nee, hierdie is geen “damespoëzie” nie, soos Bezuidenhout dit in haar voorwoord stel – al was en is die poësie van die groot Nederlandse digteresse (soos Ida Gerhardt, M Vasalis, Neeltje Maria Min, Judith Herzberg, Eva Gerlach, Esther Jansma en Hester Knibbe) nog nooit eintlik “damespoëzie” nie. Dit geld ook vir die nuwe generasie vroulike digters, met een groot verskil: die Nederlandse debutante is deesdae behalwe suksesvol ook dikwels heelwat jonger as vroeër (meestal in hulle vroeë twintigs of jonger), soos Lieke Marsman, Ester Naomi Perquin, Hannah van Binsbergen, Ellen Deckwitz, Tjitske Jansen en Marieke Rijneveld. Dit lewer uiteraard ’n heel ander soort gedig op, met ’n ander lewensuitkyk en ’n ander temperament.
Daar is altyd gedigte wat wegval as mens so ’n klein oorsig moet saamstel. Ek mis bekende gedigte soos “Ineens”, “Decemberoffensief”, “Voor L” en “Als water ben ik uitgestort”. Aan die ander kant is gedigte soos “Sprookje”, “Nunc dimittis”, “Voor hobo en piano”, “Dochter, dochter” en “Een menigte” wel ingesluit.
Arsenaal van klank is ’n boeiende en belangrike kennismaking met een van die bekendste Nederlandse digtersstemme van die afgelope 30 jaar, uitstekend deur Zandra Bezuidenhout vertaal. Enquist skryf nugter, kort, saaklike reëls, wat baie min vryheid bied vir die vertaler om af te wyk van die volgehoue, streng ritme. Bezuidenhout maak van die sterk Nederlandse en Noord-Europese poësie egter goeie Afrikaanse gedigte, met vondste soos “Ek lei hom om die bos” vir “Ik lieg hem voor”. Afgesien van ’n paar tikfoute (ble 58, 72, 84) is hierdie keuse uit agt digbundels van Anna Enquist ’n foutlose uitgawe en ’n verryking vir die groeiende versameling vertaalde Nederlandstalige digters in Afrikaans. Enquist is ’n digter wat (soos die Belgiese digter Herman de Coninck) herkenbaar en toeganklik kan skryf oor persoonlike en komplekse sake, en in ’n poëtikale vers soos “Smaak” haar kritici en haar eie poësie op ’n ironiese wyse kan tipeer:
Smaak
Die gedig wat spreek van goeie smaak
kies woorde met ’n dubbele bodem,
beskeie binnerym, beeldspraak
binne perke. Maak hom groot
op ’n regime van stylfiguur
en stukrag, dan groei hy
met oorleg, slank van bestek.
My gedig vreet hom vol
aan rommel. Moenie, sê ek,
daardie bitter oorskiet, daardie armsalige
rantsoen verorber nie. Maar die vers
bars uit die stywe gordel
van die reëls en smyt hom
op die bladsy, voor my oë.
The post Arsenaal van klank deur Anna Enquist, vertaal deur Zandra Bezuidenhout appeared first on LitNet.