Hart se Huis
In ou bekende klanke
in die saamwees en verlange
lê die wortels van my lewe,
soos ’n varing ingegrawe
Ek spoel daagliks oor jou strand
met my voetspore op jou sand
met kalm ritme van ’n lied,
is die veilige hawe wat jy bied
So waai ons in dieselfde baan
ken ek jou en spreek jy my naam …
kyk regdeur glasvenster en houtdeur
tot binne my vertrekke, deur my raam
Dan sit ons met voete uitgestrek …
op die voorstoep van hierdie plek
want my huis is waar my hart is …
en my hart is vir jou gedek!
Monument
Dit lê my so en beloer…
met die intrapslag, natuurlik
monument gebou vir 360 grade
ter ere van kindertye,
van sorgelose ure sonder ma.
Die onlus-partytjie lê wyd en ver,
betogend teen die reëls van orde.
my oë, al soekend vir die skuldige party
wat êrens agter geheimsinnige stilte skuil.
My bottelprop van emosie …
skiet sekuur ’n holte in die stilte
dit borrel oor die rante van my keel …
en ’n wonderwerk spoel oor die misdaadtoneel
Die varkhok maak weer plek
vir die woning wat hier skuil …
die monument trek sy wortels uit my huis,
en vind in my hart, dáár gaan hy tuis
Hier is altyd plek vir nog
Vanuit haar hoekie
weggesteek … vir oomblik en tyd,
hoor sy hierdie vreemde woorde:
“Hier is altyd plek vir nog!”
Soos een toonaangewende noot
tussen die valsheid van haar lewe
soos die soet smaak van warm brood
wanneer die honger in jou ore donder
Sy leun nader met haar asem in die lug
voel die bloed wat borrel en bruis
toe sy weer daardie melodie hoor:
“Hier is altyd plek vir nog!”
Nou kyk sy onbeskaamd …
Lig haar kop uit die duister en … wag …
Daar voor haar oë staan die woorde
op die prentjie van elke ander gesig
Dan sien sy die oopgespreide arms
En hardloop daarin …
Haar huis is nie meer sonder vensters
Sy staan nie meer buite …
maar Lewe nou binne-in.
Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.
The post Huis, woning, tuiste: Mercia Jansen van Rensburg se inskrywings appeared first on LitNet.