Nico Scheepers vertel vir Naomi Meyer van Nêrens, Noord-Kaap by US Woordfees 2017.
Hallo Nico, jou stuk Nêrens, Noord-Kaap volg in die voetspore van Amper, Vrystaat. Vertel asseblief vir ons lesers waaroor Nêrens, Noord-Kaap handel?
Nêrens, Noord-Kaap het ontstaan as die idee om ’n teëstuk te skep vir Amper, Vrystaat. Ons het nou ’n storie oor drie susters, maar wat van die mans? So hier het ons drie broers wat saam grootgeword het op ’n plaas in die Noord-Kaap. Dis snaaks, dis hartseer, en ek dink mense wat Amper, Vrystaat gekyk het sal weer dieselfde eerlikheid en deernis kan verwag.
Nêrens, Noord-Kaap is vir my baie belangrik, in die sin dat ek graag ’n storie oor drie wit Afrikaanse mans wou vertel wat nie oor politiek of rassisme of apologie gaan nie. Hulle is gewone mense, nes die sussies van Amper, met al hulle liefde en haat en soeke na die broederskap wat hulle verloor het.
Jy het Amper, Vrystaat in samewerking met die aktrises (Antoinette Louw, Cintaine Schutte en Milan Murray) geskryf. Wie is die akteurs vir Nêrens, Noord-Kaap en volg jy dieselfde proses?
Ek het die voorreg om drie ongelooflike akteurs in die rolle te hê, naamlik Albert Pretorius, De Klerk Oelofse en Geon Nel. Ek sit saam met die akteurs in ’n werkswinkel, waarna ek dan die teks skryf.
Wat is die lekkerste en wat is die moeilikste aspekte van die skep van hierdie toneelstuk?
Die moeilikste aspek, maar ook op ’n manier die lekkerste, is die onsekerheid. Daar is net ’n edge aan ’n werkswinkelproduksie wat die bloed aan die kook kry. Want daar is geen teks voor jy met repetisies begin nie. Jy het drie weke om te skryf en te repeteer en te bid dat weerlig herhaaldelik tref.
Ek hamer op jou mees onlangse werk, maar jy het ook Rooivalk en Hemelruim geskep. Wat leer jy met elke ervaring van die totstandbring van ’n teaterwerk?
Die hele reis is ’n leerproses. Veral met oorspronklike werk vloei die landskap van my tekste almal saam in my kop – dis soos ’n moeras van woorde wat deur nostalgie en pyn gevoer word waaruit ek goeters moet pluk. Dis moeilik, maar ek sal dit vir niks opgee nie.
Waar speel Nêrens, Noord-Kaap orals en waar is nog inligting van die stuk te lese?
Ons speel vanjaar vir seker by die Vrystaat-kunstefees en Kalfiefees, en die ander feeste onderhandel nog. Dis moeilik vir mense om ’n werkswinkelproduksie te aanvaar op hulle program voor dit gedebuteer het, aangesien daar geen teks is om aan te stuur nie. Maar ek glo (hoop), nes met Amper Vrystaat en Rooivalk, dat die word-of-mouth die stuk sal dra om uiteindelik op elke kunstefees te speel.
The post Nêrens, Noord-Kaap by US Woordfees 2017: ’n onderhoud appeared first on LitNet.