Intiemer tongval
Uitwissingsoorloë en geslagte tonge
aan tafels vasgespyker –
die verwonderingswoorde
verstil.
Ek onthou:
kinders suig nektar
tot op die tong;
en ril van lekkerte.
Leeubekkies roer soos lippe
en Namakwalandse madeliefies is in meisies se hare gevleg.
Pronk-ertjies verstom met kleur;
net jakobregops is trots
as kappertjies vergeel in die sagte wind,
soos intiemer woorde.
Rietduikers, slanghalsvoëls en die kleindobbertjies
skryf woorde in water,
en iewers ver dryf
die swart bleshoenders verby.
Die breëkoparend swiep neer,
en daar is rooiborsjakkalsvoëls en edelvalkies in die lug.
Namakwaduifies
is vergete woorde …
Die hoephoep is ’n langbeksnawelding,
maar vleitinktinkies skrik op
as swaeltjies oor die poele skiet.
Gryskopmossies,
swartkeel geelvinke
vroetel in die palmiet langs langsterflappe
wat opfladder – sakabulas! –
en geelkanaries laat kartets tot taal.
Maar rooi is die bloed aan my rukkende tong.
The post Intiemer tongval appeared first on LitNet.