Tandeborsel
In die koel, stil kamers van my ballingskap
hoor ek my voetval in die gang
bekommer ek my oor die basiliekruid
wat so klein en alleen staan
in ’n wêreld van slakke
en die fokken skimmel op die tamaties
wat kernoorlogbestand is.
My studeerkamer is ’n kerk
met beeldskone insigte wat steeds skaam fluister
uit die sintese van honderde onaangeraakte boeke.
Dis amper goed genoeg om net hulle rue te vryf
en te prewel: “Ja, ek verlang ook.”
Ek kook en was en lees en slaap en tel nie dae of ure nie.
Buite die venster is die heilige baai
onveranderd, vir miljoene jare,
maar op haar vuil rokpante hyg en blaas
en leef en sterf mense, politieke idees, toekomsplanne,
hoop, kinders en ouers, groentetuine
en klein bakkerye
terwyl die maan haar stil donderweer van lig basuin.
Die 21e eeu kom sonder epidurale verdowing
dwars in die bekken van ’n anima wat swetend
geboorte skenk in ’n teater
vol soldate, bloed, stof, rommel, hebsug en vrees.
Ons gooi emmers water na ’n muur van vlamme.
Ek weet dat my hart moet stop
eendag, binnekort,
miskien terwyl ek tande borsel.
Watter enorme siel sal dit moet wees
wat hier sonder gebrek en heelhuids
’n eerste hortende asem skep?
The post Tandeborsel appeared first on LitNet.