Intellektualisme van goed
Ek was moeg van die intellektualisme van goed
moeg van Celan, moeg van Chopin, moeg van Adorno
sielsiek van Horkheimer
moeg van Foucault
Mbembe, Nagel, Chomsky
ek was moeg van die intellektualisme van goed.
Ek wou hardloop.
Hardloop die Noord-Kaap al in
verby Griekwastad, Groblershoop, Upington, Keimoes,
Kakamas, Pofadder, Aggenys.
Ek wou hardloop en hardloop tot in Mamma se huis
tot in die buitetoilet
tot in Anthony se tikstories van die Jirre wat kom
tot in elke viervertrek wat nog staan
kaalvoet in ons ongeteerde straat stap
ons ongepleisterde mure my hande op lê
en uit dankbaarheid soos die voete van Jesus soen.
Ek wou Auntie Lysie se stories hoor van Ashley wat met
die kombers op die dak lê as die son skyn
ek wou oom Piet hoor vals kitaar speel
met sy wyn by sy linkertekkie
en die daggastompie by die regter een
ek wou vloek hoor,
Namakwaland-vloek en Nama-musiek.
Vars suurdeegbrood ruik.
Ek wou;
Baai hoor
Baai loop naai hoor.
Voor een god,
wee’ jy daai man is da’m ’n bloed-etter
voor god sê’k jou.
Sy mȃma moes hom dôd gelê het
da’ was daar nou een minder bek wat die welsyn kos moet gee
ek wou die bergie (dronk) hoor kla oor vroue;
Die fokke vroue hou van die donnerse huwelik,
goed hou van die huwelik
jy hoor net –
hu-wel-ik nuwe skoene hê
hu-wel-ik nuwe banke hê
bly net so ’n gehê besigheid
en die man?
Wat kry die fokke man?
Kak.
Kak is wat die man kry.
Ek wou dit hoor.
Net dit.
Ek was moeg van die intellektualisme van goed.
Die nag wat soom geword het
En die laatnag het soom geword
(laat die bloedvloei van stukkende harte
en dooie uterusse stil kan raak en stol)
soos van moedeloosheid aan dié van Jesus vat.
Omdat die huis soos die Ryk in twee geskeur het
en Bybel nou wit olifant
in ongemerkte vuur pronk.
Oor die mure met ma se hart saam kraak
oor haar man haar nie meer wil hê nie
en vrees die kinders soos wind aan klou
want hulle weet nie meer waa’ntoe nie.
Dit hou nou nie meer nag van
Braaivleis en swart pot op warm vuur in nie.
Voer net dood skree skree en roep.
Vaskyk teen die Jirre se stoep
Leë Black&White-bottels
en sms’e vir hoere.
Dit skree kaal gebede
en die huwelik is ’n godverlate klug.
Moeg van ma vir ma wees
en siek tot in jou siel wees van vir pa haat.
Haat oor jy hom lief het, haat oor jou so seermaak.
En die grootste; haat vir ’n vrou wat jou draer verneder.
Die laatnag het soom geword
soos van moedeloosheid aan dié van Jesus raak.
Want jou huis is nou begraafplaas en jou hart,
jou hart is veras.
Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.
The post Huis, woning, tuiste: Lynthia Julius se inskrywings appeared first on LitNet.