Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Wanneer Ouma en Oupa die kinders grootmaak –'n gesprek

$
0
0

Dit is die begin van ’n nuwe skooljaar. Wie sien smiddae om na die kinders? Issie Jacobs en Susan Brink gesels met Naomi Meyer oor hul navorsing rondom die versorgende rol wat baie grootouers in hul kleinkinders se lewens speel en oor hul artikel in LitNet Akademies (Geesteswetenskappe), "Grootouers se rolle en belewenisse as hoofversorgers van hulle kleinkinders".

Hallo Issie en Susan. In julle akademiese artikel in LitNet Akademies doen julle navorsing oor grootouers wat kinders se primêre versorgers is. Waarom het julle hierdie navorsing gedoen, of wat het julle aandag op hierdie tendens van grootouerversorging gevestig?

Tydens my (Susan se) praktiese jaar van my studie in Odendaalsrus (’n klein dorpie in die Vrystaat) het ek waargeneem dat baie van die kinders wat na my toe verwys is vir terapie, deur hul grootouers grootgemaak word. Die meeste van die kinders se biologiese ouers het steeds geleef, maar was nie hulle primêre versorgers nie. Ek kon egter geen literatuur opspoor oor grootouers wat die primêre versorgers van hulle kleinkinders in die blanke gemeenskappe van Suid-Afrika is nie. Roos (2012) ondersteun die feit dat daar min navorsing in Suid-Afrika gedoen is waar die fokus spesifiek op blanke grootouers val wat as primêre versorgers van hulle kleinkinders optree. Selfs in die Witskrif op Families (2013) wat deur die Departement van Sosiale Ontwikkeling uitgegee is, is die fokus ten opsigte van navorsing op families uit voorheen benadeelde rasse van Suid-Afrika. Daar was dus ’n behoefte aan navorsing en het dit my oortuig om voort te gaan met die studie.

Daar word in die media heelwat geskryf oor die ongelykheid in die Suid-Afrikaanse samelewing en hoe dit skoolprestasie affekteer (kyk byvoorbeeld http://www.economist.com/news/middle-east-and-africa/21713858-why-it-bottom-class-south-africa-has-one-worlds-worst-education). Dalk is grootouerversorging ook ’n weerspieëling hiervan? In die Suid-Afrikaanse samelewing gebeur dit in die algemeen dat kinders in hoër sosio-ekonomiese omstandighede smiddae terugkeer na ’n huis waar daar heeldag ’n huiswerker is en kinders in minder gegoede buurte dalk na leë huise terugkeer, of na ’n ruimte waar ’n grootouer aanwesig is. Is dit ’n stereotiepe beskouing? In watter omgewings het julle bevind word kinders dikwels deur grootouers grootgemaak?

Die ses gesinne wat deelgeneem het aan die studie, was verteenwoordigend van hoë sowel as lae sosio-ekonomiese groepe in die dorp. Die sosio-ekonomiese posisie van die deelnemers was egter nie die fokus van die studie nie, maar na my mening is die verskynsel nie beperk tot lae sosio-ekonomiese groepe nie. Die versorging van kleinkinders plaas egter ’n groot finansiële las op grootouers en ten spyte van die feit dat baie ouers oor die vermoë beskik om finansiële bydraes te maak, doen hulle dit nie altyd nie. Dit moet ook duidelik verstaan word dat die studie gefokus het op gesinne waar grootouers as die enigste versorgers teenwoordig is – die ouers is nie deel van die huishouding nie en bly in ander dorpe of stede.

Die skoolstelsel het baie verander deur die jare, en selfs ouers vind dat hulle nie presies weet hoe sake in die skole werk nie. Des te meer sekerlik die geval met grootouers. Of het grootouers dalk ’n groter rustigheid en kalmte om rustig met ’n kind te kan sit en huiswerk uit te pluis as ’n jonger, meer gespanne ouer? Tog: wéét die grootouers genoeg van die kinders se skoolwerk om werklik daarmee te kan help? Enigiets wat julle in hierdie verband in jul navorsing kon vasstel?

Skoolwerk is een van die punte wat baie spanning by die grootouers veroorsaak. Hulle sukkel om hul kleinkinders met hulle skoolwerk by te staan. Nie net die name van die vakke het verander nie, maar ook die inhoud. Die inhoud is vir baie van die grootouers nuut en onverstaanbaar. Verder sukkel hulle om hulle kleinkinders by te staan met elektroniese hulpmiddels, byvoorbeeld navorsing wat op die internet gedoen moet word.

Behalwe dat grootouers nie vertroud is met die inhoud en die vakke wat aangebied word nie, het hulle op hierdie stadium in hulle lewe nie regtig die energie of motivering om hulle kleinkinders met hulle skoolwerk te help nie. ’n Mens sou kon sê dat hulle met die jare uit oefening geraak het.

Dink julle dat grootouers in die algemeen, soos ten opsigte van dissipline en liggaamlike versorging, net so goed vir kinders kan sorg as ouers, of is dit ’n onregverdige vraag? Het julle ook met die kinders na wie omgesien word, gesels? Dalk kan julle verskille uitwys: iets waarmee grootouers dalk meer ondervinding het, of iets waarvan hul nie soveel kennis dra nie.

Susan: Na my mening is dit vir die meeste grootouers moontlik om hulle kleinkinders liggaamlik goed te versorg. Die dissipline is egter ’n probleem. Dit veroorsaak rolkonflik in die grootouers. As grootouers wil hulle graag hul kleinkinders bederf en net die rol van ouma en oupa vervul. Om as die hoofversorgers van hulle kleinkinders op te tree behels dat hierdie grootouers ook die dissiplineringsrol oorneem. Die oorgang is nie altyd maklik nie. Die sosiale omgewing waarin kinders vandag grootword, verskil so baie van 20 jaar gelede dat grootouers sukkel om daarby aan te pas.

Dolbin-MacNab (2006:564) meld dat grootouers wat die rol oorneem van hoofversorger van hulle kleinkinders, nie net bepaalde ouerskapuitdagings en ’n dissiplineringsrol aanneem nie, maar ook stressors wat op verskillende vlakke van hulle funksionering ’n impak het. Een hiervan hou verband met kleinkinders wat soms met emosionele, gedrags- sowel as fisieke probleme presenteer wat meestal direk toegeskryf kan word aan die omstandighede waaruit hulle verwyder is. Buiten hierdie stressors is daar ook nog addisionele stressors waarmee grootouers gekonfronteer word, soos die finansiële las, beperkte kennis oor kinderontwikkeling en hedendaagse ouerskapstrategieë (Dolbin-MacNab 2006:564; Stern 2009:42).

Die deelnemers aan hierdie studie blyk min of meer dieselfde ervaring te hê as die deelnemers aan ’n studie deur Dolbin-MacNab (2006:571). Volgens Dolbin-MacNab het 35% van die deelnemers die veranderde sosiale omgewing geïdentifiseer as die aspek wat dit vir hulle die moeilikste gemaak het om hulle kleinkinders op te voed. Grootouers in Dolbin-MacNab se studie het veral gevoel dat hulle nie oor genoegsame kennis beskik om kinders groot te maak in ’n moderne samelewing waar soveel goed verander het sedert die grootouers hulle eie kinders grootgemaak het nie. In dié verband het deelnemers aan die huidige studie aangedui dat hulle ’n behoefte daaraan het om leiding te ontvang ten opsigte van hoe om kinders in 2012 groot te maak. In ’n studie deur Edwards (1998:177) het grootouers juis ’n behoefte uitgespreek aan addisionele ondersteuning en spesifieke ingrypingstrategieë, byvoorbeeld ouerleidingklasse, ondersteuning deur onderwysers, ens ten einde hulle in staat te stel om optimaal vir hulle kleinkinders te kan sorg.

Julle navorsing wys uit dat die tendens dat grootouers so dikwels na kinders omsien, baie spanning by die grootouers kan veroorsaak, soos jy nou pas weer gemeld het, Susan. Wat stel julle voor kan skole én ouers (die kinders van die grootouers) van hulle kant af doen om die situasie vir die grootouers meer hanteerbaar te maak?

My aanbeveling aan die ouers van die kinders sal wees om so ver moontlik deel te wees van hulle eie kinders se lewe en om finansieel hulle ouers te ondersteun. Uit die studie is dit egter duidelik dat baie van die ouers geen kontak met hulle kinders wil hê nie en dat hulle ook nie finansieel bydra tot die grootmaak van hulle eie kinders nie. Dit is juis hierdie optrede van ouers wat nie kontak met hulle kinders wil maak nie wat aanleiding daartoe gee dat sekere kinders met bepaalde gedragsprobleme presenteer. Hierdie kinders ervaar verwerping van hulle ouers af, wat op sigself ’n kind se selfbeeld beïnvloed.

Vir professionele persone en skole wat met die grootouers werk, het ek die volgende aanbevelings gemaak:

Dit is belangrik dat professionele persone die verskynsel van grootouers wat as die hoofversorgers van hulle kleinkinders optree, as ’n alternatiewe gesinsvorm sal hanteer wat ’n deel uitmaak van die samelewing en wat nie verander of vermy kan word nie.

Gesinne waar grootouers die hoofversorgers van hulle kleinkinders is, is gesinne met spesifieke behoeftes waarvan professionele persone bewus moet wees. Die ondersteuning wat die grootouers dus benodig, is net so uniek soos hulle situasie. Hierdie ondersteuning behels nie net finansiële ondersteuning nie, maar ook ondersteuning ten opsigte van kinderleiding, aanvaarding van die situasie, sosiale integrasie, ens. Professionele persone moet grootouers bystaan en toerus om die oorgang van tradisionele grootouer na dié van ’n ouer so maklik as moontlik te maak. Professionele persone kan dit doen deur die bewustheid by grootouers te vergroot ten opsigte van die moontlike konflik wat hulle mag ervaar en hoe hulle hierdie verandering van die tradisionele rol na die huidige rol van grootouer wees makliker kan hanteer.

Professionele persone wat kontak het met grootouers in hierdie posisie, het ook die verantwoordelikheid om grootouers in te lig rondom hulle regte en enige wetlike vereistes wat met hierdie rol wat hulle beklee, gepaardgaan. Professionele persone soos maatskaplike werkers en beraders of sielkundiges kan ook as middelman of advokaat vir die regte van die grootouers optree. Een hiervan kan wees om beleid of wetgewing af te dwing wat die belange van nie net die grootouers nie, maar ook van die kleinkinders sal beskerm.

In literatuur word daar na grootouers wat as die hoofversorgers van hulle kleinkinders optree, as die “skipped generation” verwys. In die praktyk is dit werklik die geval, omdat geen spesiale voorsiening vir hierdie generasie gemaak word binne die sosiale strukture waarin hulle as die primêre versorgers van hulle kleinkinders optree nie. Dit behels die skool, die kerk, uitgebreide familie-ondersteuning en die verantwoordelikheid van die mediese onkostes van hulle kleinkinders.

The post Wanneer Ouma en Oupa die kinders grootmaak – 'n gesprek appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>