Hitler is in 1933 demokraties verkies, en het feitlik dadelik begin met ’n georganiseerde veldtog om wetgewing te gebruik om Jode te ontneem van hul eiendom, van hulle burgerregte en van hul sosiale netwerke. Hy het verdagmaking van Jode deur vals aantygings teen hulle te maak tot ’n fyn kuns vervolmaak.
Tussen 1933 en 1939 het hy visums en paspoorte weerhou, hulle geforseer om in sekere areas te bly, begin om onderskeid te tref tussen Duits-gebore Jode en vreemdelinge van buite. In 1938 het hy verblyfpermitte van alle Jode gekanselleer, en moes hulle aanmeld en van vooraf aansoek doen vir die reg om in Duitsland aan te bly.
Voor Hitler aan bewind gekom het, was Jode ten volle geïntegreer in die meeste areas van die Duitse lewe – akademie, besigheid, sosiaal, kuns. Sedert sy bewindsoorname was hulle egter sistematies vervreem, geteister op grond van hulle geloofsoortuigings en aangemoedig om liewers buite Duitsland ’n heenkome te vind.
Op 9 November 1938 het die voorheen vyandige maar grootliks wettige mishandeling van Jode ’n nuwe fase betree, met die vernietiging van sinagoges, Joodse besighede en Joodse huishoudings. Kristallnacht het ’n nuwe fase van Joodse onderdrukking en uiteindelike Joodse uitwissing ingelui.
Sommige geskiedeniskommentators meen dat Kristallnacht die keerpunt van populêre steun vir Hitler se Nazi’s was. Baie Duitsers kon intellektueel saamstem met teoretiese diskriminasie teen Jode, maar hulle kon hulself nie vereenselwig met die realiteit van die geweld wat hulle aanskou het nie. In daardie enkele nag is ongeveer 200 sinagoges vernietig, 8 000 Joodse besighede geplunder en derduisende Jode na konsentrasiekampe weggevoer.
Oorsese koerante het berig, regerings het protes aangeteken, en selfs Duitsers het protesteer. Die teenkanting het egter net Hitler en sy Nazi’s se vasberadenheid verstewig.
In die tydperk daarna, en veral tussen 1942 en 1945, is miljoene Jode in die Nazi’s se “Finale Oplossing” vermoor.
Vandag het ons Holocaust-museums in die meeste lande, en in Israel is daar Jad Vasjem – simbole om ons te herinner om nie die foute van die verlede te herhaal nie, om met empatie met ander om te gaan, en om nie te vervreem nie.
Dis ’n les wat skynbaar nog steeds nie geleer is nie, soos wat die Amerikaanse situasie bewys.
Op 21 Januarie 2017 het Donald Trump die bewind in Amerika oorgeneem. Binne dae het hy uitvoerende bevele uitgevaardig wat die regte van vroue en kinders, omgewingsregte en die regte van Moslems ernstig benadeel, en die burgerregtegeskiedenis van Amerika met rasse skrede omkeer.
Op die dag van sy inhuldiging is joernaliste wat krities teenoor hom was, in hegtenis geneem in ’n duidelike aanslag op persvryheid. Sedertdien het hy en sy perssekretaris nie een geleentheid laat verbygaan om die liberale pers te laat verdag maak nie.
Daar was alreeds ongelukkigheid oor sy besluite rondom gesondheidsorg en die wyse waarop hy die Meksiko Stad-beleid, die sg Global Gag Rule, heringestel het. In terme hiervan kan enige organisasie wat beëindiging van swangerskappe ondersteun (al is dit hoe ’n klein deel van hul gesondheidsorg), ontneem word van alle befondsing vanaf die federale regering. Dit beteken ongekende swaarkry vir organisasies wat met moeders en kinders werk, beide huishoudelik en internasionaal, wat afhanklik is van Amerikaanse dollars om hulle werk te kan doen. Heelparty organisasies sal na verwagting hulle deure moet sluit wanneer die befondsing opdroog. Heelparty #WomensMarches het dwarsoor die wêreld uit protes plaasgevind op die eerste dag van Trump se administrasie.
Die besluit om die Dakota-pyplyn en ander pyplyne te heropen, nadat dit onder die Obama-administrasie gestaak is te midde van intense protes, was minder opspraakwekkend.
Op 25 Januarie het hy, met uitvoerende bevel 13767, die proses van stapel gestuur om sy beloofde Meksikaanse muur te bou.
Sy aangestelde ambassadeur na die VN, Nikki Haley, het verder op haar eerste dag by die internasionale liggaam skynbare dreigemente gemaak teenoor enige lid van die VN wat nie die VSA ondersteun nie.
Op 27 Januarie het die volgende aanslag op Amerikaanse vryheid begin, met ’n tans ongenommerde uitvoerende bevel getiteld “Protecting the nation from foreign terrorists’ entry into the United States”. In die volksmond het dit binne ure die hutsmerk #MuslimBan verkry. In terme hiervan word toegang tot die VSA vir ’n tydperk van 90 dae opgehef vir alle persone wat oorspronklik van Iran, Somalië, Sirië, Irak, Libië, Soedan en Jemen afkomstig is. Bykomend word toegang ten opsigte van Siriese vlugtelinge vir ’n onbeperkte tyd opgehef.
Volgens die Wit Huis probeer hulle die terroristegevaar wat deur persone afkomstig van hierdie lande daargestel word, minimaliseer, ten spyte van die feit dat daar nie een enkele daad van terrorisme aan enige van dié lande toegeskryf kan word nie.
Saoedi-Arabië, daarenteen, van waar 16 van die 19 9/11-aanvallers afkomstig was, is nie op die lys nie. Dit het protesteerders gelaat met die vermoede dat dit nie terrorisme is wat geteiken word nie, maar die armste van die Moslem-lande. Ten tye van die skrywe hiervan is daar ongekende protesaksie by lughawens dwarsoor die VSA. Die ACLU, die burgerregte-organisasie wat oor die naweek die uitvoerende bevel in die hof aangeveg het, het in net meer as 48 uur donasies van $24 miljoen ontvang om Trump te beveg.
Hier het Trump se houding oor enigeen wat met hom verskil, duidelik na vore gekom. Sally Yates, die waarnemende prokureur-generaal, is summier van haar pos onthef omdat sy opdrag gegee het dat die Departement van Justisie nie hofgedinge wat die grondwetlikheid van die bevel beveg, moet teëstaan nie – nadat vier verskillende federale regters oor die naweek beveel het dat dele daarvan ongrondwetlik is en nie toegepas kan word nie. Terselfdertyd het honderde diplomate ’n “memorandum of dissent” opgestel waarin hulle uiteensit hoekom die bevel nadelig is, en hoekom hulle dit teenstaan. Trump se reaksie, by monde van sy perssekretaris, was om hulle te nooi om te bedank.
Nie Trump of enigiemand anders in sy administrasie is skynbaar veel gepla met die feit dat die VSA ’n ondertekenaar is van die 1951 Refugee Convention, wat ’n verpligting plaas op ondertekenaars om vlugtelinge in te neem nie.
Die parallelle met Hitler kan nie geïgnoreer word nie. Trump is demokraties verkies. Hy is verkies op ’n veldtog van vervreemding, diskriminasie en uitbuiting van andere. Hy is ’n boelie met ’n lys griewe, en ’n lys van ongewenstes wat ten alle koste verwyder moet word. Hy is ’n politikus wat nie die geringste teëstand of verskille in opinie duld nie. Hy is ’n manipuleerder wat homself glad nie gebonde voel aan wette, of enige van die ooreenkomste en verpligtinge wat oor jare deur die land wat hy verteenwoordig, opgeloop is nie. Hy is ’n bedorwe brokkie wat doen net wat hy wil doen, maak nie saak wat die gevolge is nie.
In kontras het Justin Trudeau, die Kanadese eerste minister, dadelik aangebied om enige vlugtelinge wat deur die VSA weggewys word, in te neem.
Ons sien nog nie dat Trump protesteerders met polisiebrutaliteit begroet nie, maar sy bewind is ’n skamele week oud. Indien protes volgehou word, en dit blyk baie moontlik, is hy nie die tipe leier wat die versoeking sal kan weerstaan om dit gewelddadig te onderdruk nie.
Die protesaksies wat die afgelope weke begin is, is die enigste verweer wat Amerikaners het teen die potensiaal van ’n diktatorskap. Die wyse waarop enigeen wat onafhanklik dink, verwyder word, of gearresteer word, is kommerwekkend.
Sommige van die mure wat Trump bou, is fisies, soos die Meksiko-muur. Ander is filosofies, soos die muur van teenstand teen vroue en kinders en joernaliste wat krities teenoor hom is, en vlugtelinge. Hy is besig om mure te bou wanneer verantwoordelike leierskap die bou van brûe vereis. Dis ’n vreesgedrewe keuse, een wat reperkussies dwarsoor die wêreld kan hê.
’n Meer volwasse leier sou waarskynlik die volgende woorde van Elizabeth Gilbert ter harte kon geneem het:
Human warmth and openness will always be our only place of true safety. Be careful about hiding yourself away, because walls that are meant to be fortresses can easily turn into prisons ... The very thing that you believe is protecting you may ultimately be endangering you – by making your life smaller, poorer and more deeply saturated with fear.
Trump beskik egter nie oor die volwassenheid, die empatie of die gravitas, om dit ter harte te neem nie. Dit maak hom ’n gevaar vir ons almal.
The post Behoort Trump mure of brûe te bou? appeared first on LitNet.