Lindi-Heila Smith vertel vir Naomi Meyer van Die vlammende fez – ’n produksie wat by die US Woordfees, die KKNK en die Suidoosterfees te sien is.
Die vlammende fez: help ’n bietjie enigiemand wat nie weet nie – wat is ’n fez?
Dit is ’n keëlvormige vilthoed (plat bo-op) wat gedra word deur oa Maleier-mans op sekere geleenthede. Gewoonlik rooi van kleur met ’n tossel.
Die produksie is gebaseer op skryfwerk van ID du Plessis. Wie was hy en waarom nou sy woorde laat herleef?
H Ohlhoff vat saam: "Die Afrikaanse digter en skrywer Izak David du Plessis, is op 25 Junie 1900 op Philipstown in die Kaapprovinsie gebore. Na sy skoolopleiding studeer hy aan die Universiteit van Kaapstad waar hy in 1931 die MA-graad behaal en in 1935 promoveer op die proefskrif ‘Die bydrae van die Kaapse Maleier tot die Afrikaanse volkslied’. Hieruit blyk reeds sy belangstelling in en kennis van die Maleiers, hulle leefwyse en kultuur, ’n belangstelling en kennis wat ook in verskillende van sy literêre werke neerslag gevind het. Nadat hy ’n tyd lank skoolgehou het, word hy sportredakteur van Die Burger en medewerker in die redaksie van Die Huisgenoot. Hy is ook ’n tyd lank lektor in Afrikaans aan die Kaapse Tegniese Kollege, waarna hy in 1932 in die Departement Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van Kaapstad aangestel word. In 1948 word hy hoof van die Instituut vir Maleise Studies aan dieselfde universiteit. Later word hy Kommissaris en uiteindelik Sekretaris en Adviseur vir Kleurlingsake. Wat sy skryfwerk betref, is hy een van die veelsydigste en vrugbaarste skrywers wat die Afrikaanse letterkunde nog gehad het. Naas jeugverhale, navertellings van ou legendes en volksverhale, spookstories, kortverhale, essays, werke oor die Maleiers en ’n outobiografie is hy die skrywer van twintig bundels poësie, bloemlesings en versamelings uitgesonderd – waarin hy uiteenlopende vorme soos die ballade en sonnet, die biegvers en hekeldig, die volkse vers en kwatryn beoefen. As erkenning vir sy werk ontvang hy in 1937 die Hertzogprys vir sy digbundels Vreemde liefde en Ballades (albei uit 1937) en in 1962 die Scheepersprys vir Jeuglektuur."
Handel die produksie oor Du Plessis self of oor die mense oor wie hy geskryf het? Wie se storie is dit?
Sy stories oor die Maleierkultuur, sy eie kultuur, die bonatuurlike, die Verre Ooste, die lewe en die dood, oor vreemde liefde. Sy stories.
Na watter soort musiek kan mense in hierdie produksie uitsien?
Gertjie Besselsen van Mr Cat and The Jackal toonset van die gedigte en ontwerp ’n klankbaan wat behoorlik verplaas na al die wêrelde soos deur ID beskryf. Die musiek word ’n goeie vermenging van Westerse musiek geïnspireer deur die Ooste, saam met die tradisionele klanke van die 13-stuk-Maleierkoor op die verhoog. Die driestuk Mr Cat and The Jackal lei die musiek op die verhoog. Vir seker interessant.
Wat verbind die teks, die musiek en die vertellings met mekaar?
Dit is ’n samestelling van sy poësie, stories, vertellings en skrywes. Drie verskillende wêrelde word as ‘t ware "besoek" soos in ID se versamelwerk Drie wêrelde. Die bindingsfaktor is dan hierdie drie wêrelde. Die wit wêreld, die bruin wêreld, die ander wêreld.
Is hierdie ’n storie met ’n begin, ’n lyf, ’n afloop en ’n slot?
Dit het nie ’n tradisionele storielyn nie, nee. Dit is kabaretmatig. Literêre werke wat as sketse aangebied word.
Dis die seisoen van brande. Vlam hierdie fez omdat dit helder en rooi is, of is hier werklike vuur ter sprake?
Nee, hier is nie werklik vuur ter sprake nie. Die fez is rooi, ja, en dit word ’n simbool van hoop. In sy woorde: "bloedrooi ryk, beloftevol, streep dit soos die vurige koeël, wat die donderwolke kwes. Die vlammende fez."
Waar speel hierdie produksie orals?
US Woordfees (Stadsaal, Stellenbosch)
- 5 Maart 2017 | 18:30–19:30
- 11 Maart 2017 | 18:00–19:00
KKNK (Gimsaal, Oudtshoorn)
- 12 April 2017 |19:30–20:30
- 13 April 2017 |20:00–21:00
- 14 April 2017 |21:00–22:00
- 15 April 2017 |12:30–13:30
Suidoosterfees (Artscape, kykNET Teater)
- 29 April 2017 | 10:00–11:00
- 30 April 2017 | 11:00–12:00
- 30 April 2017 | 18:00–19:00
Foto's: verskaf
The post Die vlammende fez appeared first on LitNet.