Beste Angus
Ek is bly jy aanvaar my verskoning maar jy moet darem kwalifiseer – is dit my verskoning oor ek onder die indruk was dat jy gedink het geen kunsmatige taal is op bestaande grammatika baseer nie (wat in elk geval niks met ons bespreking – agteruitgang van Afrikaans vs geboorte van ’n nuwe taal – te doen het nie) of die voorwaardelike verskoning omdat ek volgens jou verkeerdelik gedink het jy dink Kaaps, en Afrikaans besmet met Engelse woorde, dieselfde ding is?
Jou geskiedenis van Afrikaans wat jy so herhaaldelik aan my opdis is interessant (alhoewel in sekere gevalle skeef) maar het weinig, eintlik niks, met die omhelsing van Engels, en die gevolglike agteruitgang van Afrikaans, te doen nie. Engels is nou die amptelike taal en alle Afrikaanssprekendes MOET aldag en heeldag Engels praat, of jy nou kan of nie. Net vandag byvoorbeeld moes ek die DStv-hulplyn skakel oor sekere kanale verdwyn het en na vele oproepe waarvan ek net met twee deurgekom het, was ek verplig om die ding in te vat na hulle kantoor toe. Jy sukkel so om iemand in die hande te kry ek het al geleer jy vra nie eers meer om in Afrikaans gehelp te word nie, want jy kom voor dooiemansdeur te staan. Terloops, na ’n uur se gewerskaf aan die storie deur ’n tegnikus werk die ding nog steeds nie.
Maar ek dwaal af; soos ek vir jou gesê het, die geskiedenis van Afrikaans verklaar nie die huidige omarming van Engels nie. Die feit dat Engels die amptelike taal is en, in ’n baie groot mate, die slapgatgeit van ons Afrikaanssprekendes ten opsigte van handhawing en trots, verklaar die agteruitgang.
Ek sê hierbo jou geskiedenis is nie altyd so akkuraat nie, want jy hou vol met jou idee dat Standaardafrikaans bloot Kaaps is wat van Engels gesuiwer is. Eienaardig egter beweer jy terselfdertyd dat Standaardafrikaans wat nou so met Engels besmet word die begin van ’n nuwe taal is. Ek het nog nie jou kommentaar op hierdie teenstrydigheid gekry nie maar, nou ja, jy dink seker nog want jy sit met die probleem dat hierdie Engfrikaans weer van anglisismes gesuiwer kan word (soos met die Afrikaans wat ons nou praat volgens jou) en dan het ons weer ’n Standaardafrikaans wat op sy beurt weer besmet gaan raak en so kan ons aangaan ad infinitum volgens jou teorie.
Wat betref jou stelling oor die ‘bewuswording’ van die Afrikaner, vergestalt volgens jou met Biebault se stelling “Ik ben een Africaander”: Die woord ‘Afrikaner’ bestaan al eeue in Duits - lank voor daar enige beduidenis van die hedendaagse Suid-Afrikaanse Afrikaner was – en dit verwys na enigiets betreffende of behorende tot Afrika. Die Engelse ekwivalent is ‘African’. Wat Biebault destyds gesê het, in Engels vertaal, sou wees “I am an African.” Vandag, as mens die stelling “Ek is ’n Afrikaner” in Engels sou vertaal sal dit wees “I am an Afrikaner”. Ek weet nie waar die hedendaagse woord ‘Afrikaner’ vir wit Afrikaanssprekendes vandaan kom nie (jy sal seker weet) maar ek vermoed dis maar ’n versamelwoord vir die anti-Engelse Boere en pro-Engelse Natallers en Kapenaars wat na Uniewording in 1910 versin is.
Jou stelling dat Afrikaans hierdie verengelsing kan absorbeer is natuurlik verkeerd (laat staan nog die teenstrydigheid hiervan met jou stelling dat hierdie verengelsing die begin van ’n nuwe taal is). Die Skotte, Walliesers en Iere wat gedink het hulle tale kan Engels ‘absorbeer’ was toe verkeerd; hulle het nie meer hulle eie tale nie (behalwe in ou ou liedjies waarmee hulle erg kleitrap met uitspraak).
Ek sien jy sukkel nog steeds met die woord ‘lukraak’. Die ou wat in die sepie gesê het “jy’t gemention dat ons nie ’n future saam het nie” sal in ander sinne die woord ‘noem’ en ‘toekoms’ ook gebruik. Dit is dus nie ’n feit soos ’n koei dat die woord ‘future’ en ‘mention’ permanent ‘toekoms’ en ‘noem’ permanent in Sepiekaaps vervang het nie (en dieselfde geld vir enige ander Engelse woorde in Sepiekaaps). Hulle vervang dus op lukrake wyse woorde met Engelse woorde. Miskien moet jy die plaaslike wiskunde-onnie bietjie besoek dat hy jou kan verduidelik wat ‘lukraak’ beteken.
Ek sien jy sukkel ook net so met die ware betekenis van die woord ‘feit’ (ek wou kommentaar onderaan daardie briefie van jou plaas maar kry hom nie nou nie). As Everest nie die hoogste berg is nie was dit nooit ’n feit dat hy die hoogste berg was nie; wel ’n feit dat hy verkeerdelik as die hoogste berg geag was maar, die feit is, daar is ’n berg of berge hoër as Everest.
Wat jou verdraaiing oor die woordeboeke betref: Daar is mense wat wel met woordeboeke in die sak rondloop, vreemdetaalsprekers op besoek aan daardie land waar daardie taal gepraat word, hulle noem dit fraseboekies. As jy die taal kan praat is dit egter nie nodig nie. Kyk byvoorbeeld na Engelssprekendes in ons land; hulle praat sonder dat hulle Engels met Afrikaanse woorde besmet en hulle doen dit sonder om met ’n Engelse woordeboek onder die arm rond te loop.
Net ’n laaste opmerking: Niemand SKRYF vir ’n taal ’n grammatika soos jy beweer nie; die grammatika bestaan reeds (anders was dit nie ’n taal nie) en iemand stel dit net ten boek, teken net op wat bestaan.
Groetnis
Jan Rap
The post Vir Angus rakende sy kommentaar onderaan my brief van 23 deser appeared first on LitNet.