Oor Jan Rap se verwondering oor my pseudoniem (skryfnaam) net so ’n een en ander en terselfdertyd as ’n stukkie agtergrond oor wat ek te sê het.
Ek het al baie weergawes of uitlegte daarvan teengekom. Maar wat my betref, vereenselwig ek dit met my voorouers van moederskant af. My ouma was van Ierse (geb 1890) en my oupa (geb 1886) van Duitse afkoms en beide hier gebore as eerste geslag, en kom ons wees polities korrek, setlaars/koloniste. Hy het Duits, Hollands en ‘Afrikaans’ verwring en sy Iers en ‘Afrikaans’. Sy het rooierige hare en gelaatskleur gehad wat nog waar is van 20% van vandag se Ierse bevolking. Ek moes ’n skooltaak oor Hermanus doen en dis toe dat ek agterkom dat op Hermanus, waar ek besig was om mens te word, daar aan die noordekant, ’n bergreeksie met die naam Raed-na-Gael is, ontleen aan ’n plaas wat in die omgewing van 1830 aan die voet van die reeksie geleë was. Ek het die naam gaan navors en uitgevind dat ‘Raed’ uit die “Old English” kom en verwys na rooi (Red), ‘na-Gael’ kom uit die (ou) Ierse taal en dui op ‘die vreemdeling’. Op Hermanus self vertaal sommige ‘diegene wat weet’ my skryfnaam na “Pad na die Hoofman”.
Ek het natuurlik groot respek vir my voorouers gehad, en was sy vir my die “Rooi vreemdeling”. Ek het ook ’n effens rooierige skakering in my boskasie en nou is dit maklik om die verbintenis te maak. Ek het ongelukkig nie my voorouers van vaderskant beleef nie, hulle is albei vroeg heen.
Ek is op die Sê teenwoordig omdat ek ook my ‘stuiwer in die armbeurs’ wil gooi wanneer dinge my Afrikaanse moer laat pluk en nie soseer om ellelange redetwiste te voer nie. (Verskoon indien die stuk as “onsamehangend” ‘aan jou oorkom, ek is immers nie opsoek na ’n letterkundeprys nie.)
Ek is Afrikaanssprekend en praat dit orals waar ek kom.
In winkels is Afrikaans my voorkeur, maar slaan ook maar oor na Engels wanneer ek in geradbraakte Afrikaans met ’n Engelse aksent aangespreek word. Ekself is goed bedrewe in Engels en wanneer hulle dan agterkom dat my Engels van beter gehalte as hulle s’n is, gooi hulle terug in Afrikaans so asof ek nie kan Engels praat nie. Ek herinner my aan ’n tydperk waar ’n Engelssprekende aan wie ek verslag moes doen nie kon glo dat ek eintlik Afrikaanssprekend is nie.
Al waar jy deesdae Afrikaans in die gewone omgang hoor is by die kerk en ook nie meer altyd nie.
Hoekom slaan ons mense wat in Afrikaans aan die tiet gesuig het, in die openbaar oor na Engels, is dit uit beleefdheid?
Wat van die Afrikaans-Engelssprekende huisgesinne? Hulle is in oorvloed. Die pa is Afrikaans, die ma Engels en andersom. Watter taal is die huistaal? My oudste dogter trou met ’n Afrikaner, murg en been, hy sê hy is “‘n Boer, met ‘n hoofletter B” en praat vlot Isixhosa met sy werksmense. Hy wil niks weet van Engels nie maar verdra dit omdat sy kinders na dese daarmee sal moet saamleef. My middelste het in suiwer Afrikaans grootgeword, skool en al. Sy gaan staan en trou met ’n man wat uit ’n “Engelse” huis kom (Pa Afrikaans, ma Engels) en stuur haar kinders na ’n ‘elite’ Engelse skool toe. Al Afrikaans wat hulle ken is “eeoouupa en eeoouuma”. My seun trou met ’n “Engelse vrou” (pa Afrikaans, ma Engels) maar sê vir my “se moer Pa, sy leer nou Afrikaans, my kinders gaan Afrikaans praat en groot word”.
Verlede jaar luister ek oor RSG hoedat ’n professor (Afrikaans-Hollands), in ’n onderhoud oor Afrikaans, verklaar dat daar nie ’n ding soos Standaardafrikaans is nie. Ek kon duidelik hoor hoe die omroepstertjie uit haar vel spring van blydskap omdat sy nou haar weergawe van Afrikaans oor die eter kan regverdig, ’n weergawe wat ver weg van suiwer Afrikaans was.
Die geveg om Afrikaans moet hier, by RSG begin en nie in die straat nie, of hoe?
Het ’n taalbul soos Jan Rap al ’n #PraatAfrikaansRSG begin. Waarom nie?
Wat my “lomp opmerking” betref hoor ek graag waarom ek bv van kotelette en versnaperings moet praat en nie van tjops en tjips nie. Vanwaar het die taalbulle van die ou Akademie van Wetenskap, Kuns en Kultuur die woorde ontleen, of is dit geskep? Hulle het volgens my ook die Taal so hoogdrawend “ontwikkel” dat hulle die gewone spreker daarvan begin afskrik het. Indien jy nie die hoë/formele taal besig nie is jy van anderkant die spoorlyn beskou en is daar op jou taalvaardigheid neergesien en gewonder oor jou intellek. Ek is vele maal in die geselskap van “Afrikaner-elite” en verkneukel my altyd in die oordrewe manier waarop die gesproke Taal opgesmuk word en dan wanneer die restourant betree word, is dit Engels van voor tot agter en dit met ’n kelnerin wat my in Afrikaanse Afrikaans groet.
Verlede Sondag, 22/01, hoor ek in die program “Tale waarin ons praat” (hoop ek het die titel reg) van RSG waarin daar ’n onderhoud met ’n “kundige” uitgewei word oor die ontstaan van Afrikaans. My persepsie daarna was dat Afrikaans feitlik uit 80% leenwoorde/grammatika uit hoofsaaklik Khoi, Maleier, Arabies, en ander inheemse (Afrika) tale bestaan. Baie ook ontleen aan Kaaps. Jan Rap sê dat “Kaapssprekers” nie goed Afrikaans praat nie. Is Kaaps ’n soort Afrikaans? Stem hy saam met die professor wat sê dat daar nie ’n ding soos Standaardafrikaans’ is nie? Ek sal ook nie kan verstaan hoe Jan daardie geradbraakheid as Afrikaans kan beskou nie. Wat sou hy sê noem hy die Afrikaans waarin ek nou skryf en hy lees? (Dan was daar nog die hoorbeeld oor die verskillende Afrikaansstreeksdialekte soos Kaaps, Overbergs, Namakwalands, Oos-Kaaps, Boesmanlands ens, maar niks uit die Vrystaat, Natal en Transvaal nie.)
My tweede uitgawe, sewende druk 1988 HAT omskryf Afrikaans: Taal van die Afrikaner: Afrikaans het hoofsaaklik vanuit Nederlands ontwikkel.
My sesde uitgawe van die VA/WB 1972 (Die binneblad wat die volledige naamomskrywing bevat is vermis) omskryf Afrikaans as: behorende tot die Hollands-Afrikaanse volksdeel. (Wonder hoe die nuwe uitgawe van WAT dit sal omskryf, ek wil nie eens weet nie.)
By die oorgrote meerderheid van ons bevolking word Afrikaans vanuit ’n politieke en nie ’n kulturele hoek nie, beskou. Die destydse Minister van Bantoe-onderwys het Afrikaans die nekslag toegedien met die afdwing van Afrikaans in skole. Ek vra myself nog steeds af, was dit regtig geregverdig? Hoekom kon die gemeenskaplike taal tussen Afrikaans en die Nguni-tale nie Engels gewees het nie? Nou sit ons met die situasie waar daar, ten regte of onregte, absoluut ‘boggerol” van Afrikaans deur die meerderheid Nguni-sprekende heersers geweet wil word. Al praat hulle nie Afrikaans nie, wil hulle dit nogtans uitgeroei hê en dit lyk nie of baie (die meerderheid?) van ons gewone (wit)sprekers van Afrikaans juis veel omgee nie. Jy moet deesdae sommer ver soek om iemand te kry wat Nasionaal gestem het!
Optredes soortgelyk aan die onlangse “doodskisvoorval”, en meer onlangs die “hok op die bakkie” doen niks vir Afrikaans nie, dit verleen eerder groot stukrag aan die “AfrikaansMustFall” ding. Dit sal die ou met die bakkie, hoe edel sy bedoelings ook al was, niks baat vir haar om sê dat sy daar uit nugtere vrye wil was nie, gister nog het Aljazeera dit elke halfuur gelug met die kommentaar dat nog niks verander het nie.
Wie in die wêreld gaan Afrikaans tot hulp wees? En as jy die streep deurtrek, vir die “Afrikaner”?
My voorouers se nasate in Europa het tot 70 of wat jaar gelede nog probeer om mekaar van die aarde af te skiet. Van ongeveer 92 jaar gelede is daar probeer om van die nasate hier in een nasie (Die Afrikaner) saam te snoer met ’n gemeenskaplike taal (Afrikaans). Die eeueoue inheemse tale is van die tafel afgevee ten gunste van ‘n mptelike een “gebore” in 1925. Sedert 1948 is dit saam met sogenaamde beleide, ten koste van die ander tale gestoomroller tot ’n ramp. ( “Die Laaste Afikanerleiers” van prof Giliomee, is hier in my rak, dis ’n riller.)
Hoeveel “Afrikaner-” bewegings, partye, “kulturele” organisasies en wat nog, is daar nie vandag nie? Ek wil nie name noem nie, maar dink maar self aan ’n paar, daar is hope. Daar is geen sprake van eensgesindheid nie; is dit in die nasate (Afrikaner) se gene? Hoe gaan jy Afrikaans so red?
In Argentinië praat hulle nog Afrikaans, na meer as ’n eeu se afsondering.
Daar is seker ’n liggie in die tonnel vir “Onse Taal”?
Die sware ossewa wiele staan sommer nou bo-op die ou doringboompie, hy sal self later stadig regop kom!
Afrikaanse groete, neef.
Raed-na-Gael.
The post Die ou doringboompie genaamd Afrikaans appeared first on LitNet.