Ek begrawe my selfoon in ’n bak rys en sit dit in die son. Dalk genees moderne tegnologie homself; kunsmatige intelligensie het daardie vermoë. Want my foon het in die bad geval tydens ’n vurige argument met my suster. Ná ’n week van drooglê in die Tastic sit ek die gesofistikeerde slimjan met die delikate binnewerking aan en voilà: Alles lyk in orde.
Die handstuk soek gulsig na sy internetkonneksie, oudit al die instellings: ten volle funksioneel. Of so dink ék, en gaan op Facebook in om agterstallige werk in te haal. Dis toe dat die foon ’n persona van sy eie begin ontwikkel. Aanvanklik het ek die opgewonde geborrel soos ’n vistenk geïgnoreer. Maar dan flikker die skerm geheimsinnig; begin na willekeur te blaai. En gaan vanself in op vriende se Facebook-profiele, maar ook op onbekendes s’n, gretig, soos ’n kind op ’n skattejag.
My eerste gedagte: Dit is malware. Nou woeker die foon lustig soos ’n ou Facebook-verslaafde en gaan maak ’n draai op Steve Hofmeyr se muur (met wie ek nie vriende is nie); gooi ’n reuseduim by ’n foto waar hy staan en sing met ’n two tone-hemp en ringbaard soos in ’n John Wayne-film en hare wat met die tyd al donkerder word.
Nie lank nie, en my kennisgewings begin bons: Ek is gemerk in die regse retoriek van vrot spelling, moddergooi en simplistiese argumente. Eindelik bly ek net gehipnotiseer sit en staar na die oorstuk wat met ’n wil en ego van sy eie handel. Menslike interaksie het in elk geval nog nooit vir my sin gemaak nie – ek verstaan dit nie, dis nie logies nie. Maar kunsmatige intelligensie, dít verstaan ek wel. Tog ... as kunsmatige intelligensie versteurd raak, raak dit weer hipermenslik.
By tye probeer ek inmeng: Dis tog stééds my foon. Die streelpaneel steek bot vas. Streel en selfs vryf help nie; ek moet met staccato-vingers teen die hardvogtige venster tok. En die foon hik ’n slag, kry ’n tweede asem en warrel deur die plakkerwinkel. (Ek kan intuïtief aanvoel dat dit daarvan hou.)
Ikon, animasie en plakkers is die lyftaal van die sosiale media. As jy nie weet wat om te sê nie, dan plaas jy ’n sticker of ’n smiley. Dit help om selfbewustheid te oorkom. Gaandeweg besef ek: Dié malware tree op soos ’n disfunksionele kind, daar is niks logies aan die domfoon se optrede nie. Hierdie is ’n baldadige, bekkige ekstrovert, presies die teenoorgestelde van my. Die cursor tril eintlik ongeduldig van al die energie ... en begin vanself te tik.
Gibberish, en ek steur my nie daaraan nie – as iemand só ’n WhatsApp of SMS van my af ontvang, is dit tog duidelik dat ek dit nie versend het nie. Maar nee. Ek kry ’n versigtig bewoorde WhatsApp van ’n vriendin wat vra of my Tourette terug is. Tóé sien ek: Die foon het vir haar ’n string diakritiese tekens gestuur, gevolg deur FOOOOK, gevolg deur ’n wow!-gesiggie.
Dit was nie ek nie, tik ek met moeite terug. Die waarheid. Ek het Tourette jare gelede oorkom (oftewel die verbale deel; nieverbaal sukkel ek nog met die middelvinger wat met ’n wil van sy eie opskiet soos ’n springmes.) Menslike gedrag is nie logies nie, nee. Ek smoor my swetsvinger toegevou in my palm, daarom is my een vuis altyd gebal tydens sosiale situasies. Ek weet ander mense vermoed ook my sosiale interaksie maak nie sin nie, maar dit is logies.
Die foon vibreer, flik ’n paar maal en blaai dan na my foto-albums, my persoonlike hougoed.
Die foon kriek: ’n kennisgewing. En dit kriek en kriek tot ook die volumeknoppie vassteek en die klank skril verdeel in ’n waansinnige kriekekoor. Nou blaai ek ferm téén die weerstand in terug na my profiel, heilig-beskermend oor my virtuele kleinode.
En ja! Die slimfoon het wragtie ’n selfie van my gestaan en pos op my muur – en dis beslis geen uitstalfoto nie. Nee, ’n grapfoto wat ek geneem het toe ek wakker geword het, uit pure verveling. Hoekom ek die ding nie uitgevee het nie, kan ek nie verstaan nie, maar menslike gedrag is nie logies nie.
Ha-ha-ha, lag my vriendekring. Ek besluit om dit te ignoreer, maar kan voel hoe my oogtande van woede en frustrasie begin groei met dié los kanon se geil optrede. Of dalk is daar ’n demoon in my foon?
Dan betig die stem van rede my: MALWARE.
Nou is my foon almal se pel. Daar is geen comfort zones of grense of kieskeurigheid nie: Die foon blaai joviaal na my lys hangende vrienskapversoeke en begin almal voor die voet aanvaar. Mense wat ek met ’n goeie rede nié aanvaar het nie – almal verdagte skaduprofiele of kuberkriminele. Nee, my foon is ’n méns-méns (of mensch) of wat dit ook al mag beteken – menslike gedrag is nie altyd logies nie.
Helaas vaar die foon in die spookdorp van gefiltreerde boodskappe in, en deel gulhartig hartjies en ruikers uit: "Hello dear, what a nice and sparkling smile you’ve got. I wouldn't trade that smile for anything. I am new on Facebook, and I stumbled onto your profile. I got entangled in that wonderful smile, couldn't stop myself from saying hello. What do you say to friendship with me? Your response will be most appreciated ..."
Teen dié tyd sit ek verlam soos ’n vrou wat aan Stockholm-sindroom ly. Staar sku na die skerm wat uitbars in konvulsies; die weelderige, plat handstuk sidderend in weerligstrale, psigedelies groen. Maar dan herwin die sagteware deels hul bewussyn, stik en tril en begin van vooraf deur die toepassings kam.
Dit staan by elke troeteldiervideo stil en maak dit oop: ’n papegaai wat op ’n kat se rug ry, en ’n labrador wat sy halsband in sy bek vasknyp voor hy oor die straat se groen lig stap. (Waar ís die eienaar?) Die skermskut flits soos ’n disco in die eighties, en nou jol die foon met ’n onstuitbare vaart en drif. Dit woel deur die instellings, ontdek die bandopnames ... en ek raak yskoud. Dis die klanknotas vir my stories en projekte en dit is báie privaat.
Die foon raak stil, té stil, soos ’n kind besig met iets onheilig. Geen kennisgewings, e-posse, inbokse – niks. Die platskyf lê moeg en oorverhit in my palm. Dan skakel die foon oor na die volgende (finale?) modus: een wat ek nie ken nie. Dit moes die onbeperkte data ontdek het, die land van melk en heuning, want gelyktydig aktiveer alle stuurkontroles in hoogspanning: WhatsApp – sending; SMS – sending. Kletskamers wat ek nie eens geweet het bestaan nie (het dit nooit gebruik nie) – sending.
My foon loods ’n finale aanslag op homself, op sy eie selfvernietiging.
Ek kry ’n plakker met ’n gesig wat oopbek lag op WhatsApp: My jongste klanklêertjie is toe so wragtie na ’n jare lange vriendin gestuur. Dis die stemnotas vir my nuwe jeugverhaal wat handel oor die ewige konflik tussen die Gote en die Vandale.
“In Goteland was die Vandale en die Gote alewig haaks. Die koning, Alexander die Gote, het sy manskappe byeen geroep. Ons held, Dawid, was van koninklike afkoms. Sy grootouers was ook opgeskryf in koning Alexander se stamboek.”
Die storielyn ontvou in my Nataniël-stem.
"Sukkel jy nog steeds met die 'r'?" vra die vriendin.
Ek voel hoe ek bloedrooi word. My nemesis tot op nege: die 'r' wat nie oor my tong wil rol nie. Drie rooi ribbokke spring oor drie rolle doringdraad. (Tongknope.)
Dit was nie ek nie, tik ek desperaat op die bibberende sleutelbord, net om begroet te word met ’n high five.
Nou babbel die vistenk ’n toonhoogte laer. Tjong. ’n Inboks. Een woord: sies! Dis ’n onbekende virtuele vrou wat my dan ook summier ontvriend. Maar ek weet nie waarom nie; ek verstaan nie menslike interaksie nie – dis net nie logies nie.
Tjieng. Dié keer ’n WhatsApp.
"Die cartoon wat jy vir my gestuur het."
Die sin bly kletsstyl in die lug hang.
"Ja," antwoord ek.
"Die cartoon van Sweeuwitjie wat bad (typing...)
"... en die sewe dwergies wat haar afloer."
"Ja," antwoord ek.
(En word van vooraf yskoud; wonder wie almal die cartoon ontvang het. Sal my baas die waarheid glo – vir mý – as ek vir hom sê dit was nie ek nie? Mense glo net wat hulle wil van ander, en gewoonlik glo hulle die ergste. Maandag word ek dalk ingeroep vir ’n gesprek agter ’n geslote deur, of dalk ’n dissiplinêre verhoor ...)
(Typing...) "Toemaar, ek weet dat jy dit nie gestuur het nie."
"Regtig?"
(Typing...) "Daar's ’n virus of iets op jou foon."
Ek, driftig: "Wat gaan jy doen as ek vir jou sê ek hét dit gestuur?"
"Gaan jou nie glo nie."
"Is jy seker?"
(Typing... stilte. Stilte. Typing...)
"Nie jy nie. Never. Ek ken jou mos."
"As ek regtig die cartoon gestuur het?"
"Ek glo jou nie."
Ek laat sak die foon en haal diep asem. Ek verstaan nie menslike interaksie nie. Dit is net nie logies nie.
The post Dit was nie ek nie appeared first on LitNet.