William Shakespeare se Twelfth Night
Or What You Will
Met Awethu Hleli, David Johnson, Nicholas Pauling, Bianca Mannie, Roberto Kyle, Wessel Pretorius, Elizabeth Akudugu, Mark Elderkin, Adolph de Beer, Lamla Ntsaluba, Oarabile Ditsele, Siya Sikawuti en ander.
Regie: Geoffrey Hyland
Aangebied deur Kunstekaap in samewerking met Maynardville-teatertrust in die Maynardville-opelugteater, Wynberg.
Dié opvoering en die individue daarin kan gerus bekroon word.
Geoffrey Hyland doen sy reputasie as voortreflike regisseur gestand. Hy laat ’n toneel ontwikkel met netjiese pouses vir beklemtoning, en elke toneel met ’n voortstuwing en vol verrassings. Die gehoor word meegevoer met kleiner en groter handelinge, en met die stemwerk vol kontraste. Dis asof alles gekontroleerd geskied, sonder om die stormende energie van die hoofsaaklik jong spelers onnodig aan bande te lê.
Al die spelers praat deurgaans duidelik. Claire Watling het met die spraakafronding gehelp. Liam Cookson en sy span se versorging van die klank was nagenoeg foutloos. Nicolas Mayer se stel laat die spelers kennelik maklik beweeg en die gehoor kan alles en almal sien. (Waar’s die Maynardville-seisoen toe ’n “ruimtetuig” voor die verhoog die siglyne belemmer het?) En wie moet ons bedank vir die beligting? Luke Ellenbogen en sy manskappe. Vanjaar is die teaterprogram heel luuks, lig jou goed in en is maklik leesbaar. Die opsomming van die drama word nie soos gewoonlik as ’n aaneenlopende stuk teks gegee nie, maar hier volgens handelingseenhede ingedeel onder nommers.
Toe ek verneem dat die teks “gemoderniseer” is, het ek mistroostig geraak. Deur die eeue is die tydsgees al so baie verdring, is die interpretasies so geforseer in ’n gedagterigting en verdraai om tog net die moderner gehore steeds te prikkel. Maar hier kom daar selfs aanpassings spontaan na vore. Die opvoering werk so eg dat jy nie kort-kort dink dis ’n tydsprong nie. (Ek moet erken dat ek nie volkome seker is van die jaartal waarin die spel geplaas word nie. Iets in Leigh Bishop en Lieze van Tonder se kostuums laat my vermoed dis nie heeltemal 2017 nie.)
Die nar in Shakespeare se tyd en werk is ’n enigmatiese figuur wat spitsvondighede kwytraak en raad uitdeel, maar wat ook nederige huishoudelike take teen betaling verrig. Hier vertolk Wessel Pretorius Feste die nar as ’n camp persoon wat kan aspireer tot rockster-status. Met sy “vroulike” uitrustings en sy “verleidelike” bewegings bly hy steeds ook “verhewe” en dra bv woordspelings oortuigend oor. Sy liedere is opnuut getoonset deur Neo Muyanga. Sulke skeppingswerk kan verwelkom word – dit skep ’n byderwetsheid – maar ek persoonlik verkies tog maar die strelende weergawes uit die verlede.
Die opvoering begin met uitgelate musiek en ’n gedans. (Die choreograaf is Jacki Job.) Want in die sewentiende eeu het die mense teen 12 Januarie skoon laf geraak. Maar “jolly” het dikwels tot “folly” gelei. Ook wat die liefde betref. Dit beeld Shakespeare hier duidelik uit.
Die liefdeservarings van Olivia (Elizabeth Akudugu), Viola (Awethu Hleli), Sir Andrew Aguecheek (Roberto Kyle), Duke Orsino (David Johnson), Antonio (Adolph de Beer) en Sebastian (Lamla Ntsaluba) is vol intriges, hoop, lekkertes en frustrasies. Selfs vir Feste (Wessel Pretorius), Maria (Bianca Mannie), Sir Toby Belch (Nicholas Pauling) en ou Malvolio (Mark Elderkin).
Reeds in die eerste toneel het dit my opgeval dat die karakters se seksualiteit telkens aandag kry. Veral die manne is darem baie hans met mekaar se lywe.
Omdat Viola (Awethu Hleli) ná haar redding uit die stormsee mansklere dra vir beskerming, ontstaan die volgende intrige vir haar en die ander: “My master (Orsino) loves her (Olivia) dearly / And I, poor monster, fond as much on him; / and she, mistaken, seems to dote on me. / What will become of this? As I am man, /My state is desperate for my master’s love; / As I am woman, now alas the day!”
Hleli voer manlike maniërismes uitstekend uit. Jy kan glimlag daarvoor. ’n Mens wil egter vra of sy dit werklik so gou en herkenbaar sou kon uitvoer ná so ’n ramp. In die program en elders word Orsino se toenadering tot Viola as jong man (skuilnaam Cesario) as onverklaarbaar bestempel. Hy wat dan so smag na Olivia, maar belustig naderskuif aan die mannetjie. Maar dit is tog sekerlik bloot ’n element van biseksualiteit by hom?
Ook tussen seekaptein Antonio (Adolph de Beer) en Sabastian (Lamla Ntsaluba) is daar volgens twee bronne sprake van ’n gay verhouding. As jy die teks lees en ook kyk hoe “rustig” hulle vertolking van hulle liefdesverklarings is, wil jy glo dis tot ’n groot hoogte twee vriende wat mekaar ondersteun in nood.
Sou Hyland die aandag aan seksualiteit alles uit die teks gehaal het?
Oor seks en Shakespeare spreek Peter Ackroyd ons toe in Shakespeare: The Biography (Chatto & Windus, Londen, 2005, bl 293):
There is a hint of homosexual passion in The Merchant of Venice, Twelfth Night, Othello and elsewhere. ... From the evidence of the drama alone it would be clear that (Shakespeare) was preoccupied with sexuality in all of its forms. ... There are more than thirteen hundred sexual allusions in the plays, as well as the repeated use of sexual slang. ... There are a host of words for the male penis as well as insistent references to sodomy, buggery and fellatio.
Ackroyd beskryf ook hoe Viola as “jongman” ervaar sou word in die opvoerings van 1602 (bl 384):
Viola dressed as a boy, while being acted by a boy, added an element of sexual frisson that would not have been lost upon the members of the Inn. ... The language of the wooing scenes was in any case erotically charged, and might well have been complemented by ‘wanton’ gestures. The layers of strange multisexual loving delighted Shakespeare.
Naas Viola is daar nog twee belangrike dames. Gravin Olivia (Elizabeth Akudugu) neem telkens duidelik die leiding. Een van haar sterk dramatiese tonele is met “Cesario” wanneer “hy” haar liefde fel verwerp. Bianca Mannie as Maria is ’n indrukwekkende teenwoordigheid. Jy wéét wanneer sy lag. Sy kan die manne goed beheer. Sir Toby Belch (Nicholas Pauling) lyk sterk manlik met al daardie tatoeërings op sy boarms. Hy kan sy dop vat, hoor. Pasop, hy kan ook slim planne maak. Hy neem vir sir Andrew Aguecheek (Roberto Kyle) onder sy hoede. Dié ou leë koppie met die styfspan broekie het dit nodig. Feste en Fabian (Oarabile Ditsele) sorg vir hulle self. Die ouens kom eg manlik voor wanneer hulle saam staan en water afslaan. (Is dit ’n eerste vir Maynardville?)
Maria is die intrigant as dit by Malvolio kom. Sy verneder hom. Sy buit sy selfgesentreerdheid en sy hooghartigheid uit met daardie brief oor die geel kouse, hoe almal hom tog te lief het en hy daarom moet glimlag.
Hy word besonder goed vertolk deur Mark Elderkin. Met elke toneel waarin hy optree word nog ’n faset van sy karakter duidelik. Hy boei ons met afwisseling in stemgebruik, gesigsuitdrukkings en lyftaal. Hoe pateties lyk hy wanneer op ’n draffie wegspring onder die reuseakkerbome deur! Aan die einde het die groot openingsaandgehoor hom die sterkste applous gegee.
Die speelvak is tot 25 Februarie 2017.
The post Twelfth Night by Maynardville, ’n resensie appeared first on LitNet.