Nico, ons lesers sal jou dadelik kan eien as ek sê dat jy die boek The Boer Whore geskryf en die storie daarvan ontdek het, wat toe aanleiding gegee het tot die skryf van Francois Smith se Kamphoer. Watter ander boeke het jy al geskryf?
Kuier in ’n Plaaskombuis
Die Pienk Traaisiekel
Die Pienk Baaisiekel
South Africa at a Canter
Feetjies van die Wolke / Cloud Fairies
Die Groot Kwilt
Uit Ouma se Uitsetkis
Zij
Die Wildtuinbus
The Safari Bus
Karrenmek vir ta' Nonnie
en die operette Die Towerblom.
Ook die liedjie “Tingeling” wat deur Min Shaw opgeneem is.
Ek sit met jou boek Uit Ouma se Uitsetkis hier op my lessenaar en ek sien dit is 'n onthouboek: vol foto's, gedagtes, resepte en selfs musiek. Waar en by wie het jy al die inhoud versamel?
Voor in die boek is die name van mense wie se items ek van gebruik het. Die meeste is egter uit my en Naomi se versameling van ou “robbies”.
Agter in die boek staan daar (by die verduideliking oor die CD) dat die musiek toegespits is op mense wat in die middel van die 20ste eeu geleef het. Vertel nog bietjie hoe jy jou ideale lesers sien. En vertel gerus van die musiek op hierdie CD, asseblief.
Die musiek is meestal 78 rpm-spoed plate ... breekbare een-naald-op-’n-keer-plate. Dit waarmee die bo 60’s in 2011 grootgeword het. Hartseer, verlangend en dan die ongelooflike dansmusiek van orkeste soos die Vier Transvalers, Jan Visser en ook drie van my eie komposisies, waaronder “Ek verlang” die mooi van eergister oordra.
Anderdag gesels ek met 'n kunstenaar oor die geheue en hy meen mens onthou nie aldag die fynste besonderhede nie, maar eerder hoe 'n spesifieke tydperk of gebeurtenis 'n mens laat voel het. Stem jy saam? Wat beteken onthou vir jou? En wat onthou jy van jou ouma?
My onthou leef so saam met my dat ek soms weer baie herleef. Jou vriend is reg. As ek Elvis se “Jailhouse rock” of Cliff Richard se “Lucky lips” hoor, begin my lyf onwillekeurig ruk soos iets wat gif ingekry het.
Onthou is die meganisme wat my sielskluis oopsluit en die mooi vir my uitpak as ek skryf.
Dis 'n boek van verlange, maar verlang is ook nie altyd lekker nie: "Om op jou spore terug te stap gister toe is ook nie altyd aangenaam nie." Brei asseblief hierop uit.
My ouers se besluit om die plaaslewe vir die stadslewe te verruil en om my van ‘n kleindorpieskool (Chrissiesmeer) met 64 leerlinge tot een met plus 1 000 leerlinge (Sasolburg) oor te plaas was vir my ’n skok wat my heel van koers gedwing het.
Hoekom publiseer jy jou eie boeke? Vertel bietjie waar en hoe ons lesers jou boeke in die hande kan kry?
Ek publiseer na The Boer Whore my eie boeke. My uitgewer het my die deur gewys met die boek. Ek het in myself geglo en my ou meubels verkoop, driekwart op skuld gewaag en probeer. Ses duisend later met filmregte verkoop kon ek self laat druk. Selfs in Sjina, waar ek al meer as 25 jaar kontakte opgebou het, word my boeke met ongelooflike reëlings gedruk.
My boeke is dwarsdeur die Republiek by vooraanstaande padstalle te koop. Soos Die Oubos Padstal, Paarl. Taalmonument, Jasyn, Daggaboer, Karoobos in Hofmeyr, Travalia Drie Susters, alle Tiger Eye-winkels in die nasionale parke, Exclusive Books, Die Stoep in Nelspruit en vele ander plekke.
Internasionaal in Canberra, Singapoer en binnekort in Thailand.
The Boer Whore is ook al deur biblioteke in Nieu-Seeland aangekoop.
Die draaiboek van The Boer Whore in op 1 November deur Ian Roberts voltooi ... en hier kom ’n ding.
The post Uit Ouma se uitsetkis: Nico Moolman gesels met Naomi Meyer oor sy selfpublikasies appeared first on LitNet.