- Op die foto's hierbo verskyn Wannie Carstens, Michael le Cordeur, Frank Hendricks en Charlyn Dyers.
Teen die agtergrond van twee uiteenlopende boeke wat onlangs verskyn het, gesels Charlyn Dyers en Wannie Carstens met mekaar. Charlyn Dyers, een van die redakteurs van Kaaps in fokus (African SUN MeDIA), stel hier onder vrae aan Wannie Carstens, een van die redakteurs van Ons kom van vêr (Naledi). In die dae wat kom, word nog soortgelyke gesprekke gepubliseer.
Ek sal graag meer wil weet oor die motivering vir die uitleg van die verskillende dele van die boek. Kan jy byvoorbeeld verduidelik hoekom die taalgedeelte heel laaste gedek word? As jy dit kon verander, hoe sou dit dan georganiseer word?
Goeie vraag! Met die samestelling van die hoofstukke het ons grootliks alfabeties gewerk (my kop werk so!) om die temas in te deel. Mettertyd het daar bymekaarvoeging geskied en daarom is “Sport en Kultuur” (wat eintlik “Kultuur en Sport” moes gewees het!) soort van onalfabeties geplaas. Ek gaan dit laat regstel in ’n verdere druk.
Dit is altyd moeilik om so ’n uiteenlopende aantal onderwerpe behoorlik te orden sodat dit wat tematies bymekaar hoort, bymekaar geplaas word. Ons moes wel eers seker maak watter hoofstukke ingekom het en eers toe kon ons die indeling doen. Met die voordeel van agternakyk sou ek eerder die huidige hoofstuk 21 (“Geen abnormale sport in ’n abnormale samelewing”) laat plaas het onder die hofie “Impak van Apartheid” en dan die “Sport” weggeneem het by “Kultuur”. Dan sou ek graag nog ’n hoofstuk of twee oor sport wou gehad het, wat ek dan ’n eie afdeling sou gemaak het. Verder sou ek dit net so laat.
Op wie is hierdie boek gemik, en, gemeet aan die gebrek aan jonger stemme, hoe maak ons die jonger geslag lus om dit te lees?
Die boek is gemik op die breë publiek – álmal (oud en jonk) wat belang stel in die onderwerp. Ek dink die onderwerp regverdig ’n groot lesersgehoor, want die tema is so belangrik en uiters aktueel! Sover ek weet, is dit een van die boeke waarin die bruin sprekers van Afrikaans self aan die woord kom, en daar word nie óór die bruin sprekers geskryf nie. Dit is vir my ’n groot wins. Ek hoop dat sodra die boek wyer bekend gestel is by feeste en dalk ook oor televisie- en radioprogramme en in koerante, dit meer in die publieke oog sal kom en dat dit dan wyer gelees sal word, ook deur ’n jonger gehoor. Dit is nie ’n geskiedenisboek nie (dit laat mense soms besluit om nie ’n boek te lees nie), maar is eerder ’n boek oor identiteit en die uitlig van foute van die verlede, maar dan uit ’n persoonlike perspektief en nie ’n suiwer historiese perspektief nie. En in hierdie proses word die taal se gebruik en herkoms ook betrek.
My hoop is dat mense mekaar van die boek sal vertel en dit van leser tot leser sal aangee om te lees!
Is daar miskien ’n verduideliking hoekom jonger bruin Afrikaanse denkers/stemme nie by hierdie boek betrek is nie?
Ons het wel van die jonger mense genooi om deel te neem (ek noem eerder nie name nie), maar die hoofstukke het toe nie ingekom nie en ons moes werk met wat ons wel gekry het. En dit wat ons gekry het, maak op sigself al ’n kragtige boek! Ek hoop van harte dat by ’n moontlike verdere boek die jonger stemme beslis sal saamwerk en ook hulle stories sal vertel. Daar is nog baie hoeke wat glad nie belig is nie – soos oor hoe die jonger geslag oor identiteit voel, hoe hulle die taaldebat ervaar, hoe hulle Afrikaans as taal van akademiese onderrig sien, hoe hulle oor Engels as taal van die bruin gemeenskap voel, hoe hulle die politiek van die dag ervaar, hoe hulle reageer op die politiek van die verlede en van vandag, ens. Ons sal dit baie graag wil hoor.
Kan jy ietsie skryf oor jou betrokkenheid by en bydrae tot die boek?
Ek het al heelwat dinge gedoen om Afrikaans se storie te probeer vertel, maar die verskyning van hierdie boek, en veral die vreugde waarmee dit ontvang is, is een van die gekoesterde oomblikke in my akademiese loopbaan van bykans 41 jaar. Dat my kundigheid as taalkundige en as beyweraar vir Afrikaans ingespan is om so ’n boek te kan saamstel, is ’n absolute hoogtepunt. Diegene wat my ken, weet dat ek baie hard werk aan die regstel van die foute van die verlede, maar so baie van my insette en bydraes is nie sigbaar nie of is verskuil agter die spreekwoordelike skerms. Ek het baie van hierdie werk gedoen toe ek die Afrikaanse Taalraad geïnisieer en tot stand help bring het en toe ek as die eerste voorsitter gedien het. Ook in ander rolle in ander liggame. Maar hierdie boek het my die geleentheid gegee om sigbaar (met die boek in die hand) hard en duidelik te sê en te illustreer hoe ek voel oor versoening en regstelling – Nico Koopman praat van "herstellende geregtigheid" en ek hoop van harte my betrokkenheid word in hierdie lig ervaar.
My werk was grootliks die regskaaf van die teks (taal en aanbod) en om seker te maak dat die verhale stewig gefundeer is – dus om as teksredakteur op te tree. (Ek is die medeskrywer van Teksredaksie en die skrywer van Norme vir Afrikaans en ek het daarom ’n redelik vitterige ingesteldheid oor taal, aldus diegene wat saam met my werk.) Michael het volle vertroue in my gehad om my kundigheid en ervaring oor die redigering van hoofstukke in die boek toe te pas en daardie afdeling is toe aan my oorgelaat. Ons het dit selfs op ’n stadium oorweeg om die hoofstukke te laat keur as volwaardige akademiese bydraes, maar ná oorlegpleging met die medewerkende skrywers is besluit om die hoofstukke wel so te versorg en aan te bied dat dit gehalte verteenwoordig. As span wou ons ’n goeie produk lewer waarop ons trots is en wat ons weet nie afskeepwerk is nie. Die bydrae wat ons wou lewer, verg respek vir die onderwerp en daarom die eis op gehalte. En daarmee was ek as teksredakteur in my element! En kon ek my rol uitleef.
Dit is moontlik dat van die skrywers agterna hulle hoofstukke kan aanpas om ’n geakkrediteerde akademiese uitset te probeer kry. Met my (ons) puntenerige skaafwerk as redakteurs het ons baie gehelp om die hoofstukke reeds voor te berei daarvoor. Daar sal nog bywerk nodig wees, maar die kern van ’n stewige akademiese bydrae is wel reeds daar, soos ook blyk uit die verskaf van bronne ter stawing van stellings. En van die ander hoofstukke dien as belangrike dokumentering van ervarings en aktiwiteite, soos Elias Nel se hoofstuk oor die rieldanskultuur. Van die skrywers het by die bekendstelling gesê dat ek hulle darem “gepla” het met my aandrang op korrektheid van feite en stellings (daarom die bronnelyste), maar daar was begrip vir die hoek waaruit ek ’n bydrae gelewer het. En agterna was daar ook dankbaarheid vir my 'gekarring' om ’n goeie produk te lewer.
Dus: ek is ongelooflik tevrede met my bydrae tot die totstandkoming van die boek, en natuurlik besonder trots op die eindproduk! Naledi (Johan Koortzen en Magdel Palm) was deurentyd betrokke en het saam help skaaf om die beste moontlike produk in die tyd tot ons beskikking te kry. Ook Naledi kan trots voel op hierdie besonderse boek!
Laastens, hoe sluit hierdie boek aan by jou eie boek oor Afrikaans?
Ek werk die afgelope vier jaar al aan ’n boek oor die geskiedenis van Afrikaans en dit nader nou gelukkig voltooiing. Die oorspronklik beplande boek het toe twee boeke geword en dit sal later vanjaar en ook in 2018 as afsonderlike boeke verskyn as alles volgens plan verloop. (Die besonderhede daaroor hier onder.)
In my boek wou ek seker maak dat die ware storie van Afrikaans vertel word, maar toe ek my kom kry, het ek weer net gefokus op die wit gemeenskap se storie omdat dit die bronne is wat vryelik beskikbaar was en waarmee ek kon werk. In van die meer onlangse bronne oor die geskiedenis van Suid-Afrika word die rol van swart en bruin mense al hoe meer betrek in die weergee van die geskiedenis van die land. Dit is goed so, en ek kon dankbaar gebruik maak daarvan. Dit is egter nie reg dat die storie van Afrikaans so eensydig vertel word nie en ek moes daarom anders te werk gaan om te probeer help om ’n meer inklusiewe storie te vertel.
Toe ek begin rondsoek na bydraes oor die rol van spesifiek die bruin Afrikaanssprekende gemeenskap tot die ontwikkeling van Afrikaans as taal (soos oor Afrikaans as taal van die onderwys, van die kerk, van die hof, van die media, van kultuur, ens, en hoe hierdie insette gehelp het om aan Afrikaans sy hoëtaalfunksies te gee), was daar opvallend min wat ek kon opspoor. Ja, daar is akademiese bydraes oor Kaapse Afrikaans en oor Moesliemafrikaans, en van die bronne is werklik van ’n uitstekende gehalte. In hierdie bronne word egter eerder die verskynsel bestudeer as die bydrae tot die ontwikkeling van Afrikaans as taal self. Omdat ek so min kon opspoor, afgesien van enkele bydraes wat ek langs die pad kon bepaal, moes ek help om self gesaghebbende bronne te genereer sodat die bronne gebruik kon word in die vertel van die storie van Afrikaans.
Ek het die saak met Michael bespreek – ons is groot vriende en vertrou mekaar in wat ons aanpak – en ons het toe saam besluit om so ’n projek aan die gang te sit. Michael se breë netwerk het hier gehelp en ons het aan ons elkeen ’n rol in die uitrol van die projek toegeken (my betrokkenheid by ander boeke en ervaring met die saamstel van ander boeke het my hiermee gehelp): hy sou as inhoudsredakteur optree en ek as teksredakteur. Voor ons ons oë kon uitvee, was daar talle aanduidings van mense wat bydraes wou lewer, ook van enkele jonger mense. Ons het ’n spertyd gestel vir die bydraes omdat ons wel Adam Small se verjaarsdag in Desember wou haal. Die hoofstukke wat uiteindelik gerealiseer het, word in die boek soos dit nou saamgestel is, verteenwoordig.
Die boek se bydrae tot my eie geskiedenisboek berus op twee aspekte: Ons kom van vêr is eerstens ’n byproduk ("spin-off") uit my geskiedenisboek – dit het my naamlik gedwing om bronne te help vind wat ek kan gebruik vir my eie navorsing. Tweedens lewer Ons kom van vêr ’n bydrae om verhale te openbaar wat gebruik kan word om ’n meer volledige verhaal van Afrikaans te probeer vertel en in hierdie proses is mense die geleentheid gebied om hulle stories uit hulle besondere hoeke te vertel. Daar is soveel van hierdie hoofstukke wat in my geskiedenisboek betrek word en my doel is dus grootliks bereik.
Laastens: Ek het vrede daarmee gemaak dat ek in my leeftyd waarskynlik nie die volle inklusiewe verhaal van die sprekers van Afrikaans sal kan vertel nie. Daar is te veel sake wat nog nie geopenbaar is nie en wat nog wag om ontsluit te word. Ek hoop wel dat ek met my insette (met die saamstel van hierdie boek en die skryf van my eie boeke oor die geskiedenis van Afrikaans) kon help om die regte pad aan te dui oor wat die volle verhaal van Afrikaans inhou. Die uitdaging is vir diegene wat agterna kom, om seker te maak dat hierdie gapings gevul word. My insette kan dan hopelik as vertrekpunt gebruik word. In die wetenskap aanvaar ons dat die een geslag op die skouers van die vorige geslag sal staan en hulle bydraes as vertrekpunt in die soek na nuwe insigte kan gebruik. Ek hoop ek kon met my eie pogings voldoende ruimte skep dat iemand die verhaal verder wil kom vertel.
Carstens, WAM en EH Raidt. 2017, 2018. Die storie van Afrikaans. Uit Europa en van Afrika. Biografie van ’n taal. Pretoria: Protea.
- Boek 1: Die storie van Afrikaans. Uit Europa en van Afrika. Biografie van ’n taal – Die geskiedenis van Afrikaans in Europa. (Mei/Junie 2017)
- Boek 2: Die storie van Afrikaans. Uit Europa en van Afrika. Biografie van ’n taal – Die geskiedenis van Afrikaans in Afrika. (Mei/Junie 2018)
The post Kettinggesprek: Charlyn Dyers gesels met Wannie Carstens oor Ons kom van vêr appeared first on LitNet.