Sinkdakhuisie
Bliksemstrale pluk aan my senuwees se snare
Maar dit laat my nie bevrees
Net verdwaas, verbaas en dankbaar
Waar was dit die afgelope paar jare?
Die daaglikse reënbuie
Waar was dit?
Herinnerings vul my
Van Pa wat vooroorgeboë
oor dor lande stap
Ma met dooie trane oor haar wange
As sy na haar maer koeie kyk
Swaarkry-jare
Die gate in ons ou sinkdakhuisie
Wat net groter en groter word
Buite woed die storm voort
Terwyl ek hier sit en wonder
Totaal en al verwonder
oor die seëninge wat
oor ons sinkdak vloei
Kan almal dit soos ek ook voel?
Die vernuwing, die groei, die lewe?
’n Druppel val op my neus
Vloei af teen my wang
Nee, dis nie warm, of sout
Dis nie trane
Dis Reën, dit reën
Ons sinkdak lek
Die dreuning neem af
Ek kyk op
Voel die prikkeling in my vel
Die opgewondenheid wat deur my vloei
As ek skoongewas word deur Sy seën
Ek voel die bruising deur my are
Voel selfs my hare verlewendig
In ’n krulmassa op my kop
Weg is die moedeloosheid daarvan
Sorgeloos en vry
so rein soos ’n kind
Was Hy my gedagtes
En hoop omsoom my hart
Hoop vir ’n beter lewe
Hoop vir ’n beter oes
Hoop vir
’n nuwe sinkdak
Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.
The post Huis, woning, tuiste: Sinkdakhuisie appeared first on LitNet.