Eenvoud
Tussen hierdie vier mure speel ons abelspel af,
Mure sonder vensters en liefde sonder maat.
Argelose liefde sal jy hier, onder die groen dak vind,
Soos ’n anker wat sy skip laat vas lê, lê ons liefde tot in die fondasie.
Bou ons hierdie tuiste noukeurig, steek vir steek
Soos my ouma met haar hekelpen, besig aan ’n serp.
Waar die horison wyd en ver lê, oor die natuurskoon,
Met die ou tuinhekkie en geroeste posbus ons eenvoud weerspieël.
Dit is hier waar ons liefde trankiel weerklink,
En, soos sewejaartjies, altyd ons kleur behou.
My hart se tuiste
Daar waar die son van die berge afdrup soos stroop,
in die sonneblomlande in,
bedek my suster die lug met musieknote, vanuit die klavier.
Pappa wat die huis vul met ’n lamsboud en roosmaryngeur,
kom sing die voëls saam, terwyl hulle aan die appelboom aandete kom geniet.
Met liefde wat soos ’n wolkombers my kom toevou,
sit Mamma en geniet ’n glas rooiwyn, terwyl sy boek lees.
Dit is hier waar my hart heel word en my siel rustigheid kry,
Liefde sonder grense en omgee sonder perke.
Dit is hier waar my hart se tuiste is.
My ontsnapping
Vasgevang agter die tralies in jou kop, weet jy tog, dit is net tydelik. Dan kan jy ontsnap en weer in die melkweg gaan dans en stop vir ’n koffie op die maan.
Die plek waar jy mens voel, waar die bloed deur jou are bruis en jou hart weer geluk vind. Dit is hier waar jy jou frekwensie herontdek en jou naam tussen die sterre griffel.
Met jou klavesimbel maak jy musiek vir Jupiter en Mars terwyl jy op die rand van die horison sit.
Dit is hier waar jy weer ou vriende ontmoet en die kreukels van daardie jare met ’n verfkwas uitstryk.
Hierdie plek, waarna jy met jou lantern en koffiefles, elke aand deur jou ligkosyn heen ontsnap.
Welkom tuis
Op die horison kom jy aangestap,
net ’n skaduwee –
van my verbeeldingswêreld.
Kyk ek na jou deur wasemrige vensters, terwyl jy met jou kanaster vol bagasie,
oor die sinkplaatpad jouself dra.
Ek verwelkom jou terug, hier in my boesem, want, soos die verlore seun, het jy jouself gaan vind.
Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.
The post Huis, woning, tuiste: Ferreira Stumke se inskrywings appeared first on LitNet.