Publieke debatte oor Afrikaans fokus veral op wit en bruin Afrikaansmoedertaalsprekers (byvoorbeeld Afrikaans as onderrigtaal en Kaaps as variëteit). Is Swartafrikaans relevant vir hierdie debatte? Is Swartafrikaans ook ’n aanduiding van variasie in Afrikaans? Navorsers Ansie Maritz en Jako Olivier gesels met Menán van Heerden oor hul artikel in LitNet Akademies.
LitNet Akademies: Napraatswartafrikaans: konteks en persepsies
van die alternatiewe gebruik van Swartafrikaans
Om lesers te oriënteer: Wat beteken die term Swartafrikaans presies?
Swartafrikaans is die variëteit van Afrikaans wat veral vroeër deur Afrikataalmoedertaalsprekers gebruik is, maar ook nog vandag gebruik word, wanneer hulle in ʼn Afrikaanse gesprek met ʼn Afrikaansmoedertaalspreker getree het. ’n Soortgelyke variëteit is Gepidginiseerde Afrikaans, wat weer deur Afrikaansmoedertaalsprekers gebruik word teenoor Afrikataalsprekers.
In die studie word ook na Napraatswartafrikaans verwys. Napraatswartafrikaans word gebruik wanneer ‘n Afrikaansmoedertaalspreker verkies om met ʼn mede-Afrikaansmoedertaalspreker Swartafrikaans te gebruik. Swartafrikaans word in so ʼn geval nie meer in sy oorspronklike vorm tussen ʼn Afrikataalmoedertaalspreker en ʼn Afrikaansmoedertaalspreker gebruik nie, maar op ʼn alternatiewe wyse tussen twee Afrikaansmoedertaalsprekers.
Wat is die kenmerke van Swartafrikaans?
Swartafrikaans behels onder meer verskynsels soos die volgende (vgl ook die volgende bronne: De Wet 2009:157–60, De Wet 1993:173–85 en Van Rensburg 1989:461):
- Saam met-konstruksie
Hulle wil saam met hom praat.
Sy speel saam met die pop.
- Woordvolgorde: Posisie van die werkwoord
Hoofsin: Ek wil slaag my standerd tien. (Ek wil my standerd tien slaag.)
Bysin: ... sodat ek kan alles doen vir hulle. ( ... sodat ek alles vir hulle kan doen.)
- Lidwoorde: die, ’n, geen
Toe ek die baba was ... (’n)
Die radio Xhosa was daar (geen lidwoord)
- Uitspraak
mar ipv maar
gakry ipv gekry
skrou ipv skree/skreeu.
Wanneer Napraatswartafrikaans dan gebruik word, poog die Afrikaansmoedertaalsprekers om hierdie kenmerke van Swartafrikaans so goed en akkuraat moontlik na te boots. Alhoewel algemene inligting bekend is, is verdere studie wel nodig om die presiese kenmerke van Napraatswartafrikaans met die kenmerke van Swartafrikaans te vergelyk.
Is dit net taalkundiges wat die term Swartafrikaans gebruik, of is die algemene publiek vertroud met die term?
Alhoewel die algemene publiek heel bekend is met die bestaan van hierdie variëteit en dit soms self ook gebruik, is die benaming daarvan nie altyd so bekend nie. Dit is met betrekking tot die terme Swartafrikaans, Gepidginiseerde Afrikaans en die nuwer term Napraatswartafrikaans.
Die #AfrikaansMustFall-debat sentreer hoofsaaklik op wit en bruin Afrikaansmoedertaalsprekers. Afrikaans word binne hierdie konteks ook as die koloniale taal van die wit Afrikaner-onderdrukker beskou (weens die hernude oplewing van die Swartbewussynsbeweging). Waar pas Swartafrikaanssprekers binne die #AfrikaansMustFall-polemiek in?
Alhoewel Swartafrikaans en ook Napraatswartafrikaans vir sosiale doeleindes en nie vir akademiese doeleindes nie gebruik word, deel hierdie variëteite ooreenkomstige negatiewe konnotasies wat rondom Afrikaans as taal bestaan. Tog is dit van belang om daarop te wys dat die respondente in die studie nie hierdie variëteite as slegs negatief beleef nie. Die rede hiervoor het te doen met individue se verskillende kontekste, persepsies en ook die verskillende funksies waarvoor hierdie individue of groepe die variëteit gebruik.
ʼn Voorstel wat oorweeg kan word om ʼn meer afgeronde perspektief op hierdie polemiek te bied, is om ʼn opvolgstudie met byvoorbeeld slegs swart Afrikaansmoedertaalsprekers te doen en onder meer te bepaal wat hulle direkte belewenis rondom hierdie variëteite is.
Die gebruik van Swartafrikaans en Napraatswartafrikaans herinner ons dus aan die volgende:
- Afrikaans en sy variëteite is, soos enige ander taal, ʼn dinamiese ruimte wat beter verstaan moet word.
- Sensitiwiteit by die gebruik van soortgelyke variëteite is nodig juis aangesien nie alle sprekers dieselfde perspektief daaroor deel nie.
Wat Afrikaans betref, dink julle dat die sogenaamde verband tussen ras, kultuur, etnisiteit en taal voordelig of nadelig is?
In die geval van Afrikaans en die historiese konnotasies waarteen die taal steeds stry, sou ʼn mens hierdie verband as negatief kon beleef. Die mooiheid van ʼn uitgebreide taalrepertoire wat oor tale heen strek, sowel as ʼn spreker se vryheid om ʼn variëteit te kies wat op ʼn gegewe oomblik ʼn situasie die beste beskryf, word moontlik deur hierdie negatiewe konnotasies ingeperk. Dit is wel belangrik om op te merk dat die grense tussen ras, kultuur, etnisiteit en taal nie altyd so duidelik is nie en dat individue se assosiasies daarom verskil.
In julle artikel verwys respondente na "gebroke Afrikaans"; "hul manier van praat"; "om só Afrikaans te praat"; "as ’n ander kleurige dit praat". Dink julle dat Standaardafrikaans steeds as die "korrekte" vorm van Afrikaans beskou word?
Die aanhalings verwys na beskrywings soos die respondente gepoog het om hulle verstaan van Swartafrikaans weer te gee. Dit wil voorkom of hierdie respondente tog ʼn maatstaf, wat dan ʼn vorm soos Standaardafrikaans sou wees, gebruik het om hul beskrywings te gee. Dit mag daarom moontlik wees dat Standaardafrikaans steeds as die “korrekte” vorm van Afrikaans deur hierdie respondente beskou word, alhoewel dit nie pertinent genoem is nie.
Ons staan, in ooreenstemming met bestaande taalsosiologiese sienings, egter ’n gelykevlakperspektief op Afrikaans voor waar alle variëteite gelyke waarde het en ook soos nodig bepaalde funksies kan verrig. Afgesien van die respondente se persepsies, is taal slegs met betrekking tot ’n bepaalde konteks en funksie gepas en is daar nie ’n enkele variëteit wat as “dié korrekte vorm” beskryf kan word nie.
The post “Swartafrikaans”: Afrikataalmoedertaalsprekers en Afrikaans? appeared first on LitNet.