Wat soms as politieke ontleding opgedis word, is dikwels net so onvoldoende of onbevredigend soos die optrede of uitsprake van die politici wat “ontleed” word. Dit was – opvallend, en jammerlik – ook die geval verlede naweek ná pres Jacob Zuma die ANC se 8 Januarie-verklaring in Orlando, Soweto gelewer het.
Dit was so ’n vervelige vertoning, het sommige ontleders gesê; en geen inspirasie nie – asof enigiets anders verwag kon word. Mens wou aan die slaap raak, het hulle ook gesê. Geen deurlopende tema nie; net ’n aflees van ’n klomp kwessies wat in grootgedrukte letters saamgegroepeer is.
En Zuma het duidelik nie sélf die toespraak geskryf nie, het die wysheid verder gelui: dit is deur die nasionale uitvoerende komitee aan hom gegee met die opdrag dat hy nie daarvan mag afwyk nie; dat hy dit, sukkelend soos dit ook al mog gaan, moes voorlees.
Toegegee, soos so baie kere tevore wás dit oninspirerend, móéilik om by te hou; en hét dit vir baie inspanning gesorg ... en dit kon ook nie maklik vir hom gewees het in ’n volgepakte stadion met by die 40 000 raserige ondersteuners wat vir ure met busse uit alle uithoeke van die land gereis het vir dié geleentheid nie.
Zuma het “swak” gepraat, het ons ook gelees, maar dit eintlik reeds geweet. Ongemaklik en onsamehangend; hy het geworstel en gestamel. Behalwe die kere toe hy “klein stukkies uit die vuis gepraat het”, het Beeld een politieke wetenskaplike aangehaal.
Hoe anders dan?
Die President was nog nooit ’n orator van formaat nie – bepaald nie in Engels nie, maar wanneer hy meer informeel en spesifiek “klein stukkies uit die vuis” in sy moedertaal (Zoeloe) praat, kom hy baie meer gemaklik en samehangend én beslis selfversekerd voor.
En wat van sy voorgangers?
FW de Klerk het nog altyd geklink asof hy – ’n regsgeleerde – ’n kliënt in die hof verdedig, altyd op die aanval, maar dit is van nature sy styl; Nelson Mandela se beste toesprake is deur sy opvolger, Thabo Mbeki, geskryf, en Mandela was self nie baie dinamies wanneer hy voorbereide toesprake gelewer het nie.
Mbeki het weer meestal stram voorgekom wanneer hy uit die vuis moes praat, maar hy was en is omtrent in sy element wanneer hy sy selfgeskryfde toesprake voordra – met poëtiese woorde, aanhalings uit klassieke letterkunde, verwysings na geskiedkundige figure en tekste, en áltyd ’n deurlopende tema, asof hy ’n lesing lewer.
Om iets by Zuma te soek wat hy sedert sy inhuldiging in 2009 (en selfs gedurende sy termyn as adjunkpresident) níé kon bied nie, nooit sou kon wees nie, en dalk nie eers wíl wees nie, is op sigself straks aanduidend van ’n sekere onkunde, ’n onsamehangendheid in denke, ’n geworstel en ’n gestamel om met nuwe insigte vorendag te kom aan die kant van dié op wie ons vir politieke ontleding staatmaak.
Dit is dalk maar ’n verdere illustrasie (wanneer jy dit vir jouself probeer verduidelik) van ’n ooglopende keelvolheid, oor die spektrum heen, vir die teenwoordigheid van ’n beleërde president wat gewild is onder landelike, arm mense – mense van sy eie komvandaan; maar ’n leier wat byna géén hartsnare roer onder hulle – ontleders ingesluit – wat die begunstigdes is van wat digter-filosoof Adam Small “gegoedheid” genoem het nie.
Hierdie relaas ter inleiding van my indrukke oor die afskeidstoespraak van Barack Obama van Amerika, wat alleen deur sy (voorheen ondenkbare) historiese teenwoordigheid, synde die eerste swart president van die magtigste land ter wêreld, as ’n vonkskakelaar vir inspirasie en hoop dien.
*
Die televisie se afstandbeheer is die aand tevore op die bedkassie geplaas. Wanneer die wekker dan om 4:30 lui, sou ek onmiddellik kon inskakel, maar ’n oproep van ’n “private number” maak my reeds 4:00 wakker. Ook maar goed, want so kon ek Barack Obama se afskeidstoespraak regstreeks van die begin af volg – of, ten minste, van die oomblik dat die jubelende, waarderende gehoor hom uiteindelik toegelaat het om daarmee te begin.
“We’re on live TV, I gotta move,” het hy hulle ná ’n minuut se toejuiging probeer stilkry, maar toe duur dit vir nog sowat 30 sekondes voort. “My fellow Americans...” – nóg 10 sekondes se applous.
Uiteindelik kon hy voortgaan. Dit was sy beurt om dankie te sê – aan die ganse Amerikaanse bevolking. Nieteenstaande dié dat nie almal polities met hom saamgestem het nie, was dit sy gesprekke met mense oor die spektrum heen wat hom “honest” en “inspired” gehou het en wat hom aangemoedig het om voort te stu. “You made me a better president, and you made me a better man.”
*
Uit dié toespraak is daar baie temas, en kwessies, en verwysings, wat globaal by mense aanklank sal vind, maar ek wil my by die volgende vyf aanhalings bepaal wat spesifiek vir Suid-Afrikaners relevant behoort te wees:
1. Our democracy won’t work without a sense that everyone has economic opportunity.
In ons land is dié tans een van die vernaamste politieke slagspreuke: “radikale ekonomiese transformasie” moet plaasvind om die erge ongelykheid aan te pak. Ook in Zuma se toespraak is die kwessie aangeraak – herverdeling van grond moet met mening geskied, het hy gesê; 30% van groot konstruksiekontrakte moet na klein kontrakteurs; #feesmustfall by tersiêre instellings; en ’n algemene minimum loon moet ’n werklikheid word.
Uit Obama se toespraak: “After all, if every economic issue is framed as a struggle between a hard-working white middle-class and undeserving minorities [in Suid-Afrika: die arm, werklose swart massa], then workers of all shades will be left fighting for scraps while the wealthy withdraw further into their private enclaves.” Sonder die nodige denkskuif in terme van die ekonomiese kwessies wat Zuma aangeraak het – en die tekens is reeds daar – sal die demokrasie in Suid-Afrika (aanhou) gebuk gaan onder maatskaplike onrus.
2. Race remains a potent and often divisive force in our society.
Dit was reeds vroeg in sý toespraak dat Zuma ’n oproep tot eenheid gelewer het, naamlik dat landsburgers van regoor die politieke spektrum moet begin saamstaan. Wat hy nie gesê het nie – om aan Obama te ontleen – is dat dié eenheid van hom en ander beter leiers en beter mense sal kan maak, want die waarheid is dat die leiers kieskeurig is oor na wie in die land (en selfs in hul party) hulle luister. Zuma self maak dikwels rasgedrewe, verdelende uitsprake om steun by sy magsbasis te versterk.
Ras bly dus ook in ons samelewing kragtig en ’n verdelende mag, net soos in Obama se Amerika. En dan, asof ook gerig op Suid-Afrika, die volgende uit Obama se toespraak: “Going forward, we must uphold laws against discrimination – in hiring, in housing, in education and the criminal justice system. That’s what our Constitution and highest ideals require. But laws alone won’t be enough. Hearts must change.”
Dit is toe dat hy uit Harper Lee se To Kill a Mockingbird aanhaal. Indien die demokrasie in ’n toenemend diverse samelewing goed moet werk, moet almal ag slaan op die woorde van “een van die grootste karakters in Amerikaanse fiksie”, Atticus Finch: “You never really understand a person until you consider things from his point of view [...] until you climb into his skin and walk around in it.”
Onwillekeurig dié vraag: Wanneer laas het ’n leier hier by ons – sedert die dae van Mandela en Mbeki – uit die letterkunde aangehaal?
3. For too many of us, it’s become safer to retreat into our own bubbles.
Die hoop lê by die jongmense, het Obama gesê – dáár en hiér, wil ek byvoeg. Maar deel van vandag se uitdagings, aldus die uittredende VSA-president, is die borrels waarin so baie mense leef. In hul buurte, op kampusse, in plekke van aanbidding, op sosialemedia-netwerke – “omring deur mense wat soos ons lyk en dieselfde politieke oortuiginge deel en nooit ons aannames uitdaag nie”.
Toenemend begin hulle dan so veilig te voel in hul borrels dat hulle inligting bloot aanvaar, “of dit waar is al dan nie”, wat hulmenings pas – in plaas daarvan om hul menings op die beskikbare bewyse te baseer.
4. Be vigilant, not afraid.
Die vrees vir verandering is wat aanleiding gee tot baie mense se “veilige” optredes. Uit Obama se toespraak: Dis onder meer die vrees vir mense wat anders lyk of praat of aanbid; onverdraagsaamheid teenoor meningsverskille en andersdenkendes.
Maar wat belangrik is, is om waaksaam te wees eerder as bang.
5. Believe you can make a difference.
Nóg Obama (aangepas uit die afskeidstoespraak van ’n verlangse voorganger, George Washington): “Dit is elkeen van ons se verantwoordelikheid om as die angstige, jaloerse bewakers van ons demokrasie op te tree [...], want ondanks al ons uiterlike verskille deel ons uiteindelik dieselfde trotse titel: Landsburger.” En dit is – ná alles gesê is – wat die demokrasie vereis: dat elkeen hul bydrae lewer; nie net met verkiesingstyd of wanneer jou eie eng belange op die spel is nie, maar deurentyd, lewenslank.
Groothartigheid, karakter, idealisme: Obama het dié drie eienskappe met verwysing na die personeel van die afgelope agt jaar (sy twee termyne as president) gebruik en hulle aangemoedig om voort te gaan en nóg merkwaardige prestasies vorentoe te bereik. Dit is hierdie eienskappe wat soveel ander, jonk en oud, laat glo het hulle kan ook ’n verskil maak, het hy gesê.
’n Laaste oproep (hier verkort), het gevolg: “Glo in jou eie vermoë om ’n verskil te maak.” Dit is ’n pleidooi waarop elke Suid-Afrikaner, eintlik elke burger van enige ander land, behoort ag te slaan.
Die uitsonderlike orator-prosaïs het afgesluit met ’n presidensieel-poëtiese vertoning. Nou was dit weer 2004 toe hy sy toespraak by die Demokratiese Party-kongres gemaak het; dit was weer 2008 toe hy as president ingesweer is; en dit was ook 2012 toe hy sy tweede termyn begin het.
Luister: “I am asking you to hold fast to that faith written into our founding documents; that idea whispered by slaves and abolitionists; that spirit sung by immigrants and homesteaders and those who marched for justice; that creed reaffirmed by those who planted flags from foreign battlefields to the surface of the moon; a creed at the core of every American whose story is not yet written: Yes we can. Yes we did. Yes we can.”
*
Dit illustreer, pynlik, die gapings in Jacob Zuma se toespraak op Sondag, 8 Januarie, in die Orlando-stadion in Soweto. Maar dit bring my terselfdertyd terug by die één opbeurende aspek in Zuma se toespraak wat nie soveel aandag gekry het as wat dit straks verdien het nie: sy oproep dat (ANC-) leiers deur hul optrede die ontslape ANC-leier Oliver Tambo se voorbeeldige lewe moet nastreef, ’n lewe gegrond op integriteit en nederigheid.
Soms gaan die boodskap weens die toespraakmaker se tekortkominge verlore – soos dikwels met Zuma die geval skyn te wees, en weinig met Obama.
- Heindrich Wyngaard skryf in sy persoonlike hoedanigheid.
The post Obama, en ons appeared first on LitNet.