Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik. Hierdie regsbiblioteek is ’n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskikking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za.
Die jaar 1955 was nog in sy babaskoene toe ene meneer George sy intrek in ’n Kaapse hotel, Fairmead Court, geneem het. Die ontvangsdame het hom versoek om die hotelregister te teken. Daarnaas het hy ook die datum van aankoms en die tarief – R54 per maand (kan jy dit glo?) – ingevul. Dié tarief het hy met die hotel ooreengekom toe hy ’n paar dae vantevore sy plek bespreek en ’n deposito van R6 betaal het.
Toe mnr George een middag na sy kamer terugkeer, ontdek hy dat persoonlike besittings ter waarde van R250 daaruit gesteel is.
En wat maak hy toe? Hy eis die bedrag van die eienaars van die hotel, maar hulle trek die hotelregister nader en wys vir hom dat bokant sy handtekening in die gasteregister dit duidelik staan dat hulle nie aanspreeklik sou wees as hy skade sou ly as gevolg van, onder meer, diefstal nie. "Jammer, mnr George."
Mnr George was nie met hierdie antwoord tevrede nie, en hy dagvaar die hotel. Sy saak was dat toe hy ’n paar dae voor sy aankoms die kamer bespreek het, oor die tarief ooreengekom en die deposito betaal het, hy ’n mondelinge kontrak met die hotel gesluit het. Toe was daar geen sprake dat hulle nié aanspreeklik sou wees as sy goed gesteel sou word nie. Hy het nie bedoel om ’n nuwe kontrak met die hotel te sluit toe hy die register onderteken het nie. Wat hom betref, was dit maar net ’n formaliteit wat hy moes nakom. Hy voer dus aan dat hy gedwaal het oor die betekenis van sy handtekening in die register. Daarom is hy nie gebonde aan die klousule waardeur die hotel kwytgeskeld word van aanspreeklikheid as sy eiendom gesteel sou word nie. Buitendien het niemand sy aandag pertinent op die "fyndruk" bokant sy handtekening gevestig nie.
Mnr George het sy saak in die landdroshof en die Kaapse hooggeregshof, waarheen hy geappelleer het, verloor. En toe wend hy hom jou waarlik tot ons land se hoogste hof van appèl in Bloemfontein.
In sy uitspraak1 sê hoofregter Fagan dat as ’n mens versoek word om ’n dokument te onderteken, jy nie agterna kan sê dat jy nie daardeur jou instemming betuig het met alles wat bokant jou handtekening verskyn nie. Die Romeine het al eeue gelede gewaarsku: caveat subscriptor – “koper, wees versigtig!”
As jy egter mislei is om die dokument te onderteken, moet die ander party tot die kontrak die blaam dra, en sal die hof normaalweg bevind dat jou dwaling redelik was. Jy sal dan nie aan die kontrak gebonde gehou word nie.2
Die hof het egter geweier om te aanvaar dat mnr George se dwaling redelik was. Toe hy die register onderteken het, het hy self twee van die terme van die kontrak – naamlik die datum waarop hy in die hotel sou begin inwoon, en die prys wat hy sou betaal – ingevul. Buitendien, sê die hoofregter, mnr George het erken dat hy gesien het dat daar ’n klomp dinge bokant sy handtekening geskryf was. As hy maar net sy oë oopgemaak het, sou hy gesien het dat dit begin met die woorde "Ek stem toe ..."
Mnr George het dus ook in die appèlhof verloor. Ongetwyfeld het die spulletjie hom ver meer gekos as die R250 wat sy gesteelde klere werd was. Miskien was dit vir hom ’n beginselsaak, maar dan het hy nie Langenhoven se spreuk ter harte geneem nie: "Prosedeer oor ’n baadjie en hou jou broek klaar vir die koste."3
1 George v Fairmead (Pty) Ltd 1958(2) SA 465(A).
2 Du Toit v Atkinson’s Motors Bpk 1985(2) SA 893 (A).
3 CJ Langenhoven: Versamelde werke, Vol 9 (Vyfde uitgawe), bl 199.
The post Regsalmanak: Caveat subscriptor appeared first on LitNet.