In Die Burger se berig oor die Du Toit-huis op Augusta-Kleinbosch wat afgebrand het, word genoem dat die Hugenote-gedenkskool (1883 opgerig) die eerste skool was waar Afrikaans as onderrigtaal gebruik is. Is hierdie inligting korrek?
Afrikaans is in die 19de eeu al lankal gepraat, deur verskillende groepe sprekers, en op verskillende maniere. Daar was toe nie ’n algemene manier om Afrikaans te skryf nie, maar die verskeidenheid was herkenbaar Afrikaans, en nie ’n ander taal nie. Een van die groepe het Afrikaans al baie vroeg as onderrigtaal gebruik, die Kaapse Moesliems, soos Achmat Davids hulle in sy navorsing noem. Teen 1840, en selfs miskien vroeër, was Afrikaans die onderrigtaal in die bekende Dorp Straat Madrasah. Enkele jare vroeër is hierdie Afrikaans heel moontlik al as onderrigmedium in skooltjies van die London Missionary Society gebruik. Dit was lank voordat GRA-Afrikaans in die Hugenote-gedenkskool onderrig is.
Achmat Davids het grondige navorsing gedoen oor die deurslaggewende rol wat die Moesliems aan die Kaap in die ontwikkeling van Afrikaans gespeel het. Wat het sy navorsing aan die lig gebring?
In die Dorp Straat Madrasah is Afrikaans gebruik om gedeeltes van die Moesliemgodsdiensgeskrifte neer te skryf in oefeningboeke en van buite te leer, en andersom. Die boeke was bekend as "koplesboeke", omdat die leerlinge die lesse uit hulle koppe geleer het. Maleise ritmes uit die slawetyd het met die onthou daarvan gehelp, maar die hoofdoel was om met behulp van Arabiese karakters te leer skryf, waarin die kinders goed geslaag het. Die Arabiese karakters is aangepas om die Afrikaanse klanke noukeurig weer te gee, wat ondersoekers ’n goeie idee gee van hoe daardie variëteit van Afrikaans geklink het. Tuan Guru, Jan van Boughies en Abu Bakr Effendi is bekende name wat geassosieer word met die Moesliem-Afrikaanse geskrifte, en naas Achmat Davids (in verskeie studies van die 1980’s af) het A van Selms (1951), Piet Muller (1960), H Kähler (1971) en andere al in die tweede helfte van die 20ste eeu al op die verskrifteliking van hierdie Afrikaans gewys. Hulle het eintlik net gewys op die manier waarop die sprekers van die Bo-Kaap en omstreke al vir ’n eeu of langer met Afrikaans geleef het.
Die Hugenote-gedenkskool het wel 'n belangrike rol in die uitbreiding van Afrikaans as onderrigtaal gespeel?
SJ du Toit, die stigter van die GRA (die Genootskap van Regte Afrikaanders) was ’n groot pleitbesorger vir die Hugenote-gedenkskool waar GRA-Afrikaans ’n onderrigfunksie kon verkry. In sy pleidooie vir die totstandkoming van die Hugenote-gedenkskool het hy hom onverskrokke oor die voordele van moedertaalonderwys uitgelaat.
Onder skoliere van die Hugenote-gedenkskool tel AG Visser, DF Malherbe, Totius, en AI Perold (bekend in wynboukringe). Van hierdie oudleerlinge van die Hugenote-gedenkskool het later ’n groot rol gespeel in die latere standaardisering van ’n ander vorm van Afrikaans.
Word daar genoeg erkenning gegee aan die rol van die Moesliem-gemeenskap in die bestudering van ons taalgeskiedenis?
Sosiopolitieke strominge en die godsdienstige isolasie van Moesliem-Afrikaans het meegebring dat kennis van dié besondere Kaapse variëteit (en ander variëteite van Afrikaans) tot laat in die 20ste eeu nie in die hoofstroom van die geskiedenis van Afrikaans opgeneem is nie. Die situasie het sedertdien beduidend verander. Die uitgangspunt dat Afrikaans uit al sy variëteite bestaan, word in die laaste dertig-veertig jaar baie meer algemeen erken as vroeër.
The post Onderhoud: Waar het die spoor van Afrikaans as onderrigtaal begin? appeared first on LitNet.