Dagbreek
Vriendelike voëltjies tjirp my wakker
terwyl die sonnetjie skaam
by my kamervenster inloer.
Dis ’n splinternuwe dag!
Ek gooi die duvet van my af,
trek die gordyne oop
en begroet die dag!
Met ’n vars koppie tee
skuif ek die skuifdeure oop
en waardeer weereens die gras-
groen prentjie voor my.
Buite trek ek die oggendlug
diep in my longe in,
luister hoe knars die sandkorreltjies
onder my kaal voete.
Al drie katte kom sê hallo
rollend en geselsend
Ronde ogies wat na my kyk
onskuldig, opreg en vol liefde!
My vingers streel versigtig
oor die lowergroen blare
die pragtige rose vol môredou
wat absoluut hemels ruik ...
Die tortel- en lagduiwe
se gekoer bring ’n glimlag
op my gesig,
maak my huis net nog meer huis.
Na ’n lekker groot sluk tee
kry ek gemaklik my sit
op die pragtige tuinbankie,
maak my oë toe en luister ...
Die watervalletjie druis saggies
iewers in die tuin,
elders maak ’n kriekie
raserig gereed om te slaap.
’n Bytjie gons by my verby
fluks besig om te werk
Vlerkgeklap hier naby my
en ek maak my oë oop.
’n Duitsevlag sit op ’n tak
van die flamboja met sy rooiste rooi
en kyk my met ’n skewe koppie aan,
’n lekker vet wurm in sy bekkie!
Ek is nou gereed vir die dag:
vir wat dit ook al inhou.
Sluk my laaste tee en
stap my tuiste binne.
My tuiste: my veilige hawe,
my kasteel, my paradys!
Klik hier vir volledige inligting oor die kompetisie.
Klik hier om ander inskrywings te lees.
The post Huis, woning, tuiste: Dagbreek appeared first on LitNet.