Laat my dink aan my skooldae. Ek het my stadsjapievriend uitgenooi om die vakansie saam met my plaas toe te gaan. My pa het ons by die skoolkoshuis kom oplaai, en toe ek die hek by ons plaas oopmaak, kon ek sien my vriend is maar skrikkerig vir die klomp beeste wat daar rondstaan. Die meeste gee nie eens pad as my pa hard op die toeter van die Landrover druk nie. My vriend het alles so stil-stil gade geslaan, en ewe skielik opgewonde geskreeu: “So moet ʼn koei spring!” toe een darem besluit het om vinnig pad te gee. My pa het hard uitgebars van die lag, want die koei was toe al die tyd ʼn jong tollie.
Dit het my vroeg-vroeg al laat besef dat feite net soos die koeie op ons plaas is. Die wêreld is in ʼn gedurige toestand van verandering, en so ook feite.
Een van my oupagrootjies was ʼn selspesialis, en hy het geleer dat die menslike sel 48 chromosome bevat. Bioloë het in 1912 vir die eerste keer die menslike sel besigtig en 48 chromosome getel. Soos dit maar met feite gaan, dit word sonder meer aanvaar as korrek en in toetse en proefnemings word die korrektheid daarvan nie elke keer getoets nie. ʼn Bekende wetenskaplike het selfs so onlangs as 1953 onomwonde verklaar: “The diploid chromosome number of 48 in man can now be considered as an established fact.”
Ek dink dit was in 1954 of 1955 (ek is maar swak met datums) dat ʼn nuwe tegniek ontdek is om na selle te soek. Twee navorsers, een by die Memorial Sloan-Kettering Kankersentrum in New York, en die ander by die Kankerlaboratorium in Swede het besluit om hierdie nuwe tegniek te probeer en tot hulle verbasing kon hulle net 46 chromosome in die menslike sel tel. Toe is ontdek dat navorsers al hulle werk halfpad gestaak het, omdat hulle nie met 48 chromosome kon werk nie. Van toe af het die menslike sel 23 chromosomepare.
Ja, feite kan verander. Dis sommer nou die dag dat dokters vir hulle pasiënte gesê het dis goed vir hulle om te rook, en vandag sal my dokter die stuipe kry as iemand net iemand anders se rook inasem. Niemand weet meer of vleis gesond is vir jou of nie, en gister was rooiwyn ʼn goeie antioksidant, maar vandag is dit dodelik vir die lewer. Daar was ʼn tyd toe ons aarde die middelpunt was van die heelal, never mind die middelpunt van ons sonnestelsel. Vandag is ons posisie maar sommer net iewers daar eenkant. Latyn was eens die wetenskaptaal, toe verander dit na Duits, toe weer na Engels. Ek wens dit wil verander na Afrikaans en daarby bly. Vroeër was ons slegs aardsgebonde; nou kan ons al sulke reusespronge op die maan maak. Sommer onlangs was daar twee miljard mense op aarde; nou dink ek, trek ons al daar by die nege miljard of dalk meer. Kyk net hoe het die rugbyreëls deur die jare verander, en daar was ʼn tyd toe tennis gespeel is met houtrakette, en as iemand afslaan, moes sy een voet op die grond bly. Nou spring die afslaner amper ʼn halfmeter hoog om die bal by te kom. Die menslike brein is ook nie meer in beheer van ʼn spel soos skaak nie. ʼn Fisher kan nie die blikbrein klop nie. Gister was die prys van ruolie 56.43 dollar per vat. Op die huidige oomblik, terwyl ek nou hier skryf, is dit ʼn feit dat ruolie 55.73 dollar per vat is.
So om die braaivleisvure breek ons manne nou die aand ʼn bietjie weg van mooi meisies en vinnige karre, en gesels juis hieroor. Een van die slimjanne beweer dat feite nooit verander nie, en as bewysstuk noem hy (ongelukkig vir hom) dat dit ʼn feit soos ʼn koei is dat Mt Everest nog altyd die hoogste bergspits in die wêreld is. Volgens ʼn sekere Andrew Scott Waugh se berekeninge was die bergspits bekend as WV die hoogste. Dit was maar eers in 1856 dat hy besluit het dat hulle die hoogste berg gevind het, en hy het dit na een van sy voorgangers, George Everest, vernoem. Van toe af was die feit dat Everest die hoogste bergspits in die wêreld is, ʼn taamlike koei, maar nie ʼn koei sonder probleme nie. Niemand kan presies bepaal hoe hoog hierdie berg is nie. Opmetings het al soveel as 6 meter verskil. Daarby verander die hoogte van Everest elke jaar so ʼn bietjie weens verwering en die botsing tussen kontinentale plate (Asië en Indië). Dan beweeg Everest ook nog lateraal, wat kaarte nog verder deurmekaar krap.
Een feit bly darem staan: dis ʼn feit dat feite kan verander, en dis ʼn feit soos ʼn koei.
(Ns Is dit ʼn feit soos ʼn koei? Moet dit nie wees ʼn waarheid soos ʼn koei nie? Orraait, dan skryf ek volgende keer oor ʼn waarheid soos ʼn koei.)
Angus
The post 'n Feit soos 'n koei appeared first on LitNet.