Ek wonder of die DA se onervare en seremoniële leier Mmusi Maimane oor die moet, wil of vermoë beskik om sy party se “loskoppe” soos Solly Msimanga en Helen Zille in toom te hou en te temper?
Maimane (36), ook ’n pastoor in die konserwatiewe Liberty Church, is ongetwyfeld “onervare” omdat hy eers in 2014 ’n parlementslid geword het en in Mei 2015 tot DA-leier verkies is omdat Zille, voormalige DA-leier, glo daarop aangedring het dat hy haar as leier opvolg. Selfs buite die parlement het hy nie veel ervaring nie, want hy is in 2011 tot ’n Johannesburgse stadsraadlid verkies.
Hy is ’n “seremoniële leier” omdat hy slegs die “swart gesig” is van die DA wat hom dienstig gestel het om swart stemme te trek om regsebelange te bevorder. Zille, Wes-Kaapse Premier, is die de facto leier en James Selfe, voorsitter van die DA se federale raad, is eintlik die parlementêre leier of leier van die amptelike opposisie.
Maimane is ’n lewendige spreker sekerlik vanweë sy ervaring as prediker, maar sy toesprake is met substansie dun gesaai. Hy klink meer en meer soos ’n populistiese leë blik.
Kort na sy verkiesing as DA-leier in 2015 het ek geskryf:
“Mmusi Maimane is op dieselfde plek as wat die Britse Arbeidersparty in 2010 met Ed Miliband was – tussen die duiwel en die diepblou see”.
Niks het intussen verander nie.
Trouens, Maimane word meer seremonieel, terwyl jong wit Engelse mans, met Ikeys of Wits akademiese grade, die DA verder regs druk om (wit?) minderheidsbelange te bevorder.
Die DA is koersloos sonder enige werkbare idees om antwoorde vir die komplekse politieke, maatskaplike en ekonomiese uitdagings na apartheid te bied.
Hul teenstand teen die regering se voorgestelde minimum loon van R3 500 is ’n absolute skande en getuig van hul politieke skynheiligheid omdat hulle voortdurend die intellektuele vermoëns van die armes onderskat.
Msimanga en Zille het tot in die onlangse verlede die DA groot skade berokken.
Die jongste DA-flater is Msimanga, uitvoerende burgemeester van Tshwane, se besoek aan Taiwan se hoofstad, Taipei. Dié besoek vlieg in die gesig van die regering se buitelandse beleid wat nie die Taiwanse regering erken nie. Dié beleid – om die Republiek van China te erken as wettige regering van die gebied waaronder Taiwan ook val – is in1998 deur oudpresident Nelson Mandela bekragtig.
Ironies genoeg probeer die DA en die Afrikaanse media – wat besaai is met huigelary, politieke korrektheid en intellektuele oneerlikheid – Msimanga se minagtende houding teenoor die grondwet en die regering se buitelandse beleid met absurde denke en drogredenasies regverdig.
Die vertrekpunt van die argument of beginselsaak is dat alle regeringstrukture, insluitend DA-beheerde munisipaliteite, die nasionale regering se (buitelandse) beleid moet erken en respekteer.
Enige aantygings dat die regering korrup is of dat Msimanga in die belang van werkskepping Taiwan besoek het, moet tot die periferie reduseer word omdat dit niks met dié debat te doen het nie.
Suid-Afrika is ’n eenheidstaat en nie ’n federale staat nie. Provinsies en munisipaliteite kan dus nie ’n beleid wat teenstrydig met nasionale beleid is, beoefen nie. Die regering moet dus streng optree teen enige (regering-) struktuur wat nasionale regeringsbeleid ondermyn.
Al sou ons ’n federasie gewees het, word beleid ten opsigte van die nasionale begroting, verdediging en internasionale politiek (buitelandse beleid) deur die federale regering bepaal en implementeer.
Intussen wag ons dat Maimane vir Zille in die openbaar repudieer of om haar te dissiplineer vir haar onverantwoordelike en onbeskofte gedrag op Twitter. Haar uitsprake is minagtend en dit grens aan politieke opportunisme en ook aan ’n algehele disrespek jeens ons ontluikende demokratiese bestel en teenoor mense wat daagliks met die fisiese en emosionele skade van apartheid moet saamleef.
The post Leiers en loskoppe appeared first on LitNet.