Drie gelukkige studente sal in Januarie 2017 met behulp van beurse van die Afrikaanse Taalraad met hul BCom-grade by die private universiteit Akademia kan begin. “Die Taalraad help hiermee om presteerders uit die Afrikaanse taalgemeenskap toegang tot kwaliteit tersiêre opvoeding in Afrikaans te gee,” sê dr Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof van die Taalraad.
Die beurswenners kan vir enige van Akademia se BCom-kursusse inskryf, te wete Ondernemingsbestuur, Bestuursrekeningkunde, Ekonomie en Regte, of Finansiële Beplanning. Die na-uurse kontaksessies kan voorts by enige van Akademia se goed toegeruste studiesentrums in die land bygewoon word. Die Taalraad-beurse dek drie jaar se studiekoste.
Beursaansoekers se sosio-ekonomiese omstandighede sal in die keuringsproses in ag geneem word. Doen voor 8 Januarie 2017 op Akademia se webwerf aansoek om vir die beurs in aanmerking geneem te word.
The post Persverklaring: Wie wil in 2017 ’n BCom doen? appeared first on LitNet.