ABBA is in 1972 gestig met Benny Anderson, Anni-Frid Lyngstad (Frida), Agnetha Faltskog en Bjorn Ulvaeus as lede. Na raming het hierdie uiters gewilde popgroep sedertdien tussen 140 en 500 miljoen plate, CD’s en kassette wêreldwyd verkoop. ABBA het in Desember 1982 formeel ontbind, oftewel opgehou om as pogroep op te tree en/of om nuwe plate uit te reik.
In die 1960’s was Björn Ulvaeus en Benny Anderson van ABBA deel van ’n onbekende popgroep, die Hootenanny Singers. In die jare voor die vorming van die immergewilde ABBA het Björn en Benny saam in ’n Volkswagenbus gebly en ’n armsalige bestaan in Swede gevoer. Dinge het nie heeltemal goed vir hierdie twee here uitgewerk nie, en hulle het dit op daardie stadium baie sterk oorweeg om vir hulle “regte voltydse beroepe” te kry. Die man wat hulle egter oortuig het om vas te byt en deur te druk met hulle drome, was ’n man met die naam Stig Erik Leopold Anderson.
Stig Anderson was van die begin af ABBA se bestuurder, en word vandag allerweë beskou as die suksesverhaal agter ABBA se gewildheid. Maar wie was Stig Anderson?
Stig is op 25 Januarie 1931 in Hova, Swede gebore. Hy het op die ouderdom van 15 jaar die skool verlaat. Hy het in latere jare teruggegaan skool toe en daarna ’n wetenskap- en wiskundeonderwyser geword.
In 1951 begin hy liedjies komponeer en in 1959 komponeer hy sy eerste groot treffer “Är du kär i mig ännu, Klas-Göran” (“Are you still in love with me, Klas-Göran”). Na hierdie sukses het Stig die popmusiekwêreld voltyds betree as komponis en bestuurder van popgroepe. In die jare sestig komponeer hy meer as 3 000 liedjies. In 1963 stig hy die gewilde Polar Music plateagentskap, asook die Swede Music plateagentskap. Hy was ’n uiters suksesvolle komponis en bestuurder.
Voor 1972 was hy elkeen van die ABBA-lede se individuele bestuurder. Hy het die ABBA-lede in 1972 oortuig om saam ’n popgroep (ABBA) te stig.
In die beginjare het Stig gehelp om meeste van ABBA se grootste treffers te komponeer, soos “Ring-Ring” (1973), “Waterloo” (1974), “Honey, Honey” (1974), “I Do, I Do, I Do” (1975), “Mamma Mia” (1975), “S.O.S.” (1975), “Fernando” (1976), “Dancing Queen” (1976), “Knowing Me, Knowing You” (1977) en “The Name of the Game” (1977).
Soos dit egter met meeste popgroepe en bestuurders gaan, was daar in latere jare ’n onsmaaklike hofsaak oor “royalties” en winste. Hierdie hofsaak het in Julie 1991 ’n stil dood gesterf toe die onderskeie partye (ABBA versus Stig Anderson) buite die hof geskik het. Wat die skikkingsooreenkoms se inhoud behels het, weet niemand nie, want die terme van die skikkingsooreenkoms is nooit geopenbaar nie.
Stig het op 12 September 1997 op die ouderdom van 66 jaar aan ’n hartaanval gesterf. Hy is tydens sy loopbaan deur die Billboard-musiektydskrif genomineer vir die “Trendsetter Award”. In die internasionale musiekbedryf is daar nog net 2 persone vir hierdie gesogte toekenning genomineer, naamlik Stig Anderson en Brian Epstein, die Beatles se musiekbestuurder.
Met Stig Anderson se dood het hy die kopiereg van meer as 9 000 internasionale poptreffers besit en het hy in Swede die bynaam “The Business” gehad. Hy was die ABBA-lid wat die meeste geld verdien het uit die groep se poptreffers. Verder het hy ook miljoene euro’s verdien uit ander popsangers se treffers.
Stig Anderson was getroud met Gudrun, hulle het twee seuns (Anders en Lasse) en ’n dogter (Marie Ledin) gehad. Van sy drie kinders het net Marie Ledin later, in eie reg, ’n groot naam in die Europese musiekbedryf geword.
Vandag sien almal uit na ABBA se groot reünie-konserte, maar helaas sal Stig Anderson nie daar wees om hulle vir ’n laaste skof te bestuur nie.
- Jan van der Merwe, skrywer van die Vrystaatse- en Noord-Kaapse Dorpe-boeke.
The post Stig Anderson, ABBA se bestuurder appeared first on LitNet.