|
Opsomming
Napraatswartafrikaans word gebruik wanneer Afrikaansmoedertaalsprekers Swartafrikaans namaak en onder mekaar gebruik. Hierteenoor staan die oorspronklike ontstaansvorm en -funksie van Swartafrikaans, naamlik om as ’n ondersteuningstaal tussen ’n Afrikataalmoedertaalspreker en ’n Afrikaansmoedertaalspreker gebruik te word. Die konteks van en die persepsies rondom Napraatswartafrikaans is nog nie in die reeds bestaande literatuur beskryf nie. In hierdie ondersoek word bogenoemde elemente vanuit die gegronde teorie ondersoek. Hierdie kwalitatiewe ondersoek is uitgevoer met behulp van vraelyste, ’n fokusgroeponderhoud en e-pos-onderhoude. Na afloop van die ondersoek is onder meer die volgende bevind: die kontekstuele elemente kan in afdelings van ’n makro- en ’n mikrokonteks verdeel word. Die makrokonteks, in hierdie geval grootliks die sosiohistoriese agtergrond van Suid-Afrika, beïnvloed die persepsies wat sprekers rondom Swartafrikaans en daarom ook dikwels Napraatswartafrikaans het. Elemente van die mikrokonteks, waarin ’n spreker Napraatswartafrikaans gebruik, word op hulle beurt weer deur hiérdie persepsies geaffekteer. Die studie lewer ’n belangrike bydrae tot bewusmaking van die sensitiwiteit wat rondom soortgelyke variëteite kan bestaan en dat sprekers dit tydens kommunikasie in gedagte moet hou.
Trefwoorde: Afrikaansmoedertaalspreker (AM); Afrikataalmoedertaalspreker (ATM); gepidginiseerde Afrikaans; intertaal; konteks; Napraatswartafrikaans (NSA); persepsies; pidgin; Swartafrikaans
Abstract
Imitated Black Afrikaans: context and perceptions of the alternative use of Black Afrikaans
Black Afrikaans is a dialectic non-mother-tongue variety of Afrikaans (De Wet 1993:171, 1996:7; Du Plessis 1987:24–5), Imitated Black Afrikaans is used when Afrikaans mother-tongue speakers imitate Black Afrikaans, among one another. This is different from the original form and function of Black Afrikaans fulfilling the role of a supplementary language between African language mother-tongue speakers and Afrikaans mother-tongue speakers. The employment of Imitated Black Afrikaans is therefore considered as an alternative use of Black Afrikaans. The context of and the perceptions surrounding Imitated Black Afrikaans have not yet been described extensively in existing literature.
This article first provides a theoretical overview of what the alternative use of Black Afrikaans entails, after which the context and perceptions of the alternative use of Black Afrikaans are empirically investigated. In this study Black Afrikaans used in this way is considered to be a language variety in itself and Imitated Black Afrikaans is proposed as a name for the variety. The article serves as a follow-up to Maritz (2016), in which the functions and a basic linguistic description of Imitated Black Afrikaans are discussed. Both articles are based on Maritz’s 2015 master’s dissertation (written under her maiden name, Kriel).
The study involves a qualitative investigation to be able to bring into account the relevant social and cultural contexts. The data was inductively analysed by means of grounded theory. The main goal of the study was to investigate the context around and the perceptions of Imitated Black Afrikaans and to determine the interaction between these two factors.
The study was done with students from the Potchefstroom campus of the North-West University. It was conducted using questionnaires given to students in Afrikaans mother-tongue classes, a focus group interview with brown Afrikaans mother-tongue students and e-mail interviews with two black Afrikaans mother-tongue students. After the data had been gathered, the questionnaires were electronically organised and the focus group interview was transcribed. The information was coded with the help of Atlas.ti qualitative data analysis software, after which hermeneutic networks were compiled to present the analysed data.
After the investigation was completed, the following findings emerged: The contextual elements can be organised into macro- and micro-contexts. The macro-context, in this case mainly the socio-historical background of South Africa, influences the perceptions speakers have of Black Afrikaans and often also their perceptions of Imitated Black Afrikaans. Elements of micro-contexts, within which a speaker uses Imitated Black Afrikaans, are also influenced by these perceptions. An interplay between contexts and perceptions can be identified accordingly. A schema to illustrate the maintenance of stereotyping is presented as an addition to Chick’s (1995:238) model of the cycle of socially constructed discrimination.
The connection between speakers’ language repertoires and the variety bound to certain contexts, the influence of speakers’ perceptions regarding language ownership, language barriers and the influence this has on Imitated Black Afrikaans is apparent. The importance of the individual’s reference framework and the environment in which speakers are comfortable using this variety are also pointed out as factors to be considered.
Perceptions surrounding Black Afrikaans have an influence on the time and place speakers are comfortable using Imitated Black Afrikaans or not, and the overall, general context determines the perceptions surrounding Imitated Black Afrikaans. The identified contexts influencing the use and role players in the variety could also be applicable to other, similar language varieties, e.g. Black South African English. Knowledge of the broader and more specific contextual use and perceptions surrounding the imitation of Black Afrikaans contributes to the awareness of the sensitivity that could surround similar language varieties and speakers should keep it in mind when choosing to converse in a specific language variety. As Makoni and Pennycook (2007:27) point out, our understanding of the social and political aspects of language is not just important to better understand a language, but it is also important for situations where the way we think about a language can be changed.
Keywords: Black Afrikaans; context; interlanguage; Imitated Black Afrikaans; language perceptions; pidgin; Pidginised Afrikaans
1. Inleiding
Swartafrikaans bestaan nie net in sy ontstaansvorm nie, maar word ook nagemaak of nagepraat. Hierdie “napraat” van Swartafrikaans verteenwoordig ’n alternatiewe gebruik van Swartafrikaans, aangesien die napraatfunksie ’n alternatief bied vir die oorspronklike ontstaansfunksie van Swartafrikaans (Maritz 2016).1
Die doel van die artikel is om die kontekstuele en die nou-verbonde perseptuele faktore rondom die napraat van Swartafrikaans te identifiseer. Dié elemente rondom Swartafrikaans, soos dit op ’n alternatiewe wyse gebruik word, is nog nie ondersoek nie. Hierdie ondersoek is belangrik, aangesien kennis van die konteks en die persepsies rondom die napraat van Swartafrikaans ’n groter sensitiwiteit by die sprekers van hierdie en soortgelyke variëteite kan meebring.
Swartafrikaans en die naasverwante variëteit Gepidginiseerde Afrikaans het tot op hede heelwat aandag in literatuur gekry (vgl. De Wet 1993; 1996; 2009:153–60; Dyers 2010; Hendricks 2012:44–63; Klopper 1981; Kotzé 1977; Kriel 2015; Kroes 1979; Olivier 2015; Otto 2014; Setshedi 1987; Stoltz 1982; Van Jaarsveld, Jenkinson en De Wet 2001; Van Rensburg 1989; Van Wyk 1983; Wela 1995). Swartafrikaans wat nagepraat word en eienskappe met Swartafrikaans sowel as Gepidginiseerde Afrikaans deel, is egter nog nie bestudeer nie (Kriel 2015:20; Maritz 2016). Swartafrikaans word op ’n alternatiewe wyse gebruik wanneer dié variëteit onder Afrikaansmoedertaalsprekers gebruik word, eerder as onder Afrikataalmoedertaalsprekers2 (ATM’s) en Afrikaansmoedertaalsprekers (AM’s) (Kriel 2015:67–8; Maritz 2016).
Om kennis oor die gebruikskonteks van die alternatiewe funksies van Swartafrikaans in te win, het die navorsers teoriegebaseerde vrae gebruik waarmee die deelnemers van die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit genader is. Hierdie navorsingsproses is aan die hand van vraelyste, e-pos-onderhoude en ’n fokusgroeponderhoud uitgevoer.
Die konteks en die persepsies moet saam oorweeg word, aangesien hierdie twee komponente ’n wederkerige uitwerking het. Die oorhoofse konteks, in hierdie geval die sosiohistoriese agtergrond van Suid-Afrika, het ’n invloed op sprekers se persepsies rondom die alternatiewe gebruik, met ander woorde die napraat van Swartafrikaans. Hierdie persepsies het weer ’n invloed op die konteks waarbinne sprekers gemaklik voel om Swartafrikaans vir ’n alternatiewe funksie te gebruik. Suid-Afrika se sosiohistoriese agtergrond het dus ook ’n uitwerking op persepsies rondom bepaalde tale.
Die artikel bied eers ’n teoretiese oorsig van wat die alternatiewe gebruik van Swartafrikaans behels. Daarna word die konteks en die persepsies van die alternatiewe gebruik van Swartafrikaans empiries ondersoek en uiteengesit. In hierdie studie word daarvan uitgegaan dat Swartafrikaans wat op dié alternatiewe wyse gebruik word, op sigself as ’n variëteit beskou kan word. Napraatswartafrikaans (NSA) word as benaming hiervoor voorgestel.
2. Literatuuroorsig
2.1 Napraatswartafrikaans as variëteit
Omdat NSA as ’n variëteit van Afrikaans bestempel kan word, is dit van belang om op die konsep variëteit ag te slaan. Variëteit word beskou as oorkoepelende term vir al die moontlike vorme van “sistematiese variasies wat daar tussen tale en binne tale kan bestaan” (Du Plessis 1988:9). Verder meld Du Plessis (1988:10) dat ’n “[v]ariëteit van ’n taal ’n patroonmatige sisteem van linguistiese items met ooreenstemmende sosiale en/of geografiese verspreiding” is en dat eenhede groter en kleiner as “dialekte” ook hierby ingereken word.
Ooreenkomstig Du Plessis se omskrywing van variëteit kan Swartafrikaans wat nagepraat word, as ’n variëteit uit eie reg beskou word.
Eerstens word Swartafrikaans as ’n omgangs-, niemoedertaalvariëteit van Afrikaans erken wat op variasie binne die taal dui (De Wet 1993:171; De Wet 1996:7). Tweedens kry die napraat van Swartafrikaans sy patroonmatigheid juis van Swartafrikaans af, aangesien AM’s Swartafrikaans so goed en akkuraat moontlik napraat.
Die patroonmatigheid van Swartafrikaans kan wel beïnvloed word deur die verskillende Afrikatale wat as basis vir Swartafrikaans kan dien. Om hierdie rede word die tale binne die Bantutaalgroep3 as vertrekpunt vir die aanvanklike beskrywing van die variëteit gebruik. Verdere navorsing word in dié verband benodig, aangesien daar heelwat elemente is wat verdere variasie in hierdie variëteit kan meebring.
Om die variëteit NSAte identifiseer, is dit van belang om die naasverwante variëteite te definieer (Kriel 2015:66–70; Maritz 2016). Swartafrikaansis ’n niemoedertaalvariëteit van Afrikaans en kan as ’n intertaal beskou word (De Wet 1993:170–2, 186; De Wet 1996:7, 15, 17; De Wet 2009:153, Du Plessis 1988:25–6; Otto 2014:338; Van Wyk 1983:162–4). Volgens Stoltz (1982:21) en Van Wyk (1983:163) is Swartafrikaans Afrikaans soos dit deur Afrikataalsprekers gepraat word (vgl. ook Van Rensburg 1989:460–1). Hierteenoor is Gepidginiseerde Afrikaans Swartafrikaans soos AM’s dit napraat, gekombineer met aanpassing of vereenvoudiging van hulle moedertaal (vgl. De Wet 2009:155; Stoltz 1982:1, 22, 50; Van Wyk 1983:163). “Swart” Afrikaans is ’n omgangsvariëteit van Afrikaans wat deur verskillende “swart” of Afrikatale gevoed word. Soos die studie aandui, is dit nie noodwendig slegs swart sprekers van Afrikaans wat van hierdie variëteit gebruik maak nie. Hierdeur word iets van die problematiek rondom die begrip Swartafrikaans aangedui.
’n Belangrike verskil tussen Gepidginiseerde Afrikaans en NSA is gesetel in die aanpassing of vereenvoudiging van Afrikaans as moedertaal teenoor die doelbewuste en so akkuraat moontlike namaak of napraat van Swartafrikaans (Kriel 2015:67). Die begrip napraat kan vergelyk word met soortgelyke taalverskynsels, soos Mock Ebonics, taalkruising (“language–crossing”) en taalstilering (vgl. Maritz, 2016). Mock Ebonicsis ’n sisteem van grafemiesfoneties grammatikale, semantiese en pragmatiese strategieë vir die voorstelling van ’n buitegroep se oortuigings met betrekking tot die gebrekkigheid en minderwaardigheid van Ebonics en die gebruikers daarvan (Ronkin en Karn 1999:360). Taalkruising verwys weer na die afwisseling tussen kodes deur mense wat nie aanvaarde lede van die groep is waarmee die tweede taal geassosieer word nie (Rampton 1995:485). Hierby sluit die begrip stilering nou aan. Stilering verwys na die bewuste gebruik van kultureelbekende style en identiteite wat as gemerk binne ’n bepaalde konteks beskou word aangesien dit van die verwagte of geantisipeerde style en identiteite binne daardie spesifieke konteks afwyk (Coupland 2001:345).
’n Tipe stilering wat moontlik nóg nader aan NSA lê, is dialekstilering. Dié begrip behels die proses waartydens ’n taalvariëteit gebruik word om nieteenwoordige eerstepersoonpersonas deur middel van fonologiese en ander verbandhoudende elemente voor te stel (Coupland, 2001:345). In die lig daarvan dat Mock Ebonics en taalkruising nie ’n positiewe konnotasie dra nie, word die term napraat as ’n minder gelade woord gebruik om die bestudeerde variëteit mee te beskryf. Die rede hiervoor is dat NSA sowel positiewe as negatiewe funksies kan vervul. In hierdie verband kon stilering ook as alternatiewe term gebruik gewees het, maar vir die doeleindes van hierdie navorsing word napraat ingespan om juis die nabootsing te beklemtoon eerder as die blote gebruik in die trant van ’n bestaande variëteit.
Om die verskil tussen Swartafrikaans en NSA aan te dui, is dit onder meer belangrik om na die sprekers te verwys (Kriel 2015:67; vgl. Maritz 2016). Wanneer Swartafrikaans gebruik word, geskied dit tussen ATM’s en AM’s. Hierteenoor word Swartafrikaans nagepraat tussen twee of meer AM’s. Aangesien hierdie gebruik van Swartafrikaans alternatief tot die oorspronklike gebruik van Swartafrikaans is, is die funksies van dié variëteit ook alternatief tot die oorspronklike funksie van Swartafrikaans.
’n Variëteit soortgelyk aan Swartafrikaans wat moontlik ook ’n alternatiewe funksie kan vervul, is Black South African English (BSAE) (Kriel 2015:41; Maritz 2016), ’n Engelse variëteit wat deur Afrikataalsprekers van Suid-Afrika gebruik word (Buthelezi 1995:242). De Klerk (1999:311) omskryf BSAE as “the variety of English commonly used by mother-tongue speakers of South Africa’s indigenous African languages in areas where English is not the language of the majority”. Hierdie definisie van BSAE en ook die ooreenstemmende politieke konteks waarbinne Swartafrikaans en BSAE ontstaan het (vgl. Coetzee-Van Rooy en Van Rooy 2005:1; Fought 2006:92), kan Swartafrikaans in sommige opsigte tot ’n Afrikaanse ekwivalent van BSAE verklaar.
Ten opsigte van die variëteit NSA, wat beïnvloed word deur die gebruik van Gepidginiseerde Afrikaans en Swartafrikaans (wat weer beïnvloed word deur bepaalde Afrikatale), bestaan daar dus ’n wisselwerking tussen die konteks van die variëteit en die persepsies in verskillende taalgemeenskappe.
2.2 Wisselwerking tussen konteks en persepsies
In omstandighede waar variëteite soos NSA gebruik word, speel konteks ’n belangrike rol. Hiermee saam bestaan en ontwikkel bepaalde persepsies wat dan ook reaksies by gespreksdeelnemers kan ontlok. Een reaksie is die aanpassingsbeginsel, soos ook met betrekking tot Gepidginiseerde Afrikaans hanteer word. Daar is dan ook verder verskeie veranderlikes wat meewerk om die persepsies rondom bepaalde variëteite en die gebruik daarvan te vorm.
Gepidginiseerde Afrikaans neem vorm aan deur middel van die aanpassingsbeginsel. Die aanpassingsbeginsel tree in werking wanneer AM’s hulle taal vereenvoudig om by sprekers, wat probleme ondervind om die taal te praat, aan te pas (Van Wyk 1983:162). Aangesien daar so ’n noue verband bestaan tussen Gepidginiseerde Afrikaans, Swartafrikaans en NSA, deel ’n mens in Stoltz (1982:iv) se bekommernis oor die negatiewe uitwerking wat die onoordeelkundige gebruik van Gepidginiseerde Afrikaans op die ATM’s se houding teenoor Afrikaans het.
In hierdie geval sal die bekommernis wees oor die uitwerking wat die napraat van Swartafrikaans deur AM’s op verhoudings tussen die betrokke taalgebruikers kan hê. In sommige gevalle is dit moontlik dat AM’s juis hierdie sensitiwiteit benut om ’n bepaalde funksie uit te voer. Die houding van ATM’s teenoor Afrikaans moet ook teen die agtergrond van die breër sosiohistoriese konteks beskou word.
Die konteks waarbinne Swartafrikaans nagepraat word, is dig met die persepsies rondom die alternatiewe funksies van Swartafrikaans verweef. Verskille tydens interkulturele kommunikasie word deur verskeie faktore beïnvloed, byvoorbeeld persepsies, agtergrond en onderrig, taal en norme (Mannikam 1991:69).
Wanneer die bestudeerde taalverskynsel realiseer, word Swartafrikaans tussen sprekers van dieselfde taal en dus heel moontlik ook dieselfde kultuur gebruik. Interkulturele sensitiwiteit wat sprekers rondom die napraat van Swartafrikaans kan ervaar, is daaraan toe te skryf dat Swartafrikaans met ATM’s geassosieer word en die napraat van Swartafrikaans met AM’s. Dit is moontlik dat beide sprekergroepe mekaar korrek en/of verkeerd binne ’n gespreksituasie kan verstaan. Hierdie verstaan kan bepaalde persepsies by sprekers versterk of skep wat weer ’n invloed op sprekers se interpretasie van toekomstige gespreksituasies kan uitoefen.
2.3 Die sosiohistoriese invloed van Suid-Afrika op die napraat van Swartafrikaans
Suid-Afrika se sosiohistoriese agtergrond het ’n deurslaggewende invloed op hoe AM’s en ATM’s die napraat van Swartafrikaans ervaar, interpreteer en hanteer (vgl. Kriel 2015:74–6; Maritz 2016). Die politiek van ’n land, in hierdie geval van Suid-Afrika, vorm deel van die burgers van ’n land se sogenaamde kollektiewe geheue.
Afrikanernasionalisme kan as ’n oorsaak beskou word dat Afrikaans die taal van die onderdrukker geword het, met die gevolg dat dit ook ’n uitwerking op die sekondêre gebruikers van Afrikaans het (Du Plessis en Du Plessis 1987:14; Steyn 2014:313–8, 389–93; Webb 1992:9). Hierdie konnotasie kan maklik lei tot veralgemening en stereotipering wat AM’s tydens die napraat van Swartafrikaans selfs doelbewus as basis kan gebruik om ’n bepaalde boodskap oor te dra of seker te maak dat ontvangers die boodskap op ’n bepaalde manier interpreteer. Die negatiewe konnotasie wat deel uitmaak van hoe ATM’s Afrikaans en daarom ook die AM’s van Afrikaans ervaar, word in stand gehou deur die onreg wat met Afrikaans verbind word en vroeër in Suid-Afrika teenwoordig was.
Chick (1995:238) verduidelik in ’n skema (vgl. figuur 1) die historiese en strukturele kragte in Suid-Afrika wat gelei het tot die aanneem van ’n ideologie van skeiding, segregasie deur wetgewing en sosiale en ekonomiese skeiding tussen die verskillende kultuurgroepe, met die gevolg dat “[t]his has left them ignorant of the cultural backgrounds and communicative conventions of culturally different others, and thus susceptible to intercultural miscommunication” (Chick 1995:238).
Figuur 1. Negatiewe siklus om sosiaal-gekonstrueerde diskriminasie uit te beeld (vertaal uit Chick 1995:238)
Verder verduidelik Chick (1995:238) dat mense op grond van wat hulle kon waarneem, verkeerdelik aannames betreffende die vermoëns van onderdrukte groepe gemaak het en sodoende bygedra het tot diskriminasie en die versterking van ongelykheid binne die sosio-ekonomiese en politiese sisteme. Indien aannames wat verkeerdelik gemaak word, voortduur, versterk hierdie aannames die negatiewe stereotipes wat oor ’n spesifieke kultuurgroep bestaan: “Repeated miscommunication generates and reinforces negative cultural stereotypes, which constitute further barriers to intercultural communicating” (Chick 1995:238). Kulturele stereotipes wat herhaaldelik versterk word, hou op hulle beurt die sosiale grense en ongelykhede in stand wat dit juis reeds uit die staanspoor vir mense moeilik gemaak het om mekaar se gebruike aan te leer (Chick 1995:238).
Die gevolg van die negatiewe siklus wat in werking tree, soos Chick dit uitbeeld, is kommunikasiefoute. Hierdie kommunikasiefoute het ook ’n invloed op hoe iemand die bedoeling van sprekers tydens kommunikasie verkeerdelik kan interpreteer. Verder toon hierdie “gevolg” byna paradigmatiese eienskappe vir beide ATM’s en AM’s. Die negatiewe taal- en sprekerstereotiperings van die verlede en sprekers se verwysingsraamwerk maak deel uit van die bril waarmee een spreker ’n ander spreker se taal in oënskou neem. Saam met Chick (1995:238) se uiteensetting word ’n skema (vgl. figuur 2) aangebied wat die instandhouding van stereotipering aandui teen die sosiohistoriese agtergrond van Suid-Afrika.
Figuur 2. Skema om die instandhouding van stereotipering aan te dui teen die agtergrond van die sosiohistoriese konteks van Suid-Afrika (Kriel 2015:136)
Weens die noue verband wat daar tussen taal, kultuur en bepaalde groepe bestaan, kan taal maklik as ’n manipulerende en diskriminerende middel aangewend word (Webb 1992:10–1). Die gebruik van taal met ’n afbrekende bedoeling kan moontlik ’n inherente beskermingsmetode van die self of eie identiteit vorm. Aangesien individue ’n bepaalde taal of variëteit as voorstelling van hulle identiteit beskou, is dit moontlik dat wanneer hierdie taal of variëteit deur lede van ’n ander etniese groep nagepraat word, individue hulle direk daarmee vereenselwig (Jansen 2010; Kotzé 1996:154–5). Om hierdie rede is individue, en daarom ook die groep met die ooreenkomstige eienskappe sensitief vir die gebruik en napraat van die groep se taal of variëteit (Jansen 2010; Kotzé 1996:154–5).
Du Preez (1997:6) wys daarop dat daar ’n verskil tussen interkulturele kommunikasie en intrakulturele kommunikasie bestaan. Tydens interkulturele kommunikasie ontbreek ’n kollektiewe bewussyn dikwels en moet persone wat by die kommunikasieproses betrokke is, bepaalde aanpassings maak om misverstande te voorkom (Du Preez 1997:3). Hierdie afwesigheid van ’n kollektiewe bewussyn bring die moontlikheid mee dat ’n misverstand tussen sprekers van verskillende kulture en tale makliker kan ontwikkel as tussen sprekers met dieselfde kulturele agtergrond. Vanweë Suid-Afrika se geskiedenis, waar daar teen ATM’s gediskrimineer is, kan hierdie interkulturele misverstande emosioneel swaarder belaai wees as onder normale omstandighede.
As gevolg hiervan is dit moontlik dat Afrikataalsprekendes wat aanhoor hoe AM’s Swartafrikaans napraat, beledig kan voel aangesien hulle bykomstige betekenis daarin lees. Aan die ander kant is dit ook moontlik dat die AM’s juis die sosiohistoriese konteks aanwend om te beledig. Afhangend van die faktore waarna verwys word, kan ’n kollektiewe bewussyn as aan- of afwesig beskou word. In die geval van die onderhawige ondersoek is die kollektiewe bewussyn van taal moontlik tussen die twee betrokke groepe byvoorbeeld afwesig, maar die kollektiewe bewussyn van die politieke geskiedenis van Suid-Afrika is aanwesig.
Die napraat van Swartafrikaans kan in die vry staatsbestel ná apartheid gebruik word en juis ’n goeie spieëlbeeld wees van hoe sake positief verander het, afhangend van die doel waarmee die sprekers Swartafrikaans gebruik. Ná 1994 het die politieke verandering in Suid-Afrika verandering in magsverhoudings meegebring. Hierdie verandering het ’n direkte impak op die politiese en persoonlike konnotasies gehad wat beide Afrikaansmoedertaal- en ATM’s aan die napraat van Swartafrikaans toeskryf. AM’s kan Swartafrikaans gebruik om ander redes as om te beledig.
Interaksie tussen rasse kan moontlik vryer gebruik of misbruik van mekaar se taal meebring. AM’s kan Swartafrikaans, wat eie is aan ATM’s, gebruik as aanvullend tot hulle taalrepertoire. ’n Taalrepertoire is die geheel van linguistiese vorme wat gereeld gebruik word in die loop van sosiaal betekenisvolle interaksie (Gumperz 1964:137). Volgens Bernstein (1964:65) kies sprekers uit ’n stel teoretiese moontlikhede waarmee hulle ’n unieke ervaring aan ander illustreer. Vir AM’s kan Swartafrikaans ’n uitbreiding van sprekers se taalrepertoire wees. Wanneer sprekers hulself op ’n bepaalde oomblik en binne ’n bepaalde konteks so akkuraat moontlik wil uitdruk, kan hulle onder meer ook elemente van Swartafrikaans oorweeg, kies en napraat. Gedurende só ’n proses maak sprekers van linguistiese hulpbronne vanuit verskillende bronne gebruik (Benor 2010). Hierdie proses om gebruik te maak van Swartafrikaans as linguistiese hulpbron, word deur Olivier (2015:65–7, 77) as transtaling of taaloordrag beskryf.
Die variante binne ’n taalrepertoire weerspieël kontekstuele en sosiale verskille in ’n taal (Gumperz 1964:137). Met Benor (2010) en Gumperz (1964:137) se stellings in gedagte, kan AM’s Swartafrikaans napraat wanneer NSA op ’n spesifieke oomblik die mees gepaste taalelemente binne sprekers se taalrepertoire bied om hulself so akkuraat moontlik uit te druk. Soos sprekers NSA as gepas binne ’n sekere konteks beskou, kan NSA ook op ’n onvanpaste tyd deur AM’s gebruik word.
Ntshangase (2002:407) se verduideliking van Iscamtho, ook bekend as Tsotsitaal (vgl. Olivier 2015:69–70), is direk van toepassing op die napraat van Swartafrikaans in ’n sekere konteks:
Languages are not abstract entities but important social and historical phenomena which bind, and sometimes reflect cleavages within, communities. Thus, Iscamtho reflects an urban identity and, at the same time, the social barriers between its users and non-users.
Die napraat van Swartafrikaans kan ’n samebindende rol speel vir die groep wat dié variëteit gebruik. Hierteenoor is dit moontlik dat NSA skeiding kan bewerkstellig tussen ATM’s wat as die primêre gebruikers van Swartafrikaans beskou word) en AM’s (wat as die niegebruikers van Swartafrikaans beskou word). Die geslaagdheid van die funksie waarvoor AM’s Swartafrikaans napraat, hang grotendeels af van ATM’s se interpretasie daarvan.
2.4 Taalrepertoire en konteksgebonde seleksie
Deur van die veronderstelling uit te gaan dat tweetalige of meertalige sprekers ’n ingewikkelde repertoire van linguistiese strukture het om uit te kies, beskryf Matras (2009:4–6) die tussenspel in kommunikasie tydens ’n taalkontaksituasie soos volg: Tydens dié proses word hierdie sprekers uitgedaag om die korrekte elemente van hulle taalrepertoire te kies en tydens die regte geleentheid te implementeer. Hierdie proses word beskou as deel van ’n linguistiese sosialiseringsproses en maak ’n sentrale deel uit van kommunikasie in ’n meertalige situasie. Soos reeds genoem vertoon só ’n seleksieproses ook ooreenkomste met transtaling, wat volgens García (2009:140) beskryf kan word as “the act performed by bilinguals of accessing different linguistic features or various modes of what are described as autonomous languages, in order to maximize communicative potential”. Tydens só ’n situasie waar taalkontak plaasvind, speel twee faktore ’n rol: lojaliteit teenoor ’n stel norme wat die konteksgebonde seleksieproses van elemente vanuit ’n repertoire reguleer asook die behoefte om alle elemente in die repertoire ten toon te stel, ongeag situasionele beperkings (Matras 2009:4).
Die balans tussen hierdie twee faktore word bepaal deur die behoefte om problematiese aspekte wat in die pad van effektiewe kommunikasie staan, te verwyder (Matras 2009:4). In die geheel gesien, dien hierdie proses as ’n bewys daarvan dat meertalige sprekers nie een van die tale blokkeer of afskakel wanneer hulle een van die ander tale tydens kommunikasie gebruik nie, maar hulle het deurlopend die hele, komplekse linguistiese repertoire tot hulle beskikking (Matras 2009:5).
Hieroor merk Matras (2009:5) op:
Contact-induced language change is thus ultimately the product of innovations that individual multilingual speakers introduce into discourse in a multilingual setting [...]. Functionality, synchronic and diachronic manifestations of contact are therefore inseparable.
Wanneer AM’s Swartafrikaans kan napraat, vorm dit deel van hulle taalrepertoire. Die napraat van Swartafrikaans kom in sosiale omgewings en situasies voor, daarom kan dit as deel van ’n linguistiese sosialiseringsproses beskou word.
Vir AM’s is dit belangrik om vanuit hierdie taalrepertoire met bepaalde norme as oorwegende faktor die “korrekte” elemente te kies om in verskillende kontekste te gebruik met die uiteindelike doel om die funksie wat hulle nastreef deur Swartafrikaans na te praat, suksesvol te kan bereik. Na afloop van die seleksieproses kan AM’s bepaal of dit ter sake en gepas is om Swartafrikaans na te praat, al dan nie. Om hierdie rede kan dit moontlik wees dat AM’s Swartafrikaans onder mekaar sal napraat, maar nie in die direkte omgewing of teenwoordigheid van ATM’s nie.
Kontak tussen AM’s en ATM’s het dus nie alleen die gevolg dat beide groepe sprekers se taalrepertoire uitgebrei word nie, maar bring ook ’n groter bewustheid by sprekers mee wanneer bepaalde taalelemente in verskillende kontekste gekies word. Hierdie bewustheid kan ’n gevoel van taaleienaarskap by sprekers bewerkstellig.
2.5 Taaleienaarskap, taalgrense en die persepsies van sprekers
Taalgebruikers se persepsie van taaleienaarskap en taalgrense het ’n invloed op hoe hulle die napraat van Swartafrikaans gebruik en interpreteer (Kriel 2015:144–5).Volgens Matsuo (2009:66) se uitbeelding van die basiese verhouding tussen twee tale of dialekte kan ’n toepassing gemaak word dat Swartafrikaans moontlik uit die oorvleuelde gebied tussen Afrikaans en ’n Afrikataal sou kon voortspruit (vgl. Kriel 2015:58). Swartafrikaans word as ’n omgangsvariëteit van Afrikaans beskou en lê daarom heel waarskynlik nader aan Afrikaans op die intertaalkontinuum as aan Afrikatale, alhoewel die ATM’s die primêre sprekers van Swartafrikaans is (vgl. De Wet 1993:171, De Wet 1996:7, 168; De Wet 2009:153).
Taaleienaarskap word om hierdie rede aangedui as ’n moontlike oorsaak van spanning, aangesien ATM’s en AM’s oor gedeelde eienaarskap van Swartafrikaans kan beskik (Kriel 2015:142). Hierdie gedeelde eienaarskap kan ’n invloed hê op die wyse waarop sprekers die funksies van NSA aanwend, interpreteer en ervaar.
Nog ’n belangrike faktor wat ’n invloed op laasgenoemde kan hê, is individue se verwysingsraamwerk.
2.6 Individue se verwysingsraamwerk
Individue se eie verwysingsraamwerk dra by tot hoe hulle NSA ervaar. Hierdie raamwerk sluit die sosiohistoriese geskiedenis van Suid-Afrika in. Die stigma van ’n bepaalde etnisiteit kan van geslag tot geslag onderhou en oorgedra word (Jansen 2010). Verder moet die sprekers se verwysingsraamwerk oorweeg word wanneer die data van die empiriese ondersoek geïnterpreteer word. Volgens Chick (1995:239) moet die volgende tydens interkulturele ervarings oorweeg word: “[E]conomic and political factors influence intercultural encounters more directly by determining whether interlocutors allow cultural differences to become barriers to communication.” Individue word nie net beïnvloed deur wat hulle reeds ervaar het nie, maar hierdie faktore kan ook ’n impak hê op die mate waarin hierdie verwysingsraamwerk hulle siening en interpretasie van interkulturele kommunikasie beïnvloed.
Eksterne faktore soos die ekonomie en politiek kan ’n rol speel in hoe AM’s NSA gebruik, asook hoe ATM’s NSA en interpreteer. Tóg lê die draaipunt van “toestemming” oor die hoeveelheid invloed wat hierdie faktore op ’n bepaalde gespreksituasie het, by die gespreksdeelnemers self. Persepsies word vanuit ’n persoonlike verwysingsraamwerk gevorm waar tyd en die sosiohistoriese konteks ’n beduidende rol by effektiewe kommunikasie speel (Mannikam 1991:70). Wanpersepsies kan veral tydens interkulturele kommunikasie tot ontevredenheid lei wat weer wrywing tussen die betrokke partye meebring (Mannikam 1991:71).
Soos reeds aangedui, kan daar moontlik ooreenkomste tussen die sprekers van NSA se taal en kultuur wees. Die probleem tree na vore by ontvangers se kultuur wat betrekking het op Swartafrikaans. Aangesien sprekers en eksterne ontvangers uit verskillende kulture afkomstig kan wees, bestaan die moontlikheid dat wanpersepsies aangaande die bedoeling waarmee die sprekers Swartafrikaans napraat, gevorm kan word. Dit is ook moontlik dat sprekers ’n wanopvatting het van die sensitiwiteit rakende eksterne ontvangers.
2.7 Affrontasie en konfrontasie
Sommige AM’s verkies om nie Swartafrikaans te gebruik in die teenwoordigheid van ATM’s nie, om sodoende moontlike affrontasie en konfrontasie uit te skakel. In hierdie verband is hoflikheid ter sake. Volgens Meyerhoff (2006:82) kan hoflikheid omskryf word as “the actions taken by competent speakers in a community in order to attend to possible social or interpersonal disturbance”. AM’s kan moontlik die hoflikheidsbeginsel aanwend deur hulle daarvan te weerhou om Swartafrikaans in die direkte omgewing van ATM’s na te praat om sodoende die moontlikheid van spanning uit te skakel.
Otto (2014:340) vestig verder die aandag daarop dat, anders as voorheen, die hedendaagse fokus meer op aangesprokenes se behoeftes en begeertes val. Selfs die sosiale groep waarin die “spreker en aangesprokene grootgeword het en gesosialiseer is”, speel ’n rol (Otto 2014:340).
Von Wissel (1991:68) verduidelik dat woede en vrees die oorsaak van vooroordeel is en dat hierdie elemente geskiedkundig en emosioneel van aard is en daarom ook moeilik uit die weg te ruim is. Met geskiedkundige onregte in ag genome wat voor en ná apartheid in Suid-Afrika plaasgevind het, kan vooroordeel steeds as olie op vuur dien wat mense in ’n negatiewe rigting afleidings kan laat maak (Jansen 2010).
Hierdie rigting behels óf die verkeerde aannames deur ATM’s betreffende die motivering van AM’s wat Swartafrikaans praat óf dit gee AM’s juis ’n platform wat gebruik kan word om ATM’s sogenaamd verbaal te na te kom. Die sosiohistoriese agtergrond/konteks van ons land kan aan die ander kant ook as platform dien om juis oper verhoudings te bewerkstellig. Daar is oper grense en mense kan makliker mekaar se taalvorme aanneem en in kombinasie as ’n unieke, saamgestelde taal gebruik, ’n taal wat eie is aan Suid-Afrika as ’n multikulturele en meertalige land (Rule 2004:329).
2.8 Samevatting
Swartafrikaans kan op ’n alternatiewe wyse as in sy oorspronklike ontstaansfunksie gebruik word. Wanneer AM’s dié variëteit onder mekaar napraat, word ’n nuwe taalvariëteit, naamlik NSA, gevorm. Dit wil voorkom of die variasie ooreenkomste met kontakvariasie en interne, gebruiksvariasie vertoon, onderskeidelik op die punt van pidgin, kreools en styl (vgl. Du Plessis, 1988:19). Verdere navorsing is in hiérdie verband nodig.
As variëteit het NSA unieke kontekste as agtergrond. Die oorkoepelende kontekste beïnvloed sprekers se verwysingsraamwerke en as produk ontwikkel sprekers sekere persepsies rondom NSA. Die gevolg is dat sprekers ’n voorkeur kan hê oor die konteks waarbinne hulle NSA gebruik.
Een van die kernkontekste om mee rekening te hou is Suid-Afrika se breë sosiohistoriese konteks. Die sensitiwiteit wat hiérdie konteks tesame met die ontstaansrede vir Swartafrikaans meebring, speel ’n belangrike rol in die persepsies wat sprekers rondom NSA het. Individue se verwysingsraamwerke is verskillend van mekaar en moet ook in ag geneem word.
Deurdat AM’s Swartafrikaans napraat, vorm NSA deel van hulle taalrepertoire. Sodoende brei hulle taalrepertoire uit en kies hulle in watter konteks hulle NSA as die mees geskikte vorm van kommunikasie beskou.
Aangesien twee taalgroepe, naamlik AM’s en ATM’s, beide moontlik ’n prominente assosiasie met Swartafrikaans het, kan sprekers van die verskillende variëteite ’n mate van meerdere of mindere eienaarskap van NSA ervaar. Afhangend van hoe sterk hierdie gevoel van eienaarskap is, kan een van die sprekergroepe ’n negatiewe gevoel teenoor ’n ander sprekergroep wat Swartafrikaans napraat, kweek.
In die volgende afdeling word die empiriese gedeelte van hierdie ondersoek aan die hand van die konteks en persepsies rondom NSA, uiteengesit en bespreek.
3. Metode
3.1 Navorsingsontwerp en navorsingsdoelwit
Hierdie navorsing neem die vorm van ’n kwalitatiewe ondersoek aan om sodoende ook die onderliggende sosiale en kulturele kontekste wat ’n rol speel, in berekening te kon bring (Croker 2009:9; Nieuwenhuis 2007a:51). Die doel van die ondersoek is om die konteks rondom en die persepsies van NSA asook die wisselwerking tussen dié twee faktore te bepaal.
Die studie is op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit onder studente van ’n akademiesegeletterdheidsmodule gedoen. Vraelyste is aan studente in Afrikaansmoedertaalsprekende klasse gegee. Daar is ook ’n fokusgroeponderhoud met bruin AM’s gehou, asook ’n e-pos-onderhoud met twee swart AM’s. Nadat die data ingesamel is, is die vraelyste elektronies georganiseer en die fokusgroeponderhoud is getranskribeer. Hierdie inligting is met behulp van die program Atlas.ti gekodeer, waarna hermeneutiese netwerke saamgestel is om die inligting te ontleed.
3.1.1 Data-insameling
3.1.1.1 Instrument en navorsingsgroep
Die data is met behulp van ’n verskeidenheid instrumente ingesamel. Dit is belangrik om in ag te neem dat hierdie data deel vorm van ’n wyer studie wat die aard van die alternatiewe gebruik van Swartafrikaans ondersoek (vgl. Kriel 2015). By aanvang van die ondersoek is ’n konsepvraelys gebruik om ’n loodsstudie met ’n groep van 35 studente te doen. Na afloop van die loodsondersoek is minimale wysigings aan die vraelys aangebring en is die deelnemers se vraelyste soos dit gedurende die loodsstudie ingevul is, ook by die totaal ingereken (vgl. Van Teijlingen en Hundley 2001).
Die ondersoekgroep (n=191) het uit eerstejaarstudente bestaan wat ingeskryf is vir ’n Afrikaanse akademiesegeletterdheidsmodule.
Die fokusgroeponderhoud het vyf bruin deelnemers ingesluit: vier AM’s, en onverwags was een ’n Engelsmoedertaalspreker. Laasgenoemde deelnemer het weliswaar ’n waardevolle bydrae gelewer. Daar is ook e-pos-onderhoude met twee swart AM’s gevoer. Hierdie sprekers kom ook van dieselfde hoëronderwysinstelling en is tans in Gauteng woonagtig. Altesaam staan die getal deelnemers wat aan die wyer studie deelgeneem het, op 233.
3.1.1.2 Data-ontleding
Na die verwerking van die vraelyste en die transkribering van die fokusgroeponderhoud, is die inligting met behulp van die program Atlas.ti gekodeer. Die data is induktief van die nagevorste verskynsel afgelei en vorm deel van die gegronde teorie(Strauss en Corbin 1990:23).
3.1.1.3 Etiekklaring
Etiekklaring is vir hierdie navorsing deur die Noordwes-Universiteit se Navorsingsetiek Regulatoriese Komitee (NERK) toegestaan en die etieknommer NWU-00066-14-S7 is toegeken. Met betrekking tot etiese kwessies is dit belangrik om te noem dat die deelnemers ingelig is oor die navorsingsprosedure en dat hulle skriftelik toestemming gegee het vir deelname aan die studie. Die deelnemers kon enige tyd onttrek en hulle inligting is vertroulik hanteer.
3.1.1.4 Geldigheid en betroubaarheid
Tydens die data-insamelingsprosesse is van verskillende data-insamelingsinstrumente gebruik gemaak. Kristalliseringvind plaas wanneer verskillende data-insamelingsmetodes gebruik word om die betroubaarheid van die data te verhoog (Maree en Van der Westhuizen 2007:40; Nieuwenhuis 2007b:81). Volgens hierdie strategie word die gevolgtrekkings beskou as die inligting wat duidelik word of uit die data kristalliseer (Nieuwenhuis 2007b:81).
As deel van die data-ontleding is die betroubaarheid van die resultate van die kodering deur middel van interbeoordelaarsbetroubaarheid verhoog. Cohen se Kappa is met behulp van SPSS (2014) bereken. Die Kappa-waarde is op 0,707 (p < 0,001) bereken, wat tussen 0,610 en 0,800 op ’n aansienlike ooreenkoms met die interbeoordelaarsbetroubaarheid dui (vgl. Landis en Koch 1977:165).
3.1.2 Navorsingsprosedure en dataverwerking
Aangesien ’n soortgelyke ondersoek nog nie gedoen is nie, is daar by die aanvang van die studie informele gesprekke gevoer om sodoende vas te stel of NSA wel bestaan. Die vraelys is tydens ’n loodsstudie met 35 studente gebruik, waarna ’n paar aanpassings gemaak is. Hierdie ingevulde vraelyste is by die totaal van die studente ingesluit aangesien die aanpassings struktureel van aard was en die bydrae waardevol was.
Nadat die vraelyste se inligting verwerk is, was dit duidelik dat die data nog nie ’n versadigingspunt bereik het nie. ’n Fokusgroeponderhoud asook onderhoude per e-pos is gedoen. Die inligting van die fokusgroeponderhoud is getranskribeer en die inligting van die vraelyste is op ’n rekenaar ingevoer. Tesame met die inligting van die e-pos-onderhoude is die data met behulp van die program Atlas.ti (2014) gekodeer. Tydens kodering word die getranskribeerde data in ontledingsbetekenisvolle eenhede verdeel (Nieuwenhuis 2007c:105; Saldaña 2009:3). Kodes is deurlopend induktief geskep. Dié kodes ressorteer onder temas en kan verder onderverdeel word.
4. Data-ontleding en bespreking
Die persepsies rondom NSA en die konteks waarbinne dit gebruik word, is nog nie – na die wete van die navorsers – ondersoek en opgeskryf nie. In hierdie afdeling word die kodes in twee afdelings onderverdeel: kodes wat deel uitmaak van die gebruikskonteks van NSA, en persepsies van die gebruik van die alternatiewe funksies van Swartafrikaans. Elkeen van hierdie afdelings begin met ’n hermeneutiese netwerk om die verbintenisse en verhoudings tussen die verskillende kodes aan te dui. Elkeen van hierdie kodes word dan afsonderlik bespreek aan die hand van een of meer toepaslike aanhalings.
Aan die einde van elke aanhaling word die teksnommer eers aangedui en daarna die nommer waarvolgens die aanhaling gekodeer is, byvoorbeeld [5:49]. Die teksnommer verwys na die nommer wat aan die onderskeie gekodeerde tekste van die verskillende metodes van data-insameling toegeken is. Die toepaslike aanhaling(s) word eers gegee, waarna die navorsers ’n geïntegreerde bespreking van hierdie aanhaling(s) verskaf. In gevalle waar dit nodig is, word die toepaslike vraag eers aangedui om sodoende die deelnemer(s) se daaropvolgende antwoord(e) kontekstueel vir die leser te belig. Sommige van die fokusgroeponderhoud-antwoorde kom in gespreksformaat voor. Die rede hiervoor is om meer konteks aan die leser te bied. In laasgenoemde geval word letters gebruik om die volgende aan te toon:
- N (Navorser)
- D (Deelnemers)
- G (Groep).
Aangesien verskillende data-insamelingsmetodes gebruik is en sodoende verskillende deelnemers betrokke is, is dit belangrik om tussen die groepe te onderskei. Sodoende kan die konteks waarbinne Swartafrikaans op ’n alternatiewe wyse gebruik word, asook die persepsies daarrondom so akkuraat moontlik bepaal word. Dit is egter belangrik om te noem dat die interpretasies vanuit die data nie veralgemeenbaar is nie, maar wel beperk is tot die navorsingspopulasie. Hierdie navorsing bied derhalwe insiggewende agtergrond tot die bestudeerde verskynsel.
Die volgende nommers is aan die gekodeerde tekste toegeken:
Verwerkte teks van vraelyste: nr. 1
E-pos-onderhoud A: nr. 2
E-pos-onderhoud B: nr. 3
Fokusgroeponderhoud: nr. 4, 5
(Slegs een fokusgroep is gehou, al is daar twee getranskribeerde tekste vir hierdie onderhoud.)
Die terugvoer word verbatim weergegee en geen taal- en/of spelfoute is gekorrigeer nie. Sekere aanhalings word in die bespreking herhaal, aangesien daar soms meer as een kode uit die data geïdentifiseer kon word. Tydens die bespreking word daar, waar nodig, eksplisiet tussen wit, swart en bruin AM’s onderskei. Hierdie verwysing na verskillende rassegroepe geskied slegs om duidelikheid te gee4 oor ’n spesifieke funksie of funksie-element, verál ook aangesien min biografiese inligting van die deelnemers tydens die navorsingsprojek gebruik word. Die onderskeid word dus ook getref vir verdere definiëring en duidelikheid van die alternatiewe funksies van Swartafrikaans.
Die afdelings begin elk onderskeidelik met figuur 3 en figuur 4 om die tersaaklike kodes en die verhouding tussen die kodes aan te dui. Hierdie figure word gestruktureer rondom die ooreenkomstige temas, soos deur die onderafdelings aangedui, naamlik met betrekking tot die gebruikskonteks asook die aard van en die persepsies rondom die napraat van Swartafrikaans.
4.1 Die gebruikskonteks van die alternatiewe funksies van Swartafrikaans
Die gebruikskonteks van NSA bied duidelikheid oor wanneer en waar AM’s Swartafrikaans napraat. Binne die gebruikskonteks kom bepaalde moontlikhede ook voor waarom AM’s Swartafrikaans as geskik sal beskou om bepaalde funksies te vervul. Kontekstuele faktore gee as’t ware aanleiding tot die spesifieke funksies.
Konteks is wel ’n breë begrip en daarom is dit belangrik om vir die doeleindes van hierdie studie tussen konteks op ’n makrovlak en konteks op ’n mikrovlak te onderskei. In hierdie studie word makrokonteks gebruik met betrekking tot die oorhoofse sosiohistoriese agtergrond van Suid-Afrika. Hierteenoor verwys mikrokonteks na die kontekstuele faktore wat direk waargeneem kan word tydens situasies waarin AM’s Swartafrikaans sou napraat. ’n Mikrokonteks word daarom geassosieer met die kontekstuele faktore van gespreksituasies – daardie konteks waarin individue Swartafrikaans napraat. Die kodes word volgens ’n mikro- of makrokonteks gesorteer (vgl. figuur 3). Die konteks is ook verder belangrik aangesien dit ’n direkte invloed het op sprekers se interpretasie tydens die gebruik of aanhoor van taal en dus ook in die geval wanneer sprekers Swartafrikaans napraat (vgl. Gumperz 2006:388).
Figuur 3. Kodes wat deel uitmaak van die gebruikskonteks van die alternatiewe funksies van Swartafrikaans
4.1.1 Kodes op ’n makrovlak
Toepaslike vrae op kodes 1–2:
Wanneer gebruik jy hierdie soort Afrikaans? Waarom gebruik jy hierdie soort Afrikaans?
Kode 1: Kontekstuele gebruik
Wanneer ek saam sekere vriende is.[1:108]
As die oomblik voorkom. [1:137]
Om ’n gemaklike atmosfeer te skep. [1:78]
AM’s gebruik Swartafrikaans meer in sekere kontekste as in ander. Bostaande antwoorde dien as moontlikhede van verskillende kontekste en dui oorwegend op informele omstandighede. In [1:108] dui die deelnemer aan dat hy/sy Swartafrikaans slegs in die teenwoordigheid van sekere vriende gebruik. Die rede hiervoor is moontlik dat die deelnemer veilig voel in die gegewe omgewing. Dit kan wel ook so wees omdat hierdie spesifieke vriende self ook Swartafrikaans kan napraat of ’n positiewe reaksie toon wanneer die deelnemer Swartafrikaans napraat. In [1:137] dui die deelnemer aan dat hy/sy op enige gegewe oomblik Swartafrikaans napraat. Swartafrikaans bied heel waarskynlik aan die deelnemer die mees akkurate of maklikste manier om hom/haar uit te druk. Hierdie lukrake manier van Swartafrikaans napraat bevestig die moontlikheid dat Swartafrikaans as deel van individue se taalrepertoire beskou moet word. Verder is die volgende antwoorde ook aangeteken:
Wanneer ons grappies maak tussen vriende in informele situasies. [1:34]
Wanneer ek en my vriende mekaar afkraak. [1:18]
Dit wil ook voorkom of die deelnemers verkies om Swartafrikaans in informele situasies na te praat. Die omgewing waarbinne AM’s op hulle gemak voel om Swartafrikaans na te praat, is in informele kontekste byvoorbeeld binne ’n vriendekring. Die verband tussen humor en informele kontekste is ook moontlik ’n rede waarom AM’s aandui dat hulle Swartafrikaans in informele situasies gebruik. Wat interessant is, is dít wat die deelnemer in antwoord [1:18] aandui, naamlik dat hulle Swartafrikaans op ’n grappige, dog afbrekende manier gebruik en dan nie teenoor ATM’s nie, maar teenoor mekaar.
Die variëteit Swartafrikaans kan moontlik ’n negatiewe konnotasie dra wat dui op minderwaardigheid en dus kan die variëteit vir afbrekende doeleindes ingespan word. Die rede vir die negatiewe konnotasie kan wees dat dit as ’n niestandaardvariëteit in die lig van waar dit ontstaan het, beskou word (De Wet 1993:172). Hierdie vorm word dan aangewend met die doel om afbrekend te wees. Dit is duidelik dat die bestudeerde verskynsel tydens sosiale interaksie voorkom. Hierdie interaksies is egter nie net beperk tot die kleiner sosiale konteks nie, maar word ook deur die wyer politiek en die media beïnvloed – soos ook deur kode 2 na vore gekom het.
Kode 2: Konteksgedrewe: politiek en die media as kontekstuele oorsaakfaktore
Ek gebruik die taal as ek saam met my vriende praat en ons grappe maak oor die politiek. [1:15]
Dit is ’n tipe vorm wat meer gebruik word in samelewing en op televisie en radio. [1:90]
Almal van ons is mense, ons moet almal maar net eenvoudig uithou met diskriminasie. Almal word teen gediskrimineer. [1:144]
Die meerdere of mindere mate waarin AM’s aan Swartafrikaans blootgestel word, kan hulle aanleer van die variëteit beïnvloed. Die media, sommige politieke figure en sprekers se algemene ervaring van die politiek kan bydra tot die blootstelling van AM’s aan Swartafrikaans en ook die konnotasies wat sprekers aan Swartafrikaans koppel. Deur middel van die media word sprekers van verskillende tale aan ander tale en variëteite blootgestel waaraan hulle vroeër geensins blootgestel sou gewees het nie ‒ of ten minste nie soveel en so omvangryk as wat die media bied nie. Verdere studie in hierdie verband is nodig.
In [1:144] is dit asof die deelnemer namens AM’s wat Swartafrikaans napraat, wil intree en dit wil regverdig, veral in die geval waar Swartafrikaans spottenderwys nagepraat sou word. Die konteks waarbinne Swartafrikaans nagepraat word en ook die konteks wat die behoefte by AM’s kan aanwakker om Swartafrikaans na te praat, speel ’n belangrike rol, soos uit die volgende aanhaling duidelik word:
Toepaslike vraag op aanhaling [3:7]: Dink jy daar is bepaalde kontekstuele elemente wat in ons land ’n rol speel en dus mense ’n rede gee om Swartafrikaans na te praat?
Ja ek dink so. Meestal mense wat met hulle werkers so praat, en dan as hulle ’n swart persoon sien dan praat hulle swart Afrikaans met hom, maak nie saak wie hy is nie. [3:7]
In [3:7] word die gebruik van Swartafrikaans aan magsverhoudings gekoppel wat kontekstueel veral met apartheid in Suid-Afrika geassosieer word (vgl. Du Plessis en Du Plessis 1987:14; Steyn 2014:313–8, 389–93; Webb 1992:9). Wanneer die tweede deel van die aanhaling in ag geneem word, tree ’n sterk neiging tot veralgemening en stereotipering na vore.
Die verband tussen Swartafrikaans en magsverhoudings moet ook in die lig van taalkontak beskou word.
Kode 3: Taalkontak
Dit is nie ’n neerhalende gebruik om só Afrikaans te praat nie, slegs ’n resultaat van kulture wat kontak maak. [1:55]
Volgens hierdie deelnemer [1:55] is die ontstaansrede vir Swartafrikaans bloot taalkontak oftewel in hierdie spesifieke aanhaling kultuurkontak en is dit nie nodig dat sensitiwiteit rakende die gebruik van Swartafrikaans hoef te bestaan nie.
Toepaslike vraag op aanhalings [4:39]: Hoekom kry ons dit reg om só ’n tipe Afrikaans (Swartafrikaans) te praat?
D Demokrasie?
D Soos ’n mens loop en luister, jy kom met aanraking met swart mense en dan praat hulle miskien Afrikaans met jou; mens tel dit op en dan ‒ so mens oefen aan die namaak. Kry dit min of meer reg ... [4:39]
Die tweede deelnemer [4:39] dui aan dat die politiese verandering wat in Suid-Afrika plaasgevind het, ’n invloed kan hê op die rede waarom AM’s Swartafrikaans sou napraat. Aangesien die kontak tussen verskillende rasse, kulture en tale in ’n groot mate toegeneem het, is dit moontlik dat die napraat van Swartafrikaans tussen AM’s kon toegeneem het (vgl. Kotzé 1996:156). Ongelukkig is die beskikbare inligting oor die vroeëre napraat van Swartafrikaans nie genoeg om die mate van verandering van toe tot nou te bepaal nie. In [4:39] word dit ook duidelik dat die napraat van Swartafrikaans as omgangsvariëteit van Afrikaans tóg oefening van AM’s verg om dit so akkuraat moontlik te doen.
Aan die een kant veronderstel die sosiale desegregasie in Suid-Afrika ’n moontlike sensitiwiteit rondom rasgedrewe oordele, maar soos hier bevind is, kan stereotipering juis versterk word aangesien nouer kontak tussen kultuurgroepe moontlik is. Hierdie sensitiwiteite word vervolgens ook onder die volgende kode hanteer.
Kode 4: Menseregte
Toepaslike vraag op aanhaling [4:31]: Dink julle die geskiedenis van die land is bydraend tot sensitiwiteit rondom die napraat van Swartafrikaans, byvoorbeeld of jy Swartafrikaans voor ’n Afrikataalmoedertaalspreker sal gebruik?
D Ek dink rêrig die geskiedenis het rêrig ’n groot deel daarmee te doen. Maar daar’s ook net soos ... Onthou daar’s soos naamskending en menseregte en alles. So dan sê ... praat jy nou so en dan is dit nou soos, jy probeer eintlik help maar dan’s dit soos, “maar sy het neergekyk op my” of wat ook al. So, dis nie ‒ Oukei, apartheid het nou niks meer te doene met ons nie, maar ek dink dit is, jy’t meer respek vir die persoon in terme van ek gaan nou nie vir jou so undermine nie, as ek daai woord kan gebruik. So hulle gaan jou nie undermine nie. So dis nie rêrig te doen met apartheid nie. Dis maar net respek, dink ek. [4:31]
Aanvanklik dui die deelnemer in die fokusgroeponderhoud aan dat daar wél ’n verband is tussen die sensitiwiteit rakende die napraat van Swartafrikaans en die sosiohistoriese konteks van Suid-Afrika (vgl. Du Preez 1997:3; Scher 2012:326–7). Dan toon die deelnemer aan dat daar aspekte soos naamskending en menseregte is wat ook ’n moontlike rol sou kon speel in dié opsig dat mense mekaar met groter sensitiwiteit sou hanteer, waarna hy/sy aandui dat dit net werk wanneer wedersydse respek ter sprake is. Volgens die deelnemer moet mense mekaar respekteer sodat iemand se waarde as mens nie ondermyn of laer gereken word nie. Dit wil dus voorkom of hierdie deelnemer aandui dat ’n basis van gelykheid tussen mense, ook tydens gesprekvoering, belangrik is.
Kode 5: Gelykheid en respek vir verskillende tale en kulture
[1:114] as kommentaar op die volgende vraag en antwoord:
Vraag: “Indien jy en ’n vriend Afrikaans onder mekaar gebruik soos ’n Afrikataalsprekende dit praat, hoe dink jy sou die Afrikataalspreker voel wat hoor hoe julle so met mekaar praat?”
Keuse-antwoord:5 Ek gebruik dit nie wanneer iemand wat self Swartafrikaans sou praat, of iemand ken wat Swartafrikaans praat, in die omgewing is nie.
Wil nie disrespekvol wees teenoor ander mense. [1:114]
In [1:114] dui die deelnemer aan dat hy/sy nie “disrespekvol” teenoor sy/haar medemens wil wees nie en om hierdie rede ook nie Swartafrikaans in die teenwoordigheid van ATM’s sal praat nie. AM’s implementeer dus in sommige gevalle die hoflikheidsbeginsel deurdat hulle hulself van die napraat van Swartafrikaans weerhou wanneer die gebruik van dié variëteit sprekers te na gekom kan laat voel (vgl. Meyerhoff 2006:82). Hierdie aanhaling, soos ook in kode 4 na vore kom, ondersteun die belangrikheid van respek as veranderlike in interaksies waar Swartafrikaans nagepraat word.
[1:144] as kommentaar op die volgende vraag en antwoord:
Vraag: “Indien jy en ’n vriend Afrikaans onder mekaar gebruik soos ’n Afrikataalsprekende dit praat, hoe dink jy sou die Afrikataalspreker voel wat hoor hoe julle so met mekaar praat?”
Keuse-antwoord: Neutraal – geen gevoel
Almal van ons is mense, ons moet almal maar net eenvoudig uithou met diskriminasie. Almal word teen gediskrimineer. [1:144]
D Respek, dat ek sal dit nou nie in jou gesig doen nie. Nee, ek sal dit nie voor jou doen nie.
N En julle, dink julle ook.
G [stem saam].
D Dis maar net soos, ek gaan nie laat daai persoon wil hê hy moet spot maak van hoe ek praat nie; ons almal praat mos nou ma net verskillend so ek sal ook nie in die persoon se gesig so praat nie, dis net verkeerd. Dis net verkeerd. Mense moet mekaar respekteer. [4:32]
Die deelnemer in [1:144] het nie werklik deernis met ATM’s nie, maar probeer eerder verduidelik dat almal ’n vorm van diskriminasie ervaar en dat almal om hierdie rede minder sensitief moet wees en besef dat almal gelyk is. Hierdie deelnemer het ’n meer apatiese houding teenoor die napraat van Swartafrikaans. Hier word weer eens bevestig dat die houding wat AM’s teenoor Swartafrikaans het, van individu tot individu kan verskil.
In [4:32] dui die AM’s aan dat ’n besef van gelykheid en respek daartoe sal lei dat hulle Swartafrikaans nie in die teenwoordigheid van ATM’s moet napraat nie. Die deelnemers vereenselwig hulle weer eens met die posisie van ATM’s met dié dat hulle sensitief is daaroor dat iemand nie met hulle manier van praat moet spot nie.
Met hierdie uiteenlopende antwoorde en maniere van verstaan wat die napraat van Swartafrikaans deur AM’s betref, is dit belangrik om te besef dat telkens wanneer AM’s Swartafrikaans napraat, dit gedoen word om ’n spesifieke funksie te vervul.
Hiermee saam het individue weer elkeen ’n spesifieke idee oor die vraag of die napraat van Swartafrikaans van ’n positiewe of negatiewe aard is en hierdie idee dra ook weer by tot die uitkoms wat AM’s wil bereik deur Swartafrikaans na te praat. Wat dus uiteindelik belangrik is om in gedagte te hou, is dat die konteks waarbinne AM’s Swartafrikaans napraat, ’n deurslaggewende invloed het op die aard van die napraat van Swartafrikaans. Hierdie napratery het egter ook ’n sosiale aard (vgl. kode 6).
Kode 6: Sosiale aard van die napraat van Swartafrikaans
Toepaslike vrae op kode 6: Wanneer gebruik jy hierdie soort Afrikaans? Waarom gebruik jy hierdie soort Afrikaans?
Want ek geniet dit om snaaks te wees en so bietjie te speel met woorde en om mense te laat lag. [1:126]
Dit wil voorkom of die deelnemer in [1:126] dit werklik net geniet om ander te laat lag. Dit is wel moontlik dat om “snaaks te wees”, te “speel met woorde” en “om mense te laat lag” deel uitmaak van gewone sosiale omgang. In hierdie verband neem die deelnemer nie die gevolge of interpretasie van die aksies of die feit dat die bepaalde humor ten koste van ander kan wees, in ag nie.
Deur die loop van die studie word dit duidelik dat die napraat van Swartafrikaans ’n baie sterk sosiale onderbou bevat. Aan die een kant verwys hierdie stelling na die erkende sosiale aard van taal (Du Plessis 1988:75–6). Aan die ander kant word met die sosiale onderbou van die napraat van Swartafrikaans ook na die “minder genoodsaakte” rol van die napraat van Swartafrikaans verwys. Die alternatiewe gebruik van Swartafrikaans, kan ’n mens maar sê, speel nie ’n oorlewingsrol nie, maar is aanvullend en verrykend tot individue en daarom ook die gemeenskap se taalrepertoire. Die gebruik, veral in bepaalde kontekste, veronderstel wel die skep en bevestiging van bepaalde magsverhoudings.
Kode 7: Magsverhoudings as ’n kontekstuele oorsaak van negatiewe konnotasies
Toepaslike vrae op aanhalings [2:21] en [3:9]: Dink jy daar is bepaalde kontekstuele elemente wat in ons land ’n rol speel en dus mense ’n rede gee om Swartafrikaans na te praat?
’n Persoon wat met ’n "onderdanige" praat of probeer snaaks wees. [2:21]
In [2:21] gebruik die deelnemer die woord “onderdanige” wat ’n sterk konnotasie van ondergeskiktheid binne ’n magsverhouding ontlok. Hiermee saam dui die deelnemer aan dat gebruikers van Swartafrikaans hierdie variëteit ook soms op ’n humoristiese wyse aanwend. Sou Swartafrikaans gebruik word, soos die deelnemer dit in aanhaling [2:21] verduidelik, verwys die deelnemer heel moontlik eerder na Gepidginiseerde Afrikaans ‒ wanneer Afrikaans tussen “wit” AM’s en “swart” ATM’s gepraat sou word. In die tweede instansie wys die deelnemer op die humoristiese gebruik van Swartafrikaans (vgl. kode 6). In hierdie geval kan dit dui op die ooreenkomstige gebruik van Swartafrikaans wanneer AM’s dit napraat. Hierdie aannames kan duidelik vanuit die konteks afgelei word. Die idee van Afrikaans as onderdrukkertaal kom hier duidelik na vore (Vgl. Du Plessis en Du Plessis 1987:14).
Meestal mense wat met hulle werkers so praat, en dan as hulle ’n swart persoon sien dan praat hulle swart Afrikaans met hom, maak nie saak wie hy is nie. [3:9]
Hierdie deelnemer dui ook eerder die gebruik van Gepidginiseerde Afrikaans binne ’n arbeidsituasie aan wat ook te doen het met die oorspronklike ontstaan van Gepidginiseerde Afrikaans en Swartafrikaans, maar dit dui daarop dat AM’s soms veralgemeen en daarom die aanpassingsbeginsel op alle swart mense toepas en nie net dié wat hulle weet werklik sukkel om Afrikaans te praat nie (vgl. Van Wyk 1983:162).
Bostaande twee aanhalings kom uit die onderhoude wat met die swart AM’s gevoer is en daarom sou ’n mens kon redeneer dat hulle die gesag het om aan te dui hoe hulle die gebruik van ’n vereenvoudigde Afrikaans en die napraat van Swartafrikaans beleef. Daar is wel nog verdere studie nodig wat die ervaring van ATM’s betref wanneer hulle nog nie Afrikaans met gemak kan praat nie. Dit is ook belangrik om in ag te neem dat persepsies rondom hierdie gebruik konteksgebonde is en genuanseerd benader moet word. In hierdie verband is ’n vraag in die fokusgroeponderhoud gevra of dié soort taal individue kon affronteer.
Toepaslike vraag op aanhalings [5:5] en [5:6]: Dink julle daar is mense wat Swartafrikaans met opset sal gebruik om sodoende iemand te affronteer?
D Definitief. Wat dit kliphard doen. Al is hulle in watter situasie. Die vakansie toe het ons van die kuierplek af gery en my vriende agterin die kar was dronk ... ek en my vriend sit nou hier voor. Toe trek polisie-mense ons af. Jô, en toe’s dit toevallig swart mense en hulle begin praat sommer so dronk in Swartafrikaans, aspris. En ek is laaik dis nou nie ’n situasie waar jy daai moet gebruik nie. Ek weet jy’s nou kwaad want ... omdat jy afgetrek word, maar dis nie jy wat afgetrek word op die agterste sitplek nie; dis die persoon hier voor wat die moeilikheid kry. Jis, ek het só groot geskrik. Hulle was sommer net, [in Swartafrikaansaksent] nee, ma dis mos nou die swart mense ...
G [lag]
D Jôôôô! Het groot geskrik nè!
N Ja. Haai, julle.
D [In aksent] Nee, ma hulle ken ook niks!
G [lag]
D Net so! [In aksent] Julle moet nie vir my sê ek moet stilbly nie, ek is ... [onhoorbaar 00:03:27:13]. Wag dat ons wegry, dan praat jy so.
G [lag en gesels deurmekaar]
N [lag] So met ander woorde mense doen dit maar om mense half te ...
D Ja, hulle is nie ge-worry nie. [5:5] en [5:6]
In [5:5] en [5:6] word duidelike voorbeelde van ’n politiese magsverhouding en ook ’n magsverhouding soos dit uit ’n gesagsverhouding sou kon voortspruit, weergegee. Wat belangrik is, is die verandering in die voorkoms van breër magsverhoudings vroeër in Suid-Afrika teenoor die huidige voorkoms daarvan, maar met die invloed van die sosiohistoriese konteks van Suid-Afrika op sprekers se verwysingsraamwerk en hoe die invloed wesenlik van vroeër tot nou verander het.
In aanhalings [2:21] en [3:9] word die gebruik van Swartafrikaans en Gepidginiseerde Afrikaans binne magsverhoudings tussen ATM’s wat Swartafrikaans gebruik en wit AM’s aangedui ‒ soos dit vroeër in Suid-Afrika voorgekom het. Dit is ook duidelik dat hierdie tipe verhouding steeds dikwels met die sosiohistoriese konteks as verwysingsraamwerk, geïnterpreteer word. Hierteenoor is die verandering in verhoudings duidelik, soos dit in [5:5] en [5:6] duidelik na vore tree: in hierdie geval is dit nie wit en swart wat in ’n magsverhouding met mekaar staan nie, maar wel bruin en swart.
Die aard van die situasie, naamlik dat daar ’n lid van die polisie betrokke was en dat die deelnemer afhanklik van die polisielid se besluit was, dien op sigself as ’n natuurlike benarde posisie van die AM teenoor die ATM en ook die rede vir die AM se sensitiwiteit rakende sy/haar vriende wat Swartafrikaans met die ATM nagepraat het. Indien die ATM geaffronteer gevoel het, was die kans goed dat die bestuurder en die passasiers in die aanhaling hier bo in die moeilikheid kon beland. Hier kom die komplekse aard van en ook die sensitiwiteit rakende die napraat van Swartafrikaans deur AM’s duidelik na vore.
4.1.1.1 Bespreking
Hierdie aanhaling illustreer duidelik wat onder andere in die inleidingsgedeelte gesê is oor die feit dat NSA binne die makrokonteks van Suid-Afrika se sosiohistoriese agtergrond beskou moet word. Sodoende word dit duidelik dat daar ’n sensitiwiteit rondom NSA kan wees en dat sprekers juis om hiérdie rede die konteks waarbinne Swartafrikaans nagepraat word, oorweeg. NSA word in ’n informele konteks gebruik en buiten die politieke agtergrond kan ook elemente soos die media en politieke figure ’n uitwerking hê op hoe sprekers NSA gebruik en beskou.
Die kodes wat op ’n mikrovlak ’n rol speel by die napraat van Swartafrikaans, word vervolgens hanteer.
4.1.2 Kodes op ’n mikrovlak
Toepaslike vrae op kodes 8 en 10: Wanneer gebruik jy hierdie soort Afrikaans? Waarom gebruik jy hierdie soort Afrikaans?
Kode 8: Bewustheid by die implementering van die napraat van Swartafrikaans
Wanneer ek gewoonlik redelik gesteld is op taalgebruik. [1:43]
Besef dit nie altyd nie. [1:47]
Wanneer AM’s Swartafrikaans napraat, is die gebruik van hierdie omgangsvariëteit gemarkeer. Die graad van bewustheid van hierdie taalgebruikverskuiwing van sprekers se “gewone” manier van praat na die napraat van Swartafrikaans verskil van spreker tot spreker. Aanhaling [1:43] dui op ’n spreker wat meer ingestel is op die manier waarop hy/sy praat en daarom ook weet wanneer hy/sy Swartafrikaans gebruik. Hierteenoor dui die tweede aanhaling op ’n geringer graad van bewustheid wanneer hy/sy Swartafrikaans gebruik.
Dit is wel moontlik dat hierdie graad van bewustheid by die gebruik van Swartafrikaans deur AM’s op hulle algemene taalingesteldheid dui.
Sprekers se bewustheid van die napraat van Swartafrikaans kan verder beïnvloed word deur die aan- of afwesigheid van ’n veilige omgewing. Indien Swartafrikaanssprekers of ATM’s in die direkte omgewing is, of iemand wat dalk geaffronteerd kan voel, sal sprekers moontlik met groter bewustheid kies of hulle wel Swartafrikaans gaan napraat of nie.
Kode 9: Graad van bewustheid by Swartafrikaanssprekers (ATM’s) wanneer NSA gebruik word
Hulle weet hoe hulle die taal praat. [1:124]
In hierdie geval maak die deelnemer ’n stelling aangaande sy/haar idee oor die graad van bewustheid waarmee ATM’s Swartafrikaans gebruik. Die deelnemer dui op hierdie manier aan dat ATM’s nie so sensitief oor die saak moet wees wanneer AM’s Swartafrikaans napraat nie. Dit wil voorkom of die deelnemer sy/haar uitgangspunt regverdig deur aan te dui dat ATM’s weet dat hulle manier van praat “anders” is en daarom ook oop is daarvoor dat AM’s spottenderwys Swartafrikaans napraat.
Die ware graad van bewustheid by ATM’s van die “andersheid” van hulle manier van Afrikaans praat (Swartafrikaans) moet eers vasgestel word om die mate van waarheid van hierdie deelnemer se uitgangspunt te bepaal. Indien ATM’s besef dat hulle anders praat, gaan hulle ook moontlik nie geaffronteerd voel wanneer AM’s Swartafrikaans napraat nie.
Die graad van bewustheid waarmee ATM’s Swartafrikaans gebruik, word ook deur konteks beïnvloed. Benewens die blote bewustheid van die verskynsel is dit ook duidelik dat elemente van Swartafrikaans natuurlik deel is van bepaalde individue se taalrepertoire.
Kode 10: Taalrepertoire van individue
Dit sê lekker. [1:31]
Want dit is ’n manier van praat. [1:76]
Dit word na ’n tydperk ’n gewoonte om hierdie woorde te gebruik. [1:86]
Ek het dit aangeleer by ander mense. [1:109]
Bostaande antwoorde dui daarop dat AM’s Swartafrikaans as basiese omgangstaal gebruik. AM’s gebruik Swartafrikaans bloot as variasie in hulle daaglikse omgang wanneer hulle dit nodig kry en in die mate waarin hulle die napraat van dié variëteit bo ander taalmoontlikhede tot hulle beskikking verkies.
Swartafrikaans maak dus, soos reeds gesê is en hier geïllustreer word, deel uit van individue se taalrepertoire. Hulle praat hierdie variëteit na wanneer Swartafrikaans volgens hulle die mees geskikte vorm is om die funksie uit te voer wat hulle in gedagte het. Die grense tussen variëteite vervaag en ’n vorm van transtaling vind spontaan plaas. In [1:109] is dit wel noemenswaardig dat die deelnemer daarop dui dat hy/sy die napraat van die variëteit by “ander mense” aangeleer het. Op die een of ander manier moes die napraat van Swartafrikaans vir hierdie deelnemer aanloklik genoeg gewees het dat hy/sy hierdie manier van praat ook vir hom/haar toegeëien het.
Die gebruik van Swartafrikaans kan ook verwant wees aan die kwessie van identiteit en identiteitskepping (vgl. Maritz 2016).
Kode 11: Identiteit en identiteitskepping
Toepaslike vrae op kode 11: Wanneer gebruik jy hierdie soort Afrikaans? Waarom gebruik jy hierdie soort Afrikaans?
As ek by ’n sekere groep praat. [1:89]
Om vriende; dit is ons tiener taal. [1:103]
Wanneer ek saam sekere vriende is. [1:108]
Wanneer AM’s Swartafrikaans napraat, wil dit voorkom of hierdie persone dit binne ’n omgewing doen waar Swartafrikaans deel uitmaak van individue of groepe se identiteit (vgl. Rupp 2013:14, 20). Hierdie groepsidentiteit sluit aan by die funksies van ’n jargon om die eksklusiwiteit van ’n groep te bewerkstellig (vgl. Nortier en Dorleijn 2008:134). Jargon is linguisties en sosiaal ’n onstabiele stel spesiale woordeskatitems wat deur lede van ’n bepaalde beroep of gespesialiseerde sosiale groep gebruik word (Akmajian, Demers, Farmer en Harnish 2010:588). Jargon kan ook op die voorloper van ’n pidgintaal dui en ontstaan dikwels om ’n spesifieke rede (Akmajian e.a. 2010:588).
Die gebruik van hierdie variëteit binne sosiale groepe dra by tot die identiteitskepping van spesifieke groepe en inherent ook van individue wat deel uitmaak van hierdie groep. In [1:133] dui die deelnemer die hegte verbintenis tussen identiteit en die spreker van ’n bepaalde variëteit aan.
[1:133] As kommentaar op die volgende keuse-antwoord:
Keuse-antwoord: “Ek gebruik dit nie wanneer iemand wat self Swartafrikaans sou praat, of iemand ken wat Swartafrikaans praat, in die omgewing is nie.”
Dit is hoe hy praat en jy gebruik dit om te spot. [1:133]
In [1:133] dui die deelnemer aan dat hy/sy versigtig sal wees om Swartafrikaans in die teenwoordigheid van ATM’s te gebruik. ’n Moontlike rede hiervoor kan wees dat taal en identiteit so nou verbind is: “Dit is hoe hy praat ...” [1:133]. Die verband tussen taal en identiteit loop hand aan hand met die verband tussen identiteit, etnisiteit en kultuur (Barkhuizen en De Klerk 2006:277; Ferris, Peck en Banda 2013:371–80; Ramsay-Brijball 2004:144). Die gebruik van Swartafrikaans of selfs die napraat daarvan kan dus ook as ’n binne- en buitegroepmerker beskou word. Indien die deelnemer as AM Swartafrikaans sou napraat, bestaan die sterk moontlikheid dat die ATM beledig sou kon voel.
Hierdie identiteitskepping kan ook dui op die vereenselwiging met en/of beskerming van bepaalde etniese, kulturele of selfs taalgebaseerde groepe.
Kode 12: Vereenselwiging met en/of beskerming van eie etniese, kultuur- of taalgroep
In die kinderhuis het ’n huistannie eens die taal op my gebruik, ek het gedog sy is mal, want ek kon Afrikaans mooi verstaan. [2:1]
Ek haat Swartafrikaans as dit deur ’n wit mens gepraat word. Ek noem wit mense, omdat hulle dit meer gebruik wanneer hulle met ander praat. Wanneer iemand anders so praat, beteken dit nie JY moet so praat nie. [2:22]
Want ek sou kwaad word as dit vir my klink of iemand spot met die manier hoe ek praat. [1:77]
My taal is Afrikaans en as ’n ander kleurige dit praat en dit leer ken is ek glad nie gepla nie, want ek verstaan wat hulle sê en hul spot nie daarmee nie, hulle moet dit net nie spot en vir die snaaksigheid Afrikaans probeer praat nie. [1:127]
D En ek het al gesien hoe verander mense se gesigte as jy dit doen, want ek weet self hoe ek voel as mense dit met my doen. [4:3]
D Ons het so ’n huishulp en alles, maar sy praat rêrig soos wat ons praat, maar ons sal vir die grap, ons sal vir die grap soos like, “hey, Sarah, jy moet daar anderkant gaan skoonmaak”, sulke goed maar dan antwoord sy my ook so maar nou net soos grappenderwys. [4:6]
Die onderstaande bespreking word aangebied met die veronderstelling dat die volledige inligting oor die deelnemers se algehele etniese assosiasie nie beskikbaar is nie.
Al is die deelnemers almal AM’s, kan hulle etniese en kulturele verbintenisse steeds verskil en is hierdie verskillende verbintenisse ook vanuit die data duidelik. Etnisiteit word sosiaal gekonstrueer en word sosiaal verder uitgebou deur middel van die ideologieë wat hiermee verbind word (Fought 2006:4–5). Etnisiteit is onlosmaaklik verbind aan konteks en die sosiale veranderlikes wat ’n invloed daarop uitoefen (Fought 2006:5). Vir variëteite wat met bepaalde etniese groepe geassosieer word, is die konstruering van etnisiteit ook van belang.
Tydens die proses om identiteit te konstrueer, speel etnisiteit ’n belangrike rol, asook selfidentifisering en by die persepsies en houdings van ander wat met die konstruksie van etniese identiteit gepaard gaan (Fought 2006:6). Dit is moontlik dat een etniese groep as stereotipies van ’n spesifieke taal beskou word en meebring dat die sprekers van ander tale of variëteite die identiteit van hierdie spesifieke taalgroep alleenlik aan die taal of variëteit koppel. NSA kan op grond van die enkele verbintenis tussen ’n etniese groep en ’n taal verkeerdelik geïnterpreteer word. Die deelnemer se etniese assosiasie kan ook ’n uitwerking hê op sy/haar ervaring van NSA.
In [2:1] en [2:22] dui een van die swart AM’s aan dat enige vorm van die napraat van Swartafrikaans deur ’n AM taboe is. Die deelnemer se antwoord spruit onder meer voort uit ’n slegte ervaring wat hy/sy gehad het met ’n AM wat met die betrokke deelnemer Gepidginiseerde Afrikaans of NSA gebruik het.
Al was die variëteit wat die AM met die deelnemer gepraat het moontlik Gepidginiseerde Afrikaans of NSA, kan die deelnemer hom/haar vereenselwig met hoe dit vir ander ATM’s sou voel indien hulle in ’n soortgelyke situasie sou wees [2:1]. Dit laat die deelnemer byna beskermend teenoor ’n bepaalde etniese groep optree. Dit is belangrik om hier net weer eens aan te dui dat daar ’n fyn onderskeid tussen Gepidginiseerde Afrikaans en NSA bestaan en aangesien die navorsers nie oor verdere kontekstuele inligting beskik nie, kan daar nie besliste uitsluitsel oor die variëteit, soos in [2:1] gebruik is, gegee word nie.
In [1:77] en [1:127] antwoord wit AM’s op só ’n wyse dat beide deelnemers hulle kan vereenselwig met hoe dit sou voel wanneer Swartafrikaans deur AM’s nagepraat word, maar op verskillende maniere. In [1:77] plaas die deelnemer hom/haar volledig in die ATM se skoene. Hierteenoor neem die tweede deelnemer [1:127] aanvanklik ’n byna beskermende gesindheid in wat Afrikaans betref as sy/haar “eie” taal. Dit is byna asof die spreker op sogenaamde voorwaarde taal uitleen, maar dat die taal goed deur die lener daarvan versorg moet word. Uit die deelnemer se meer hewige reaksie kan afgelei word dat die deelnemer hom/haar tóg inherent kan vereenselwig met hoe dit sou wees as iemand anders spottenderwys met ’n taal of taalvariëteit omgaan.
In [4:3] dui die bruin AM aan dat hy/sy ook al ervaar het hoe dit voel as iemand die variëteit wat hy/sy gebruik, napraat en hom/haar daarom kan vereenselwig met Swartafrikaans wat nie in die teenwoordigheid van ATM’s nagepraat behoort te word nie. Volgens die deelnemer [4:6] is daar, in teenstelling hiermee, niks verkeerd daarmee om Swartafrikaans in ’n geslote sosiale omgewing na te praat nie.
’n Enkele opmerking: alhoewel die stelling in [4:6] op Standaardafrikaans dui wanneer dit gelees word, word die leser daaraan herinner dat [4:6] as uittreksel vanuit ’n fokusgroeponderhoud dien en om hierdie rede speel die aksent waarmee die deelnemer praat, ’n beduidende rol. Alhoewel die aanhaling op die oog af nie as die napraat van Swartafrikaans voorkom nie, is dit duidelik in die manier en die aksent waarmee die deelnemer praat dat hy/sy Swartafrikaans napraat.
Wanneer AM’s hulle taal wysig om by die veronderstelde taal van die aangesprokene aan te pas, tree die aanpassingsbeginsel in werking.
Kode 13: Aanpassingsbeginsel
Ek verstaan dat jy jou taal moet aanpas by tweedetaalsprekers, maar pas dit meer gepas aan bv. Sal jy my asb omhels? Jy sal eerder sê: Sal jy my asb ’n drukkie gee? NIE: Gee my die drukkie. Nog voorbeelde kar (motor), garage (motorhuis) ens. [2:25]
Om effektief te kommunikeer met iemand wat nie bedrewe is in Standaardafrikaans nie [1:63]
Want gewoonlik is dit meer mens pas aan by hoe iemand anders praat en nie omdat ek hulle spot nie. [1:110]
ek sal gewoonlik na ’n taal toe verander wat almal kan verstaan [1:115]en Om nie as ongeskik af te kom nie. [1:116]
Op die oog af kan die toepassing van die aanpassingsbeginsel positief gereken word, aangesien sprekers hulle taal vereenvoudig om dit sodoende makliker verstaanbaar te maak vir sprekers wat met die taal sukkel (vgl. Van Wyk 1983:162). In [2:25] maak die deelnemer dit wel duidelik dat dit nie noodwendig so ’n positiewe ervaring is vir die spreker vir wie die taal vereenvoudig word nie. ATM’s kan dalk die gebruik van vereenvoudigde Afrikaans as beledigend ervaar, soos in die geval van vreemdelingetaal (“foreigner talk”), wat verwys na die taal wat moedertaalsprekers juis met vreemdelinge gebruik en juis daardeur sosiale afstand veroorsaak (vgl. Valdman 1981:43). Hierdie saak hou ook verband met taalkontaksituasies wat juis taalblootstelling en bepaalde persepsies tot gevolg het.
Kode 14: Taalblootstelling en die vreemdheid van ’n taal of variëteit
Dit is nie ’n neerhalende gebruik om só Afrikaans te praat nie, slegs ’n resultaat van kulture wat kontak maak. [1:55]
Taalblootstelling verwys volgens De Wet (2009:155) na die “primêre en sekondêre gemeenskap met wie die (taal)aanleerders in aanraking kom”. Sprekers van NSA moet dus eers aan Swartafrikaans blootgestel word om sodoende die variëteit te kan aanleer en na te praat.
Die deelnemer beskou die napraat van Swartafrikaans as die produk van taalkontak tussen sprekers [1:55]. Hy/sy voer ook taalkontak aan as die rede waarom dit nie neerhalend is om Swartafrikaans na te praat nie. Dit wil voorkom of die deelnemer die napraat van Swartafrikaans deur AM’s as ’n natuurlike verskynsel beskou – dat daar volgens hom/haar nie te veel aandag daaraan geskenk behoort te word nie.
Ja, dis rêrig ‒ Soos ek kom nou van ... ek het ook kleurling-gebied en alles, maar ek was kleuterskool Engels. So as ek met swart mense te doen gehad het, het hulle Engels gepraat. En toe kom ek op die laerskool, by my ma-hulle se skool, hulle het ook swart kinders in hulle skool. Maar toe is dit nog vir my soos, “Huh? Wat sê jy? Rêrig?” Hulle praat rêrig baie snaaks. [4:22]
In [4:22] kom dit duidelik na vore dat die houding of gevoel wat sprekers teenoor ’n bepaalde variëteit of taal het, ook beïnvloed word deur hoe “gewoond” sprekers aan daardie variëteit of taal is. Met ander woorde, indien ’n spesifieke variëteit deur ’n minderheidsgroep gepraat word, staan die variëteit meer uit en sodoende word die aandag van die meer dominante variëteit in ’n spesifieke groep of gemeenskap beklemtoon. Soos die deelnemer ook aandui, kan Swartafrikaans as omgangsvariëteit (vgl. De Wet 1993:186; 1996:7) as ’n “snaakse” oftewel vreemde variëteit op die oor van veral AM’s val. Die aard en frekwensie van die gebruik van ’n bepaalde variëteit kan dus persepsies daaroor beïnvloed.
Toepaslike vraag op [4:38]: Waarom, dink julle, kry ons dit reg om so ’n tipe Afrikaans (met betrekking tot Swartafrikaans) te praat?
D Soos ’n mens loop en luister, jy kom met aanraking met swart mense en dan praat hulle miskien Afrikaans met jou; mens tel dit op en dan ... so mens oefen aan die namaak. Kry dit min of meer reg ...
G [lag]
N Oukei, so dis amper met oefening.
G Ja.
D En soos, sê ‒ Ek dink in vroeër jare het die mense mos nou nie mekaar so baie verskillende rasse na gekom as gevolg van die wette en what-what. Maar nou is dit, soos, ek het met die mense klas. Ek gaan met die mense SS [studentesentrum] toe, ek stap met die mense in ’n koshuis.
D In groepwerk ...
D In ’n groeptaak. Al daai goeters gaan jy met die mense moet werk eendag en die mense gaan vir my werk eendag. So jy pas jouself net ook maar aan. [4:38]
Een van die deelnemers se onmiddellike antwoord op die toepaslike vraag was: “Demokrasie?” (vgl. aanhaling 4:39).
Bostaande aanhaling uit die gesprek met die fokusgroep dien as opvolgantwoord op “Demokrasie?” as oorspronklike antwoord. Die onderhoudvoerder het aanvanklik gedink dat die lede van die fokusgroep die vraag nie so mooi verstaan het nie en het toe ’n verdere verduideliking van wat die vraag behels, gebied. Dit wil voorkom of die groeplede wél die eerste maal verstaan het wat deur die vraag bedoel is, aangesien die bostaande aanhaling die antwoord: “Demokrasie?” aanvul en verduidelik. Die mate van blootstelling aan verskillende etniese groepe, en daarom ook verskillende tale, het in Suid-Afrika verander. Die deelnemer aan die woord verduidelik dat die rede waarom AM’s Swartafrikaans kan napraat, is dat die leefruimtes van verskillende etniese groepe, wat vroeër geskei was, nou oorvleuel.
Nog ’n element wat interessant is, is dat die deelnemer tog te kenne gee dat daar ’n inoefeningselement by die aanleer van die variëteit voorkom. Die insette wat nodig is om Swartafrikaans onder die knie te kry, behoort nie talryk te wees nie, moontlik omdat NSA reeds heelwat taalelemente bevat wat reeds aan AM’s bekend is. Die deelnemer doen steeds moeite om hierdie variëteit aan te leer en te bemeester. Die aanleerder moet dus ’n tipe beloning ervaar deur hierdie variëteit aan te leer of in te oefen. Vermoedelik sluit die “beloning” weer direk aan by sosiale aanvaarding of insluiting by ’n binnegroep. Die dryfveer om Swartafrikaans aan te leer moet per individu hanteer word.
4.1.2.1 Bespreking
Wanneer mikrokontekstuele faktore wat ’n invloed op NSA het, in ag geneem word, kom die belangrikheid van individue se ervarings en persepsies na vore. Individue se persoonlike ervarings, behoeftes om ’n bepaalde funksie te vervul, taalblootstelling en hulle etniese vereenselwiging het ’n invloed op die voorkeurkontekste waarbinne sprekers verkies om NSA te gebruik of te vermy. Die mikrokontekstuele faktore moet teen die agtergrond van die oorkoepelende, makrovlakkontekstuele faktore beskou word. Deur die kontekstuele faktore te gebruik, kan ’n beter begrip van sprekers se persepsies rondom NSA verkry word.
4.2 Persepsies rondom die gebruik van die alternatiewe funksies van Swartafrikaans
Deur in hierdie afdeling verskillende persepsies in oënskou te neem wat deelnemers oor Swartafrikaans en ook die napraat van Swartafrikaans het, kan die alternatiewe funksies van Swartafrikaans beter belig word. Hierdie persepsies wat AM’s oor Swartafrikaans het, hou ook verband met die wyse waarop verskillende etniese groepe mekaar beskou. Die kodes word in twee groepe onderverdeel, naamlik 4.2.1 Sensitiwiteit rondom NSAen 4.2.2 Eienaarskap van NSA. Kode 21, “Verband tussen ras, kultuur, etnisiteit en taal”, vorm deel van beide afdelings, alhoewel die kode onder afdeling 4.2.2hanteer word.
Figuur 4. Kodes om die persepsies rondom die alternatiewe funksies van Swartafrikaans aan te dui
4.2.1 Sensitiwiteit rondom NSA
Kode 15: Dui die erns van die saak aan: Neem sprekers NSA ernstig of ligtelik op?
Toepaslike vraag op aanhaling [4:8]: Wanneer gebruik jy Swartafrikaans?
Ook maar meestal net vir grap maak en rondspeel. [4:8]
Dit is nie ’n neerhalende gebruik om só Afrikaans te praat nie, slegs ’n resultaat van kulture wat kontak maak. [1:55]
Omdat ek respek wil toon aan daardie persoon en dit sou verwag van sy/haar kant ook. [1:148]
Ek weet baie praat dit om te skerts, maar dit is ook neerhalend. Jy spot met mense wat gebroke Afrikaans praat (dit beteken nie hulle is dom nie, dit beteken hul is nie jou taal magtig soos jy nie). Dis nie oulik as mense so praat nie. [2:29]
Die graad van erns waarmee AM’s die napraat van Swartafrikaans hanteer en die feit dat dit ATM’s kan beledig, kan van individu tot individu wissel soos aangedui in die verskillende deelnemers se reaksies: [4:8], [1:55], [1:148] en [2:29]. Bostaande aanhalings wissel van ’n baie “ligte” benadering tot die napraat van Swartafrikaans, byvoorbeeld [4:8] en [1:55], tot ’n ernstige verwysing daarna dat die napraat “neerhalend” is [2:29]. Die deelnemer in [1:148] dui aan dat die napraat op respek neerkom, wat ook ’n ernstige oorweging is. Die ernstigheidsgraad waarmee sprekers Swartafrikaans hanteer, kan ook beïnvloed word deur persone se assosiasie met ’n bepaalde etniese groep, maar ook met die graad van eienaarskap wat hulle van Swartafrikaans vir hulself toe-eien (vgl. kodes 22–24). Die interpretasie van die gebruik van Swartafrikaans is nie noodwendig dieselfde as wat daarmee bedoel word nie.
Kode 16: Ooreenkoms/verskil tussen bedoelde en waargenome funksie
Hulle sal kan identifiseer met die konteks beskou en dit dus humoristies vind. [1:56]
Ek probeer nie om ’n Swartafrikaans sprekende se taal te spot nie, dus praat ek nie voor hulle nie, anders sal hulle dink ek mok hulle taal en ek doen nie. [1:99]
Soms word een funksie deur AM’s bedoel, maar ATM’s interpreteer nie die funksie dienooreenkomstig nie. ’n Waninterpretasie van die bedoeling waarmee AM’s Swartafrikaans napraat, kan ’n verkeerde persepsie rondom NSA meebring.
Wanneer AM’s Swartafrikaans napraat, sal ATM’s die funksie eerder waarneem, aangesien hulle nie noodwendig direk deel uitmaak van die gesprek nie. Vandaar die begrip waargenome funksie. Wanneer die bedoelde en waargenome funksie nie ooreenstem nie, kan misverstande ontstaan.
In aanhaling [1:56] dui die deelnemer aan dat hy/sy die napraat van Swartafrikaans in ’n positiewe lig sien en dat hy/sy ook aanneem dat ATM’s die napraat van Swartafrikaans deur AM’s dieselfde sal beoordeel. Indien sprekers Swartafrikaans napraat in die teenwoordigheid van ATM’s, is dit moontlik dat laasgenoemde dit nie as humoristies sal beskou nie. Weens die risiko dat die bedoelde en die ervaarde funksies van mekaar kan verskil en tot misverstande kan lei, vermy die tweede deelnemer dit om Swartafrikaans in die teenwoordigheid van ATM’s na te praat, soos aangedui in [1:99]. Laasgenoemde deelnemer beklemtoon dat die gebruik van Swartafrikaans as “spot” of “mok” (Engels mock) ervaar kan word. Hierdie soort misverstande hou ook verband met bestaande sensitiwiteite wat rondom die gebruik van bepaalde variëteite bestaan.
Kode 17: Sensitiwiteit rondom kwessie
Dit is ’n meer neerhalende vorm van praat. Die "baas" praat so met sy "werker", omdat dié glo nie mooi verstaan nie. Soos, ek het al baie gehoor hoe ’n wit man so met sy tuinwerker praat. Swart mense praat dit ook, weens hul gebroke Afrikaans. [2:3]
’n Persoon wat met ’n "onderdanige" praat of probeer snaaks wees. Ek haat Swartafrikaans as dit deur ’n wit mens gepraat word. Ek noem wit mense, omdat hulle dit meer gebruik wanneer hulle met ander praat. Wanneer iemand anders so praat, beteken dit nie JY moet so praat nie. [2:22]
Ek wil nie ander kulture in die gesig vat nie. Ek wil nie onnodige konflik veroorsaak nie. [1:35]
Dit is moontlik dat die persoon aanstoot sal neem. [1:64]
Want ek sou kwaad word as dit vir my klink of iemand spot met die manier hoe ek praat. [1:77]
Mens wat die Afrikataal praat kan dit verkeerd opvat, minderwaardig en in die gesig gevat voel. [1:107]
Aanhalings [2:3], [2:22], [1:35], [1:64], [1:77] en [1:107] dien as voorbeelde van die sensitiwiteit wat daar wél oor die napraat van Swartafrikaans deur AM’s bestaan. Dit wil dus voorkom of van die deelnemers Swartafrikaans met groot versigtigheid napraat, juis as gevolg van hierdie sensitiwiteit. Die wortel van hierdie sensitiwiteit lê heel waarskynlik by die sensitiewe magsverhoudings wat tydens die apartheidsera in Suid-Afrika tussen die verskillende etniese groepe ontstaan het (kode 7).
Die sprekers wat NSA gebruik of hoor, se persepsies is heel waarskynlik op hulle persoonlike verwysingsraamwerke geskoei, waarvan bogenoemde magsverhoudings deel vorm. Sensitiwiteit kan ook, soos reeds genoem, te doen hê met die mate van eienaarskap van Swartafrikaans, en daarom ook NSA, wat sprekers vir hulle toe-eien of aan ander toeskryf (Matsuo 2009:66;kodes 22–24). Om sprekers se persepsie van eienaarskap oor Swartafrikaans en daarom ook NSA te begryp, word die verbintenis tussen sensitiwiteit en sprekers se vereenselwiging met NSA in kode 18 bespreek.
Kode 18: Sensitiwiteit en vereenselwiging
’n Persoon wat met ’n "onderdanige" praat of probeer snaaks wees. Ek haat Swartafrikaans as dit deur ’n wit mens gepraat word. Ek noem wit mense, omdat hulle dit meer gebruik wanneer hulle met ander praat. Wanneer iemand anders so praat, beteken dit nie JY moet so praat nie. [2:22]
Want ek sou kwaad word as dit vir my klink of iemand spot met die manier hoe ek praat. [1:77]
D Soos, ek weet hoe ek voel as byvoorbeeld iemand nou kom djy en djou, soos hulle vir my sê nou. Ek sal wees soos, “hey, wat maak jy?”
G [lag]
D As ek nou vir ’n swart meisie sê, sy gaan ook wees like, “hoekom?” [4:28]
Sensitiwiteit oor die napraat van Swartafrikaans kan ook te doen hê met die mate waarin AM’s hulle vereenselwig met ATM’s wanneer laasgenoemde Swartafrikaans napraat. In hierdie geval sal AM’s wat self ’n ander variëteit van Afrikaans gebruik, byvoorbeeld bruin deelnemers en ook AM’s wat self swart is, moontlik oor ’n groter empatiese houding beskik.
Hierteenoor sal die sensitiwiteit wat wit AM’s toon, moontlik meer simpatiek van aard wees. In [2:22] en in [4:28] toon die swart en bruin Afrikaansmoedertaalsprekende deelnemers onderskeidelik ’n baie hoë vlak van vereenselwiging met ATM’s wat Swartafrikaans praat en toon ook om hierdie rede sensitiwiteit rakende die napraat van Swartafrikaans.
In aanhaling [1:77] dui die wit Afrikaansmoedertaalsprekende deelnemer aan dat hy/sy hom/haar wel met ’n ATM kan vereenselwig, maar eerder in die sin dat die AM hom/haar kan indink hoe dit sou wees in só ’n situasie. Hierteenoor wil dit voorkom of die bruin en swart Afrikaansmoedertaalsprekende deelnemers al self ’n soortgelyke situasie ervaar het. Hierdie onderskeid word wel as relatief beskou en om hierdie rede is verdere studie in die verskeie kontekste en met verskillende deelnemers nodig.
Alhoewel die inligting van kode 19 en kode 20 onder meer reeds in kode 3 vanuit ’n kontekstuele oogpunt verduidelik is, is dit tóg belangrik om ook die perseptuele elemente van diskriminasie en stereotipering te bespreek.
Kode 19: Diskriminasie
Almal van ons is mense, ons moet almal maar net eenvoudig uithou met diskriminasie. Almal word teen gediskrimineer. [1:144]
In [1:144] kom dit voor of die deelnemer hom/haar byna van enige sensitiwiteit rakende die napraat van Swartafrikaans distansieer. Hierdie deelnemer neem ’n byna apatiese houding teenoor die verskynsel in. Die rede wat die deelnemer vir sy/haar gevoel aanvoer, is dat almal (heel waarskynlik met verwysing na Suid-Afrikaanse inwoners) ’n mate van diskriminasie ervaar en daarom moet mense net daarby aanpas. Dit wil voorkom of die deelnemer die persepsie het dat AM’s Swartafrikaans napraat met die bedoeling om teen ATM’s te diskrimineer, en dat dit net nóg ’n manier is waarop diskriminasie na vore kan kom.
Kode 20: Stigma, stereotipering en veralgemening
Jy spot met mense wat gebroke Afrikaans praat (dit beteken nie hulle is dom nie, dit beteken hul is nie jou taal magtig soos jy nie). [2:12]
In [2:12] dui die deelnemer aan dat AM’s moontlik ’n stigma aan ATM’s koppel wanneer hulle Swartafrikaans praat, naamlik dat hulle minder intelligent voorkom en daarom ook minder intelligent is. Volgens die deelnemer is hierdie stigma ’n rede waarom AM’s Swartafrikaans spottenderwys onder mekaar gebruik. Indien dit so is, dien die sosiohistoriese konteks van Suid-Afrika heel waarskynlik as die basis en instandhouer van hierdie stigma, veralgemening en uiteindelik ook stereotipering (vgl. Chick 1995:238).
Meestal mense wat met hulle werkers so praat, en dan as hulle ’n swart persoon sien dan praat hulle swart Afrikaans met hom, maak nie saak wie hy is nie. [3:9]
Die deelnemer van aanhaling [3:9] verwys eerder na Gepidginiseerde Afrikaans as na die napraat van Swartafrikaans, maar verduidelik dat vanuit sy/haar ervaring, sommige AM’s wél geneig is om te veralgemeen, wat by bostaande verduideliking van [2:12] aansluit.
N Maar, so jy sal nogal ’n wit Afrikaans spot nè?
D Ja, ek sal.
G [lag]
D Ek sal ... Want julle sal, julle vat dit soos rêrig as ’n grap. Hulle sal dit nie as ’n grap vat nie, hulle sal rêrig ...
D Hulle sal ons attack! [4:25]
Volgens ’n bruin Afrikaansmoedertaalsprekende deelnemer in [4:25], het hulle (dit wil sê die bruin gemeenskap) ’n groter vrymoedigheid om wit AM’s se variëteit na te praat as om Swartafrikaans in die teenwoordigheid van ATM’s na te praat. Die deelnemer en die ander lede van die fokusgroep het gelag en ’n grap gemaak oor hierdie opmerking, maar daar was ’n definitiewe ernstige ondertoon. Veralgemening, stigma en stereotipering teenoor verskillende etniese groepe kan ook die oorsaak van hierdie “vrees” vir ’n ander etniese groep wees (Vgl. Chick 1995:238–9).
Verder is die onderlinge verband tussen ras, kultuur, etnisiteit en taal ook van belang.
4.2.2 Eienaarskap van NSA
Kode 21: Verband tussen ras, kultuur, etnisiteit en taal
Ek spot altyd die [wit] mense wat dit gebruik om met ander te kommunikeer. [2:10]
Ek wil nie ander kulture in die gesig vat nie. Ek wil nie onnodige konflik veroorsaak nie. [1:53]
Dit is nie ’n neerhalende gebruik om só Afrikaans te praat nie, slegs ’n resultaat van kulture wat kontak maak. [1:55]
My taal is Afrikaans en as ’n ander kleurige dit praat en dit leer ken is ek glad nie gepla nie, want ek verstaan wat hulle sê en hul spot nie daarmee nie. [1:127]
Die noue verband tussen taal, kultuur, etnisiteit en identiteit word opnuut deur die deelnemers bevestig soos aangedui in [2:10], [1:53], [1:55] en [1:127]. In [2:10] verwys die deelnemer na verskillende etniese groepe en taal. In [1:53] verwys die deelnemer na taal en kultuur asook na die moontlikheid dat die verkeerde gebruik van Swartafrikaans selfs tot konflik kan lei. Hierteenoor dui nog ’n deelnemer in [1:55] aan dat dit nie noodsaaklik is om Swartafrikaans met soveel sensitiwiteit te hanteer nie, aangesien die oorsprong van die variëteit nie aanleiding gee tot sensitiwiteit nie. Fought (2006:12) dui wel aan dat kontak tussen verskillende etniese groepe etniese verskille beklemtoon. Daarom is dit moontlik dat die betrokkenheid van verskillende etniese groepe eerder sal bydra tot sensitiwiteit oor die napraat van Swartafrikaans. Uit die aanhaling [1:55] wil dit ook voorkom of die deelnemer die etniese “grense” van taal opsy probeer skuif om daardeur aan te dui dat niemand sogenaamd “alleenreg” op ’n taal of variëteit van ’n taal het nie.
Die deelnemer in [1:127] dui ook die verbande tussen kultuur, etniese groepe en taal aan, maar dui ook sodoende aan dat grense bestaan. Die grense dui op hoe ver die sprekers of die taalgroep van ’n spesifieke variëteit se sprekers van ’n ander taal sal “toelaat” om hulle taal te gebruik afhangend van die manier waarop hierdie “eksterne” sprekers met die taalgroep se taal omgaan. Hierdie grense is dus nie “vaste” grense nie, solank iemand net nie die vryheid van oop grense “misbruik” nie. Sodra iemand uit ’n ander etniese groep ’n taal of variëteit gebruik om daarmee die spot te dryf, is dit moontlik dat hierdie etniese groep of taalgroep wie se taal dit is, hierdie oper grense sal vernou vir ander sprekers wat nie oorspronklik van hulle taalgroep deel uitgemaak het nie.
Hierdie doelbewuste afbakening van ’n taal se gebruiksbeskikbaarheid aan ander sprekers het direk te doen met taaleienaarskap (vgl. kodes 22–24). ’n Groep se reaksie op iemand se gebruik van “hulle” taal of wat volgens hulle die taal misbruik, kan hewiger of minder erg wees afhangend van die graad van eienaarskap wat hierdie groep “hulle” taal vir hulle toe-eien. Soos aangedui, is die toe-eiening en/of toeskrywing van taaleienaarskap minder duidelik by byvoorbeeld ’n omgangsvariëteit soos Swartafrikaans, waar die oorsprongtaal Afrikaans is, maar die taalgroep wat as die “sprekers” van hierdie variëteit beskou kan word, ’n groep is met ’n heel ander moedertaal, naamlik ’n Afrikataal. Dit wil sê dat sprekers se lojaliteit moontlik eerder by hulle moedertaal self sal lê as by ’n variëteit van hierdie taal soos Swartafrikaans.
Om hierdie rede is dit moontlik dat mense bewus is van die sensitiwiteit rakende die gebruik en die napraat van Swartafrikaans, maar aangesien hierdie variëteit oor “gedeelde” eienaarskappe beskik, word die saak nie werklik deur enigiemand onder die loep geneem nie. Verdere navorsing is nodig in hierdie verband.
In kodes 22 tot 24 word die verskil tussen hierdie toegekende, toegeëiende en toegeskrewe eienaarskap van die taalvariëteite, Swartafrikaans en NSA aangedui.
Kode 22: Eienaarskap van variëteit word toegeken aan Swartafrikaanssprekers (ATM’s)
Dit is hoe hy praat en jy gebruik dit om te spot. [1:133]
Ons praat normaal Afrikaans, maar as iemand Afrikaans praat soos ’n Afrikataalsprekende en dit doen omdat hul sukkel om reg te praat, dan het ek geen probleem daarmee nie, maar indien iemand daarmee spot sal ek geaffronteerd voel. [1:145]
Al gebruik mens dit respekteer ek hul manier van praat. [1:136]
Die deelnemers van aanhalings [1:133], [1:145] en [1:136] ken die eienaarskap van Swartafrikaans aan ATM’s toe. Swartafrikaans is die manier waarop ATM’s Afrikaans praat. Om hierdie rede sal AM’s volgens hierdie deelnemers verkeerd optree indien hulle Swartafrikaans vir die “snaaksheid” daarvan napraat.
Kode 23: Eienaarskap van variëteit word deur AM’s toegeëien
Dit is nie ’n neerhalende gebruik om só Afrikaans te praat nie. [1:54]
Dit is ’n alledaagse taal. [1:105]
In [1:54] en [1:105] dui van die Afrikaansmoedertaalsprekende deelnemers wél aan dat hulle Swartafrikaans nie as ’n variëteit beskou wat uitsluitlik deur ATM’s gebruik word nie. Tóg wil dit in die breë voorkom of AM’s steeds eerder die eienaarskap van Swartafrikaans aan ATM’s toeskryf as om die eienaarskap van Swartafrikaans vir hulle (AM’s) toe te eien.
Kode 24: Eienaarskap van variëteit word deur ATM’s toegeëien
Ek haat Swartafrikaans as dit deur ’n wit mens gepraat word. Ek noem wit mense, omdat hulle dit meer gebruik wanneer hulle met ander praat. Wanneer iemand anders so praat, beteken dit nie JY moet so praat nie. [2:22]
Die aard van die studie leen hom nie daartoe om werklik afleidings te maak oor wat ATM’s se toe-eiening van Swartafrikaans as variëteit behels nie. Een van die swart Afrikaansmoedertaalsprekende deelnemers is ook Zoeloesprekend. Wanneer die deelnemer se biografiese inligting wat beskikbaar is, in gedagte gehou word, kan [2:22] moontlik as blik dien op hoe sommige ATM’s sou voel oor eienaarskap van Swartafrikaans. Uit [2:22] kan afgelei word dat hierdie deelnemer wél eienaarskap van Swartafrikaans namens ATM’s toe-eien. Die deelnemer se gevoel teenoor “wit mense” wat Swartafrikaans napraat, kan aansluit by die bespreking van grense van taal soos bespreek in kode 21.
4.2.3 Bespreking
Die sosiohistoriese konteks van Suid-Afrika dien as die makrokonteks waarin die persepsies rondom NSA beskou moet word. Die gevolg van hierdie invloed behels dat die hedendaagse konteks waarbinne sprekers gemaklik voel om NSA te gebruik, ook hiérdeur beïnvloed word. Sprekers verkies dikwels om in ’n veilige konteks ‒ nie in die direkte teenwoordigheid van ATM’s nie ‒ NSA te gebruik. Dit is wel ook moontlik dat wanpersepsies hierrondom kan ontstaan, aangesien sprekers en ontvangers die doel van die boodskap verskillend kan interpreteer. Sprekers se persepsies rondom taaleienaarskap van Swartafrikaans, en daarom ook NSA, kan ’n invloed hê op hulle rede vir die napraat van Swartafrikaans of die wyse waarop hulle die funksie van NSA interpreteer.
5. Samevatting en gevolgtrekking
Deur ’n literatuurstudie te doen, kon die probleem gekontekstualiseer word en is ’n oorsig van bestaande navorsing gebied. Gedurende die bespreking van tersaaklike literatuur is die literatuur aangewend om bepaalde kodes wat in die data verkry sou kon word, te antisipeer. Aandag is aan die volgende geskenk: Eers is die variëteit kortliks beskryf deur van bekende variëteite gebruik te maak en ’n naam, Napraatswartafrikaans, is vir die variëteit ‒ die napraat van Swartafrikaans ‒ voorgestel. Die wisselwerking tussen konteks en persepsies is bespreek deur onder meer na die sosiohistoriese agtergrond van Suid-Afrika te verwys. ’n Skema om die instandhouding van stereotipering aan te dui, is opgestel as aanvulling tot Chick (1995:238) se model om die negatiewe siklus van sosiaal-gekonstrueerde diskriminasie voor te stel.
Die verbintenis tussen sprekers se taalrepertoire en konteksgebondenheid asook die invloed van sprekers se persepsie rondom taaleienaarskap, taalgrense en die invloed daarvan op NSA is uit die bespreking duidelik. Ook individue se verwysingsraamwerk is belangrik om in berekening te bring tesame met wanneer sprekers gemaklik is daarmee om NSA te gebruik.
In hierdie studie is die kontekste waarbinne die napraat van Swartafrikaans gebruik word, in oënskou geneem deur onderskeidelik na ’n mikro- en makrokonteks te verwys. Die oorkoepelende konteks wat ’n invloed op die napraat van Swartafrikaans het, is bespreek. Aangesien die konteks en persepsies rondom ’n saak ’n wederkerige invloed uitoefen, is die persepsies rondom die napraat van Swartafrikaans oorweeg.
’n Empiriese ondersoek is gedoen deur wit, bruin en swart AM’s se gevoel rondom die napraat van Swartafrikaans te bepaal. Hierdie ondersoek is gedoen deur van vraelyste en onderhoude gebruik te maak wat met behulp van die program Atlas.ti verwerk is. Skemas is gebruik om die kodes uiteen te sit waarna elke kode afsonderlik bespreek is.
Ná afloop van die studie is dit belangrik om enkele aspekte aangaande die konteks en persepsies rondom die napraat van Swartafrikaans te beklemtoon. Soos genoem het konteks en persepsies ’n wederkerige uitwerking. Die persepsies rondom Swartafrikaans bepaal in watter konteks sprekers gemaklik voel om dit te gebruik, en die oorkoepelende konteks bepaal weer die persepsies rondom die napraat van Swartafrikaans. Die geïdentifiseerde gebruikskontekste en rolspelers kan ooreenkomste tussen soortgelyke variëteite vertoon, byvoorbeeld Black South African English. Kennis oor die breër en meer spesifieke kontekstuele gebruik, asook die persepsies rondom die napraat van Swartafrikaans, kan ’n groter begrip aangaande die sensitiewe en komplekse aard van soortgelyke variëteite meebring. Bepaalde sensitiwiteite en uiteenlopende gevoelens het ook uit die data duidelik sigbaar geword.
Die einddoel van hierdie studie kan soos volg saamgevat word: “The perspective that languages are socially and politically constructed is necessary not only for an understanding of languages, but also for situations in which there are reasons either to change them or to change the way we think about them” (Makoni en Pennycook 2007:27). Deur die konteks en die persepsies van NSA te bepaal, kan meer kennis oor dié variëteit ingewin word. Sodoende kan sprekers se persepsie van hierdie en soortgelyke variëteite op ’n positiewe manier gewysig word.
Bibliografie
Akmajian, A., R.A. Demers, A.K. Farmer en R.M. Harnish. 2010. Linguistics: an introduction to language and communication. Cambridge, Mass.: MIT Press.
Barkhuizen, G. en V. de Klerk. 2006. Imagined identities: preimmigrants’ narratives on language and identity. International Journal of Bilingualism, 10(3):277–99.
Benor, S.B. 2010. Ethnolinguistic repertoire: shifting the analytic focus in language and ethnicity. Journal of Sociolinguistics, 14(2). http://onlinelibrary.wiley.com/doi/10.1111/j.1467-9841.2010.00440.x/full (8 Februarie 2016 geraadpleeg).
Bernstein, B. 1964. Elaborated and restricted codes: their social origins and some consequences. American Anthropologist, 66(6):55–69.
Botha, T.J.R. (red.). 1989. Inleiding tot die Afrikaanse taalkunde. Pretoria: Academica.
Buthelezi, Q. 1995. South African Black English: lexical and syntactic characteristics. In Mesthrie (red.) 1995.
Carstens, A. en H. Grebe (reds.). 2001. Taallandskap: huldigingsbundel vir Christo van Rensburg. Pretoria: Van Schaik.
Carstens, W.A.M. en N. Bosman (reds.). 2014. Kontemporêre Afrikaanse taalkunde. Pretoria: Van Schaik.
Chick, J.K. 1995. Interactional sociolinguistics and intercultural communication in South Africa. In Mesthrie (red.) 1995.
Claassen, G.N. en M.C.J. Van Rensburg (reds.). 1983. Taalverskeidenheid: ’n blik op die spektrum van taalvariasie in Afrikaans. Kaapstad: Nasionale Boekdrukkery.
Coetzee-Van Rooy, S. en B. Van Rooy. 2005. South African English: labels, comprehensibility and status. World Englishes, 24(1):1–19.
Coupland, N. 2001. Dialect stylization in radio talk. Language Society, 30:345–75.
Croker, R.A. 2009. An introduction to qualitative research. In Heigham en Croker (reds.) 2009.
De Klerk, V. 1999. Black South African English: where to from here? World Englishes, 18(3):311–24.
De Wet, A.S. 1993. Swartafrikaans as niestandaardvariëteit van Afrikaans. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Taalkunde, Suppl., 18:170–88.
—. 1996. Swart Afrikaans as ’n aanleerdersvariëteit in die Vrystaat: ’n studie aan die hand van intertaalteorie. Ongepubliseerde PhD-proefskrif, Universiteit van die Vrystaat.
—. 2009. Swartafrikaans. In Hugo (red.) 2009.
Du Plessis, H. 1988. Variasietaalkunde. Pretoria: Serva-Uitgewers.
—. 1997. Meet the rainbow nation. Pretoria: Sigma Press.
Du Plessis, H. en T. du Plessis. 1987. Inleiding.In Du Plessis en Du Plessis (reds.) 1987.
Du Plessis, H. en T. du Plessis (reds.). 1987. Afrikaans en taalpolitiek: 15 opstelle. Pretoria: HAUM.
Dyers, C. 2010. ’n Nuwe status vir Swartafrikaans? http://argief.litnet.co.za/article.php?news_id=85861 (28 Desember 2014 geraadpleeg).
Fought, C. 2006. Language and ethnicity: key topics in sociolinguistics. New York: Cambridge University Press.
García, O., 2009. Education, multilingualism and translanguaging in the 21st century. In Mohanty e.a. (reds.) 2009.
Gumperz, J.J. 1964. Linguistic and social interaction in two communities. American Anthropologist, 66(6):137–53.
—. 2006. Interactional sociolinguistics. In Mey (red.) 2006.
Heigham, J. en R.A. Croker (reds.). 2009. Qualitative research in applied linguistics. New York: Palgrave Macmillan.
Hendricks, F. 2012. Die potensiële nut van ’n gelykevlakperspektief op die variëteite van Afrikaans. In Prah (red.) 2012.
Hugo, D. (red.). 2009. Halala Afrikaans. Pretoria: Protea Boekhuis.
Instituut vir Reformatoriese Studie. 1991. Kultuurverskeidenheid in Afrika: verleentheid of geleentheid? Potchefstroom: Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys.
Jansen, J. 2010. Tribal lines still firmly drawn. Times Live, 17 November. http://www.timeslive.co.za/opinion/columnists/2010/11/17/tribal-lines-still-firmly-drawn (7 Desember 2016 geraadpleeg).
Klopper, A.H. 1981. Stand van Afrikaans onder die Suid-Sotho in die R.S.A.: ’n sosiolinguistiese ondersoek. Ongepubliseerde PhD-proefskrif, Universiteit van die Vrystaat.
Kotzé, E. 1996. Taal en etnisiteit in wisselwerking: Suid-Afrika as proefplaas. South African Journal of Linguistics, 14(4):153–7.
Kotzé, E.F. 1977. ’n Sosiolinguistiese ondersoek na sintaktiese, morfologiese en leksikale afwykings in die Afrikaans van die Xhosas. Ongepubliseerde MA-verhandeling, Universiteit van die Witwatersrand.
Kriel, A.P. 2015. Die alternatiewe funksies van Swartafrikaans. Ongepubliseerde MA-verhandeling. Noordwes-Universiteit.
Kroes, H. 1979. Het Afrikaans praktiese waarde vir ons swart gemeenskap? Referaat gelewer tydens die FAK-Konferensie aan die RAU. Oorgeneem uit die RAU-publikasie Dienslewering in Afrikaans. 16 Oktober.
Landis, J.R. en G.G. Koch. 1977. The measurement of observer agreement for categorical data. Biometrics, 33(1):159–74.
Le Cordeur, M. 2011. Die variëteite van Afrikaans as draers van identiteit: ’n sosiokulturele perspektief. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 51(4):758–77.
Makoni, S. en A. Pennycook (reds.). 2007. Disinventing and reconstituting languages. Clevedon, UK: Multilingual Matters.
Mannikam, E. 1991. A perspective from South Africa. In Instituut vir Reformatoriese Studie 1991.
Maree, K. (red.). 2007. First steps in research. Pretoria: Van Schaik.
Maree, K. en C. van der Westhuizen. 2007. Planning a research proposal. In Maree (red.) 2007.
Maritz, A.P. 2016. Black Afrikaans: an alternative use. Literator, 37(2), a1276. http://dx.doi.org/10.4102/lit.v37i2.1276.
Matras, Y. 2009. Language contact. Cambridge: Cambridge University Press.
Matsuo, M. 2009. Language and ethnicity: an iridescent relation. IPSHU Research Report No. 23by the Institute for Peace Science and in Spanish as Revista CS No. 3 by the Faculty of Law and Social Sciences.
Mesthrie, R. 2002. Language in South Africa. Cambridge: Cambridge University Press.
Mesthrie, R. (red.). 1995. Language and social history: studies in South African sociolinguistics. Claremont: David Philip.
Mey, J.L. (red.). 2006. Concise encyclopedia of pragmatics. 2de uitgawe. Amsterdam: Elsevier.
Meyerhoff, M. 2006. Introducing sociolinguistics. 2de uitgawe. New York: Routledge.
Mohanty, A.K., M. Panda, R. Phillipson en T. Skutnabb-Kangas (reds.). 2009. Multilingual education for social justice: globalising the local. Bristol: Multilingual Matters.
Nieuwenhuis, J. 2007a. Introducing qualitative research designs. InMaree (red.) 2007.
—. 2007b. Qualitative research designs and data gathering techniques. InMaree (red.) 2007.
—. 2007c. Analysing qualitative data. InMaree (red.) 2007.
Nortier, J. en M. Dorleijn. 2008. A Moroccan accent in Dutch: a sociocultural style restricted to the Moroccan community? International Journal of Bilingualism, 12(1/2):125–42.
Ntshangase, D.K. 2002. Language and language practices in Soweto. In Mesthrie (red.) 2002.
Olivier, J. 2015. Afrikaanse transtaling en taaloorgang: die napraat van Tsotsitaal en Swartafrikaans. Stilet, 27(2):63–82.
Otto, A. 2014. Sosiolinguistiek. In Carstens en Bosman (reds.) 2014.
Prah, K.K. (red.). 2012. Veelkantiger Afrikaans: Streeksvariëteite in die standaardvorming. Kaapstad: Centre for Advanced Studies of African Society.
Pretorius, F. (red.). 2012. Geskiedenis van Suid-Afrika. Kaapstad: Tafelberg.
Rampton, B. 1995. Language crossing and the problematisation of ethnicity and socialisation. Pragmatics, 5(4):1–20.
Ramsay-Brijball, M. 2004. Exploring identity through code-switching: a poststructuralist approach. Alternation, 11(2):144–64.
Ronkin, M. en H.E. Karn. 1999. Mock Ebonics: Linguistic racism in parodies of Ebonics on the Internet. Journal of Sociolinguistics, 3(3):360–80.
Rule, P. 2004. Dialogic spaces: adult education projects and social engagement. International Journal of Lifelong Education, 23(4):319–34.
Rupp, L. 2013. The function of student pidgin in Ghana. English Today, 29:13–22.
Saldaña, J. 2009. The coding manual for qualitative researchers. Londen: Sage.
Scher, D.M. 2012. Die vestiging van die apartheidstaat, 1948–1966. In Pretorius (red.) 2012.
Setshedi, C.M. 1987. Versteurings in die Afrikaans van die Tswanasprekende. Ongepubliseerde MA-verhandeling, PU vir CHO.
Steyn, J.C. 2014. “Ons gaan ’n taal maak”: Afrikaans sedert die Patriot-jare. Pretoria: Kraal.
Stoltz, E. 1982. Gepidginiseerde Afrikaans in wit-swart-interaksie. Ongepubliseerde MA-verhandeling, Randse Afrikaanse Universiteit.
Strauss, A. en J. Corbin. 1990. Basics of qualitative research. Belmont, Kalifornië: Sage.
Valdman, A. 1981. Sociolinguistic aspects of foreigner talk. International Journal of the Sociology of Language, 28:41–52.
Van Jaarsveld, G.J., A.G. Jenkinson en A.S. de Wet. 2001. Die intertaalteorie en taalverskeidenheid. In Carstens en Grebe (reds.) 2001.
Van Rensburg, M.C.J. 1989. Soorte Afrikaans. In Botha (red.) 1989.
Van Teijlingen, E.R. en V. Hundley. 2001. The importance of pilot studies. Social Research Update, 35. http://sru.soc.surrey.ac.uk/SRU35.pdf (8 Desember 2014 geraadpleeg).
Van Wyk, E.B. 1983. GpA. In Claassen en Van Rensburg (reds.) 1983.
Von Wissel, D. 1991. A perspective from Swaziland. In Instituut vir Reformatoriese Studie 1991.
Webb, V. 1992. Afrikaans as probleem. In Webb (red.) 1992.
Webb, V. (red.). 1992. Afrikaans ná apartheid. Pretoria: Van Schaik.
Wela, V.P. 1995. Die rol van moedertaalversteuring in die Afrikaans van Zoeloesprekende leerlinge. Ongepubliseerde MA-verhandeling, Universiteit van Zoeloeland.
Eindnotas
1 Hierdie artikel is gebaseer op die eerste skrywer se MA-verhandeling, “Alternatiewe funksies van Swartafrikaans” (Kriel 2015), wat onder haar nooiensvan en onder studieleiding van Jako Olivier voltooi is. Verder is hierdie artikel ook ’n opvolg van die artikel “Black Afrikaans: an alternative use” (Maritz 2016). In hierdie artikel, asook in Kriel (2015) word die linguistiese eienskappe van NSA aangeroer.
2 Vir die doeleindes van hierdie artikel word die term Afrikataal gebruik om na tale vanuit die Bantutaalgroep te verwys. Dit is nie die navorsers se doel om uitsluitsel te gee of Afrikaans ’n Afrikataal is of nie.
3 Die term word met sensitiwiteit gebruik, aangesien dit negatiewe konnotasies kan dra. Die term word vanuit sy linguistiese aard benader (Mesthrie 2002:4–5, 212).
4 Onderskeid word getref tussen “wit”, “swart” en “bruin” om diversiteit aan te dui (vgl. Le Cordeur 2011:759, voetnoot 1).
5 Keuse-antwoord dui op die antwoord wat die deelnemers vanuit ’n paar vasgestelde antwoordmoontlikhede, soos op die vraelys aangedui, gekies het.
LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.
The post Napraatswartafrikaans: konteks en persepsies van die alternatiewe gebruik van Swartafrikaans appeared first on LitNet.