Nicholas Ellenbogen
Murdering Agatha Christie
Met Nicholas Ellenbogen, Elizabeth Szymczak, Debi Hawkins, Gabriel Meltz, Tafara Nyatsanza en Kanya Viljoen
Regie: Luke Ellenbogen
In The Rosebank Theatre, Almaweg 16, Rosebank, Kaapstad. Tot 31 Desember. Bespreek by www.webtickets.co.za
Dis 1948. Wil jy oorleef in Peggy Lomax (Debi Hawkins) se hotel? Peggy met die erotiese uitdagendheid. Dan moet jy weet hoe om ’n telefoon met ’n slinger te gebruik.
En jy moet atleties wees. En akrobaties. Want die rusbank is konstant in die pad en jy moet kort-kort daaroor springduik. Kyk net hoe doen Jane Acton (Kanya Viljoen) dit en sy is ’n lady, nogal. Sy en die jagse Humphrey Hayes Hill (Tafara Nyatsanza) gaan soms byna gelyk met vlieënde vaandels daaroor. Sodoende ontsnap hulle aan ’n ... lyk wat agter die bank lê. Of nie daar lê nie. Nie meer nie.
Gabriel Meltz moet drie rolle vertolk. Hy het ’n besige aand as Ben die mekêniek, Bill die slagter en ’n polisiesersant. Ek moet erken ek het die rolle slegs woord- en bewegingsgewys onderskei, maar was terselfdertyd bewus van sy bydrae tot die lewendige intrige. Jy moet eintlik nie in sy hande beland nie. Anders hang jy dalk op ’n plek waar jy nie wil hang nie.
Jy moet rekening hou met gesagsfigure wat oral en onverwags opduik. Kyk, daar’s generaal Mimi Cornwallis (Elizabeth Szymczak in ’n uitstekende vertolking). Jy sou sweer jy dien weer militêre diensplig uit. Sy is so fier en regop. Met ’n stem.
Later verander sy in ... waar’s die woordeboek ... wat’s ’n canon (in die program dalk opsetlik verkeerd gespel as cannon) in Afrikaans? Ons volstaan maar met “kerklike regsgeleerde”. Dié canon Pugh hakkel. (Szymczak is nie te oortuigend daarmee nie. Sy herhaal net die woorde; ’n mens hoor nie hoe sy sukkel nie. Jy mis ’n gehyg tussendeur.)
Bo almal troon speurder George Coburn (Nicholas Ellenbogen) uit. As hy bevele bulder, dan doen jy dit da-de-lik.
Veral as hy sê “sit”, dan vries jy. Of jy “strek”: sit op aandag soos in die weermag. Tipies soos in ’n Agatha Christie mag niemand die vertrek verlaat nie. Hy sorg vir ’n treffer van ’n slottoneel. Jy word kind en wil hom waarsku, hom keer! Hy geniet net wat hy doen.
Van kind gepraat. Vroeg in die opvoering van 3 Desember het ’n seuntjie ’n paar maal tog te opreg gelag, so ’n aansteeklike borreling. Dankie! Maar ongelukkig raak die mannetjie toe stil.
The Rosebank is ’n intieme teater. Die gehoor bestyg ’n houttrap na ’n galery met dalende rye sitplekke van waar jy alles met gemak kan volg. Die Ellenbogens is lief om gehoordeelname te organiseer by hulle opvoerings; as jy nie daarvan hou nie, is jy blykbaar veilig hier. Die voorportaal is egter ongerieflik klein; hulle kan gerus die gehoor maar gouerig op laat gaan.
Dié kort en kragtige opvoering het my herinner aan die jare toe daar heelwat etensuuropvoerings in Kaapstad was. In die Hofmeyr, die Ruimte, die Nico Malan.
Regisseur Luke Ellenbogen het met die hele geselskap en die tegnici die speurdrama-cum-klug van pa Nicholas laat werk. Dis ook so geskik vir die vakansiemaand. Met ’n restaurant net om die hoek.
The post Teaterresensie: Murdering Agatha Christie by The Rosebank Theatre appeared first on LitNet.