De Vette Mossel – al die geheime van De Vette Mossel-seekosrestaurante ...
Niël du Bois
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798169530
Niël du Bois is ’n charismatiese, plat-op-die-aarde Weskusboorling en stigter van die oorspronklike De Vette Mossel-seekosrestaurant in Grootbrak. Sedert die opening in 2004 is daar vandag ook De Vette Mossel restaurante in Hartbeespoort, Parys en Nelspruit waaroor Niël persoonlik toesig hou.
De Vette Mossel is Niël se tweede boek waarin hy heelparty van sy geheime weggee: “Ek gee nie om nie. Kosmaak se hoofdoel is om mense gelukkig te maak. Dis ’n liefdestaak, ’n bevrediging van jou kreatiewe kant en sommer net lekker. Veral met ’n glas of twee van die Kaap se heel beste.”
Niël se styl is eg onopgesmuk Weskus – “sonder tierlantyntjies en fieterjasies”. Want, sê hy, die Weskus is nie vir sissies nie en dit kan maar lekker onbeskof wees – die weer, die natuur en die Weskusklonge. Die son is genadeloos, die water is ysig en die wind is meedoënloos. Maar vir diegene wat die plek en sy skatte verstaan, is dit ’n paradys.
Niël se stem is deurgaans helder hoorbaar in sy boek. Hy vertel van sy roekelose see-avonture as jongeling, hy gee raad vir seesiekte, hy leer jou van ware Weskusgesegdes (“sy het ’n hangpens soos ’n resiesgaljoen”) en vertel presies hoe om ’n snoek te braai. In die bykans 15 hoofstukke kan jy enigiets teëkom van Weskusgeskiedenis en hoe om seeskulpe as kookpotte te gebruik, tot hoe om te toets of vis vars is, snoekstories, rookwenke, kreefduikstaaltjies en bykosse.
As jy jou neus optrek vir spensbestanddele, moet jy dalk anderkant kyk wanneer Niël sy resepte deel. Hy kook graag met tamatiesous en mayonnaise, met soppoeier en cheddarkaas. Verder is sy resepte eenvoudig: hy gebruik vars kruie, baie botter en hope vars seekos. Resepte wat uitstaan is Jannie se kreefkerrie (’n souserige spulletjie met brandrissie, room en port), Thai-groenkerriegarnale (met komyn, muskadel, appelkoossap en klapperroom), Antie Pine se viskoekies (met snoek, aartappel, pietersielie en rooipeper), kerrievis (met appelkooskonfyt, borrie en sultanas) en potbrood (sommer lekker donker gebak, met hompe botter).
Die foto's is nie altyd van goeie gehalte nie, maar sommige disse is wel professioneel gestileer en pragtig gefotografeer. Saam met die stories sien jy ook foto's van gaste en aanhangers wat van oraloor saamkuier by De Vette Mossel-restaurante en kry jy amper daai ware Weskusgevoel deur net daarna te kyk: sand onder jou voete, seelug in jou neusgate.
De Vette Mossel is ’n seekosresepteboek, maar ook ’n Weskusleesboek. Die staaltjies sal jou laat glimlag en die gedeelde kennis sal vir seker enigiemand meer behendig agter die seekospotte maak. Hierdie boek is nie vir snobs nie, moet dus nie ’n moderne aanslag verwag nie. Dis eerlik Weskus en ’n weerspieëling van ’n kosbare, klein, Suid-Afrikaanse subkultuur.
The post Boekresensie: De Vette Mossel deur Niël du Bois appeared first on LitNet.