Een nag en ’n bietjie
Hester Kruger
Uitgewer: NB-uitgewers
ISBN: 9780798174152
Skrywers oor hul nuwe boeke: Hester Kruger gesels met Naomi Meyer oor Kruger se Een nag en ’n bietjie
Hallo Hester, jou boek Een nag en ’n bietjie het pas verskyn. Is dit ’n ware verhaal?
Dit is ’n ware verhaal in die sin dat dit gebaseer is op die feitelike gegewe van wat met my en my man gebeur het. Maar (soos Antjie Krog en andere by meer as een geleentheid aangedui het), die oomblik wanneer jy dit neerpen, dan word dit fiksie.
Waaroor handel jou storie?
Omdat die storie feitelik gebaseer is op die werklike gebeurtenis, handel dit in die eerste plek oor die rooftog op die plaas. Tog is dit vir my belangrik om nie die gebeurtenis uniek aan die spesifieke omstandighede te koppel nie, maar om dit binne die groter geweldskonteks, wat in die hele land manifesteer, te kontekstualiseer.
Wie se storie is hierdie?
Hierdie storie is my en my man se storie, maar dit is ook die storie van baie ander landsburgers – op plase, in townships, in dorpe en stede.
Waarom het jy dit geskryf, en vir wie?
Die motivering vir die skryf van die storie was meervoudig. Daar dwaal baie vrae en emosies in ’n mens se kop na so ’n gebeurtenis wat vir ordening vra. Deur baie jare was Pirsig se Zen and the art of motorcycle maintenance vir my ’n riglyn waarvolgens ek my gedagtes kon orden: pak al die onderdele uit en rangskik dit weer reg terug. Ek dink dit is wat ek probeer doen het. Die ontmoeting met my kinderbondgenoot onder vreemde omstandighede (waarna teen die einde van die verhaal verwys word) het die deurslag gegee om my hand aan papier te waag.
Jou man en jou kinders. Dis ook hulle verhale, maar hul het dit seker anders ervaar. Wil hulle daaroor praat, en hoe? Hoe ervaar hulle jou storie, jou boek?
Volgens die terugvoer wat ek van ons kinders kry was die lees van die boek weer eens ’n traumatiese ervaring maar terselfdertyd bring dit vir hulle berusting om my verwerking van die gebeure hulle eie te maak. She’s well and on her way, soort van. Dit was goed vir my en my man om objektief deur die gebeure te werk en dit te bepraat tydens die skryf van die boek. Ek dink dit het vir hom ook meer afstand gebring tussen nou en die gebeure van die nag.
Telkens moes jy dit weer beleef: om dit te beleef, daaroor te skryf en nou daaroor te praat. Is dit elke slag traumaties, hoe verander die ervaring vir jou?
Aanvanklik het ek die gebeure byna “meganies” aan naby vriende en familie vertel, maar toe het daar ’n tyd gekom wat dit vir my moeilik geraak het om daaroor te praat. Dit was soos ’n deur wat ek wou toemaak. Dit is dan wanneer jou gedagtes ’n warboel begin raak. Alles gebeur in jou eie kop. Deur die boek uiteindelik in die derde persoon te skryf, was dit nie meer my en my man se storie nie maar Johannes en Margaretha se storie. Hulle storie het nou ’n lewe van sy eie gekry en ek ervaar dit as hulle storie. In daardie sin was die skryf daarvan ’n bevrydende ervaring.
Voor daardie een nag. Wie was jy? Wie is jy nou?
Ek hoop ek is nog dieselfde persoon as voorheen. Miskien kyk ek nou met groter deernis en dankbaarheid na die wêreld en is ek nog meer as voorheen bewus van die wonder van die lewe. Die hele gebeurtenis het my baie oor die voorkoms van fisiese geweld en die motivering daaragter laat dink. Is dit nie dikwels die geval dat ons as samelewing die geweldenaar (in een of meer opsigte) gefaal het nie? Dikwels lê sosio-ekonomiese omstandighede tog aan die grondslag van geweld? Watter rol speel, byvoorbeeld, die “haves” en die “have-nots” in geweldsmisdade soos rooftogte? En daarby het ek tot die besef gekom dat geestelike geweld ’n ewe aftakelende rol in ons samelewing speel en dat ons mekaar daagliks onbewustelik en selfs bewustelik met woorde “vermoor.”
... en ’n bietjie. Waarom? Wat is daardie bietjie?
Die bietjie is die tyd na so ’n traumatiese gebeurtenis. Dit is ’n integrale deel van die fisiese gebeure. In ’n sekere sin is dit amper moeiliker as die werklike gebeure. Dit is ’n baie pynlike proses om deur jou emosies te werk en sin daarvan te probeer maak. Jy herleef die gebeure. Jy is woedend. Jy is hartseer. Dit is ’n doolhof van gedagtes en emosies. Waar dit tydens die rooftog en ontvoering ’n fisiese aksie was, raak dit daarna ’n psigiese aksie.
Jou boek word letterkundig ook goed ontvang. Het jy al vantevore geskryf?
Ek is baie dankbaar oor die ontvangs wat die boek gekry het. Ek het ’n storie gehad om te vertel en dit is wat ek probeer weergee het. Behalwe vir kinderstories vir die destydse SAUK se streekstasies in Afrikatale wat ek in my prille jeug geskryf het, is hierdie my eerste poging.
En nou: hoe gaan mens voort? Gaan mens voort?
Ek gaan die toekoms met groter bewustheid en dankbaarheid in. Ek probeer om die lewe nie eenkantig te benader nie – om na die mens agter sy optrede te kyk. Ek besef ook opnuut die belangrikheid van intermenslike verhoudings en die groot rol wat elkeen van ons het om ’n beter samelewing te skep. Ek wil graag die diversiteit in mense omarm en waardeer. Ek wil graag ’n toekoms help skep waarin daar vir elkeen in hierdie mooi land van ons ’n plekkie in die son sal wees.
The post Boekonderhoud: Een nag en ’n bietjie deur Hester Kruger appeared first on LitNet.